Jigme Singye Wangchuck འཇིགས་མེད་སེང་གེ་དབང་ཕྱུག་ | ||
4de koning van Bhoetan | ||
Wangchuck in 2014. | ||
Bewind | 24 Julie 1972 – 9 Desember 2006 | |
Voorganger | Jigme Dorji Wangchuck | |
Opvolger | Jigme Khesar Namgyel Wangchuck | |
Gade | Dorji Wangmo Tshering Pem Tshering Yangdon Sangay Choden | |
Kinders | Sien teks | |
Koningshuis | Wangchuck | |
Gebore | 11 November 1955 Thimphu, Bhoetan | |
Vader | Jigme Dorji Wangchuck | |
Moeder | Kesang Choden |
Jigme Singye Wangchuck (འཇིགས་མེད་སེང་གེ་དབང་ཕྱུག,[1] gebore 11 November 1955) was van 24 Julie 1972 tot met sy abdikasie op 9 Desember 2006 die vierde koning van Bhoetan, of Druk Gyalpo ("Draakkoning"). Hy is opgevolg deur sy seun, Jigme Khesar Namgyel Wangchuck, die huidige koning.
Wangchuck was 16 toe hy sy pa as koning opvolg. Hy was toe reeds in beheer van die land se vyfjaarontwikkelingsplanne en het met sy projekte die plattelandse bevolking se inkomste en lewensomstandighede verbeter. Hy het klem gelê op sy mense se geluk en welsyn en die bruto nasionale geluk het eindelik die maatstaf van ontwikkeling geword.
Min inligting oor die sosiale en ekonomiese situasie in Bhoetan van voor 1974 is bekend. Sedertdien is padnetwerke en telefoonverbindings uitgebrei, gesondheidsdienste en elektrisiteitstoevoer is verbeter, die land het internet, satelliet-TV, rekenaars en lugdienste gekry en die nasionale inkomste is aansienlik verhoog. Hy het toerisme begin en die beskerming van die natuur verbeter.
In die 1990's het hy die grootste vlugtelingkrisis per capita ter wêreld veroorsaak deur derduisende Nepaleessprekende burgers te verban[2][3][4] om die Bhoetanese volk "suiwer" te hou.
Jigme Singye Wangchuck is op 11 November 1955 in Thimphu, Bhoetan, gebore.[5] Hy het Westerse en tradisionle opleiding aan verskeie instellings ontvang, onder meer in Indië en Engeland.
In 1971 het die kroonprins se pa, Jigme Dorji Wangchuck, hom aangestel as voorsitter van die nasionale beplanningskommissie, belas met die beplanning en koördinering van die land se vyfjaarontwikkelingsplanne.[6] Op 16 Junie die volgende jaar is hy die Trongsa Penlop gemaak. Wangchuck was 16 toe sy pa dood is en hy koning word.
As koning het Wangchuck voortgegaan met die ontwikkelingsplanne. Tydens die 1970's is intensiewe vallei-, landbou-, besproeiings- en hervestigingsprojekte aangepak om die inkomste en lewensomstandighede op die platteland te verbeter. In Suid-Bhoetan het die fokus op veral sitrusvrugte geval. Vandag word duisende tonne lemoene, kardemoms en appels elke jaar geoes.
In 1986 het die koning die beplanningskommissie opdrag gegee[7] om met die sesde ontwikkelingsplan aandag te skenk aan die geluk en welsyn van die bevolking.[8] Die bruto nasionale geluk het eindelik die maatstaf van ontwikkeling geword.
Min inligting oor die sosiale en ekonomiese situasie in Bhoetan van voor 1974 is bekend. Sedertdien is padnetwerke uitgebrei: Teen 1974 was daar paaie van 1 332 km, in vergelyking met 4 544 km teen die einde van sy bewind in 2006. Telefoonverbindings het in dieselfde tyd van 480 tot 31 526 toegeneem. Studente het van 13 410 tot sowat 151 260 gestyg. Teen 2006 het byna 90% van kinders skoolgegaan en 60% van die bevolking was geletterd danksy gratis opvoeding.
Gesondheidsdienste, veilige drinkwater en beter voeding het gelei tot ’n lewensverwagting van 66 jaar. In 1974 was daar 56 gesondheidsinstellings teenoor die 715 in 2006, met 90% gratis gesondheidsdekking. Kindersterftes het afgeneem van 142 in 1985 tot 60 in 2006 en sterftes van moeders tydens geboorte van 7,7% tot 2,6%.[9]
Elektrisiteitseenhede het toegeneem van 4 miljoen in 1974 tot 3,357 miljard in 2006. Die internet, fakse, satelliet-TV, rekenaars en lugdienste het Bhoetan met die internasionale wêreld verbind. Die nasionale inkomste van die land, soos gemeet deur die bruto binnelandse produk, was in 1985 Nu 2,4 miljard en in 2006 Nu 36,9 miljard, wat ’n toename van 15 keer in 21 jaar is.
Die koning het ’n ongewone toerismebeleid ingestel van "groot waarde, klein volume".[10] Kort ná sy kroning in Oktober 1974 het die eerste groep van 20 toeriste die land deur die dorp Phuntsholing binnegekom, aangesien daar geen lugdiens was nie. Teen 2006 het die getal toeriste gestyg tot 17 344 wat van Druk Air gebruik gemaak het.
’n Hidroëlektrisiteitsprojek is in Maart 1983 begin bou en op 21 Oktober 1988 geopen en die Penden-sementfabriek was in 1982 in volle produksie.[11] Wangchuck het verder die beskerming van die natuur verbeter, veral in die lig van al die voortuitgang, en dit het daartoe gelei dat groot gebiede in parke en reservate omskep is.
As die absolute monarg van ’n destyds geheimsinnige koninkryk[12] het Wangchuk in die 1990's die grootste vlugtelingkrisis per capita veroorsaak deur ’n sesde van die land se Nepaleessprekende burgers te verban "om Bhoetan se nasionale identiteit te bewaar".[2][3][4][13][14] Wangchuk se regering het hierdie etniese suiwering uitgevoer omdat dit die land se Nepaleessprekende bevolking beskou het as ’n bedreiging vir Bhoetan se regerende minderheid, die Drukpa of "Draakvolk". Meer as 100 000 van hulle woon steeds in vlugtelingkampe, maar baie is in Westerse land hervestig.[15][16][17][18][19]
Wangchuck was vier keer getroud en het 10 kinders:
{{cite news}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)