Die Krieketwêreldbeker 2023 (Engels: 2023 Cricket World Cup; Hindi: २०२३ क्रिकेट विश्व कप) is van 5 Oktober tot 19 November 2023 in Indië beslis.[3] Die oorspronklike datums vir dié toernooi was tussen 9 Februarie tot 26 Maart 2023,[4][5][6] maar in Julie 2020 is dit na Oktober en November 2023 herskeduleer, nadat die kwalifisering weens die wêreldwye Covid-19-pandemie vertraag is.[7][8][9] Dit was die 13de krieketwêreldbekertoernooi van die vierjaarlikse krieketwêreldkampioenskap in internasionale eendagkrieket (EDI) wat deur die Internasionale Krieketraad (IKR) aangebied word en die vierde in Indië. Dié land het voorheen as medegasheer van die toernooie in 1987 (saam met Pakistan), 1996 (saam met Pakistan en Sri Lanka) en 2011 (saam met Bangladesj en Sri Lanka) opgetree; slegs Engeland het meer toernooie gehuisves. Dit was die eerste toernooi wat geheel en al in Indië aangebied is[10] en slegs die derde wat deur een gasheerland gehou is; die eerste twee toernooie in 1975 en 1979 is deur Engeland op sy eie gehuisves.
Die toernooi se formaat van 2019 het onveranderd gebly en tien nasionale krieketspanne het aan die Krieketwêreldbeker 2023 deelgeneem: Die gasheer Indië, die sewe beste spanne van die Superliga 2020–2023 (Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Nieu-Seeland, Pakistan en Suid-Afrika), saam met die twee beste spanne van die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 (Nederland en Sri Lanka). Tydens die Krieketwêreldbeker 2023 is 48 wedstryde gespeel, waaronder 45 tydens die groepfase en drie in die uitklopfase, insluitende die eindstryd. Die toernooi het op 5 Oktober met die openingswedstryd tussen die twee finaliste van die 2019-toernooi Engeland en Nieu-Seeland op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad begin. Al die spanne het in een groep 45 wedstryde beslis, waarvan elke span een keer teen al die ander spanne van die groep gespeel het. Die vier beste spanne het hierna vir die halfeindrondte gekwalifiseer en die eindstryd is op 19 November op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad gehou, terwyl die sewe beste spanne saam met die gasheer Pakistan regstreeks vir die Kampioenetrofee 2025 gekwalifiseer het. Engeland was die verdedigende kampioen nadat hulle die vorige Krieketwêreldbeker 2019, teen Nieu-Seeland in die nouste eindstryd ooit (’n amptelike gelykop), tuis gewen het.[11]
Australië, Indië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika het vir die halfeindrondte gekwalifiseer. Indië het Nieu-Seeland en Australië het Suid-Afrika geklop, voordat Australië die eindstryd op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad teen die gasheer Indië met ses paaltjies gewen en sodoende sy sesde titel ingepalm het. Ná die 2003-toernooi in Suid-Afrika, Zimbabwe en Kenia was dit die tweede ontmoeting tussen dié twee lande in ’n eindstryd wat ook deur Australië gewen is. Die verdedigende kampioen Engeland is reeds in die groepfase uitgeskakel.
Die Internasionale Krieketraad het voor die Krieketwêreldbeker 2015 aangekondig dat slegs tien van die vernaamste krieketlande aan die volgende toernooie van 2019 en 2023 sal kan deelneem.[12] Dit het groot kritiek uitgelok, omdat veral die assosiaatlede van die IKR gevrees het dat die afstand in kwaliteit tussen hulle en die voorste toetskrieketlande groter sou word.[13][14][15] Die IKR se redenasie vir hierdie stap was egter ’n beter bemarkingsmoontlikheid van die kompetisie, want al die spanne sou dan mededingend gewees het.[16] Die tweemalige wêreldkampioen Wes-Indië kon vir die eerste keer nie vir ’n krieketwêreldbekertoernooi kwalifiseer nie, vervolgens het vir die eerste keer in die toernooi se geskiedenis geen span van die Amerikas deelgeneem nie.
Die Krieketwêreldbeker 2023 was die eerste sedert die 1992-toernooi waartydens elk van die spanne ten minste een oorwinning in die groepfase kon aanteken.[17][18] Altesaam het 1 250 307 toeskouers die 48 wedstryde bygewoon, die meeste tydens ’n krieketwêreldbekertoernooi ooit.[19]
Soos tydens die Krieketwêreldbeker 2019 kon tien krieketspanne aan die Krieketwêreldbeker 2023 deelneem. Die hoofroete tot kwalifisering was die nuwe Superliga, wat die EDI-kampioenskap vervang het. Aan die Superliga, wat tussen Julie 2020 en Mei 2023 beslis is, het die twaalf toetslande (insluitende die gasheer Indië) en Nederland deelgeneem.[21]
Die gasheer Indië en die sewe beste spanne van die dertien deelnemers in die Superliga het regstreeks vir die hooftoernooi gekwalifiseer. Die vyf spanne van die Superliga, wat nie daarin kon slaag om regstreeks vir die toernooi te kwalifiseer nie, het aan die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 deelgeneem, waarna twee spanne na die hooftoernooi deurgedring het.[22][23]
Aan die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2023 het, naas die vyf onderste spanne van die Superliga, ook die drie beste spanne van die vir die eerste keer besliste Krieketwêreldbekerliga 2 2019–2022 (gehou tussen Augustus 2019 en Maart 2023) deelgeneem. Die oorblywende twee plekke vir die kwalifisering is deur ’n uitspeeltoernooi tussen die Krieketwêreldbekerliga 2 se niekwalifiserende spanne en die Krieketwêreldbekeruitdagingsliga 2019–2021 se twee beste spanne bepaal.[24] Aan die Krieketwêreldbekerliga het die oorblywende sewe lande met ’n tydelike EDI-status deelgeneem (Nederland het aan die Superliga deelgeneem).[25]
32 nasionale krieketspanne het om die twee oorblywende plekke by die Krieketwêreldbeker 2023 meegeding, waarvan die finale tien aan die uiteindelike kwalifiserende rondte in Zimbabwe deelgeneem het.[26] Sri Lanka het die eerste kwalifiserende span geword nadat hulle Zimbabwe met nege paaltjies geklop het.[27] Nadat SkotlandWes-Indië met sewe paaltjies verslaan het, kon die tweemalige wêreldkampioen vir die eerste keer nie vir ’n krieketwêreldbekertoernooi kwalifiseer nie.[28][29] Nadat Skotland ook Zimbabwe met 31 lopies verslaan het, het Zimbabwe sy tweede agtereenvolgende krieketwêreldbekertoernooi misgeloop.[30] Vir die eerste keer kon drie lande met toetskrieketstatus – Ierland, Wes-Indië en Zimbabwe – nie vir ’n krieketwêreldbeker kwalifiseer nie, terwyl twee assosiaatlede – Nederland en Skotland – daarin kon slaag om dié drie volle lede in die kwalifisering verby te steek en die laaste plek onder mekaar beslis het.[31] Nederland het die laaste en tiende plek bespreek nadat hulle Skotland met vier paaltjies verslaan het.[32]
Nadat die Raad vir Beheer van Krieket in Indië geweier het om ’n span vir die Asiatiese Beker 2023 na Pakistan te stuur, het die Pakistanse Krieketraad gedreig om die Krieketwêreldbeker 2023 in Indië te boikot.[33][34] In Junie 2023 is dié geskil opgelos met die Asiatiese Krieketraad se aangekondig om die Asiatiese Bekertoernooi volgens ’n hibriede model, soos voorgestel deur die Pakistanse beheerliggaam, te hou, waarvolgens nege van die 13 wedstryde in Sri Lanka gehou is.[35][36]
Die volgende tien spanne het vir die Krieketwêreldbeker 2023 gekwalifiseer. Nederland, wat Wes-Indië vervang het, is die enigste verandering in die tien-span-lys van die Krieketwêreldbeker 2019. Dit was die eerste toernooi wat Wes-Indië misgeloop het.
Op 21 Maart 2023 het die Raad vir Beheer van Krieket in Indië twaalf Indiese stadions op die kortlys vir die Krieketwêreldbeker 2023 geplaas.[3] Op 27 Junie 2023 het die Internasionale Krieketraad die wedstrydskedule aangekondig, waarby Indore, Guwahati en Rajkot van die lys verwyder is, terwyl Pune bygevoeg is. Die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad met ’n kapasiteit van 132 000 het vir die eerste keer ’n krieketwêreldbekereindstryd huisves. Die twee halfeindstryde is onderskeidelik op Wankhedestadion in Mumbai en Eden Gardens in Kolkata gespeel, terwyl die eindstryd op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad beslis is.[37]
Die BCCI het befondsing verskaf vir opknappings by stadions. Die Himachal Pradesh-krieketverenigingstadion is voorsien van ’n nuwe grasoppvervlak, dreineringsstelsel, sitplekke en gasvryheidskassies. Die Wankhedestadion se buiteveld, spreiligte, korporatiewe bokse en toilette is opgeknap. Die M. A. Chidambaram-stadion het nuwe spreiligte geïnstalleer en twee paaltjies herlê.[38]
Aangesien die Krieketwêreldbeker 2023 gedurende herfs beslis is, het die IKR protokolle ingestel om die impak van vog — insluitende dou en reën — op bladtoestande te verminder, sodat die span wat tweede gekolf het nie bevoordeel is nie (soos onlangs gebeur tydens die T20I-wêreldbeker 2021). Dit het ingesluit die gebruik van ’n spesifieke benattingsmiddel, en die grenslyn was sowat 70 m van die blad af, met meer gras daarop wat naatboulwerk bo draaiboulwerk bevoordeel het.[39]
Die Krieketwêreldbeker 2023 is oor 46 dae tussen tien verskillende spanne oor 48 wedstryde beslis. Dit het op 5 Oktober 2023 op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad met die openingswedstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland begin. Die toernooi het geëindig op 19 November met die eindstryd tussen Australië en Indië op dieselfde stadion, waartydens Australië die Krieketwêreldbekertrofee ingepalm het. ’n Soortgelyke formaat is voorheen tydens die Krieketwêreldbeker 1992 gebruik, maar destyds het nege in plaas van tien nasionale krieketspanne deelgeneem; dieselfde formaat is tydens die Krieketwêreldbeker 2019 gebruik, insluitende dieselfde aantal deelnemende lande (tien).
Die Internasionale Krieketraad het die wedstrydskedule op 27 Junie 2023, presies 100 dae voor dié toernooi se begin, bekendgestel.[37] Op 9 Augustus 2023 is nege wedstryde, insluitende dié tussen Indië en Pakistan, deur die IKR herskeduleer.[41] Die openingseremonie sou op 4 Oktober in die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad gehou word, maar dit is deur die reëlingskomitee met ’n perskonferensie met die tien spankapteins vervang.[42] Die volgende tabel dui die Krieketwêreldbeker 2023 se daaglikse program aan. ’n Rooi blokkie dui op die sluitingseremonie, ’n pers blokkie op wedstryde tydens die groepfase, ’n groen blokkie op wedstryde tydens die uitklopfase en ’n geel blokkie op die eindstryd.
Die Krieketwêreldbeker 2023 is deur tien nasionale krieketspanne beslis. Vir die groepfase is die tien deelnemende spanne in een enkele groep geplaas met dieselfde formaat as wat in 2019 gebruik is; elke span het een wedstryd teen elk van die ander spanne in dieselfde groep gespeel, dus het elke span nege wedstryde in die groepfase gespeel. Twee punte is vir ’n oorwinning toegeken, een vir ’n gelykop of onbesliste wedstryd en geen punte vir ’n nederlaag: spanne wat met dieselfde aantal punte geëindig het, is volgens lopietempo, dan boultempo en dan die uitslag van die direkte ontmoeting gerangskik. Die vier beste spanne het na die uitklopfase deurgedring.
Van die begin van dié fase af het die toernooi ’n uitklopformaat aangeneem wat uit drie wedstryde bestaan het: twee halfeindstryde en die eindstryd. Die vier beste spanne van die groep het na die uitklopfase deurgedring. Die eerste span het teen die vierde span en die tweede span teen die derde span in die halfeindstryde gespeel. Elke wedstryd in die uitklopstadium moes met ’n oorwinning vir een van die spanne eindig. As daar ná albei kolfbeurte ’n gelykopuitslag was, is die wedstryd deur ’n Superboulbeurt beslis.
Die beste sewe spanne het saam met die gasheer Pakistan regstreeks gekwalifiseer vir die Kampioenetrofee 2025. Hulle was Afghanistan, Australië, Bangladesj, Engeland, Indië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika.
Elke land kon 15 spelers vir die toernooi kies. Die spanne moes teen 28 September 2023 aan die Internasionale Krieketraad voorgelê word. Enige latere verandering het die goedkeuring deur die IKR vereis.[44] Teen 26 September is al die spanne bekendgemaak.[45] Die oudste speler was die Nederlander Wesley Barresi op 39 jaar, terwyl die jongste speler die Afghaan Noor Ahmad op 18 jaar was.[46]
Uit die toernooi geskakel, maar kwalifiseer regstreeks vir die Kampioenetrofee 2025.
Uit die toernooi geskakel én loop regstreekse kwalifisering vir die Kampioenetrofee 2025 mis.
Tien spanne het aan die groepfase deelgeneem. Die groepfase het op 5 Oktober op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad met die openingswedstryd tussen die twee finaliste van die 2019-toernooi Engeland en Nieu-Seeland begin. Die vier beste spanne in die groep het na die uitklopfase deurgedring. Vir wedstryde tydens die groepfase is geen reserwedae in die geval van slegte weer opsy gesit nie.[37] Die sewe beste spanne het saam met die gasheer Pakistan vir die Kampioenetrofee 2025 gekwalifiseer.[47]
Beide Devon Conway en Rachin Ravindra (albei NZ) teken ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aan.[51]
Devon Conway en Rachin Ravindra teken 273 lopies om die tweede paaltjie aan, beide die hoogste Nieu-Seelandse paaltjievennootskap in ’n krieketwêreldbekerwedstryd en die hoogste Nieu-Seelandse tweede EDI-paaltjievennootskap ooit.[52][53]
Bangladesj wen met ses paaltjies HPCA-stadion, Dharamshala Skeidsregters: Kumar Dharmasena (SL) en Joel Wilson (WI) Speler van die wedstryd: Mehidy Hasan (Ban)
Bangladesj het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Rahmanullah Gurbaz word die vinnigste Afghaanse kolwer wat 1 000 EDI-lopies aanteken (in 27 kolfbeurte).[55]
Dit is Bangladesj se grootste krieketwêreldbekeroorwinning ooit in terme van oorblywende aflewerings (92).[55][56]
Suid-Afrika teken die hoogste krieketwêreldbekertelling ooit aan en oortref Australië se vorige rekord tydens die 2015-toernooi].[58]
Aiden Markram (RSA) teken die destyds vinnigste krieketwêreldbekerhondertal aan (in 49 aflewerings) en oortref Kevin O’Brien (Irl) se vorige rekord tydens die 2011-toernooi – later oortref deur Glenn Maxwell (Aus) teen Nederland tydens dieselfde toernooi.[59][60]
Die 754 aangetekende lopies is die destyds meeste in ’n krieketwêreldbekerwedstryd en oortref die 714 lopies tussen Australië en Bangladesj tydens die 2019-toernooi[61] – later oortref in die wedstryd tussen Australië en Nieu-Seeland tydens dieselfde toernooi.[62]
Australië het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
David Warner (Aus) word die vinnigste kolwer om 1 000 krieketwêreldbekerlopies aan te teken (in 19 kolfbeurte) en oortref die vorige rekord van beide Sachin Tendulkar (Ind) en AB de Villiers (RSA) in 20 kolfbeurte elk.[64]
Mitchell Starc (Aus) word die vinnigste bouler om 50 paaltjies te neem (in 19 boulbeurte) en oortref Lasith Malinga (SL) se vorige rekord (in 25 boulbeurte).[64]
Engeland wen met 137 lopies HPCA-stadion, Dharamshala Bywoning: 12 478 Skeidsregters: Ahsan Raza (Pak) en Paul Wilson (Aus) Speler van die wedstryd: Dawid Malan (Eng)
Bangladesj het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Kusal Mendis en Sadeera Samarawickrama (albei SL), asook Abdullah Shafique en Mohammad Rizwan (albei Pak) teken ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aan.[51]
Vir die derde keer ná Australië teen Pakistan in 1998 en Australië teen Indië in 2013 word in een enkele EDI-wedstryd vier honderdtalle aangeteken;[71] dit is ook die eerste keer in ’n krieketwêreldbekerwedstryd.[72][73]
Kusal Mendis teken die vinnigste honderdtal vir Sri Lanka in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit aan (in 65 aflewerings).[72]
Dit is die hoogste suksesvolle krieketwêreldbekerlopiejaag ooit en oortref Ierland se 329 lopies teen Engeland tydens die 2011-toernooi.[75][72][76]
Dit is Pakistan se agtste krieketwêreldbekeroorwinning oor Sri Lanka wat dit die grootste oorheersing in die toernooi maak[72] – later geëwenaar deur Indië teen Pakistan.[77]
Afghanistan het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
Rohit Sharma (Ind) teken ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aan.[51]
Rohit Sharma oortref Chris Gayle (WI) se vorige rekord vir die meeste sesse in internasionale krieket (554).[79]
Rohit Sharma oortref ook Sachin Tendulkar (Ind) se vorige rekord vir die meeste krieketwêreldbekerhonderdtalle (7).[80]
Rohit Sharma teken die vinnigste honderdtal vir Indië in ’n krieketwêreldbekerwedstryd aan (in 63 aflewerings) – later oortref deur KL Rahul teen Nederland tydens dieselfde toernooi.[81]
Dit is Australië se ergste krieketwêreldbekernederlaag ooit en oortref hul nederlaag met 118 lopies teen Indië tydens die 1983-toernooi, toe hulle 247 lopies gejaag het.[82]
Nieu-Seeland het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Trent Boult word die vinnigste – en die derde algehele – Nieu-Seelandse bouler om 200 EDI-paaltjies te neem (in 107 wedstryde) en oortref Kyle Mills se vorige rekord.[84]
Indië het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Dit is Indië se agtste krieketwêreldbekeroorwinning oor Pakistan wat dit die gesamentlik grootste oorheersing in die toernooi maak en Pakistan se oorheersing oor Sri Lanka ewenaar.[77]
Nederland wen met 38 lopies HPCA-stadion, Dharamshala Bywoning: 11 224[88] Skeidsregters: Michael Gough en Richard Kettleborough (Eng) Speler van die wedstryd: Scott Edwards (Ned)
Suid-Afrika het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Wedstryd verkort weens reën tot 43 boulbeurte per span.
Virat Kohli (Ind) teken ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aan.[51]
Virat Kohli teken sy 26 000ste internasionale lopie aan en oortref Sachin Tendulkar (Ind) se vorige rekord om die vinnigste kolwer te word wat dié mylpaal bereik (in 567 kolfbeurte).[97]
David Warner en Mitchell Marsh teken 259 lopies om die eerste paaltjie aan, die hoogste Australiese eerste paaltjievennootskap in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit, en oortref die vorige rekord teen Kanada tydens die 2011-toernooi.[53]
David Warner en Mitchell Marsh se aanvangsvennootskap is ook die hoogste teen Pakistan in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit.[98]
Albei slaan ook die meeste sesse (18) deur aanvangskolwers in ’n EDI-wedstryd.[98]
Australië se telling is die destyds hoogste teen Pakistan in ’n krieketwêreldbekerwedstryd en oortref Indië se telling tydens die 2019-toernooi – later oortref deur Nieu-Seeland tydens dieselfde toernooi.[98]
David Warner word die eerste kolwer wat drie keer meer as 150 lopies in ’n krieketwêreldbekerwedstryd aanteken, sy vorige twee was 166 lopies teen Bangladesj tydens die 2019-toernooi en 178 lopies teen Afghanistan tydens die 2015-toernooi.[98]
Hy teken ook die hoogste individuele telling teen Pakistan in ’n krieketwêreldbekerwedstryd aan en hy word die eerste kolwer met twee krieketwêreldbekerhonderdtalle teen Pakistan.[98]
Engeland het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Vir die eerste keer in 25 jaar het albei lande se nasionale spanne in krieket en rugby op dieselfde dag mekaar ontmoet en vir die eerste keer in krieketwêreldbekertoernooie ooit, aangesien Engeland en Suid-Afrika tydens die Rugbywêreldbeker 2023 se halfeindrondte in Frankryk mekaar ontmoet het.[101]
Heinrich Klaasen en Marco Jansen teken 151 lopies om die sesde paaltjie aan, die hoogste Suid-Afrikaanse sesde paaltjievennootskap in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit, en oortref die vorige rekord teen Ierland tydens die 2011-toernooi.[53][102]
Suid-Afrika se telling is die hoogste teen Engeland in EDIs ooit en oortref die vorige 2015-rekord deur Nieu-Seeland.[102]
Dit is Engeland se ergste EDI-nederlaag ooit en oortref hul 2022-nederlaag teen Australië met 221 lopies.[102]
Dit is Suid-Afrika se sesde krieketwêreldbekeroorwinning met meer as 200 lopies, die eerste land wat daarin kon slaag.[102]
Dit is ook Suid-Afrika se sewende krieketwêreldbekertelling met meer as 350 lopies, waarmee hulle Australië se rekord ewenaar, en die eerste keer wat Engeland meer as 350 lopies in ’n krieketwêreldbekerwedstryd afstaan.[102]
David Warner teken sy sesde krieketwêreldbekerhondertal aan, die eerste Australiër wat daarin kon slaag.[108]
Glenn Maxwell (Aus) teken die vinnigste krieketwêreldbekerhondertal ooit aan (in 40 aflewerings) en oortref Aiden Markram (RSA) se vorige rekord teen Sri Lanka tydens dieselfde toernooi.[60][108][109]
Glenn Maxwell se honderdtal is ook die vinnigste vir Australië in enige EDI.[60][108]
Bas de Leede (Ned) boul die duurste spel in ’n krieketwêreldbekerwedstryd en staan 115 lopies in sy tien boulbeurte af, waarmee hy die duurste EDI-snelbouler word, voor Mick Lewis en Adam Zampa (albei met 113 lopies).[108][110]
Australië se oorwinning met 309 lopies is die grootste in die krieketwêreldbekergeskiedenis ooit en oortref hul oorwinning oor Afghanistan met 275 lopies tydens die 2015-toernooi.[56][108][111]
Dit is Australië se derde agtereenvolgende EDI-telling met meer as 350 lopies, die eerste span wat daarin kon slaag.[62]
Australië moker vir die eerste keer 20 sesse in ’n EDI en dit is ook die meeste sesse teen Nieu-Seeland ooit in ’n EDI.[62]
Dit is die destyds hoogste krieketwêreldbekertelling teen Nieu-Seeland en oortref die vorige Australiese rekord tydens die 2007-toernooi[62] – later oortref deur Indië tydens dieselfde toernooi.[115]
Nieu-Seeland se lopiejaag is die hoogste in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit en ook die meeste lopies wat Australië in ’n krieketwêreldbekerwedstryd afstaan en oortref die vorige rekord deur Indië tydens die 2015-toernooi.[62][115]
Rachin Ravindra moker die vinnigste honderdtal vir Nieu-Seeland in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit en ook die vinnigste teen Australië in ’n krieketwêreldbekerwedstryd (in 77 aflewerings).[62]
Die 771 aangetekende lopies is die meeste in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit en oortref die 754 lopies tussen Suid-Afrika en Sri Lanka tydens dieselfde toernooi.[62][116][117]
Pakistan wen met sewe paaltjies Eden Gardens, Kolkata Skeidsregters: Richard Kettleborough (Eng) en Nitin Menon (Ind) Speler van die wedstryd: Fakhar Zaman (Pak)
Bangladesj het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
Suid-Afrika slaan die meeste sesse deur een span gedurende ’n krieketwêreldbekertoernooi (82) en oortref Engeland se 76 sesse tydens die 2019-toernooi.[125]
Suid-Afrika haal die rekord vir die meeste tellings met meer as 300 lopies in een kalenderjaar as hulle eerste gekolf het (8) en oortref Australië en Engeland se sewe in onderskeidelik 2007 en 2019.[125]
Suid-Afrika teken vir die eerste keer vier tellings met meer as 350 lopies in een krieketwêreldbekertoernooi aan en hul altesaam negende in al die krieketwêreldbekertoernooie, waarmee hulle Australië se rekord ewenaar.[125][126]
Quinton de Kock moker sy vierde krieketwêreldbekerhonderdtal, waarmee hy die derde beste kolwer in ’n krieketwêreldbekertoernooi word, ná Kumar Sangakkara (met vier in 2015) en Rohit Sharma (met vyf in 2019).[125]
Quinton de Kock se 545 lopies is die meeste deur ’n Suid-Afrikaanse kolwer in ’n krieketwêreldbekertoernooi ooit en oortref Jacques Kallis se 485 lopies tydens die 2007-toernooi. Dit is ook die meeste deur ’n paaltjiewagter in ’n krieketwêreldbekertoernooi en oortref Kumar Sangakkara se 541 lopies tydens die 2015-toernooi.[125]
Dit is Quinton de Kock en Rassie van der Dussen se tweede paaltjievennootskap met meer as 200 lopies in een krieketwêreldbekertoernooi, waarmee hulle Tillakaratne Dilshan en Upul Tharanga (SL) se 2015-rekord ewenaar.[125]
Dit is die agtste honderdtal deur ’n Suid-Afrikaanse kolwer in ’n krieketwêreldbekertoernooi, waarmee hulle Sri Lanka se 2015-rekord ewenaar.[125]
357 lopies is Suid-Afrika se grootste EDI-telling ooit teen Nieu-Seeland en oortref hul vorige 2000-rekord.[125][127]
Dit is Suid-Afrika se eerste krieketwêreldbekeroorwinning oor Nieu-Seeland sedert die 1999-toernooi.[125]
Suid-Afrika word die eerste span wat nege EDIs met meer as 100 lopies gedurende een kalenderjaar kon wen en oortref Pakistan se agt in 1999.[125]
Sri Lanka teken die vierde laagste krieketwêreldbekertelling en die laagste deur ’n toetsland aan en oortref Bangladesj se telling van 58 lopies teen Wes-Indië tydens die 2011-toernooi.[129][130]
Mohammed Shami word ook die beste Indiese bouler met 45 krieketwêreldbekerpaaltjies en oortref Zaheer Khan se vorige rekord met 44 paaltjies.[129][132][133]
Hy word ook die eerste Indiese bouler wat vier EDI-vyf-paaltjie-oeste neem.[129]
Dit is die vierde keer in 2023 wat Sri Lanka op minder as 100 lopies uitgeboul word, waarvan drie keer teen Indië, die meeste deur enige span in een kalenderjaar.[129]
Dit is Indië se grootste krieketwêreldbekeroorwinning ooit en oortref hul oorwinning met 257 lopies teen Bermuda tydens die 2007-toernooi.[56][134]
Indië se oorwinning met 302 lopies is die naasgrootste in die krieketwêreldbekergeskiedenis ná Australië se oorwinning oor Nederland met 309 lopies tydens dieselfde toernooi.[129][135]
Dit is die vierde EDI-oorwinning met meer 300 lopies in 2023, die meeste in enige kalenderjaar.[129][56]
Rachin Ravindra word die eerste kolwer wat drie honderdtalle in sy eerste krieketwêreldbekertoernooi aanteken. Hy word ook die eerste Nieu-Seelandse kolwer wat drie honderdtalle in ’n krieketwêreldbekertoernooi aanteken.[140]
Dit is Nieu-Seeland se hoogste telling ooit in ’n krieketwêreldbekerwedstryd en oortref hul telling van 393 lopies teen Wes-Indië tydens die 2015-toernooi.[115][140]
Nieu-Seeland se telling is die hoogste ooit teen Pakistan in ’n krieketwêreldbekerwedstryd en oortref Australië se telling tydens dieselfde toernooi.[115][140]
Fakhar Zaman moker die vinnigste honderdtal vir Pakistan in ’n krieketwêreldbekerwedstryd (in 63 aflewerings).[140]
Fakhar Zaman en Babar Azam teken 194 lopies om die tweede paaltjie aan, die hoogste Pakistanse paaltjievennootskap in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit,[140] en oortref die vorige rekord teen dieselfde opponent tydens die 1999-toernooi.[53]
Vir die eerste keer ly Nieu-Seeland vier agtereenvolgende nederlae tydens een enkele krieketwêreldbekertoernooi.[140]
Suid-Afrika vorder hiermee tot die halfeindrondte.[142]
Indië wen met 243 lopies Eden Gardens, Kolkata Bywoning: 58 000[145] Skeidsregters: Kumar Dharmasena (SL) en Paul Reiffel (Aus) Speler van die wedstryd: Virat Kohli (Ind)
Indië het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
Virat Kohli (Ind) teken ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aan.[51]
Virat Kohli ewenaar Sachin Tendulkar (albei Ind) se rekord vir die meeste EDI-honderdtalle (49).[146][147]
Ibrahim Zadran word die eerste Afghaanse kolwer wat ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aanteken.[153]
Glenn Maxwell en Pat Cummins teken 202 lopies om die agtste paaltjie aan, die hoogste agtste EDI-paaltjievennootskap ooit en oortref Suid-Afrika se 2006-rekord teen Indië.[154][155]
Glenn Maxwell word die eerste Australiese kolwer wat ’n EDI-tweehonderdtal aanteken.[156]
Glenn Maxwell moker ook die hoogste individuele EDI-telling deur ’n Australiese kolwer en oortref Shane Watson se 185 lopies, en die hoogste deur ’n nie-aanvangskolwer en oortref Charles Coventry (Zim) se 194 lopies.[157][158] Dit is ook die hoogste individuele EDI-telling vir ’n span wat tweede gekolf het.[159]
Australië vorder hiermee tot die halfeindrondte.[160]
Trent Boult word ná Tim Southee en Daniel Vettori die derde Nieu-Seelandse bouler wat 600 paaltjies in internasionale krieket neem. Hy word ook die eerste Nieu-Seelandse bouler wat sy 50ste krieketwêreldbekerpaaltjie neem.[133][164]
Mitchell Santner ewenaar Daniel Vettori se rekord vir die meeste paaltjies deur ’n Nieu-Seelandse bouler in ’n krieketwêreldbekertoernooi.[165]
Engeland wen met 93 lopies Eden Gardens, Kolkata Bywoning: 37 661[170] Skeidsregters: Rod Tucker en Paul Wilson (Aus) Speler van die wedstryd: David Willey (Eng)
Engeland het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
Haris Rauf (Pak) staan met 533 die meeste lopies in ’n krieketwêreldbekertoernooi af (in nege wedstryde) en oortref Adil Rashid (Eng) se 526 lopies tydens die 2019-toernooi (in elf wedstryde).[171]
Indië stel ’n nuwe rekord op vir die meeste EDI-tellings met meer 350 lopies in een kalenderjaar (8) en oortref Engeland se sewe in 2019.[81]
Vir die eerste keer in ’n krieketwêreldbekerwedstryd moker die eerste vyf kolwers in ’n kolfbeurt meer as 50 lopies elk.[81]
KL Rahul teken die vinnigste krieketwêreldbekerhonderdtal vir Indië ooit aan (in 62 aflewerings) en oortref Rohit Sharma se vorige rekord Afghanistan tydens dieselfde toernooi (in 63 aflewerings).[81][60]
Shreyas Iyer en KL Rahul teken 208 lopies om die vierde paaltjie aan, die hoogste Indiese vierde paaltjievennootskap in ’n krieketwêreldbekerwedstryd ooit.[53][81]
Indië stel ’n nuwe rekord op vir die meeste sesse in een kalenderjaar (215) en oortref Wes-Indië se 209 in 2019.[81]
Rohit Sharma stel ’n nuwe rekord op vir die meeste sesse in een kalenderjaar (60) en oortref AB de Villiers (RSA) se 58 in 2015.[81][175]
Die uitklopfase het bestaan uit twee halfeindstryde, waarvan die twee wenners mekaar in die eindstryd op die Narendra Modi-stadion in Ahmedabad ontmoet het. Die Internasionale Krieketraad het verklaar dat indien Indië vir die halfeindstryd sou kwalifiseer, die wedstryd op die Wankhedestadion in Mumbai beslis sou word, tensy hul opponent Pakistan was, dan sou die wedstryd op Eden Gardens in Kolkata beslis word. Al die uitklopwedstryde het ’n reserwedag gehad.[176]
Rohit Sharma teken ook die meeste sesse (31) ooit tydens een krieketwêreldbekertoernooi aan en oortref Chris Gayle se vorige rekord van 26 tydens die 2015-toernooi.[181]
Virat Kohli oortref ook Sachin Tendulkar se vorige rekord vir die meeste lopies tydens ’n krieketwêreldbekertoernooi (673), opgestel tydens die 2003-toernooi, en Greg Chappell (Aus) se vorige rekord vir die meeste lopies tydens ’n reeks (686).[179][182][183]
Shreyas Iyer teken die vinnigste honderdtal vir Indië in ’n uitklopwedstryd ooit aan (in 67 aflewerings) en oortref Adam Gilchrist (Aus) se vorige rekord teen Sri Lanka tydens die 2007-eindstryd (in 72 aflewerings).[60][81]
Indië se telling is die hoogste in ’n uitklopwedstryd ooit en oortref Nieu-Seeland se telling teen Wes-Indië tydens die 2015-kwarteindstryd (393/6).[179]
Mohammed Shami (Ind) neem ’n vyf-paaltjie-oes.[65] Daarmee word hy die eerste bouler wat vier vyf-paaltjie-oeste tydens een krieketwêreldbekertoernooi neem.[179]
Mohammed Shami neem sewe paaltjies en word sodoende die eerste Indiese bouler wat sewe EDI-paaltjies en die vinnigste bouler wat 50 krieketwêreldbekerpaaltjies neem (in 17 kolfbeurte), vinniger as Mitchell Starc (Aus) wat dié mylpaal in 19 kolfbeurte bereik het. Hy word ook die eerste bouler wat dié prestasie in ’n uitklopwedstryd behaal.[179][184]
Hy behaal ook die beste EDI-boulsyfers vir Indië en oortref Stuart Binny se 6/4, en ook die beste krieketwêreldbekerboulsyfers vir Indië en oortref Ashish Nehra se 6/23 tydens die 2003-toernooi.[185]
Dit is Indië se tiende agtereenvolgende EDI-oorwinning, gelyk aan hul langste wenreeks ooit en die naaslangste in krieketwêreldbekertoernooie ná Australië se elf oorwinnings.[186]
Indië haal vir die vierde keer ná 1983, 2003 en 2011 die eindstryd.[187]
David Miller (RSA) teken ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aan.[51] Daarmee word hy die eerste Suid-Afrikaanse kolwer wat ’n krieketwêreldbekerhonderdtal in ’n uitklopwedstryd aanteken.[189]
Dit is Suid-Afrika se vyfde verlore krieketwêreldbekerhalfeindstryd.
Australië kwalifiseer vir ’n rekord van agt krieketwêreldbekereindstryde.[190]
Australië het die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen.
Dit was die eerste keer sedert die 2003-toernooi wat Australië en Indië mekaar in ’n eindstryd ontmoet het.[193]
Travis Head (Aus) teken ’n krieketwêreldbekerhonderdtal aan.[51] Hy moker die hoogste individuelle telling vir ’n span wat tweede gekolf het en word die eerste kolwer wat honderdtalle in twee eindstryde (ná die Wêreldtoetskampioenskap 2021–2023-eindstryd) aanteken. Sy altesaam 199 lopies in die uitklopfase is ook die hoogste deur enige kolwer.[186]
Australië wen die krieketwêreldbeker vir ’n sesde keer.[186][194]