Max Theodor Felix von Laue (Pfaffendorf, naby Koblenz, 9 Oktober 1879 – Berlyn, 24 April 1960) was 'n Duitse fisikus en veral 'n kristallograaf. In 1914 is die Nobelprys vir Fisika aan hom toegeken vir sy ontdekking van die verstrooiing van X-strale deur kristalle.
Max von Laue is gebore met Julius Laue en Minna Zerrenner as ouers. In 1913 is sy familie na die adelstand verhef en hul van verander na Von Laue. Hy het sy opleiding aan die grammatikaskool in Straatsburg ontvang, waar hy in 1898 gegradueer het. Na 'n jaar van militêre diensplig het Von Laue wiskunde, fisika en chemie aan die Universiteit van Straatsburg begin studeer. Daarna het hy die universiteite van Göttingen en München besoek voordat hy hom in Max Planck se groep in Berlyn gevestig het. In Göttingen is hy sterk beïnvloed deur fisici soos Woldemar Voight en Max Abraham en die wiskundige David Hilbert.
Hy het in 1903 sy doktorsgraad in Berlyn ontvang, en daarna nog twee jaar in Göttingen gewerk. In 1905 is hy 'n werk aangebied as assistent van Max Planck in Berlyn waar hy aan bestralingsvelde en samehangende lig gewerk het. In 1906 voltooi hy sy habilitasie aan die Ludwig Maximilian Universiteit van München onder Arnold Sommerfeld. Hy het daarna as privaatdosent aan die Universiteit van München gewerk, en as professor in fisika in Zürich (1912), Frankfurt (1914) en Würzburg. In Würzberg het hy tydens die Eerste Wêreldoorlog saam met Wilhelm Wien gewerk aan die ontwikkeling van beter vakuumbuise vir telefonie en draadlose kommunikasie. In 1919 het hy professor in Berlyn geword en 25 jaar lank daar gebly. Selfs daarna het Max von Laue baie verskillende posisies beklee.
Hy het in 1958 afgetree maar het aktief bly werk tot ná sy tagtigste verjaardag. Hy was op 8 April 1960 in 'n motorongeluk en sterf op 24 April 1960.
Dit was in München dat Von Laue sy belangrikste ontdekking gemaak het. In 1912 het hy uitgepluis dat 'n kristal met sy driedimensionele translasie-simmetrie as 'n natuurlike rooster vir elektromagnetiese straling van die gepaste golflengte kan dien; gelykstaande aan eksperimente wat met sigbare lig op 'n difraksierooster gedoen is. Hy het sy eerste eksperimente uitgevoer deur X-strale op kristalle van kopersulfaat te skyn. Dit het beide die golfaard van hierdie balke en die roosterstruktuur van kristalle bevestig. Vir hierdie werk het hy in 1914 die Nobelprys vir Fisika ontvang. Hy het dus die grondslag vir X-straaldiffraksie gelê. Die polichromatiese X-straaldiffraksie op kristalle dra sy naam: die Laue-diffraksie. Von Laue se werk het gelei tot 'n belangrike vernuwing in kristallografie. Danksy sy metode het dit moontlik geword om die posisie van atome in 'n kristal baie presies te bepaal. Dit het die grondslag gelê vir die toekomstige werk van Peter Debye, William Henry Bragg en sy seun William Lawrence Bragg en ander.
Boonop het Von Laue belangrike bydraes gelewer tot probleme op die gebied van supergeleiding, wat hy gemaak het terwyl hy professor in teoretiese fisika aan die Universiteit van Berlyn was. Omtrent dieselfde tyd het Walther Meissner aan die Physikalisch-Technische Reichsanstalt (PTR) in Berlyn gestudeer. 'n Belangrike bydrae was sy verduideliking, in 1932, van die feit dat die kantelpunt van die toegepaste magnetiese veld wat supergeleiding vernietig, wissel met die vorm van die liggaam omdat die magnetiese veld verwring word deur die superstrome wat in die oppervlak van die supergeleidende metaal geïnduseer word. Sy teorie is bevestig en het die weg gebaan vir Meissner se daaropvolgende ontdekking dat 'n supergeleier 'n eksterne magnetiese veld in die liggaam uitskakel en die basiese idee vir Fritz London en Heinz London se teorie van supergeleiding gevorm het. Saam met die Londen broers het Von Laue in 1935 'n artikel[1] hieroor gepubliseer, asook twaalf artikels en 'n boek tussen 1932 en 1947.
Nadat die Nasionaal-Sosialiste in Duitsland aan bewind gekom het, het von Laue Duitsland se houding teenoor "Joodse fisici" openlik gekritiseer en in kontak gebly met sy uitgewekene Joodse kollegas. Hy het die smeerveldtog deur sy Duitse kollegas, veral die Nobelpryswenner Johannes Stark, vergelyk met Albert Einstein se relatiwiteitsteorie met die vervolging van Galileo Galilei in die sewentiende eeu deur die Katolieke Kerk.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog het hy geweier om met die Nazi-kernprogram saam te werk. Om sy afsku teenoor die Nazi's uit te spreek, het hy nooit sonder 'n pakkie onder elke arm uitgegaan nie. Dit het hom die verskoning gegee om nie die Hitler-saluut te hoef te gee nie. Intussen het hy die gerespekteerde boek "Geschichte der Physik" oor die geskiedenis van fisika geskryf. Na die Duitse oorgawe is Von Lauen deur die Geallieerde magte as 'n vooraanstaande Duitse geleerde gesien en is deur die Alsos-groep gearresteer en saam met ander Duitse wetenskaplikes by Farm Hill in die Verenigde Koninkryk aangehou.
Na die oorlog was Von Laue aktief betrokke by die herstel van die Duitse wetenskap. In 1951 word hy direkteur van die Fritz-Haber-Instituut van die Max Planck Vereniging vir Fisiese Chemie en Elektrochemie in Berlyn-Dahlem.
Van die vele eerbewyse en onderskeidings waarmee hy bekroon is, was die Ladenburg-medalje, die Max Planck-medalje (1932), die Matteucci-medalje (1914) en van die Oos-Berlynse Akademie vir Wetenskappe die Helmholtz-medalje (1959). In 1952 is hy tot ridder geslaan met die Orde Pour le Mérite, in 1953 ontvang hy die Groot Kruis van Verdienstelikheid met Ster en in 1957 word hy aangestel as Offisier van die Franse Legioen van Eer.