City of Mobile The Azalea City | |
---|---|
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Verenigde State |
Deelstaat | Alabama |
County | Mobile County |
Koördinate | 30°41′N 88°02′W / 30.683°N 88.033°W |
Stigting | 1702 |
Geïnkorporeer op | 20 Januarie 1814 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 413 vk km |
Hoogte bo seevlak | 3 m |
Bevolking: | |
- Totaal (2013) | 194 899 |
- Bevolkingsdigtheid | 471,9/vk km |
- Metropolitaanse gebied | 414 079 |
Tydsone | CST (UTC -6) |
Somertyd | CDT (UTC -5) |
Burgemeester | William S. Stimpson |
Amptelike Webwerf | City of Mobile |
Mobile [moʊˈbiːl] is die oudste stad in die Amerikaanse deelstaat Alabama en 'n belangrike seehawe vir die streek aan die Golf van Meksiko. Die geskiedenis en welvaart van Mobile, wat in 1702 deur Franse setlaars gestig is, word al drie eeue lank ten nouste met die ontwikkeling van sy hawe verbind. Dit was die eerste nedersetting in Noord-Amerika waar die Franse Mardi Gras of karnaval-feesvierings gehou is, en die stad, wat steeds 'n leidende rol in die politieke, ekonomiese en kulturele geskiedenis van die Amerikaanse Golfkus gespeel het, bewaar sy ryk kulturele erfenis met trots.
Kort voor die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog was Mobile die laaste hawe waar Afrikane as slawe na die Verenigde State ingevoer is. Gedurende die onstuimige jare van die Amerikaanse Burgerregtebeweging in die 1960's het die stad 'n simbool van verdraagsaamheid geword waar geen gewelddadige betogings plaasgevind het nie.
Vandag is Mobile een van die etnies en kultureel mees diverse stede in die Amerikaanse Suide. Omvangryke beleggings in die streek se nywerheidsektor en infrastruktuur het in die laat 20ste en vroeë 21ste eeu 'n nuwe ekonomiese optimisme aangewakker wat ongeëwenaar is sedert die bloeitydperk van die katoenbedryf in die 19de eeu.[1]
Gedurende die tweede en derde week in Maart, wanneer duisende asalea's in volle bloei is en temperature danksy die lenteson gaandeweg styg, vier Mobile sy jaarlikse Azalea Trail-fees.[2]