Namibië | ||||
Unie | Namibiese Rugbyunie (NRU) | |||
Bynaam(e) | Welwitschias | |||
Embleem | die visarend | |||
Stadion | Hage Geingob Rugbystadion, Windhoek | |||
Kapasiteit | 10 000 | |||
Afrigter(s) | Chrysander Botha[1] (sedert 2024) | |||
Kaptein(s) | Danco Burger | |||
|
||||
Statistiek
| ||||
---|---|---|---|---|
Meeste toetse | Eugene Jantjies (70)[2] | |||
Meeste toetspunte | Theuns Kotzé (430)[3] | |||
Meeste drieë | JC Greyling (29)[4] | |||
Eerste internasionale wedstryd | ||||
Suidwes-Afrika 0–9 Britse en Ierse Leeus (Windhoek, Namibië; 5 Julie 1955) Namibië 33–18 Zimbabwe (Windhoek, Namibië; 21 Maart 1990) | ||||
Grootste oorwinning | ||||
Namibië 118–0 Tunisië (Windhoek, Namibië; 23 Junie 2018) | ||||
Grootste nederlaag | ||||
Australië 142–0 Namibië (Adelaide, Australië; 25 Oktober 2003) | ||||
Wêreldbeker | ||||
Verskynings | 7/10 (Eerste in 1999) | |||
Beste uitslag | Vierde in groep in 2019 | |||
Unie webwerf | ||||
www.nru.com.na |
Die Namibiese nasionale rugbyspan is die nasionale rugbyspan wat Namibië in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Rugby word in Namibië geadministreer deur die Namibiese Rugbyunie (NRU) wat in 1990 gestig is. Hulle dra die bynaam Welwitschias, genoem na die Welwitschia. Namibië word deur Wêreldrugby as ’n vlak twee-span erken. Die Namibiese rugbyspan is tans (Julie 2024) 25ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[5] Die span word as die naasbeste Afrikarugbyspan ná die Suid-Afrikaanse Springbokke beskou.
Rugby in Namibië dateer uit die Suid-Afrikaanse besetting van die destydse Suidwes-Afrika en word sedertdien sterk deur dié suidelike buurland beïnvloed. Van 1954 af het die Suidwes-Afrikaanse keurspan deelgeneem aan die Suid-Afrikaanse Curriebeker en sedert 1955 het hulle in die hoofstad Windhoek ook nasionale spanne verwelkom, wat Suid-Afrika besoek het. In 1990 het hulle kort ná die Republiek van Namibië se onafhanklikwording in 1990 in hul eerste toetswedstryd gespeel. Namibië het tot dusver vir sewe van die tien rugbywêreldbekertoernooie gekwalifiseer, maar hulle is elke keer in die eerste rondte uitgeskakel. Hulle het tydens die Afrikabeker nege titels ingepalm en twee keer as naaswenner geëindig. Die Namibiese span speel tradisioneel in donkerblou truie met wit broeke en helderblou sokkies.
Die beheerliggaam vir rugby in Namibië is die Namibiese Rugbyunie (NRU). Die Namibiese Rugbyunie is in 1990 as opvolger van die plaaslike beheerliggaam Suidwes-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie gestig en het in dieselfde jaar ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[6] Daarbenewens het die Namibiese Rugbyunie in 1990 by die vier jaar vroeër gestigte kontinentale beheerliggaam Rugby Afrika aangesluit.[7] Sedert Augustus 2018 word rugby as een van Namibië se nasionale sportsoorte erken.[8]
Die hoogste rugbyliga in Namibië is die Rugbypremierliga (RPL) met agt spanne.[9] Sedertdien is die meeste spelers van die Namibiese nasionale span uit dié liga afkomstig, van die ander spelers is veral in Suid-Afrika en Frankryk aktief.
Naas die amptelike nasionale span roep die Namibiese Rugbyunie ook ander keurspanne byeen. Nes ander rugbylande beskik Namibië oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[10] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.[11]
In die kolonie Duits-Suidwes-Afrika was rugby heeltemal onbekend. Ná die Duitse beskermingsmag se oorgawe in Julie 1915 het die Unie van Suid-Afrika beheer oorgeneem, van 1919 af as ’n Volkebondmandaat. Nog tydens die Suidwes-Afrika-veldtog het in 1916 in die hoofstad Windhoek nege Suid-Afrikaners byeengekom om ’n plaaslike beheerliggaam te stig, die “Damaraland Rugbyvoetbalunie”. In dieselfde jaar is die eerste klub gestig en die eerste bekende wedstryd gereël, wat vanweë die tekort aan rugbyballe met ’n sokkerbal gespeel moes word. Die eerste bekende rugbyveld was geleë tussen die treinstasie en die Kaiserstraße (nou die Independence Avenue).[12] Die plaaslike beheerliggaam was ondergeskik aan die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, die huidige Suid-Afrikaanse Rugbyunie se voorloper.[13]
In 1925, 1929 en 1951 het ’n deur die Damaraland Rugbyvoetbalunie saamgestelde span deur die eintlike Suid-Afrika getoer. In 1938 het die Universiteit van Kaapstad se Ikeys die eerste Suid-Afrikaanse span geword wat na Windhoek gereis het. In 1952 is die plaaslike beheerliggaam in Suidwes-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (SWARVU) hernoem en het in dieselfde jaar nog ’n toer na Suid-Afrika gereël. Destyds was daar in die hele Suidwes-Afrika geen egte rugbyveld met ’n grasperk nie. Dit het in 1954 verander, toe Windhoek se stadsraad ’n ooreenstemmende area beskikbaar gestel het. Ook in 1954 het SWARVU se keurspan aan die Suid-Afrikaanse Curriebekertoernooi begin deelneem. Hierdie integrasie in die nasionale speelprogram het daartoe gelei dat Suidwes-Afrika nou ook vir buitelandse spanne as ’n opponent interessant geword het. Die eerste “toetswedstryd” is op 5 Julie 1955 gespeel, toe die Britse Leeus tydens hul 1955-toer na Suid-Afrika vir 24 wedstryde ook Windhoek besoek het.[12] Die vier Britse Tuislande se keurspan het voor ’n gehoor van sowat 5 000 met 9–0 geseëvier.[14] Daarna het gereelde toere nie net deur die Leeus plaasgevind nie, maar ook deur Australië, Frankryk, Nieu-Seeland en Rhodesië. Die noemenswaardigste uitslae was twee gelykopwedstryde: ’n 14–14 teen die Australiërs op 27 Julie 1961 en ’n 13–13 teen die Franse op 7 Junie 1975.[15][16]
Ná Suid-Afrika se Republiekwording in 1961 het dit die destydse Suidwes-Afrika as ’n integrale deel van sy staatsgebied begin beskou. Vervolgens het die Verenigde Nasies Suid-Afrika van sy mandaat ontneem, wat die regering egter geïgnoreer het. Met die de facto-anneksasie is die rassistiese apartheidswette, waarvolgens die Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe in “blanke” en “nieblanke” (onder die wetgewing gedefinieer as “swart”, “bruin” of “Indiërs”) geskei is, ook in Suidwes-Afrika geïmplementeer. Daardeur is “nieblankes” van amper al die sport uitgesluit.[17] ’n Jaar vroeër het die Volksbevrydingsleër van Namibië, ’n gewapende tak van die SWAPO, die Namibiese Onafhanklikheidsoorlog begin. Suidwes-Afrikaanse rebelle het die boikot van die apartheidsregime verwelkom en protesbewegings in ander lande ondersteun. Die ondertekening van die Gleneagles-ooreenkoms deur 33 lidlande van die Britse Statebond op 15 Junie 1977 het Suid-Afrika se sportiewe isolasie verder verskerp. As gevolg van die ooreenkoms is die land ten einde van stappe teen die apartheidspolitiek stelselmatig van die Britse Statebond se sportwêreld geïsoleer. In die ooreenkoms is ook voorsiening gemaak vir sanksies teen lidlande wat die ooreenkoms sou oortree, en instellings wat bewysbaar die Suid-Afrikaanse rasseskeiding ondersteun het, is uit al die internasionale sport uitgesluit.[18][19]
Aangesien Namibië destyds as ’t ware as vyfde Suid-Afrikaanse provinsie bestuur is, is die plaaslike rugby ook geraak. Van 1977 af het Suidwes-Afrika geen internasionale span meer gehuisves nie. Die SWARVU kon slegs twee keurspanne na Suid-Amerikaanse lande stuur. Die eerste het in 1983 na Chili en Uruguay gegaan (’n nederlaag en oorwinning elk), die tweede in 1988 na Chili en Paraguay (twee oorwinnings).[20][21] Destyds het Suidwes-Afrika in die Curriebeker oorwegend aan die tweede of derde afdeling deelgeneem. In 1987 het hulle met ’n 24–12-oorwinning oor Wes-Transvaal in die eindstryd die eerste afdeling gehaal.[22] Aan die einde van die daaropvolgende 1988-seisoen het Suidwes-Afrika na Noord-Transvaal en die Westelike Provinsie in die derde plek geëindig, hul beste prestasie ooit.[23] Ná die einde van die 1989-seisoen, wat Suidwes-Afrika in die sesde plek afgesluit het, het die SWARVU sy span uit die toernooi onttrek. Hulle het die onsekerheid omtrent die komende Namibiese onafhanklikheid aangevoer.[24]
Met die inwerkingtreding van die grondwet het die Republiek van Namibië op 21 Maart 1990 ’n onafhanklike land geword. Op dieselfde dag het die nuwe nasionale beheerliggaam Namibiese Rugbyunie (NRU) die SWARVU opgevolg en dadelik by die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) aangesluit.[13] Ook op die onafhanklikheidsdag is in Windhoek die eerste toetswedstryd aangebied, wat die Namibiërs teen Zimbabwe met 33–18 gewen het.[25] Dit was egter te laat om aan die kwalifisering vir die Rugbywêreldbeker 1991 deel te neem. Die beheerliggaam het egter daarin geslaag om ’n aantal noemenswaardige opponente na Namibië te nooi, aangesien die span, wat in die seisoen tevore aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem het, nog grootliks bestaan het. In Junie 1990 het Wallis Namibië besoek en twee naelskraapse oorwinnings aangeteken. Die Namibiërs se eerste wegwedstryd in Mei 1991 teen Portugal het in ’n 34–12-oorwinning geëindig. In Junie 1991 het Italië in voorbereiding op die Rugbywêreldbeker 1991 ook Namibië besoek, waarby die gasheer albei toetswedstryde kon wen. Aangesien die Italianers as baie sterker geag is, was dit ’n verrassende uitslag.[26] Die Namibiërs het ’n maand later ’n groter verrassing behaal, toe hulle Ierland in twee toetswedstryde verslaan het.[27]
In Junie 1993 het Namibië weer Wallis verwelkom, maar ná die uittrede van ’n aantal sleutelspelers uit die Curriebekertydperk of hul oproep deur finansieel sterk Engelse Rugby League-spanne was die Namibiese nasionale span vir Europese spanne nie meer interessant genoeg nie of moes teen minder belangrike opponente speel. Van Julie 1993 af het die Namibiërs vir die eerste keer aan die rugbywêreldbekerkwalifisering deelgeneem. Met maklike oorwinnings oor Arabië, Kenia en Zimbabwe het hulle die eerste rondte in Nairobi in die eerste plek afgesluit. Tydens die tweede rondte, wat in Julie 1994 in Casablanca aangebied is, het hulle Zimbabwe weer verslaan, maar hulle het teen die Ivoorkus naelskraap met 12–13 verloor en teen die gasheer Marokko met 16–16 gelykop gespeel. Hulle het in die tweede plek geëindig en sodoende die Rugbywêreldbeker 1995 misgeloop.[28][29] In 1996 het hulle nie in ’n enkele toetswedstryd gespeel nie, in 1997 slegs in twee (waaronder ’n tuiswedstryd teen die deur Afrika toerende Tongaanse span).
In April 1998 het Namibië in die derde rondte van die rugbywêreldbekerkwalifisering begin. Op ’n 17–20-wegnederlaag teen Tunisië het ’n 32–26-tuisoorwinning oor Zimbabwe gevolg. Al die drie betrokke spanne het aan die einde ’n nederlaag en ’n oorwinning elk aangeteken, met Zimbabwe in die eerste plek en Namibië in die tweede plek wat weens hul beter punteverskil die vierde rondte gehaal het, terwyl Tunisië uitgeskakel is. In September 1998 het Namibië met oorwinnings oor Ivoorkus, Marokko en Zimbabwe in die Marokkaanse hoofstad Rabat vir die Rugbywêreldbeker 1999 gekwalifiseer.[30] Dit het egter aanvanklik gelyk of hul deelname aan die rugbywêreldbekertoernooi in gedrang was, aangesien die Namibiese regering se sportkommissie die nasionale span se deelname aan die opwarmingstoernooi in Suid-Afrika verbied en gedreig het om sy geskiktheid vir die rugbywêreldbekertoernooi te herroep. Dit het gevolg op kritiek deur “nieblanke” rugbyklubs, waarvolgens die NRU rassistiese neigings getoon het.[31] Ná ’n versekering deur die beheerliggaam kon die nasionale span eindelik deelneem aan die Rugbywêreldbeker 1999, wat deur die destydse Vyfnasies aangebied is. Hulle het egter teen Fidji (met 18–67), Frankryk (met 13–47) en Kanada (met 11–72) swak verloor. Die enigste troosprys tydens die toernooi was ’n vroeë drie teen Frankryk, waardeur die wedstryd tot in die 27ste minuut gelykop was.[32]
In 2000 het die Namibiërs aan die eerste Afrikabekertoernooi deelgeneem. Hulle het Zimbabwe twee keer verslaan, maar ook twee keer teen die Suid-Afrikaanse amateurs swak verloor. Die eerste rondte se suidelike groep het hulle in die tweede plek afgesluit en sodoende die eindstryd misgeloop.[33] Die Afrikabeker 2001 het op ’n soortgelyke manier verloop: Namibië het albei wedstryde teen die Suid-Afrikaanse amateurs swak verloor, terwyl hulle teen Zimbabwe ’n oorwinning aangeteken en ’n nederlaag gely het. Hulle het in die suidelike groep weer in die tweede plek geëindig.[34] Die Afrikabeker 2002 het gelyktydig as rugbywêreldbekerkwalifisering gedien. Die Namibiërs het in die suidelike groep ’n tuisoorwinning oor Madagaskar en ’n wegoorwinning oor Zimbabwe aangeteken, waardeur hulle met hul eerste plek die eindstryd teen Tunisië gehaal het. Hulle het die tuiswedstryd in Windhoek met 26–19 gewen, terwyl die wegwedstryd in Tunis in ’n 17–24-nederlaag geëinig het. Die algehele telling was ’n 33–33-gelykop; aangesien hulle meer drieë gedruk het, het die Namibiërs hul eerste Afrikatitel ingepalm en ook vir die Rugbywêreldbeker 2003 gekwalifiseer.[35]
’n Deel van die Afrikabeker 2003 het as voorbereiding op die rugbywêreldbekertoernooi gedien. Die Namibiërs het in die eerste rondte Botswana en Kenia verslaan, waardeur hulle met hul eerste plek die halfeindrondte gehaal het. In die halfeindstryd het hulle Uganda met 82–13 verneder.[36] Die Afrikabeker is onderbreek deur die rugbywêreldbekertoernooi in Australië. Soos verwag was Namibië in die eerste rondte sonder enige kans en het sy wedstryde teen Argentinië (met 14–67), Ierland (met 7–64), Australië (met 0–142) en Roemenië (met 7–37) swak verloor.[37] Namibië het in voorbereiding op die wedstryd teen Roemenië in die wedstryd teen die gasheer ’n aantal sleutelspelers laat rus, wat tot ’n nederlaag van historiese dimensies gelei het. Terwyl Namibië die hoogste nederlaag van ’n span in die rugbywêreldbekergeskiedenis gely het, het die Australiërs nuwe rekords rakende punteverskil en gedrukte drieë behaal.[38] Rudie van Vuuren, wat met die Namibiese nasionale krieketspan aan die Krieketwêreldbeker 2003 in Suid-Afrika deelgeneem het, het die eerste sportlui geword wat in dieselfde jaar in twee verskillende sportkodes aan wêreldbekertoernooie deelgeneem het.[39]
Vier maande later het Namibië in Februarie 2004 in die eindstryd van die Afrikabeker gespeel, maar in Casablanca teen Marokko met 7–27 verloor.[36] Hulle kon nog in dieselfde jaar tydens die Afrikabeker 2004 wraak neem. Ná oorwinnings oor Zambië en Kenia in die eerste rondte het die Namibiërs in die halfeindstryd Zimbabwe verslaan. In die eindstryd in Windhoek het hulle weer teen Marokko te staan gekom, met 39–22 geseëvier en hul tweede Afrikatitel ingepalm.[40] Die Afrikabeker 2005 het egter teleurstellend verloop. Ná twee oorwinnings oor Ivoorkus en Madagaskar in die eerste rondte het die Namibiërs die halfeindstryd teen Marokko met 0–49 verloor.[41] Die Afrikabeker 2006 het gelyktydig as rugbywêreldbekerkwalifisering gedien. In die eerste rondte het Namibië albei tuiswedstryde teen Tunisië en Kenia gewen, maar in albei wegwedstryde teen dié twee spanne nederlae gely. Al die drie spanne was aan die einde van die toernooi gelyk op punte, maar Namibië het weens sy beter punteverskil die eerste plek bespreek en die halfeindrondte gehaal. Ná ’n 27–9-wegoorwinning oor Marokko het hulle vir die derde agtereenvolgende keer vir ’n rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer. In die eindstryd het hulle teen die Suid-Afrikaanse amateurs te staan gekom en met 27–29 naelskraap verloor.[42]
Die Afrikabeker 2007 het teleurstellend verloop: Die Namibiërs het Zambië verneder, maar hulle het teen Uganda met 19–20 verloor en hulle is sodoende met hul tweede plek reeds in die eerste rondte uitgeskakel.[43] Tussen die twee wedstryde het hulle vir die eerste keer aan die Nasiesbeker deelgeneem. Tydens dié toernooi, wat in Boekarest aangebied is, het die Namibiërs al die drie wedstryde teen Georgië, die Argentynse reserwespan en die gasheer Roemenië verloor, waarvolgens hulle in die laaste plek geëindig het.[44] Voor die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 2007 in Frankryk was Namibië onder al die deelnemende spanne die laagste geplaas op Wêreldrugby se ranglys en die span sou glo sonder enige kans in die eerste wedstryd teen Ierland gewees het. Hulle het egter daarin geslaag om twee drieë te druk en met 17–32 hul nouste nederlaag ooit tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi gely. Daarna het hulle swak verloor teen Frankryk (met 10–87) en Argentinië (met 3–63). In die wedstryd teen Georgië, waar hulle volgens hul eie verwagtinge die beste kans op ’n oorwinning gehad het, is Namibië met 0–30 verslaan en sodoende weer sonder enige oorwinning uit die toernooi geskakel.[45]
Ná altesaam nege agtereenvolgende nederlae (tot op hede ’n negatiewe rekord) was Namibië tydens die Afrikabeker 2008/09 weer suksesvol. In die eerste rondte het hulle sowel Senegal as Zimbabwe verslaan. Die daaropvolgende uitklopfase was tweeledig. In die halfeindrondtewegwedstryd teen Ivoorkus het hulle met 13–13 gelykop gespeel, terwyl Namibië tuis met 54–14 geseëvier het. In die eindstryd het hulle teen Tunisië te staan gekom, wat hulle weg met 18–13 geklop het. Die terugwedstryd in Windhoek het die Namibiërs met 22–10 gewen en sodoende hul derde Afrikatitel ingepalm en vir die daaropvolgende rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer.[46] Ná drie jaar se afwesigheid is die nasionale span vir die Nasiesbeker 2010 in Boekarest genooi. Die Namibiërs het in dié toernooi se verrassing ontpop, nadat hulle die gasheer Roemenië met 21–17 en die titelverdediger, die Skotse reserwes, met 23–20 geklop het. Die toernooi het in die derde wedstryd teen Georgië neergekom, wat die Namibiërs met 21–16 gewen het. Gemeet aan die betrokke spanne se sterkte is hierdie prestasie die belangrikste tot nou toe.[47][48]
Hul titelverdediging tydens die Nasiesbeker 2011 het misluk. Namibië het Portugal verslaan, maar hulle het teen Roemenië verloor en ook teen Georgië ’n nederlaag gely, waarvolgens hulle in die vierde plek geëindig het.[49] Soos verwag kon die Namibiërs tydens die Rugbywêreldbeker 2011 in Nieu-Seeland nie presteer nie. Hulle kon teen Fidji vir ’n tyd lank goed treed hou, maar hulle het eindelik met 25–49 verloor. Die wedstryd teen Samoa het op ’n soortgelyke manier verloop en hulle is met 49–12 verslaan. In die wedstryde teen die buurland Suid-Afrika (met 0–87) en Wallis (met 7–81) was hulle sonder enige kans. Met hierdie uitslae was Namibië die laaste onder die 20 deelnemende spanne. Troosprys was dat Theuns Kotzé (wat slegs drie maande vroeër debuteer het) Namibië se beste puntemaker tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi geword het.[50] Buitendien is die spankaptein Jacques Burger deur die IRR se Rugby News Service as een van dié toernooi se vyf beste spelers aangewys: Hy was “heeltyd ’n helder skynende lig in sy span”, aangesien hy ook met steeds groeiende punte vir die opponent voortgegaan het met duikslae en die bal in skrums verower het.[51]
Aangesien die Namibiërs in 2010 en 2011 nie aan die Afrikabeker deelgeneem het nie, is hulle na die tweede afdeling afgegradeer. Tydens die 2012-toernooi het hulle in die Malgassiese hoofstad Antananarivo op die regstreekse opgradering gemik. Hulle het in die halfeindstryd Senegal naelskraap met 20–18 geklop,[52] maar die eindstryd voor ’n gehoor van meer as 35 000 teen die gasheer Madagaskar het nie na wense verloop nie. Ná afloop van die gewone spel was die telling ’n 43–43-gelykop, kort voor die ekstra tyd het Namibië met 54–50 voorgeloop. Maar in die laaste minuut het die Malgasse ná ’n verdoelde drie met 57–54 geseëvier en die Namibiërs in die puntrykste wedstryd in hul geskiedenis van hul opgradering ontneem.[53] Tydens die Afrikabeker 2013 het Namibië ’n nuwe probeerslag onderneem. Hulle het die halfeindstryd teen Senegal met 35–12 gewen, in die eindstryd Tunisië met 45–13 verslaan en sodoende ná vier jaar weer die hoogste afdeling gehaal.[54]
Die Afrikabeker 2014 se eerste afdeling is in Antananarivo aangebied. Die Namibiërs is in die eerste wedstryd deur Kenia verslaan, maar hulle kon Zimbabwe en Madagaskar klop. Drie spanne was aan die einde van die toernooi gelyk op punte, maar Namibië het die beter punteverskil gehad en sodoende vir die vierde keer die vastelandse toernooi beklink. Met dié prestasie het hulle vir hul vyfde rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer.[55] Tydens die 2014 eindjaarrugbytoetsreeks het die Namibiërs Europa vir vier wedstryde besoek, maar hulle kon slegs teen Duitsland ’n oorwinning aanteken. Met drie nederlae teen Roemenië, Spanje en die Argentynse reserwes het hulle die Nasiesbeker 2015 in Boekarest in die laaste plek afgesluit.[56] Tydens die Afrikabeker 2015 het hulle Tunisië, Kenia en Zimbabwe oorheers, waarvolgens hulle met die vyfde vastelandse titel weggestap het.[57]
Tot dusver was talle afrigtingsveranderings ’n bepalende kenmerk van die nasionale span, waarvolgens die span se langtermynontwikkeling gekniehalter is. In November 2014 het die NRU die voormalige Walliese nasionale speler Phil Davies aangestel. Hy was eers as tegniese adviseer betrokke en het kort voor die Rugbywêreldbeker 2015 in Engeland as hoofafrigter oorgeneem.[58] Tydens dié toernooi het die Namibiërs teen die latere wêreldkampioen Nieu-Seeland (met 14–58), Tonga (met 21–35), Georgië (met 16–17) en Argentinië (met 19–64) verloor. Die nederlaag teen die Georgiërs was hul destyds nouste ontkoming tydens ’n rugbywêreldbekertoernooi. Hoewel hulle weer in die laaste plek geëindig het, het die Namibiërs ’n defensiewe bonuspunt behaal (vir ’n nederlaag met minder as sewe punte).[59]
Tydens die Nasiesbeker 2016 in Boekarest het hulle ’n 8–20-nederlaag teen Roemenië gely, maar hulle kon Spanje met 34–32 verslaan (hul eerste oorwinning oor dié span ooit). In die wedstryd om die derde plek het die Namibiërs die Italiaanse reserwes met 38–26 verslaan.[60] Tydens die Afrikabeker 2016 kon die Namibiërs hul titel suksesvol verdedig. Hulle het daarin geslaag met ’n naelskraapse wegoorwinning oor Uganda en twee maklike tuisoorwinnings oor Kenia en Zimbabwe.[61] Tydens die Nasiesbeker 2017, wat vir die eerste keer in Montevideo aangebied is, het die Namibiërs onderpresteer. Hulle het teen Spanje naelskraap verloor (met 13–15), die Italiaanse reserwes verslaan en is hulle ook deur Rusland geklop (met 31–10).[62] Tydens die Afrikabeker 2017 het Namibië aan sy gunstelingstatus voldoen, toe hulle die ander deelnemende spanne Tunisië, Senegal, Zimbabwe en Kenia deels verneder en die toernooi vir die sewende keer beklink het.[63] Die Afrikabeker 2018, wat gelyktydig as rugbywêreldbekerkwalifisering gedien het, het vir die Namibiërs op ’n soortgelyke manier verloop. Hulle het dié toernooi met vyf oorwinnings oor Uganda, Tunisië, Marokko, Zimbabwe en Kenia, hul altesaam agtste vastelandse titel en hul sesde kwalifisering vir ’n rugbywêreldbekertoernooi afgesluit.[64]
Die Nasiesbeker 2019 het vir die Namibiërs teleurstellend verloop. Hulle het die gasheer Uruguay naelskraap verslaan, maar teen Rusland en die Argentynse reserwes verloor, waarvolgens hulle in die laaste plek geëindig het.[65] Tydens die daaropvolgende Rugbywêreldbeker 2019 in Japan het Eugene Jantjies die eerste Namibiese speler ooit geword wat vir die vierde keer aan ’n rugbywêreldbekertoernooi deelgeneem het.[66] In die groepfase het sy span teen Italië (met 22–47), die latere wêreldkampioen Suid-Afrika (met 3–57) en Nieu-Seeland (met 9–71) verloor. Hulle het teen Italië daarin geslaag om drie drieë te druk. Die vierde wedstryd teen Kanada is nes twee ander wedstryde weens tifoon Hagibis se verwoestinge afgelas en as ’n 0–0-gelykop geag.[67]
Vanweë die wêreldwye Covid-19-pandemie kon in 2020 geen wedstryd aangebied word nie. Nadat Davies bedank het, is hy in Maart 2020 deur Johan Diergaardt as nuwe hoofafrigter opgevolg. Hy sou dié pos oorspronklik tot in 2023 beklee,[68] maar hy het op 9 Desember sy onmiddellike bedanking aangekondig. Hy het aangevoer, dat die beheerliggaam nie aan sy verpligtinge uit die verdrag voldoen het nie en nie die spelers se welstand in ag geneem het nie.[69] Sedert Junie 2021 dien die voormalige Suid-Afrikaanse hoofafrigter, Allister Coetzee, as nuwe Namibiese hoofafrigter. Onder hom het die Namibiërs, nadat hulle in 2019 nie aan die toernooi deelgeneem het nie en dit daarna twee keer vanweë die wêreldwye pandemie nie plaasgevind het nie, wel deelgeneem aan die Afrikabeker 2021/22, wat by uitsteek oor twee jaar gestrek het. Die eerste rondte, wat in Julie 2021 in Abidjan aangebied is, het met ’n verrassende nederlaag teen die gasheer Ivoorkus afgeskop. Danksy ’n maklike oorwinning oor Madagaskar het die Namibiërs nogtans in die eerste plek geëindig en die uitklopfase gehaal. Om epidemiologiese redes is die uitklopfase in Julie 2022 in die Franse stede Marseille en Aix-en-Provence beslis. In die kwarteindstryd het Namibië Burkina Faso maklik verslaan, in die halfeindstryd Zimbabwe en in die eindstryd Kenia. Met hul negende vastelandse titel het die span vir die Rugbywêreldbeker 2023 in Frankryk gekwalifiseer, hul sewende rugbywêreldbekerdeelname.[70] Tydens die groepfase in Frankryk het die Namibiërs deels swak nederlae teen Italië (met 8–52), Nieu-Seeland (met 3–71), Frankryk (met 0–96) en Uruguay (met 26–36) gely.[71]
Tydens die Afrikabeker 2024 het die Namibiërs in die halfeindstryd ’n verrassende swak nederlaag gely teen die latere Afrikakampioen Zimbabwe (met 10–32), waarmee hul wenreeks by dié toernooi beëindig is.[72]
Namibië speel tradisioneel in ’n donkerblou trui met wit en rooi kleuraksente, wit broeke en blou sokkies. Hul alternatiewe trui is wit met blou kleuraksente, blou broeke en wit sokkies.
Die Namibiese nasionale span se huidige truiverskaffer is die Nieu-Seelandse sporttoerustingvervaardiger Canterbury of New Zealand en die truiborg is die Namibiese brouery Namibia Breweries.[73] Die beheerliggaam se kenteken verskyn op die regterbors, die truiverskaffer se kenteken links en die borgkenteken in die middel.
Die beheerliggaam Namibiese Rugbyunie se kenteken toon ’n visarend, Namibië se wapendier. Die nasionale span se bynaam is Welwitschias, ontleen aan die gelyknamige nasionale plant van Namibië.
Die Namibiese nasionale span se tuisstadion is die Hage Geingob Rugbystadion (tot in 2018 Suidwesstadion genoem).[74] Dit is in die hoofstad Windhoek geleë, na staatspresident Hage Geingob genoem en beskik oor ’n kapasiteit van 10 000. Hier is amper al die tuiswedstryde aangebied.
Namibië het 99 van sy 173 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 57,23%. Namibië se statistieke in toetswedstryde teen al die lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek in Julie 2024):[75]
Opponent | Gespeel | Gewen | Verloor | Gelykop | % Gewen |
---|---|---|---|---|---|
Arabië | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Argentinië | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Australië | 1 | 0 | 1 | 0 | 0,00 |
Botswana | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Burkina Faso | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Chili | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Duitsland | 3 | 3 | 0 | 0 | 100,00 |
Fidji | 2 | 0 | 2 | 0 | 0,00 |
Frankryk | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Georgië | 5 | 1 | 4 | 0 | 20,00 |
Hongkong | 1 | 1 | 0 | 0 | 100,00 |
Ierland | 4 | 2 | 2 | 0 | 50,00 |
Italië | 5 | 2 | 3 | 0 | 40,00 |
Ivoorkus | 6 | 3 | 2 | 1 | 50,00 |
Kanada | 3 | 1 | 2 | 0 | 33,33 |
Kenia | 14 | 12 | 2 | 0 | 85,71 |
Madagaskar | 5 | 4 | 1 | 0 | 80,00 |
Marokko | 8 | 5 | 2 | 1 | 62,50 |
Nieu-Seeland | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Portugal | 9 | 6 | 3 | 0 | 66,67 |
Roemenië | 6 | 1 | 5 | 0 | 16,67 |
Rusland | 7 | 2 | 5 | 0 | 28,57 |
Samoa | 2 | 0 | 2 | 0 | 0,00 |
Senegal | 4 | 4 | 0 | 0 | 100,00 |
Spanje | 7 | 1 | 6 | 0 | 14,00 |
Suid-Afrika | 3 | 0 | 3 | 0 | 0,00 |
Tonga | 2 | 0 | 2 | 0 | 0,00 |
Tunisië | 11 | 8 | 3 | 0 | 72,72 |
Uganda | 5 | 4 | 1 | 0 | 80,00 |
Uruguay | 6 | 1 | 5 | 0 | 16,67 |
Wallis | 4 | 0 | 4 | 0 | 0,00 |
Zambië | 2 | 2 | 0 | 0 | 100,00 |
Zimbabwe | 33 | 30 | 3 | 0 | 90,91 |
Algeheel | 173 | 99 | 72 | 2 | 57,23 |
Die Namibiese nasionale span het tot dusver aan sewe rugbywêreldbekertoernooie deelgeneem. Hulle was by elke rugbywêreldbekertoernooi die span in die laagste plek op Wêreldrugby se ranglys, het nie ’n wedstryd gewen nie en by elke toernooi in die laaste plek geëindig. Hulle het hul beste prestasie in 2015 gehaal, toe Namibië vir die eerste keer teen halftyd voorgeloop (met 6–0 teen Georgië) en amper ’n oorwinning aangeteken het (met die finale telling teen Georgië met 16–17). Buitendien het die span vir die eerste keer ’n bonuspunt behaal en in die derde laagste plek geëindig (voor Uruguay en die Verenigde State). Tydens die 2023-toernooi het Namibië teen Uruguay teen halftyd met 20–12 voorgeloop, maar met 26–36 verloor.
Jaar | Uitslag |
---|---|
1987 | Geen deelname |
1991 | Geen deelname |
1995 | Geen deelname |
1999 | Groepfase |
2003 | Groepfase |
2007 | Groepfase |
2011 | Groepfase |
2015 | Groepfase |
2019 | Groepfase |
2023 | Groepfase |
2027 | N.v.t. |
2031 | N.v.t. |
Namibië neem sedert 2000 aan die jaarlikse Afrikabeker deel en is met nege titeloorwinnings rekordwenner.
Sedert 2007 het Namibië aan sewe Nasiesbekertoernooie deelgeneem. Tydens dié toernooi ontmoet nasionale spanne van die tweede vlak en reserwespanne van die eerste vlak. Tot dusver het Namibië een toernooi gewen.
Vanweë sy laat onafhanklikheidwording het Namibië gedurende die amateurtydperk min toere volgens die ou tradisie onderneem, aangesien dit teen die jaar 2000 tot ’n einde gekom het. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Europese spanne na Namibië en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks reis die Namibiërs na Europa. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Namibië nie vir enige trofee teen sy opponente nie.
Die volgende spelers het die Namibiese span gevorm tydens die Afrikabeker 2024:[76]
Tot dusver is nog geen Namibiese speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie. Van die internasionaal bekendste en suksesvolste spelers is die langjarige kaptein Jacques Burger, asook Eugene Jantjies en Theuns Kotzé. Daarbenewens is dit ’n algemene verskynsel dat in Namibië gebore spelers vir Suid-Afrika uitdraf. Die bekendste voorbeeld is Percy Montgomery, wat in 2007 wêreldkampioen geword het. Daar is egter ook Suid-Afrikaners wat vir Namibië speel.
Vervolgens die belangrikste statistieke van Namibië se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.
(Korrek teen: Julie 2024)
|
| ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
|
Die volgende persone het al as hoofafrigters van die Namibiese nasionale rugbyspan gedien:
Naam | Tydperk |
---|---|
Rudy Joubert | 1999 |
Sarel Losper | 2000 |
Henry Pretorius | 2000–2001 |
David Waterston | 2002–2003 |
Danie Vermeulen | 2004–2005 |
Christo Alexander | 2005 |
Johan Venter | 2006–2007 |
Hakkies Husselman | 2007 |
John Williams | 2008–2009 |
Johan Diergaardt | 2009–2011 |
Danie Vermeulen | 2012–2015 |
Phil Davies | 2015–2019 |
Johan Diergaardt | 2020 |
Allister Coetzee | 2021–2024 |
Chrysander Botha | sedert 2024 |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Namibiese nasionale rugbyspan. |