O.R. Tambo Internasionale Lughawe O. R. Tambo International Airport | |||
---|---|---|---|
IATA: JNB – ICAO: FAOR | |||
Opsomming | |||
Tipe lughawe | Openbaar | ||
Eienaar/Operateur | Airports Company South Africa | ||
Bedien | Johannesburg en Pretoria | ||
Ligging | Kemptonpark, Gauteng, Suid-Afrika | ||
Spil vir | Airlink CemAir FlySafair Suid-Afrikaanse Lugdiens South African Express LIFT Airline | ||
Hoogte bo seevlak | 5 558 vt / 1 694 m | ||
Koördinate | 26°08′21″S 28°14′46″O / 26.13917°S 28.24611°O | ||
Webtuiste | |||
Landkaart | |||
| |||
Aanloopbane | |||
Rigting | Lengte | Oppervlak | |
m | vt | ||
03L/21R | 4 421 | 14 495 | Teer |
03R/21L | 3 405 | 11 155 | Teer |
Statistieke (2022) | |||
Passasiers | 14 789 508 80% | ||
Lugbewegings | 139 105 | ||
Ekonomiese impak | VS$ 3,2 miljard[1] | ||
Sosiale impak | 128,2 duisend[1] |
Die O.R. Tambo Internasionale Lughawe, afgekort ORTIA (IATA: JNB, ICAO: FAOR) is 'n reuse lughawe naby Johannesburg, Gauteng, Suid-Afrika, en die belangrikste lughawe vir binnelandse en buitelandse vlugte in Suid-Afrika. Die lughawe is ontwerp vir 'n maksimumkapasiteit van 28 miljoen passasiers per jaar.[2]
Die O.R. Tambo-lughawe word as 'n hooggeleë lughawe met hoë temperature geklassifiseer. Op 1 700 meter bo seevlak is die lugdruk merkbaar "dunner" sodat die totale massa van vliegtuie verminder moet word - gewoonlik deur minder brandstof in te neem. Ook moet die aanloopbane hier langer wees - die lughawe se twee aanloopbane van respektiewelik 3305 en 4421 meter word tans as van die langstes ter wêreld beskou.[3]
Die lughawe is die grootste op die vasteland van Afrika, en het in 2007 tot 19 440 000 reisigers hanteer. In 1996 het Johannesburg se lughawe die Kaïro Internasionale Lughawe in Egipte as die besigste op die Afrika-vasteland verbygesteek en is nou een van die eenhonderd besigste lughawens ter wêreld. Teen die jaar 2010 het dit meer as 21 miljoen passasiers hanteer.
Die lughawe is in 1952 as Jan Smuts-lughawe in Kemptonpark aan die Oos-Rand geopen. Nog in dieselfde jaar, op 2 Mei, het die Britse lugredery BOAC die stralertydperk ingelui met die eerste regstreekse ononderbroke vlug vanuit Londen na Johannesburg - met 'n togsnelheid van 770 km per uur (in vergelyking met die Douglas DC-3 se 290 km/h).[4] In die 1970's was Jan Smuts 'n toetslughawe vir die Frans-Britse supersoniese Concorde-vliegtuig. Tussen 1994 en 2006 staan dit as die Johannesburg Internasionale Lughawe bekend. Dit is op 27 Oktober 2006 na die anti-apartheidsaktivis en stigterslid van die ANC Jeugliga, Oliver Tambo, herdoop.
Die lughawe se internasionale terminaal is ontwerp om ook die grootste moderne dubbeldek-passasiersvliegtuig, die Airbus A380, te kan hanteer.
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ander internasionale lugrederye se oorsese bestemmings, wat vanaf die O R Tambo-lughawe bedien word, sluit onder meer Beijing, Buenos Aires, Hongkong, New York, Perth, São Paulo en Washington, D.C. in. Daar is egter 'n groter aantal verbindings met Europese lande, waaronder sewe daaglikse verbindings vanaf Londen in die Verenigde Koninkryk met Airbus en Boeing 747-400-makrostralers.
Die lughawe word beheer en bedryf deur ACSA (Lughawemaatskappy van Suid-Afrika). ACSA het verskeie opgraderingsprojekte van stapel gestuur om vir die toenemende getal passasiers voorsiening te maak, onder meer 'n nuwe binnelandse terminaal, opgradering vir die Airbus A380-vliegtuig en baie meer parkeerplek vir voertuie.
Die lughawe word sedert 2010 deur 'n stasie vir die Gautrein bedien.
Wikimedia Commons bevat media in verband met OR Tambo International Airport. |