Pous Clemens XIV | |
---|---|
Geboortenaam | Lorenzo Ganganelli |
Pontifikaat begin | 19 Mei 1769 |
Pontifikaat eindig | 22 September 1774 |
Voorganger | Clemens XIII |
Opvolger | Pius VI |
Gebore | 31 Oktober 1705 Santarcangelo di Romagna, Kerklike Staat |
Sterf | 22 September 1774 Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Clemens |
Clemens XIV was die 249ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk vir 5 jaar, 4 maande en 4 dae, van 1769 tot 1774.
Pous Clemens XIV[1][2] is gebore as Lorenzo Ganganelli (of Giovanni Vincenzo Antonio Ganganelli) op 31 Oktober 1705 in Santarcangelo di Romagna, Kerklike Staat. Sy pa, Lorenzo Ganganelli was die plaaslike dokter. Sy ma was Angela Serafina Maria Mazza (of Macci of Mazzi). Hy word gedoop op 2 November 1705. Graaf Barnaldi van Milaan help om sy studies te bekostig. Op 15 Mei 1723 tree hy toe tot die Franciskaner Orde en neem sy pa se naam Lorenzo aan as sy kloosternaam. Na sy novisiaat word hy op 18 Mei 1724 in die Orde opgeneem. Hy studeer teologie aan die S. Bonaventura Kollege in Rome en filosofie aan die universiteite van Ascoli, Bologna en Milaan. In 1740 keer hy terug na die Kollege van S. Bonaventura as regent. In 1746 word hy konsultant van die Heilige Offisie. Hy laat talryke boeke van die Franse bybelverklaarders verbied. Op 24 September 1759 word hy tot kardinaal bevorder. Op 19 Mei 1769 volg hy Pous Clemens XIII op en word gekroon op 4 Junie 1769 deur kardinaal Alessandro Albani. Hy regeer tot sy dood op 22 September 1774 en word opgevolg deur Pous Pius VI. Die naam ‘Clemens’ beteken 'sagmoedige'.
Die konklaaf na die dood van Pous Clemens XIII het drie maande geduur en word oorheers deur die probleem van die Jesuïete wat deur die Bourbon-konings uit Portugal, Spanje en Frankryk verban is. Die kardinale uit die lande is teengestaan deur die Zelanti, 'n groep van kardinale wat die Jesuïte goed gesind was. Pous Clemens XIV[3] is na die 185ste stemming verkies. Hy was nie biskop nie en op 28 Mei 1769 word hy biskop gewy en hy bestyg die troon op 4 Junie 1769.
As Franciskanermonnik en van burgerlike afkoms verbreek hy die lang ry van pouse wat uit die Italiaanse adelstand gekom het. Hy verander die politieke koers en maak staat op medewerkers. Hy probeer tyd wen in die vraagstuk oor die Jesuïte en het reeds tydens die konklaaf sy posisie oor die vraagstuk geheim gehou. Hy hef die banvloek "In coena Domini" op op Wit Donderdag 1770. Die toegewing lei daartoe dat die pous weer 'n nuntius na Portugal kan stuur. Die Bourbonkonings hou aan om druk uit te oefen en op 17 Oktober 1772 sluit die pous die Collegium Romanum. Dit was nie genoeg nie en op 21 Julie 1773 word die pous gedwing om die Jesuïte ontbind met die brief "Dominus ac redemptor noster". Die Jesuïte word gerehabiliteer deur Pous Pius VII in 1814.
Pous Clemens XIV het 16 nuwe kardinale aangestel in 11 konsistories.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Clemens XIV. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Voorafgegaan deur Clemens XIII |
Pous (Pontifex Maximus) 1769 – 1774 |
Opgevolg deur Pius VI |
Basis URL: de:Clemens XIV.