Ruth First | |
---|---|
![]() Ruth First, ca. 1960 | |
Gebore | Ruth Heloise First 4 Mei 1925 |
Sterf | 17 Augustus 1982 |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Bekend vir | ANC-aktivis |
Eggenoot | Joe Slovo |
Kinders | Shawn |
Ouer(s) | Julius First en Matilda Levetan |
Heloise Ruth First OLG (4 Mei 1925 – 17 Augustus 1982) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer en anti-apartheidsaktivis. Sy en haar man, die Kommuniste-partyleier Joe Slovo, het gehelp om die SAKP se ondergrondse strukture te vestig en die gewapende stryd teen die Suid-Afrikaanse Regering te reël.[1] Sy is in 1982 in Mosambiek deur 'n briefbom wat deur die SAP aan haar man gestuur is, gedood. Williamson het later amnestie hiervoor van die Waarheid-en-versoeningskommissie ontvang.[2]
First is op 4 Mei 1925 in Johannesburg gebore.
First se Joodse ouers, Julius First en Matilda Levetan, het in 1906 van Letland na Suid-Afrika geëmigreer en was die stigters van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA), die voorloper van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Nes haar ouers het sy by die Kommunistiese Party aangesluit,[3] wat 'n bondgenoot van die African National Congress in sy stryd teen die destydse Apartheidsregering was.
As 'n tiener het First by die Jeppe High School for Girls skoolgegaan. Sy het die eerste persoon in haar familie geword wat tersiêre onderrig ontvang het. Sy het in 1946 haar voorgraadse sertifikaat aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Terwyl sy studeer het, het sy gevind dat "studentekwessies wat op 'n Suid-Afrikaanse kampus saak maak, ook nasionale kwessies is". Sy was betrokke by die stigting van die Federasie van Progressiewe Studente, ook bekend as die Progressiewe Studenteliga,[3] en sy het ander studente, onder andere Nelson Mandela, die toekomstige president van Suid-Afrika, en Eduardo Mondlane, die eerste leier van die Mosambiekse vryheidsbeweging FRELIMO leer ken.
Nadat sy gegradueer het, het First as 'n navorsingsassistent vir die Maatskaplike Welsynsafdeling van die Johannesburgse Stadsraad gewerk. In 1946 is haar posisie in die Kommunistiese Party aansienlik verhoog na 'n reeks mynstakings waar leiersfigure van die party inhegtenis geneem is. First het toe die hoofredaktrise van die radikale koerant The Guardian geword wat deur die regering verbied is.[3] Deur ondersoekende joernalistiek het sy rassesegregasiebeleide ontbloot wat deel was van Apartheid en swart Suid-Afrikaners geteiken het.[4]
Sy is in 1949 met Joe Slovo, 'n Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktivis en Kommunis, getroud. Hulle het drie dogters gehad: Shawn, Gillian en Robyn. Saam het Slovo en First 'n leidende mag in die 1950's-protesera geword, waartydens die regering enige aksies wat hulle beleid teengestaan het as onwettig verklaar het.[4]
Behalwe vir haar werk by The Guardian en die koerant se opvolgers, is daar in 1953 'n slegs-wit vleuel van die Congress Alliance, die Suid-Afrikaanse Kongres van Demokrate (KOD), met steun van First gestig.[5] In 1955 het sy die redaktrise van 'n radikale politieke joernaal, genaamd die Fighting Talk, geword. First en Slovo was ook lede van die African National Congress, bykomend tot die Kommunistiese Party. Sy het ook 'n aktiewe rol tydens die uitgebreide onluste van die 1950's gespeel.[3]
First was een van die beskuldigdes in die hoogverraadverhoor van 1956–1961, saam met 155 ander leidende anti-apartheidsaktiviste wat sleutelfigure in die Congress Alliance was. Haar vroeëre skryfwerk het grotendeels as bewys van hoogverraad deur die Congress Alliance gedien.[6]
Na vier jaar van teistering deur die regering is First saam met die ander 155 aktiviste van alle aanklagtes vrygespreek. Na die noodtoestand wat op die Sharpeville-slagting in 1960 gevolg het, is haar naam op 'n swartlys geplaas en is sy verban. Sy kon nie vergaderings bywoon of publiseer nie, en sy kon nie aangehaal word nie. In 1963, tydens nog 'n regeringsonderdrukking, is sy gearresteer en vir 117 dae in isolasie sonder aanklagte onder die Negentig Dae-detensiewet aangehou. Sy was die eerste wit vrou wat onder hierdie wet aangehou is.[7]
In Maart 1964 het First in Londen in ballingskap gegaan, waar sy aktief betrokke geraak het in by die Britse Anti-Apartheidsbeweging. Sy was in 1972 'n navorsingsgenoot by die Universiteit van Manchester, en tussen 1973 en 1978 het sy klas gegee in ontwikkelingstudies by die Universiteit van Durham. Sy het ook tyd spandeer aan sekondering in Dar es Salaam en Lourenço Marques, Maputo. In November 1978 het sy die amp van navorsingsdirekteur by die Sentrum vir Afrikastudies (Centro de Estudos Africanos), by die Universidade Eduardo Mondlane in Maputo, Mosambiek betree.[8] Sy is op 17 Augustus 1982 in 'n sluipmoordaanval in opdrag van Craig Williamson, 'n majoor in die Suid-Afrikaanse Polisie, vermoor toe sy 'n briefbom oopgemaak het wat na die universiteit gestuur is.[9] Bridget O'Laughlin, 'n antropoloog wat saam met First gewerk het en in First se kantoor was tydens die aanval, het voor die Waarheid-en-versoeningskommissie hieroor getuig.[10]
First se boek, 117 Days, is haar relaas van haar inhegtenisneming, gevangenskap en ondervraging in 1963 deur die Suid-Afrikaanse Polisie se Spesiale Tak. Dit is die eerste keer in 1965 gepubliseer. Die memoir gee 'n gedetailleerde weergawe van hoe sy "isolasie en sensoriese ontbering" verduur het terwyl sy "druk weerstaan het om inligting oor haar kamerade aan die Spesiale Tak te verskaf".[11]
Haar dogter, die skrywer Gillian Slovo, het haar eie memoir in 1997 gepubliseer, getiteld Every Secret Thing: My Family, My Country. Dit is haar vertelling van haar kinderjare in Suid-Afrika en haar verhouding met haar aktivis-ouers.[verwysing benodig]
Sy word op verskeie plekke vereer. Daar is onder andere 'n straat in Nantes, Frankryk na haar vernoem. Die M1 in Durban staan bekend as die Ruth First-snelweg.
In 2005 het die Suid-Afrikaanse Departement van Omgewingsake 'n omgewingspatrollievaartuig genaamd Ruth First te water gelaat.[12]
In Maart 2011 het die land Gambië 'n posseël in haar eer uitgereik wat haar as een van die "Legendary Heroes of Africa" benoem.
Die Orde van Luthuli (goud) is in 2014 postuum aan haar toegeken.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link){{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link){{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link){{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link){{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link){{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link){{cite book}}
: AS1-onderhoud: plek sonder uitgewer (link)<ref>
tag; no text was provided for refs named First 1965 vii2