Shaleen Surtie-Richards | |
Geboorte | 7 Mei 1955 Upington |
---|---|
Sterfte | 7 Junie 2021 (op 66) Kaapstad |
Nasionaliteit | Suid-Afrikaans |
Beroep(e) | Aktrise |
Aktiewe jare | 1984-2021 |
Toekennings | Naledi-toekenning |
Internet-rolprentdatabasis-profiel |
Shaleen Surtie-Richards (gebore 7 Mei 1955, Upington, Noord-Kaap - 7 Junie 2021, Kaapstad) was 'n Suid-Afrikaanse aktrise. Sy was bekend vir haar rolle as Fiela in die 1988-film Fiela se Kind, Nenna in die TV-reeks Egoli: Plek van Goud en meer onlangs as Fran in Villa Rosa op kykNET.
Surtie-Richards is op 7 Mei 1955 op Upington in die Noord-Kaap gebore, en het te Upington en Kaapstad skoolgegaan. Haar pa was 'n skoolhoof en haar ma 'n onderwyseres. Toe sy as kind nie 'n rol in 'n musiekblyspel kon kry nie, het haar pa vir haar 'n klavier gekoop en gereël dat sy klavierlesse neem, sy het ook aan ballet deelgeneem en tennis gespeel.
Sy was 'n gekwalifiseerde onderwyseres en het tussen 1974 en 1984 in Upington en Kaapstad skoolgehou. Sy het aan verskeie verhoogproduksies deelgeneem in hierdie tyd en was ook aktief betrokke by die Departement van Onderwys se Teater-in-onderrig program vanaf 1982 tot 1984. In 1984 het sy met haar professionele loopbaan as aktrise begin.
Sy is op Maandag 7 Junie 2021 dood aangetref in 'n gastehuis in Kaapstad.[1]
Surtie-Richards het 'n prominente rol in die M-Net televisie-sepie, Egoli: Plek van Goud, gehad. Dit was ook Suid-Afrika se eerste sepie en kykers het meegesleur geraak met die karakters se doen en late in die halfuurlange program wat Maandae tot Vrydae uitgesaai was. Vir 18 jaar het Surtie-Richards die rol van Ester (Nenna) Willemse vertolk.
Sy was ook in 'n paar ander televisieprogramme te sien, onder andere die sepies 7de Laan, Villa Rosa en Generations. In 2000 het sy haar eie geselsprogram aangebied, Shaleen, op die M-Net-kanaal.
Vanaf 2006 tot 2010 was Surtie-Richards ook 'n beoordelaar vir die televisie kompetisiereeks, Supersterre.
In 2013 verskyn sy op Suid-Afrika se Comedy Central-kanaal se The Comedy Central Roast-program, saam met Steve Hofmeyr, aangebied deur Trevor Noah.
Surtie-Richards het op verhoë regoor Suid-Afrika asook in Londen verskyn. Sy het by verskeie kunstefeeste regoor Suid-Afrika opgetree, onder andere Aardklop Kunstefees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, Suidoosterfees en die Edinburgh Fringe Fees.
Sy het rolle vertolk geskryf deur skrywers onder ander William Shakespeare, Willy Russel, Athol Fugard en Pieter-Dirk Uys.
In haar loopbaan het Shaleen meer as 40 toekennings verower.