Thuli Madonsela | |
Thuli Madonsela in 2014 | |
Ampstermyn 19 Oktober 2009 – 14 Oktober 2016 | |
Vise | Kevin Malunga[1] |
---|---|
President | Jacob Zuma |
Voorafgegaan deur | Lawrence Mushwana |
Opgevolg deur | Busisiwe Mkhwebane |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 28 September 1962 Johannesburg, Suid-Afrika |
Politieke party | African National Congress[2][3][4] |
Kind(ers) | 2[5][6] |
Alma mater | Universiteit van Swaziland Universiteit van die Witwatersrand |
Religie | Christen[4][5] |
Thulisile (Thuli) Nomkhosi Madonsela (28 September 1962, Soweto) is 'n Suid-Afrikaanse advokaat en voormalige Openbare Beskermer van Suid-Afrika.
Sy behaal 'n graad in die regte aan die Universiteit van Swaziland (nou Eswatini) in 1987 en 'n LLB aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Sy is op 19 Oktober 2009 vir 'n 7-jaartermyn as Openbare Beskermer benoem deur president Jacob Zuma, wat eenstemmig deur die parlement bevestig is.[7] Sy is op 14 Oktober 2016 deur Busisiwe Mkhwebane opgevolg.
Sy sien haar amp as 'n belangrike faktor in die stryd teen die korrupsie wat wydverspreid is in die privaat- en openbare sektor. In 'n toespraak by die 13de Internasionale Wynland-konferensie op 3 April 2012 het sy dit met kanker vergelyk en gesê dat daar drie faktore nodig is om dit te beveg.[8]
Sy het in Maart 2014 nuus gemaak met haar verslag oor die opgraderings aan president Zuma se nedersetting in Nkandla. Sy het bevind dat Zuma onbehoorlik daaruit gebaat het en dat hy 'n redelike bedrag daarvan moet terugbetaal aan die staat.[9] Die minister van polisie, Nathi Nhleko, het egter verklaar dat Zuma se regte geskend is en dat Zuma geen sent van die R246 miljoen moes terugbetaal nie.[10]
Op 31 Maart 2016 het dit gelei tot 'n hofsaak in die Grondwethof van Suid-Afrika wat deur die DA en die EFF gebring is. Een aspek van hierdie saak was die magte van die Openbare Beskermer. President Zuma het haar verslag afgemaak as bloot 'n mening wat nie bindend is op hom nie.[11] Hierdie mening is veral gebaseer op 'n uitspraak van die Hooggeregshof (saak 12497/2014) in Kaapstad in 'n hofsaak tussen die DA en die SABC, wat lui:
The powers and functions of the Public Protector are not adjudicative. Unlike courts, the Public Protector does not hear and determine causes |
Dit het tot groot debat gelei oor watter magte die Openbare Beskermer het.[12]
Op 31 Maart 2016 het die Grondwetshof egter 'n uitspraak gelewer wat die Nkandla-verslag van die Openbare Beskermer bindend verklaar het.[13] Hoofregter Mogoeng Mogoeng het namens die hof se 11 regters verklaar dat Zuma se weiering om Madonsela se verslag uit te voer "nie ooreenstem met die grondwet nie".[14]
Op 8 Mei 2016 het Madonsela bekend gemaak dat daar glo 'n bedrag van R740 000 aan 'n prominente Wes-Kaapse bendeleier betaal is om haar te vermoor.[15]
Haar finale verslag, State of Capture, is vrygestel soos haar 7-jarige ampstermyn in Oktober 2016 tot 'n einde gekom het. Dit het bewyse van wydverspreide staatskaping ingesluit, waaronder die Guptafamilie se onbehoorlike invloed op president Jacob Zuma. Madonsela het die president opdrag gegee om 'n regterlike kommissie van ondersoek aan te stel, onder leiding van 'n regter wat deur die Hoofregter aangewys word.[16] Zuma het die verslag "politieke propaganda" genoem[17] en dit in die hof betwis, maar die Hooggeregshof het die uitdaging in Desember 2017 afgewys en bevind Zuma moet die remediërende aksies binne 30 dae implementeer en het 'n persoonlike kostebevel teen Zuma gemaak.[18]
Voorafgegaan deur Lawrence Mushwana |
Openbare Beskermer van Suid-Afrika 2009–2016 |
Opgevolg deur Busisiwe Mkhwebane |