USS Archerfish (SS-311)

USS Archerfish
attack submarine
Vaartuig klasBalao-class submarineWysig
Amptelike naamUSS ArcherfishWysig
KonflikTweede WêreldoorlogWysig
Geografiese ligging24°44′0″N 140°19′59″EWysig
Belangrike gebeurtenisship launching, keel laying, ship commissioning, ship decommissioning, ship recommissioningWysig
OperateurAmerikaanse VlootWysig
VervaardigerPortsmouth Naval ShipyardWysig
VlagstaatVerenigde StateWysig
Map

Die USS Archerfish (SS/AGSS-311) was 'n Balao-klas duikboot, die eerste skip van die Amerikaanse Vloot wat na die boogskuttervis (archerfish) vernoem is. Die duikboot is bekend vir die feit dat hy die Japannese vliegdekskip Shinano in November 1944 gekelder het, die enigste duikboot wat dit kon vermag. Dit is ook nog die grootste skip gekelder deur 'n duikboot. Vir hierdie prestasie het hy na die Tweede Wêreldoorlog 'n Presidensiële Eenheidsaanwysing ontvang.

Konstruksie en indiensstelling

[wysig | wysig bron]

Archerfish se kiel is op 22 Januarie 1943 in die Portsmouth Vlootkonstruksiewerf te Kittery, Maine gelê. Die duikboot is gedoop en te water gelaat op 28 Mei 1943 deur mev. Malvina Thompson, die persoonlike sekretaresse van die Eerste Dame, Eleanor Roosevelt. Die duikboot was in diens gestel op 4 September 1943.

Tweede Wêreldoorlog

[wysig | wysig bron]

Die Archerfish het sy proefvaart gedurende die eerste gedeelte van November langs die kus van Nieu-Engeland voltooi en vertrek daarna na Hawaii via die Panamakanaal. Die boot arriveer op 29 November 1943 in Pearl Harbor en sluit by die Pasifiese Vloot aan.

Eerste vier patrollies, Desember 1943 - September 1944

[wysig | wysig bron]

Na die Archerfish se aankoms het die duikboot herstelwerk ondergaan en is daar opleiding oefeninge gehou; die duikboot het op 23 Desember vertrek vir sy eerste oorlogspatrollie. Die duikboot is eers by die Midway-atol met brandstof hervul en het toe vertrek na sy patrolliegebied noord van Taiwan. Gedurende die tog het die duikboot drie aanvalle geloods op drie vyandelike skepe maar geen sukses behaal nie. Die duikboot het teruggekeer na Midway op 16 Februarie 1944 vir herstelwerk en verdere opleiding.

Die duikboot het op 16 Maart 1944 op sy tweede oorlogspatrollie uit Midway vertrek, maar geen Japannese teikens teëgekom gedurende sy 42 dae ter see nie. Hy het meestal in die Palau-eilande en omgewing diens gedoen en op 27 April na die basis by Pearl Harbor via die Johnston-atol teruggekeer. By Pearl Harbor is nog herstelwerk uitgevoer.

'n Maand en een dag later het Archerfish Pearl Harbor verlaat op sy tog na die Bonin-eilande en omgewing as deel van sy derde patrollie. Tydens die Slag van Iwo Jima is die duikboot op 4 Julie opdrag gegee om seereddingstake te verrig; dit het die lugman, vaandrig John B. Anderson, gered voordat dit op 15 Julie na Midway teruggekeer het.

Ná nog aanvullingswerk uit die duikboot se voorraadskip Proteus en nog opleidingsoefeninge, het die Archerfish op 7 Augustus vir sy vierde patrollie vertrek. Die duikboot het vir meer as 'n maand rondom die eiland Honsjoe diens gedoen sonder om enige kontak met vyandelike skepe te maak. Die Archerfish het na 53 dae ter see na Pearl Harbor teruggekeer.

Vyfde patrollie, Oktober-Desember 1944: Keldering van die Shinano

[wysig | wysig bron]

Die Archerfish het op 30 Oktober uit Hawaii vertrek onder die leiding van Kommandeur Joseph F. Enright. Dit besoek Saipan op 9 November vir vinnige herstelwerk en vertrek twee dae later op sy vyfde patrollie. Die hoofdoelwit was om reddingswerk te doen vir die eerste Boeing B-29 Superfortress-aanvalle op Tokio. Op 28 November word die duikboot ingelig dat daar dié aand geen lugaanvalle op Tokio gaan wees nie en dat hulle mag handel na goeddunke. Hulle besluit om die water rondom Tokiobaai te patrolleer. Daardie aand sien hulle 'n tenkskip wat die baai verlaat. Die tenkskip was egter die groot vliegdekskip Shinano beskerm deur drie torpedojaers: Hamakaze, Yukikaze en Isokaze,[1] asook 'n duikbootjagter, die Cha-241.[2]

Shinano besig met seewaardigheids toetse in Tokiobaai

Enright het die Shinano op die oppervlakte agtervolg met 'n parallelle roete. Die vliegdekskip het 'n sigsag roete gevolg om duikbote te ontduik. Na ses ure het die Shinano weer sy roete gekruis en die Archerfish het homself in 'n aanval posisie gekry. Hy het geduik en ses torpedo's afgevuur waarvan vier die Shinano getref het. Enright het doelbewus die torpedo's so gestel dat hulle vlak (3 m) onder die oppervlakte bly hopende dat dit die skip hoog teen die romp sal tref en laat oorhel. Hy wou ook seker maak dat hy wel die skip tref indien die torpedo's dieper gaan as wat hulle gestel is. Voordat die Archerfish na 120 m geduik het om dieptebomme te vermy, kon Enright reeds sien dat die skip na stuurboord oorgehel het. Enright se bemanning kon vir 47 minute geluide hoor vanaf die teiken soos wat dit opbreek nadat die laaste torpedo afgevuur is.

Die vyfde patrollie het op 15 Desember geëindig toe hulle Guam bereik het; hulle was 45 dae ter see. Nadat die Archerfish sy sukses gerapporteer het, het die Vlootintelligensiekantoor eers gedink dat hulle 'n kruiser gekelder het omrede hulle nie geglo het dat daar nog vliegdekskepe in daardie omgewing was nie. Nadat Enright sketse van die teiken gemaak het, het die Archerfish krediet gekry vir die keldering van 'n 28 000-ton vliegdekskip.

Dit was eers ná die oorlog dat die Amerikaners die identiteit van Archerfish se slagoffer verneem het: Shinano, die grootste vliegdekskip wat destyds gebou is. Dit was oorspronklik die derde van die Yamato-klas slagskepe, maar is na die Slag van Midway in 'n 72 000 ton supervliegdekskip omskep. Vier van Archerfish se ses torpedo's het die Shinano tussen die anti-torpedobult en die waterlyn getref, omstreeks 03:20. Die skade is vergroot deur die feit dat Shinano suid gedraai het net 'n paar minute voordat Enright sy torpedo's gevuur het en sodoende sy hele sy aan Archerfish blootgestel - 'n byna ideale aanvalsituasie vir 'n duikboot. Die skip het aanvanklik voortgeseil, maar het omstreeks 06:00 stoom verloor. Die bemanning kon die oorstromings weens ernstige ontwerpfoute en onervarenheid nie in bedwang hou nie, en die vliegdekskip het net voor 11:00 omgeslaan en gesink.[3] Die Archerfish het die Presidensiële Eenheid-aanhaling ontvang en Enright het die Navy Cross vir hierdie aksie ontvang. Die Shinano is die grootste oorlogskip wat deur 'n duikboot gesink is.

Die laaste twee patrollies: Januarie - September 1945

[wysig | wysig bron]

Terwyl sy offisiere en bemanning die vakansie by 'n rus- en ontspanningskamp op Guam deurgebring het, het Archerfish op die eiland opknapping en aanvulling ondergaan. Die duikboot het op 10 Januarie 1945 op sy sesde patrollie vertrek. Enright was in bevel van drie duikbote in die sogenaamde paktaktiek (wolfpack) naamlik: Archerfish, Batfish en Blackfish.[4] Die sending het hulle na die waters van die Suid-Chinese See naby Hongkong asook die suidelike punt van Taiwan geneem. Archerfish het 'n onbekende teiken beskadig en 'n duikboot as gekelder geëis op 14 Februarie 1945[5] gedurende die patrollie, wat op 3 Maart geëindig het. Dit was drie dae vroeër as beplan weens boegvlerkprobleme. Die beweerde gekelderde duikboot is eers na die oorlog bevestig. Archerfish het Amerika bereik via Saipan en Pearl Harbor; hy het op 13 Maart by San Francisco, Kalifornië arriveer. Die duikboot is in die droogdok in die Hunters Point Vlootwerf geplaas en gediens en herstel.

Archerfish besig met see toetse op 5 Junie 1945 naby San Francisco

Na voltooiing van die droogdokwerk het Archerfish op 14 Junie na Oahu gevaar. Hy het op 22 Junie by Pearl Harbor aangekom en met reisherstelwerk en opleidingsoefeninge begin. Die duikboot het op 10 Julie vir sy sewende en laaste oorlogspatrollie vertrek, wat hy in die gebied aan die ooskus van Honsjoe en die suidkus van Hokkaido uitgevoer het. Archerfish het ook lewensreddersdienste verskaf aan Superfortresses-bemannings wat die Japannese tuiseilande gebombardeer het.

Hy was op 15 Augustus nog naby Hokkaido, toe die woord van die Japannese kapitulasie bekend geword het. Archerfish was een van twaalf duikbote wat Tokiobaai op 31 Augustus binnegevaar het en het langs die aanvullingskip USS Proteus (AS-19), naby die Yokosuka Vlootwerf, vasgemeer. Ná die formele Japannese oorgawe op 2 September het Archerfish uit Tokiobaai na Pearl Harbor vertrek en op 12 September daar aangekom. Hy is toe aan Duikbooteskader 1 (SubRon 1) toegewys vir diens en opleiding.

Na-oorlogs

[wysig | wysig bron]

Archerfish het op 2 Januarie 1946 van Pearl Harbor na San Francisco vertrek. Vanaf 8 Januarie tot 13 Maart het die bemanning die duikboot se voor-deaktiveringhersiening gedoen. Op 13 Maart het hy na die Mare-eiland Vlootwerf gevaar waar die finale stadium van deaktivering voltooi is. Archerfish is op 12 Junie 1946 uit diens gestel en in die Pasifiese Reserwegroep by die Mare-eiland geplaas.

1952-1955

[wysig | wysig bron]

Gedurende die Korea-oorlog het die Amerikaanse Vloot baie vaartuie weer in diens gestel. Archerfish is gekies vir herindiensstelling op 7 Januarie 1952. Hy is in diens gestel op 7 Maart en het by die Pasifiese Vloot aangesluit op 26 Maart. Die volgende dag het die duikboot uit San Diego, Kalifornië vertrek vir drie weke se seetoetse. Op 28 Maart het 'n brand in die beheerkamer uitgebreek en die Archerfish keer op eie stoom terug na Mare-eiland vir herstelwerk.

Die herstelwerk is op 27 Mei voltooi en die duikboot doen weereens seetoetse langs die Amerikaanse weskus. Die duikboot vaar deur die Panamakanaal en sluit aan by die Atlantiese Vloot op 3 Julie waar hy deel van Duikbooteskader 12 (SubRon 12) word. Hulle gebruik Key West as basis en besoek plekke soos Santiago de Cuba, Guantanamobaai, Port-au-Prince, San Juan en Trinidad. Die duikboot het Key West op 25 April 1955 verlaat en na die Philadelphia Vlootwerf vertrek vir uitdiensstelling. Nadat hulle die voor-deaktiveringhersiening voltooi het, is die duikboot gesleep na die Atlantiese Reserwevloot te New London, Connecticut en daar uit diens gestel op 21 Oktober 1955.

Oseanografiese werk, 1958–1964

[wysig | wysig bron]

Die Archerfish was weereens geaktiveer by die New London basis gedurende Julie 1957 en in diens gestel op 1 Augustus en het weereens by Duikbooteskader 12 aangesluit by Key West. Hy vertrek op tog op 13 Januarie 1958 onder die tegniese beheer van die Vloot Hidrografiese Kantoor. Met hierdie ontplooiing het hy Recife, Brasilië en Trinidad besoek. Na voltooiing van daardie missie het hy dienste gelewer vir die vlootopleidingskantoor by Key West en Guantanamobaai. Gedurende die tyd vertolk hy die rol van USS Sea Tiger in die 1959-rolprent Operation Petticoat vir die onderwaterskote en ver-afstandtonele.

Op 2 Oktober 1959 het die Archerfish, ongeveer 24 km suidwes van Key West, op die seebodem, 98 m onder die oppervlakte, gaan lê. Kommandeur George F. Bond en hoofenjinoperateur Cyril Tuckfield het suksesvol uit die voorste ontsnapluik die oppervlakte bereik, dit het hulle 52 sekondes geneem. Vir die voltooiing van die taak is die Legion of Merit in 1960 aan hulle toegeken.[6]

Dr. George Bond en hoofenjinoperateur Cyril Tuckfield na hulle suksesvolle rekord diep water ontsnapping in 1959

Vroeg in 1960 is Archerfish gekies om deel te neem aan Operasie "Sea Scan", 'n wetenskaplike studie van mariene weerstoestande, watersamestelling, seedieptes en temperatuurreekse. Dit het Januarie in die Philadelphia Vlootwerf vertoef om spesiaal vir hierdie nuwe sending toegerus te word. Gedurende hierdie tyd is die vaartuig heraanwys as 'n hulpduikboot, met rompklassifikasiesimbool AGSS-311. Met 'n span burgerlike wetenskaplikes aanboord het hy die eerste fase van "See Scan" op 18 Mei begin. Tydens die tog het hulle Portsmouth, Engeland; Hammerfest en Bergen, Noorweë; Faslane, Skotland; Thule, Godthaab en Julianehab, Groenland; Belfast, Noord-Ierland en Halifax besoek voordat hulle by New Londen op 3 Desember vasgemeer het.

Na ses weke van instandhouding het Archerfish op 20 Januarie 1961 vir die Stille Oseaan-fase van "See Scan" vertrek. Hulle gaan op 6 Februarie deur die Panamakanaal en arriveer in Hawaii via San Diego. Archerfish verlaat Pearl Harbor op 27 Maart. Gedurende die sending besoek hulle Yokosuka en Hakodate, Japan; Hongkong; Subicbaai, Filippyne; Bangkok, Penang, Maleisië; Colombo, Ceylon en Fremantle, Australië en aan die einde van 1961 meer hulle vas by Yokosuka.

Fase twee van Operasie "Sea Scan" het verder gegaan gedurende die eerste maande van 1962 met aktiwiteite in die westelik Stille Oseaan en daar is aangedoen by Sasebo, Japan; Guam en Cebu Stad, Filippyne. Vroeg in Maart was fase twee voltooi en die Archerfish reis via Pago Pago na Pearl Harbor. Op 27 April het hy die San Francisco Vlootwerf binnegegaan vir opknapping. Na die opknapping voltooi is, het hy na San Diego vetrek vir aanvulling. Fase drie van "Sea Scan" het begin in die oostelike Stille Oseaan met besoeke aan Pearl Harbor en die Midway Atoll. Hulle het daarna na San Diego teruggekeer vir die kersvakansie.

Archerfish het op 10 Januarie uit San Diego vertrek na Yokosuka waar hy vir drie weke aangevullings sou ontvang. Na twee en 'n half maande se aktiwiteite het hy na die Verenigde State teruggekeer vir 'n kort besoek aan San Francisco en daarna na Pearl Harbor teruggekeer, vroeg in Mei.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Tully, Anthony P.; Jones, Matthew; Stone, Randy; Kingsepp, Sander (2012). "IJN Shinano: Tabular Record of Movement". combinedfleet.com. Besoek op 8 Julie 2020.
  2. Toda, Gengoro S. "第二百四十一號驅潜特務艇の艦歴(No. 241 submarine chaser - Ship History)". Imperial Japanese Navy -Tokusetsu Kansen (in Japannees).
  3. Reports of the US Naval Technical Mission to Japan, Ship and Related Targets Geargiveer 18 Oktober 2013 op Wayback Machine
  4. Cornelison, G.L. (5 Junie 2010). "The History of the U.S.S. ARCHERFISH (SS/AGSS-311)". Besoek op 9 Junie 2010.
  5. U boat netforum USS Archerfish
  6. Shilling, Charles (1983). "Papa Topside". Pressure, Newsletter of the Undersea and Hyperbaric Medical Society. 12 (1): 1–2. ISSN 0889-0242.