Viëtnam-oorlog | |||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Deel van die Indo-China-oorloë en die Koue Oorlog | |||||||||
Die Viëtnam-oorlog | |||||||||
| |||||||||
Strydende partye | |||||||||
Suid-Viëtnam Verenigde State Suid-Korea Thailand Australië Nieu-Seeland Kambodja Laos Filippyne Ondersteun deur: |
Noord-Viëtnam Viëtkong Khmer Rouge Pathet Lao Volksrepubliek China Noord-Korea Ondersteun deur: | ||||||||
Aanvoerders | |||||||||
Ngô Đình Diệm (†) Nguyễn Văn Thiệu Nguyễn Cao Kỳ Dương Văn Minh Cao Văn Viên Ngô Quang Trưởng John F. Kennedy Lyndon B. Johnson Richard Nixon Robert McNamara William Westmoreland Creighton Abrams Frederick C. Weyand Park Chung-hee Thanom Kittikachorn Robert Menzies Harold Holt John McEwen John Gorton William McMahon Ferdinand Marcos Keith Holyoake Jack Marshall Norman Kirk |
Hồ Chí Minh Lê Duẩn Võ Nguyên Giáp Văn Tiến Dũng Lê Trọng Tấn Phạm Văn Đồng Hoàng Văn Thái Trần Văn Trà Nguyễn Văn Linh Nguyễn Hữu Thọ | ||||||||
Sterkte | |||||||||
≈1 830 000 (1968) Suid-Viëtnam: 850 000 (1968) |
≈461 000 Noord-Viëtnam: 287 465 (Januarie 1968)[19] | ||||||||
Ongevalle en verliese | |||||||||
Suid-Viëtnam 195 000–430 000 burgerlikes dood[24][25][26] 220 357[27]–313 000 militêre dood[28] 1 170 000 gewond[29] Verenigde State |
Noord-Viëtnam en Viëtkong 65 000 burgerlikes dood[25] 444 000[25]–1 100 000 militêre dood of vermis[40] 600 000+ gewond[41] China | ||||||||
Viëtnamese burgerlikes dood: 627 000–2 000 000[25][43][44] Kambodjaanse burgeroorlog dood: 200 000–300 000[45][46][47] |
Die Viëtnamoorlog (Viëtnamees: Chiến tranh Việt Nam), ook bekend as die Tweede Indo-China-oorlog,[48] en ook bekend in Viëtnam as die Weerstandsoorlog teen Amerika (Viëtnamees: Kháng chiến chống Mỹ) of eenvoudig net die Amerikaanse oorlog, was 'n Koue Oorlog-era volmagstryd (proxy war) wat in Viëtnam, Laos en Kambodja gewoed het. Oorlogshandelinge het op 1 November 1955 begin en op 15 Mei 1975 met 'n skietstilstand geëindig.
Dié oorlog het gevolg op die Eerste Indo-China-Oorlog (1946–1954) en is geveg tussen Noord-Viëtnam – gerugsteun deur die Sowjetunie, die Volksrepubliek China en ander kommunistiese bondgenote – en die regering van Suid-Viëtnam – gerugsteun deur die Verenigde State, die Filippyne en ander anti-kommunistiese bondgenote.[49] Die Viëtkong (ook bekend as die Nasionale Bevrydingsfront, of kortweg NLF), 'n Suid-Viëtnamese kommunistiese gemeenskaplike front, wat deur die Noorde ondersteun was, het 'n guerilla-oorlog teen die anti-kommuniste in die streek gevoer. Die Volksleër van Viëtnam, ook bekend as die Noord-Viëtnamese Leër (NVA) het 'n meer konvensionele oorlog gevoer waar groot eenhede op die slagveld ingestoot is.
Namate die oorlog gevorder het, het die Viëtkong se rol al hoe minder geword soos die NVA al meer by gevegte betrokke geraak het. Die Amerikaners en Suid-Viëtnamese het grotendeels op lugbeheer staatgemaak met oorweldigende slaankrag vir soek- en spooroperasies. Hiervoor is grondmagte, artillerie en lugaanvalle gebruik. Gedurende die oorlog het die VSA ook grootskaalse strategiese bomaanvalle teen Noord-Viëtnam geloods.
Die Amerikaanse regering het sy betrokkenheid by die konflik as 'n manier gesien om die kommunistiese oorname van Suid-Viëtnam te verhoed. Aan die ander kant wou Noord-Viëtnam en die Viëtkong, Viëtnam verenig onder 'n kommunistiese bewind. Hulle het die konflik as 'n koloniale oorlog teen, aanvanklik teen die magte van Frankryk, en toe teen die VSA en uiteindelik teen Suid-Viëtnam, beskou.[50]
Aan die begin van 1950 het Amerikaanse militêre raadgewers in, wat toe nog as Frans-Indo-China bekend gestaam het, aangekom.[51] Die VSA se betrokkenheid het in die vroeë 1960's toegeneem, met die aantal troepe wat in 1961 verdriedubbel het, en in 1962 nog driekeer meer geword het.[52] Dit is in 1964 verder uitgebrei na die Golf van Tonkin-voorval, waartydens 'n Amerikaanse oorlogskip in 'n skermutseling met 'n aanvalsvaartuig van Noord-Viëtnam betrokke was. Hierna kry die Amerikaanse president magtiging om die Amerikaanse militêre teenwoordigheid te vergroot. Gevegseenhede is van die begin van 1965 ontplooi. Die operasies het oor internasionale landsgrense gestrek en grensgebiede soos Laos en Kambodja het swaar onder Amerikaanse lugbombardering deugeloop. In 1968 het die oorlog sy hoogtepunt bereik toe die kommuniste hul Tết Offensief geloods het. Die offensief het nie in sy doel geslaag om die Suid-Viëtnamese regering tot 'n val te bring nie, maar was die keerpunt in die oorlog aangesien dit 'n groot segment van die Amerikaanse bevolking laat besef het die Amerikaanse regering se aansprake dat die oorlog gewen word net 'n droom is.
'n Stelselmatige onttrekking van Amerikaanse troepe is begin as deel van die "Viëtnamisasie" van die land wat daarop gemik was om Amerika se betrokkenheid in die oorlog te beëindig, en die oorlog teen die kommuniste aan die Suid-Viëtnamese oor te laat. Ondanks die Paryse Vredesverdrag, wat deur alle partye in Januarie onderteken is, het die gevegte voortgeduur. In Amerika en die Westerse wêreld het 'n reuse anti-Viëtnambeweging gestalte gekry as deel van 'n groter kontra-kultuur wat in die 1960's posgevat het.[53]
Die Amerikaners se regstreekse betrokkenheid by die oorlog het op 15 Augusts 1973 geëindig.[54] Die oorname van Saigon deur die Noord-Viëtnamese magte het die einde van die oorlog beteken, en Noord- en Suid-Viëtnam is die volgende jaar verenig. Dit was 'n bloedige oorlog met baie sterfgevalle. Na raming is tussen 800 000 en 3,1 miljoen soldate en burgerlikes dood.[40][55][56] Sowat 200 000 tot 300 000 Kambodjane en 'n geraamde 20 000 tot 200 000 burgers van Laos het ook gesterf.[45][46][47] Die dodetal onder Amerikaanse soldate is 58 220, met 'n verdere 1 626 wat as vermis aangemeld is.[57]
Die konflik was 'n voorbeeld van die sogenaamde domino-effek, wat deur Amerika gevrees is en as rede vir sy deelname aan die oorlog gegee is. Indien die een land voor kommunistiese oorname swig, is die volgende land kwesbaar.[58]
In Januarie 1950 het die Volksrepubliek China en die Sowjetunie die Viët Minh se bewind in Noord-Viëtnam met sy hoofstad in Hanoi as die wettige regering van Viëtnam erken. Die volgende maand erken die VSA en die Verenigde Koninkryk die Frans-gesteunde Suid-Viëtnam in Saigon as die amptelike Viëtnamese regering.[59][60] Die uitbreek van die Korea-oorlog in Junie 1950 het die beleidmakers in Washington, D.C. oortuig dat die oorlog in Indo-China 'n voorbeeld is van kommunistiese uitbreiding wat deur die Sowjetunie georkestreer word.[61]
Militêre raadgewers van die Volksrepubliek China het die Viët Minh in Julie 1950 in hul stryd teen die Franse begin steun.[62] Chinese wapens, deskundige raad en arbeiders het die Viët Minh van 'n guerillamag tot 'n volskaalse weermag help opbou.[63] In September 1950 het die VSA 'n spesiale bystands- en raadgewersgroep saamgestel om die Franse versoek om hulpverlening, strategiese raad en die opleiding van Viëtnamese soldate, te oorweeg.[64] Teen 1954 het die VSA reeds 300 000 kleingewere voorsien en sowat $1-miljard in steun tot die Franse militêre poging bygedra. Die VSA het toe reeds 80% van die totale kostes van die oorlog befonds.[65][66][67]
President John F. Kennedy se raadgewers het voorgestel hy stuur Amerikaanse troepe onder die dekking van vloedrampwerkers na Suid-Viëtnam, dit is aanvanklik geweier, maar hy het tog die militêre hulp verder vermeerder. In April 1962 het een van sy raadgewers gewaarsku dat die VSA eenvoudig net die Franse as 'n koloniale mag in die gebied gaan vervang, en "soos die Franse gaan bloei".[68]
Die hopelose Suid-Viëtnamese leër was 'n bron van kommer vir die Amerikaanse generaals. Tydens die slag van Ap Bac het 'n klein groepie van die Viëtkong 'n baie groter en beter toegeruste gevegsmag aangeval en gewen. Vir die Amerikaners het dit gelyk of van die Suid-Viëtnamese offisiere inderdaad huiwerig is om in gevegte betrokke te raak.[69]
Die Amerikaanse intelligensiediens Central Intelligence Agency het kontak gemaak met die generaals wat Diệm in 'n staatsgreep wou omver werp, en het dit duidelik gestel dat die VSA dit nie sal teenstaan, die generaals sal straf, of hulp aan Suid-Viëtnam onttrek nie. President Diệm is saam met sy broer op 2 November 1963 tereggestel. Kennedy was uiters geskok want hy het nie verwag dat Diệm doodgemaak sou word nie.[70][71]
Hanoi het die chaos in Suid-Viëtnam tot sy voordeel uitgebuit en sy steun aan die guerillas verder uitgebrei. Suid-Viëtnam was vasgevang in 'n tydperk van ernstige politieke woelinge, soos die een militêre bewind na die ander oorgeneem het.[72]
In die tyd toe Lyndon B. Johnson as president oorgeneem het, na Kennedy se dood, was hy nie juis betrokke by die beleid oor die oorlog nie.
Die bordjies is egter vervang toe hy president word en hy het op 24 November 1963 verklaar: "Die stryd teen kommunisme moet kragdadig en met vasberadenheid voortgesit word."[73][74]
Na verskeie aanvalle op Amerikaanse lugmagbasisse, en die feit dat die Suid-Viëtnamese magte blykbaar nie in staat was om beskerming te bied nie, is daar op 8 Maart 1965 3 500 Amerikaanse mariniers ingevlieg. Dit was die begin van die grondoorlog in Viëtnam.[75]
Die mariniers se opdragte was aanvanklik om verdedigend op te tree, maar teen Maart 1965 is die eerste 3 500 vergroot na 'n aanvalsmag van 200 000 troepe op die grond.[76]
Gedurende die nag van 30-31 Januarie 1968, Tết Nguyên Đán (die maan nuwejaar) loods bataljonsterkte elemente van die Nasionale Front vir die Bevryding van Viëtnam of "Viëtkong" (NLF) en Divisie eenhede van Noord-Viëtnam se People's Army of Vietnam (PAVN), aanvalle teen Suid-Viëtnam se Army of the Republic of Vietnam (ARVN), die Verenigde State militêre eenhede en ander ARVN-geallieerde magte. Die operasies word genoem die Tết Offensief.[77] Tydens die Tet-offensief is meer as 100 stede aangeval deur meer as 85 000 troepe, insluitende aanvalle op belangrike militêre installasies, hoofkwartiere en regeringsgeboue en kantore, insluitend die Amerikaanse ambassade in Saigon.[78] Die offensief het aangehou tot in 1969.
Die Tết Offensief het tot 'n operasionele nederlaag vir die Noord-Viëtnam en NLF gely. Die Tết Offensief word egter ook algemeen beskou as 'n keerpunt in die Viëtnamoorlog waartydens die NLF en PAVN 'n enorme sielkundige en propagandaoorwinning behaal. Populêre steun vir die oorlog in die VSA het gou hierna gekwyn en het bygedra tot die onttrekking van Amerikaanse soldate. Die Amerikaanse publiek het veel meer kritiek uitgespreek teen die oorlogbeleid van President Lyndon B. Johnson na die Tết Offensief. Die entiteit wat mees direk deur die aanvalle beïnvloed is, was die regering van die Republiek van Viëtnam van Nguyễn Văn Thiệu wie se militêre en politieke afhanklikheid van die VSA gedemonstreer is aan die bevolking. Die Tết Offensief word algemeen beskou as 'n voorbeeld van die waarde van propaganda en die massamedia se invloed in die najaag van militêre doelwitte.
Die Amerikaanse President Richard Nixon het in 1969 begin om die troepe te onttrek. Sy plan was om die Suid-Viëtnamese gevegsmagte op te bou sodat dit die beskerming van die land kan oorneem. Dit was Nixon se Viëtnamisasie-plan.
Die meeste Amerikaanse troepe is in die finale jare van Viëtnamisasie uit die land gevlieg. Op 5 Maart 1971 land die Vyfde Spesiale Magte-groep by hul ou basis by Fort Bragg. Dit was die eerste Amerikaanse eenheid wat destyds in Viëtnam ontplooi is.[79]
Chaos, paniek en opstande was aan die orde van die dag soos histeriese Suid-Viëtnamese amptenare en burgerlikes desperaat probeer vlug het uit Saigon. Krygswet is afgekondig. Amerikaanse helikopters het koorsagtig en desperaat Suid-Viëtnamese, Amerikaners, en buitelanders uit verskillende dele van die stad, en uit die Amerikaanse ambassade se kompleks na veiligheid probeer verskuif. Operation Frequent Wing is tot op die laaste nippertjie uitgestel omdat die ambassadeur, Graham Martin, nie geglo het Saigon gaan val nie, en dat 'n ooreenkoms gesluit sou kon word.
Op 30 April 1975 beweeg die Noord-Viëtnamese weermag die stad in en smoor enige weerstand vinnig in die kiem. 'n Tenk bars deur die paleis en om 11:30 hys die Viëtkong sy vlag.[80]
Jaar | VSA[81] | Suid- Viëtnam |
---|---|---|
1956–1959 | 4 | n.a. |
1960 | 5 | 2 223 |
1961 | 16 | 4 004 |
1962 | 53 | 4 457 |
1963 | 122 | 5 665 |
1964 | 216 | 7 457 |
1965 | 1 928 | 11 242 |
1966 | 6 350 | 11 953 |
1967 | 11 363 | 12 716 |
1968 | 16 899 | 27 915 |
1969 | 11 780 | 21 833 |
1970 | 6 173 | 23 346 |
1971 | 2 414 | 22 738 |
1972 | 759 | 39 587 |
1973 | 68 | 27 901 |
1974 | 1 | 31 219 |
1975 | 62 | n.a. |
Na 1975 | 7 | n.a. |
Totaal | 58 220 | >254 256[82] |
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: onerkende taal (link)
Wikimedia Commons bevat media in verband met Vietnam War. |