’n Avatar (Sanskrit: अवतार avatāra) is ’n begrip in Hindoeïsme wat "neerdaling" beteken; dit verwys na die verskyning of inkarnasie van ’n godheid op aarde.[1][2] Die term verwys ook in die algemeen na "’n verskyning maak" en word soms vir enige ghoeroe of mens gebruik.[3][4]
Die woord "avatar" verskyn nie in Vediese geskrifte nie,[5] maar wel as werkwoord in post-Vediese tekste, en ná die 6de eeu veral in die Puranas as selfstandige naamwoord.[6] Volgens die Rigveda het Indra die geheimsinnige krag om willekeurig enige vorm aan te neem.[7][8] Die Bhagavad Gita verduidelik die begrip, maar gebruik nie die woord "avatar" nie.[6][9]
Teologies word die woord meestal verbind met die Hindoegod Vishnu, hoewel die idee ook al op ander gode toegepas is.[10] Verskeie lyste van Vishnu se avatars verskyn in Hindoegeskrifte, onder meer die 10 "Dashavatara" van die Garuda Purana en die 22 in die Bhagavata Purana, hoewel laasgenoemde byvoeg Vishnu se inkarnasies is ontelbaar.[11] Die avatars van Vishnu is belangrik in die teologie van Vaishnavisme. In die godingebaseerde Shaktisme-tradisie word verskillende avatars van Devi soos Tripura Sundari, Durga en Kali algemeen aangetref.[12][13][14] Hoewel avatars van ander gode soos Ganesha en Shiva ook in Middeleeuse geskrifte genoem word, gebeur dit net sporadies.[15] Die inkarnasieleerstelling is een van die belangrikste verskille tussen die Vaishnavisme- en Shaivisme-tradisie.[16][17]
Inkarnasiebegrippe soortgelyk aan avatars word ook aangetref in Boeddhisme,[18] die Christendom[5] en ander gelowe.[18] Die geskrifte van Sikhisme sluit die name van talle Hindoegode in, maar verwerp die idee van die inkarnasie van verlossers; volgens hulle is daar ’n vormlose ewige god in die menslike hart, en is die mens sy eie verlosser.[19][20]
Die Sanskrit selfstandige naamwoord avatāra is afgelei van die Sanskrit stamme *ava ("af, neer") en *tṛī ("oorgaan").[21] Die woord beteken letterlik "neerdaling" of "’n verskyning maak",[3] en verwys na die verskyning van ’n superwese of godheid in ’n ander vorm.[21] Dit impliseer ook "oorkom", "verwyder", "afbring", "oorgaan".[3]
Die woord "avatar" verskyn nie in Vediese geskrifte as ’n selfstandige naamwoord nie. Die stam en vorme van die werkwoord, soos avatarana, verskyn wel in post-Vediese Hindoegeskrifte, maar as ’n daad van neerdaling en nie inkarnasie nie.[22] Die werkwoord beteken ook die "neerlegging van die las van die mens", wat ly onder die magte van die bose.[22]
Die term word meestal aangetref met betrekking tot die Hindoegod Vishnu.[1][3] Die vroegste geskrifte wat vertel van Vishnu se aanneming van menslike vorme om die goeie te laat seëvier, gebruik ander woorde soos sambhavāmi, tanu,[4] akriti en rupa.[23] Die woord "avatar" as selfstandige naamwoord wat na die inkarnasie van gode verwys, kom eers ná die 6de eeu in Middeleeuse geskrifte voor.[24] Daarna word dit al hoe meer in die Puranas vir baie gode gebruik, saam met idees van ansha-avatar, of gedeeltelike verpersoonlikings.[4][1]
Die begrip "avatar" word in Hindoeïsme meestal verbind met Vishnu, die bewaarder van goddelike aspekte binne die Hindoe-drie-eenheid, Trimurti of Brahma, Vishnu en Shiva. Vishnu se avatars het neergedaal om die goeie te bemagtig en die bose te beveg, en so dharma te herstel. ’n Paragraaf uit die Bhagavad Gita wat dikwels in Engels aangehaal word, beskryf die tipiese rol van ’n avatar van Vishnu:[10][25]
Whenever righteousness wanes and unrighteousness increases I send myself forth.
For the protection of the good and for the destruction of evil,
and for the establishment of righteousness,
I come into being age after age.—Bhagavad Gita 4.7–8
Vishnu se avatars verskyn in die Hindoemitologie wanneer die kosmos ook al deur ’n krisis bedreig word, gewoonlik omdat die bose sterker geword en die kosmos uit balans gegooi het.[26] Die avatar verskyn dan in ’n materiële vorm om die bose en sy hulpbronne te vernietig en die kosmiese balans tussen die ewige magte van goed en kwaad te herstel.[26]
Sy algemeenste en bekendste avatars in die Vaishnavisme-tradisie is Krishna, Rama, Narayana en Vasudeva. Elk het sy eie eienskappe en legendes, asook kuns wat met hom verbind word.[25] Die lyste van sy avatars verskil; die Mahabharata sluit byvoorbeeld Krishna in, terwyl die Ramayana Rama insluit.[27]
Die Bhagavata Purana beskryf Vishnu se avatars as ontelbaar, hoewel 10 inkarnasies genoem word as sy grootste verpersoonlikings.[11][25] Die 10 name word in die Agni Purana, Garuda Purana en Bhagavata Purana aangetref;[28][29] die Pañcaratra noem 39.[30]
Die 10 bekendste avatars vir Vishnu word die Dashavatara (Sanskrit vir "10 avatars") genoem. Daar is vyf verskillende lyste in die Bhagavata Purana, waar die enigste verskil die volgorde is – moontlik met opset om aan te dui dat nie een belangriker as die ander is nie.[31]
Volgens die Linga Purana inkarneer Ganesha hom om demone te vernietig en die gode en vroom mense te help.[42] Die twee upapurana – Ganesha Purana en Mudgala Purana – gee besonderhede oor sy avatars. Albei is sleutelgeskrifte van die Ganapatya-sekte, wat uitsluitlik vir Ganesha aanbid.
Vier avatars word in die Ganesha Purana genoem: Mohotkata, Mayureshvara, Gajanana en Dhumraketu. Elk behoort tot ’n ander yuga (epog) en het ’n ander rydier en velkleur, maar hulle het een ding in gemeen: om demone dood te maak.[43]
Die Mudgala Purana beskryf agt avatars van Ganesha:[44]
Hoewel die Puranas wel soms na avatars van Shiva verwys, word dié leerstelling nie algemeen in Shaivisme aanvaar nie.[45] Die sienings oor inkarnasie is een van die belangrikste verskille tussen Vaishnavisme en Shaivisme, benewens hul verskille oor die rol van ’n huis- teenoor ’n kloosterlewe.[16][17][46] Shaivisme is ’n bosintuiglike teologie waarin die mens, met die hulp van sy ghoeroe, sy eie verlosser is.[46]
Die Linga Purana lys 28 avatars van Shiva.[47] In die Shiva Purana is daar ’n spesifiek Shaivistiese weergawe van ’n tradisionele avatar-mite: Shiva bring Virabhadra, een van sy skrikwekkende vorme, voort om Narasimha, ’n avatar van Vishnu, te kalmeer. Toe dit nie werk nie, verander Shiva in die mens-leeu-voël Sharabha, wat Vishnu se leeu-voël-avatar Narasimha kalmeer, en Shiva gee Vishnu ’n chakra present.
’n Soortgelyke verhaal word in die laat-Middeleeuse Sharabha Upanishad vertel.[48] Die Vaishnava-skool verwerp egter hierdie siening van Narasimha.[49]
Die aap-god Hanuman, wat Rama gehelp het, word ook soms as ’n avatar van Rudra (Shiva) beskou,[50][51] so ook ’n paar streeksgode soos Khandoba.[52][53] In die Dasam Granth noem ghoeroe Gobind Singh twee avatars van Rudra: Dattatreya en Parasnath.[54]
Daar is ook avatars in Shaktisme, die sekte wat die Godin (Devi) aanbid, maar dit word nie deur almal aanvaar nie. Die Devi Bhagavata Purana beskryf die neerdaling van Devi-avatars soos Durga, Kali en Parvati om die bose te straf en die regverdiges te verdedig – dit stem in ’n groot mate ooreen met die Bhagavata Purana se beskrywings van die avatars van Vishnu.[55] Nes Vishnu, inkarneer sy metgesel, Lakshmi, haar as Sita en Radha – die metgeselle van sy Rama- en Krishna-avatar.[56] Nilakantha, ’n 18de-eeuse kommentator oor die Devi Bhagavata Purana, wat die Devi Gita insluit, het gemeen die verskeie avatars van die Godin sluit Shakambhari in, en selfs die manlike Krishna en Rama wat gewoonlik as avatars van Vishnu beskou word.[57]
Sridevi en Bhudevi is twee verskillende vorme van die godin Lakshmi. Dharini, die metgesel van Parashurama; Sita, die metgesel van Rama; en Yashodhara, die metgesel van Boeddha; asook die metgeselle van die vorige inkarnasies van Vishnu word almal as volle inkarnasies van Lakshmi beskou. Baie ander metgeselle word beskou as gedeeltelike inkarnasies van Lakshmi.
In die Dasam Granth, sekondêre geskrifte deur ghoeroe Gobind Singh, word sewe avatars van Brahma genoem:[58]
{{cite book}}
: Onbekende parameter |chapterurl=
geïgnoreer (hulp) p.118
{{cite book}}
: Onbekende parameter |chapterurl=
geïgnoreer (hulp)
{{cite journal}}
: CS1 maint: postscript (link){{cite book}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp){{cite book}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)AS1-onderhoud: onerkende taal (link){{cite book}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp){{cite journal}}
: Ongeldige |ref=harv
(hulp)