Edwin Fischer (6 Oktober 1886 – 24 Januarie 1960) was 'n Switserse pianis en dirigent. Hy word beskou as een van die grootste vertolkers van Bach en Mozart.
Fischer is in Basel gebore, en studeer aanvanklik musiek onder die komponis Hans Huber. Later studeer hy in Berlyn aan die Stern-konservatorium onder Martin Krause. Hy het eers na die Eerste Wêreldoorlog as pianis bekendheid begin verwerf. In 1926 word hy dirigent van die Lübeck-Musikverein, en dirigeer ook later in München. In 1932 het hy sy eie kamerorkes gestig. Hy was een van die eerste persone wat daarin belang gestel het om musiek uit die Barok- en Klassieke tydperke op histories akkurate wyse aan te bied. Alhoewel sy opvoerings nie histories akkuraat was volgens vandag se standaarde nie, was dit vir sy tyd 'n ongewone praktyk; hy het byvoorbeeld Bach en Mozart se klavierconcertos vanaf die klavier gedirigeer.
In 1932 het hy na Berlyn teruggekeer en Artur Schnabel, wat geëmigreer het weens Adolf Hitler se magsopkoms, opgevolg as onderwyser aan die Berlin Hochschule für Musik. In 1942 het hy teruggekeer na Switserland, waar sy loopbaan ontwrig is deur die Tweede Wêreldoorlog. Na die oorlog het hy weer begin optree en meesterklasse in Luzern gegee aan latere prominente pianiste soos onder andere Alfred Brendel, Helena Sá e Costa, Mario Feninger, Reine Gianoli, Paul Badura-Skoda en Daniel Barenboim.
Benewens solovoordragte, concerto-uitvoerings en die dirigeer van orkeste, het Fischer baie kamermusiek opgevoer. Die klaviertrio wat hy saam met die tjellis Enrico Mainardi en die violis Georg Kulenkampff (wat vervang is deur Wolfgang Schneiderhan ná Kulenkampff se dood) opgerig het is veral hoog aangeslaan.
Fischer het boeke oor klavieronderrig gepubliseer, asook een oor Beethoven se klaviersonates. Hy het ook 'n aantal opnames gemaak, insluitend die eerste volledige opname van Bach se Das wohltemperierte Klavier vir EMI, van 1933 tot 1936. Fischer se histories-belangrike opnames is op CD heruitgereik deur EMI en spesialiteitsetikette soos Appian Publications & Recordings, Music & Arts, Pearl en Testament Records (Verenigde Koninkryk. Ander klassieke opnames deur Fischer sluit in Bach se klavierconcertos, solowerke deur Bach, soos die Chromatiese Fantasie en Fuga, verskeie sonates deur Mozart en Beethoven, Schubert se Wanderer-fantasie en Impromptus, Beethoven se Klavierconcerto No. 5 ("Keiser"), Brahms se Tweede Klavierkonsert (laasgenoemde twee werke is gedirigeer deur Wilhelm Furtwängler), en Mozart se klavierconcertos No's 17 (K. 453), 20 (K. 466), 22 (K. 482), 24 (K. 491) en 25 (K. 503), waarvan die laaste drie gedirigeer is deur John Barbirolli, Lawrance Collingwood en Josef Krips in onderskeidelik 1935, 1937 en 1947.
Fischer het ook Elisabeth Schwarzkopf begelei in 'n bekende 1950's EMI LP van Schubert Lieder. Sy laaste musikale samewerking was met die violis Gioconda de Vito. Tydens hul opnamesessies vir Brahms se Eerste en Derde vioolsonate moes hy hom na Londen haas vir mediese behandeling, waar hy meegedeel is dat hy baie siek is. Hy is kort daarna in Zürich oorlede. Sy oorskot is veras en in die Friedental-begraafplaas in Luzern begrawe.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal. |
Wikiquote het aanhalings in verband met Edwin Fischer |