Ernest Alexandre Ansermet (11 November 1883 – 20 Februarie 1969)[1] was 'n Switserse dirigent.
Ansermet is gebore in Vevey,[1] Switserland. Hy was oorspronklik 'n wiskundeprofessor, en het klas gegee aan die Universiteit van Lausanne. Hy het in 1912 begin dirigeer by die kasino in Montreux, en vanaf 1915 tot 1923 was hy die dirigent vir Diaghilev se Ballets Russes. Terwyl hy op reis was deur Frankryk het hy vir Debussy en Ravel ontmoet, en hul gepeil oor die uitvoering van hul werke, waarvoor hy vandag veral bekendstaan.[2] Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hy vir Strawinski ontmoet, wat in ballingskap in Switserland was. Hiermee het die dirigent se lewenslange verbintenis met Russiese musiek ontstaan.
In 1918 stig Ansermet sy eie orkes, die Orchestre de la Suisse Romande (OSR). Hy het wyd in Europa en Amerika getoer en bekend geword vir sy nougesette en deurtastende uitvoerings van moeilike moderne musiek. Hy het die eerste opnames gemaak van werke soos Strawinski se Capriccio, met die komponis as solis. Ansermet was een van die eerstes op die gebied van klassieke musiek wat jazzmusiek ernstig opgeneem het, en in 1919 het hy 'n artikel geskryf waarin hy Sidney Bechet aanprys.[3]
Na die Tweede Wêreldoorlog het Ansermet en sy orkes tot internasionale prominensie gestyg deur 'n langtermynkontrak met Decca Records aan te gaan. Die meeste van sy repertorium is opgeneem vanaf die tydstip tot sy afsterwe, en hy het dikwels twee of drie opnames gemaak. Sy vertolkings is oor die algemeen as gesaghebbend beskou, alhoewel die orkesspel nie altyd die hoogste internasionale standaarde bereik het nie, en dit het veral verskil van dié van ander bekende 20ste-eeuse spesialiste, veral Pierre Monteux en Strawinski self. Ansermet het Strawinski se praktyk om sy werke te hersien, afgekeur en altyd die oorspronklike weergawes gespeel. Alhoewel hy bekend is vir die uitvoering van baie moderne musiek deur ander komponiste soos Arthur Honegger en Frank Martin, het hy die musiek van Arnold Schoenberg en sy medewerkers heeltemal vermy, en selfs kritiek gelewer op Strawinski toe hy twaalftoontegnieke in sy komposisies begin gebruik het.[4] In Ansermet se boek, Les fondements de la musique dans la conscience humaine (1961), het hy met gebruikmaking van Husserliaanse Fenomenologie en sy eie wiskundige studies gepoog om te bewys dat Schoenberg se idioom vals en irrasioneel was. Hy het dit geëtiketeer as 'n "Joodse idee" en voortgegaan om te sê dat "the Jew is a me who speaks as though he were an I," dat die Jood "aan gedagtes ly wat dubbeld misvorm is", wat hom dus "geskik maak vir die hantering van geld"; hy het die verklaring opgesom met die gedagte dat "Westerse musiek" net so goed sou ontwikkel het "sonder die Jood".[5] Ansermet se reputasie het na die oorlog skade gelei weens sy samewerking met die Duitse regering, en hy is geboikot in die nuwe staat van Israel.[6]
In Mei 1954 het Decca Records Ansermet opgeneem in Europa se eerste kommersiële stereofoniese opnames. Hulle het voortgegaan om die eerste volledige stereo uitvoering van Tsjaikofski se Die Neutekraker op LP op te neem (Artur Rodziński het reeds 'n stereo opname gemaak op magnetiese band, maar dit is slegs uitgegee in mono op LP). Ansermet het ook vroeë stereo opnames gemaak van Debussy se Nokturnes en Prélude à l'après-midi d'un faune. 'n Deel van sy opname van Strawinski se Le Sacre du printemps, wat aangevul is deur 'n repetisieopname wat andersins onverkrygbaar was, is deur Decca gebruik op die maatskappy se stereo demonstrasie-LP van 1957, A Journey into Stereo Sound. Die dirigent se helder en metodiese aftel van maatslae is 'n eiesoortige eienskap van sy repetisieritueel. Gedurende sy laaste jare het hy en sy ensemble werke opgeneem deur Haydn, Beethoven en Brahms. In 1962 het Ansermet die eerste volledige opname van Haydn se Paryse-simfonieë saam met die OSR op Decca gemaak.
Sy laaste opname, Strawinski se Vuurvoël, is in 1968 in Londen gemaak saam met die New Philharmonia Orchestra. Die opname sluit repetisiesessies in wat uitgereik is as 'n huldeblyk aan die dirigent.[7] 'n Verdere laat-opname saam met die L'Orchestre de la Suisse Romande vir Decca, wat ook as huldeblyk uitgereik is, is gewy aan Albéric Magnard se Derde Simfonie en Édouard Lalo se Scherzo vir Orkes.[8]
Ansermet het ook van sy eie klaviermusiek en werke vir orkes gekomponeer, waaronder 'n simfoniese gedig getiteld Feuilles de Printemps (Lenteblare). Hy het ook Debussy se Six épigraphes antiques in 1939 georkestreer.[9]
Hy sterf op 20 Februarie 1969 in Genève[1] op 85-jarige ouderdom.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
Wikimedia Commons bevat media in verband met Ernest Ansermet. |