Ernst van Heerden | |
---|---|
![]() Ernst van Heerden | |
Gebore | 20 Maart 1916 |
Sterf | 30 September 1997 |
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Digter |
Bekend vir | Poësie |
Ernst van Heerden (20 Maart 1916 – 30 September 1997) behoort tot die vooraanstaande Afrikaanse digters. Sy werk sluit vyftien digbundels, een epiese gedig, 'n aantal opstelle, reisdagboeke en outobiografiese werke in. Hoewel hy geen geheim gemaak het van sy seksuele oriëntasie nie,[1] skryf hy eers in sy laaste bundels enkele gedigte met 'n gay strekking. Gedigte oor liggaamlikheid en sportfigure maak van meet af aan 'n belangrike deel van sy oeuvre uit, en in 1948 verwerf hy internasionale bekendheid met die toekenning van 'n Olimpiese Spele-silwermedalje vir sy Ses gedigte.
Die boorling van Pearston (Oos-Kaap, Suid-Afrika) verwerf sy matriek by die Hoërskool Grey in Port Elizabeth en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy in 1936 sy M.A. behaal, en aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam, waar hy die digters William Ewart Gladstone Louw (1913–1980), een van die Digters van Dertig, en Willem Jacobus du Plooy Erlank (1901–1984), beter bekend onder sy pseudoniem Eitemal, ontmoet.
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog keer hy na Suid-Afrika terug en doseer aan die universiteite van Stellenbosch en Pietermaritzburg. Vanaf 1943 word hy eers 'n dosent in Engels en later in Afrikaans by die Departement van Onderwyskunde aan die Universiteit van Stellenbosch.
In 1959 word 'n beurs van die Carnegie-stigting aan hom toegeken, wat hom in staat stel om na die VSA te reis en die Amerikaanse Letterkunde te studeer. In hierdie tyd ontmoet hy vooraanstaande Amerikaanse digters soos Theodore Roethke en Richard Wilbur. In die somers van die jare 1963 en 1964 reis hy dwarsdeur Suid-Amerika.
In 1960 word Van Heerden 'n dosent in poësie aan die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg. Later word hy 'n senior dosent en in 1967 uiteindelik 'n professor van die Departement Afrikaans en Nederlands.
'n Ernstige siekte lei in 1974 tot die amputasie van sy bene. In 1981 tree hy af as professor. Hy is op 30 September 1997 in die Olivedale-kliniek in Johannesburg oorlede.