Manfred von Richthofen | |
---|---|
| |
Bynaam(e) | Rooi Baron |
Geboortedatum | 2 Mei 1892 |
Geboorteplek | Breslau, Duitse Keiserryk |
Sterfdatum | 21 April 1918 (25 jaar oud) |
Sterfplek | naby Cappy, Frankryk |
Lojaliteit | Duitse Keiserryk |
Diens/Tak | Uhlan (Lansiers) Luftstreitkräfte (Keiserlike Duitse Weermag Lugdiens) |
Jare in diens | 1911–1918 |
Rang | Rittmeister (kavalleriekaptein) |
Eenheid | Jasta 11, Jagdgeschwader 1 |
Poste beklee | Jasta 11 (Januarie 1917) Jagdgeschwader 1 (24 Junie 1917–21 April 1918) |
Veldslae/oorloë | Eerste Wêreldoorlog |
Familie | Lothar von Richthofen (broer) Wolfram von Richthofen (neef) |
Manfred Albrecht Freiherr von Richthofen, tydens die Eerste Wêreldoorlog bekend as die Rooi Baron (Gebore Breslau, 2 Mei 1892 – sterf naby Cappy, Frankryk, 21 April 1918) was 'n Duitse vegvlieënier. Hy word beskou as die suksesvolste vegvlieënier van die Eerste Wêreldoorlog met amptelik tagtig luggevegoorwinnings.
Manfred von Richthofen aanvaar in 1911 diens by die Königlich-Preußisches Ulanenregiment Kaiser Alexander III von Rußland ('n Wes-Pruisiese kavallerieregiment). In Mei 1915 word hy verplaas na die Duitse lugmag, eers as waarnemer, maar in Desember van daardie jaar kwalifiseer hy as 'n vlieënier. Sy instrukteur Oswald Boelcke was van mening dat hy 'n briljante vlieënier is. Na 'n kort tydjie aan die Russiese front word hy in Augustus 1916 oorgeplaas na Frankryk en op 17 September 1916 behaal hy die eerste van sy tagtig amptelike luggevegoorwinnings.
Op 16 Januarie 1917 kry hy bevel oor 'n eie eskader, Jagdstaffel 11, en op 26 Junie van daardie jaar oor Jagdgeschwader 1; 'n groep van vier staffeln (eskaders), almal bont geverf wat tot die naam Richthofens Flying Circus sou aanleiding gee. Die groep was saamgestel uit Duitse elitevlieëniers, waaronder sy broer Lothar. Sy vliegtuig, 'n Albatros D.III, was rooi geverf, wat hom die bynaam die Rooi Baron besorg. Von Richthofen sterf byna tydens 'n luggeveg in Julie 1917, maar ondanks 'n ernstige kopwond slaag hy daarin om met sy Albatros D.V te land. Op 2 September 1917 behaal hy met die nuwe Fokker Dr.I-driedekker-vliegtuig sy sestigste oorwinning. By die Britte was hy so gevrees dat aan die vlieënier wat hom kon afskiet sy eie vliegtuig, 5000 Pond Sterling en die Victoriakruis beloof word.
Op 20 April 1918 skiet hy sy tagtigste en laaste slagoffer; 'n Sopwith Camel van die Britse Koninklike Lugmag af. Op 21 April 1918 sterf von Richthofen toe hy die Kanadees Wilfrid May agtervolg. Dit blyk later dat hy deur 'n 303 koeël getref is wat waarskynlik van die grond afgevuur is. Sy Flying Circus word oorgeneem deur die latere Nazi-leier Hermann Göring.
Die verlies van von Richthofen was 'n verpletterende slag vir die Duitse moraal. In sy tyd het von Richthofen 'n reeks onderskeidinge ontvang, waaronder die Yster Kruis (1e en 2de klas), die militêre Heinrichsorden, die Roter Adlerorden en die Orden Pour le Mérite. Von Richthofen is in die Südfriedhof, Wiesbaden, in Duitsland, begrawe.
Sy 80 luggevegoorwinings is deur geen ander gevegsvlieënier in die Eerste Wêreldoorlog oortref nie. Vir dekades na die Eerste Wêreldoorlog het sommige skrywers Von Richtofen se 80 lugoorwinings in twyfel getrek. Daar word beweer dat die getal vergroot was vir oorlog propagandadoeleindes. Sommige skrywers beweer dat hy krediet geneem het vir al die vliegtuie wat deur sy eskader afgeskiet is. In die 1990's was daar 'n herlewing van akademiese navorsing oor die Eerste Wêreldoorlog wat onder meer gedetaileerde navorsing van verskillende aspekte van luggevegte ingesluit het. Die breedvoerige studie deur die Britise geskiedkundige Norman Franks en twee kollegas het die publikasie van Under the Guns of the Red Baron in 1998 tot gevolg gehad. Hulle navorsing het die geldigheid van ten minste 73 van von Richtofen se aansprake bevestig en die identiteite van die geallieerde vlieëniers bekend gemaak teen wie von Richthofen geveg het.