Martin Buber | |
Gebore | Wene, Oostenryk-Hongarye | 8 Februarie 1878
---|---|
Oorlede | 13 Junie 1965 (op 87) Jerusalem, Israel |
Nasionaliteit | Israel |
Vakgebied | Ontologie |
Bekend vir | Ich-Du en Ich-Es |
Beïnvloed deur | Immanuel Kant, Søren Kierkegaard, Friedrich Nietzsche, Ludwig Feuerbach, Ralph Waldo Emerson, Pierre-Joseph Proudhon, Sigmund Freud, Rudolf Bultmann |
Invloed op | Abraham Joshua Heschel, Walter Kaufmann, Gabriel Marcel, Franz Rosenzweig, Hans Urs von Balthasar, Fritz Perls, Laura Perls, John Berger |
Toekennings | Erasmusprys, 1963 |
Handtekening |
Martin Buber (Wene, 8 Februarie 1878 – Jerusalem, 13 Junie 1965) was 'n Oostenrykse-Israeliese-joodse godsdiensfilosoof.
Buber word groot in Lemberg (tans bekend as Lwif, Oekraïne). As kleinkind van die wetenskaplike en Midrasj-kenner Salomon Buber was hy in sy tyd een van die belangrikste navorsers en versamelaars op die gebied van die Chassidiese tradisie van die Oos-Europese jodedom. Hoewel hy homself eerder as aanhanger van die Rekonstruktiewe Judaïsme reken, beywer hy homself daarop om die Westerse wêreld aan Ortodokse en Ultraortodokse mistieke bewegings bloot te stel. Hiervoor vertaal hy talryke vertellings en tradisies van die Chassidisme na Duits en maak dit op so manier bekend. In die besonder lewer sy omvangryke teksversameling Die Erzählungen der Chassidim ("Die vertellinge van die Chassidiem") daarvan 'n indrukwekkende getuienis. Tydens sy lewe was Buber 'n bemiddelaar tussen die bedreigde tradisionele Joodse wêreld in die Ooste en die Westerse wetenskaplike en rasionalistiese moderne tyd.
Saam met die filosoof Franz Rosenzweig vertaal Buber van 1926 tot 1936 die Joodse Heilige Skrif, die Tanag, in Duits. In sy filosofiese werke konsentreer Buber veral op die tema van dialoog. Sy hoofwerk met die titel Ich und Du ("Ek en jy") behandel die verhouding van die mens tot God en die medemens as eksistensialistiese religieuse dialoogbeginsel. Buber was van 1924 tot 1933 dosent en was erehoogleraar in Joodse geloofsleer en etiek in Frankfurt am Main. In 1938 kon hy uit Nazi-Duitsland na Jerusalem ontsnap, waar hy tot 1951 aan die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem klasgee in antropologie en sosiologie. Sy huis in Heppenheim word tydens die Kristallnacht ("Kristalnag") op 9 November 1938 verwoes.
Martin Buber was 'n religieuse Sionis, maar het hom tog ook verset teen die oprigting van die staat Israel en kritiseer die nasionalistiese politieke Sioniste as "sendelinge van die Weste". Hy was, soos ander persone 'n sogenaamde "Tuisland"-Sionis, waaronder Judah Magnes voorstander van 'n gemeenskaplike Arabies-Israeliese staat, waarbinne Jode veral hul spirituele identiteit tot ontwikkeling moes bring, maar geen politieke mag moes nastreef nie.
Vertaal uit die Nederlandse Wikipedia-artikel