Pous Urbanus V | |
---|---|
Geboortenaam | Guillaume de Grimoard |
Pontifikaat begin | 28 September 1362 |
Pontifikaat eindig | 19 Desember 1370 |
Voorganger | Innocentius VI |
Opvolger | Gregorius XI |
Gebore | 1310 Grizac, Frankryk |
Sterf | 19 Desember 1370 Avignon, Frankryk |
Ander pouse genaamd Urbanus |
Geseënde Pous Urbanus V | |
---|---|
Gebore | 1310, Grizac, Frankryk |
Sterfte | 19 Desember 1370, Avignon, Frankryk |
Vereer in | Rooms-Katolieke Kerk |
Saligverklaring | 10 Maart 1870, Rome, Koninkryk van Italië deur Pous Pius IX |
Feesdag | 19 Desember |
Attribute | Pouslike klere, pouslike tiara |
Beskermheilige | Argitekte, opvoeders, Benediktyne, sendelinge |
Urbanus V was die 200ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk van 1362 tot 1370 en die sesde pous met sy setel in Avignon.
Pous Urbanus V[1] is gebore as Guillaume de Grimoard in 1310 in Grizac, Frankryk oudste seun van Guillaume II de Grimoard, heer van Grizac en Amphélise (ook Élize) de Sabran, dame van Montferrand. Soos sy voorgangers Pous Clemens VI en Pous Benedictus XII was hy 'n Benediktyner monnik en doktor in die kerkreg. Hy doseer regte in Montpellier en Avignon. Hy was ab van St. Germain d’Auxerre vanaf 13 Februarie 1352 en van St. Victor in Marseille vanaf 2 Februarie 1361 en pouslike legaat na Napels vanaf 10 Junie 1362. Op 28 September 1362 volg hy Pous Innocentius VI op. Hy word gekroon op 6 November 1362 en regeer tot sy dood op 19 Desember 1370. Hy word opgevolg deur Pous Gregorius XI. Die naam ‘Urbanus’ beteken 'beskaafde'.
Pous Urbanus V[2] het die dissipline in die kerk probeer herstel. Hy het 'n afkeur gehad aan die prag en praal van die kardinale. Hy het die onderwys gestimuleer. In Krakau, Wene en Orléans stig hy universiteite en in Montpellier het hy die mediese skool laat herstel. Hy het ook kolleges gestig in Quézac en Bédouès en 'n biblioteek in Ispagnac. Hy het meer as 1000 studente kos en onderdak gegee. Hy het ook gesorg vir boeke en die beste professore.
Tydens Urbanus se pontifikaat het die laaste kruistogte plaasgevind. Peter I van Siprus het Alexandrië verower op 11 Oktober 1365, maar moes dit gou weer verlaat.
Urbanus het probeer om die pousdom weer na Rome te verskuif. Op 3 Maart 1363 het hy Bernabò Visconti die laaste groot figuur van die Ghibellyne, geëkskommunikeer. Moeilikhede in Rome ten spyt, het die pous op versoek van Petrarca en St. Brigitta van Swede na Rome gereis waar hy op 16 Oktober 1367 aangekom het. In Rome het hy die keiserin van die Heilige Romeinse Ryk gekroon en onderhorigheid ontvang van koning Peter I van Siprus, koningin Johanna I van Napels en die Bisantynse keiser Johannes V Paleologus.
Die Franse kardinale het aangedring dat die pous na Avignon terugkeer en omdat stede in die pouslike staat in opstand gekom het, het die pous op 5 September 1370 uit Corneto vertrek en op 24 September 1370 weer in Avignon aangekom.
Koning Waldemar IV van Denemarke het gevra dat hy salig verklaar moet word en Pous Gregorius belowe dit in 1375 maar die saligverklaring is eers deurgevoer op 10 Maart 1870 deur Pous Pius IX.
Urbanus het die volgende kardinale aangestel:
Pous Urbanus V word as salige vereer in die Rooms-Katolieke Kerk sy feesdag was op 19 Desember, maar is deur die tweede Vatikaanse konsilie verplaas na 6 November, die dag van sy kroning.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Urbanus V. |
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Voorafgegaan deur Innocentius VI |
Pous (Pontifex Maximus) 1362 – 1370 |
Opgevolg deur Gregorius XI |