UY Scuti | ||||
UY Scuti se grootte in vergelyking met dié van die Son. | ||||
Sterrebeeld | Skild | |||
Spektraaltipe | M4Ia[1] | |||
Waarnemingsdata (Epog J2000) | ||||
Regte klimming | 18h 27m 36.5334s[2] | |||
Deklinasie | -12° 27′ 58.866″[2] | |||
Skynmagnitude (m) | 8,9[3] – 11.20[4] | |||
Absolute magnitude (M) | -6,2[5] | |||
B-V-kleurindeks | 3,00[4] | |||
U-B-kleurindeks | 3,29[1] | |||
Besonderhede | ||||
Massa (M☉) | 7-10[1] | |||
Radius (R☉) | 1 708 ± 192[1] | |||
Ligsterkte (L☉) | 340 000[1] | |||
Temperatuur (K) | 3 365 ± 134[1] | |||
Afstand (ligjaar) | 9 500 | |||
Eienskappe | ||||
Veranderlikheid | Halfreëlmatige veranderlike ster | |||
Ander name | ||||
UY Sct, BD-12 5055, IRC -10422, RAFGL 2162, HV 3805 | ||||
|
UY Scuti is ’n helder, polsende rooisuperreus en veranderlike ster in die sterrebeeld Skild. Dit is moontlik die grootste ster bekend volgens sy radius en is een van die helderste sterre in sy soort. Dit het ’n geraamde gemiddelde radius van 1 708 R☉ (sonradiusse), of ’n deursnee van 2,4 miljard km (15,9 AE). Sy volume is dus 5 miljard keer dié van die Son. Dit is sowat 9 500 ligjare van die Aarde af. As dit in die middel van die Sonnestelsel geleë was, sou sy fotosfeer verder gestrek het as die wentelbaan van Jupiter. Die radius is egter nie vir seker bekend nie en kan groter wees.
UY Scuti is in 1860 die eerste keer opgeteken, deur Duitse sterrekundiges by die Bonn-sterrewag.[6] Dit is BD -12 5055 genoem: die 5 055ste ster tussen 12°S en 13°S vanaf regte klimming 0h.
Met die volgende waarneming van die ster is bevind die helderheid het effens verander, wat daarop gedui het dit is ’n nuwe veranderlike ster. In ooreenstemming met die internasionale naamgewing van veranderlike sterre, is dit UY Scuti genoem: die 38ste veranderlike ster van die sterrebeeld Skild (sien Benaming van veranderlike sterre).[7]
Onder besonder goeie omstandighede met geen ligbesoedeling nie, kan UY Scuti met ’n klein teleskoop of groot verkyker gesien word as ’n rooierige ster met ’n effense valerigheid. Hoewel die ster baie helder is, word ’n waarnemer se sig deur die Melkweg belemmer.[8]
Die ster word geklassifiseer as ’n halfreëlmatige veranderlike ster met ’n polsperiode van sowat 740 dae.[9][10] [11] Dit het die algehele bolometriese ligsterkte van 340 000 L☉ en is dus een van die helderste sterre in die Melkweg.
In 2012 het sterrekundiges van die Baie Groot Teleskoop in Chili die parameters van drie superreusesterre naby die sentrale streek van die Melkweg gemeet:[1] UY Scuti, AH Scorpii en KW Sagittarii. Hulle het vasgestel al drie is sowat duisend keer groter as die Son en dus van die grootste sterre sover bekend.[12] UY Scuti was die grootste van die drie, teen 1 708 ± 192 sonradiusse: die grootste sover bekend en 1,7 keer dié van die beroemde Betelgeuse. Dit is so groot dat ’n hipotetiese voorwerp wat teen die snelheid van lig beweeg, sewe uur sou vat om om UY Scuti te beweeg, terwyl dit net 14,5 sekondes sou duur vir ’n reis om die Son.[13]
Die ster se massa is onseker, hoofsaaklik omdat daar nie ’n sigbare metgeselster is waarteen sy massa deur middel van swaartekragversteuring gemeet kan word nie.
Gebaseer op huidige modelle van sterevolusie, het UY Scuti begin met die fusie van helium terwyl die fusie van waterstof om die kern voortduur. Die ster se ligging diep in die Melkweg se skyf dui daarop dat dit waarskynlik metaalryk is.[14]
UY Scuti behoort binne die volgende paar miljoen jaar litium, koolstof, suurstof, neon en silikon in sy kern te verbrand. Daarna sal sy kern yster begin vervaardig en eindelik ’n tipe IIb-, IIn- of Ib/Ic-supernova veroorsaak.[15]
{{cite book}}
: |first1=
has generic name (hulp)