Wernher von Braun | |
---|---|
Wernher von Braun in 1964 | |
Gebore | Wernher Magnus Maximilian, Freiherr von Braun 23 Maart 1912 |
Sterf | 16 Junie 1977 |
Nasionaliteit | Nazi-Duitsland (1933–1945) Verenigde State (1945–1977) |
Beroep | Vuurpylingenieur en -ontwerper |
Eggenoot | Maria Luise von Quistorp (1947–77) |
Kinders | 3 |
Ouer(s) | Magnus von Braun (vader) Emmy von Quistorp (moeder) |
Wernher Magnus Maximilian von Braun (23 Maart 1912 – 16 Junie 1977), een van die wêreld se voorste vuurpyldeskundiges, was die leier van 'n Duitse span geleerdes wat tydens die Tweede Wêreldoorlog die vernietigende Vergeltungswaffe (Duits vir vergeldingswapen), die V-2 ballistiese vuurpyl, by Peenemünde in Duitsland ontwikkel het.
Ná die oorlog is hy deur die Amerikaanse regering gewerf, waar hy 'n blywende impak op die Amerikaanse ruimtevaartprogram gemaak het en onder andere 'n span deskundiges gelei het in die ontwerp en bou van die reusagtige Saturn V-vuurpyl. Hierdie vuurpyl (wat 42 m hoog was en 10 m in deursnee) het in 1969 bygedra tot die sukses van die eerste maanlanding toe Neil Armstrong, Edwin Aldrin en Michael Collins se Apollo 11 vaartuig van 45 702 kg teen 'n snelheid van 10 300 km/h tot op 'n hoogte van 64,4 km bo die aarde die ruimte ingeskiet is.
Von Braun het verskeie toekennings, medaljes en eredoktorsgrade ontvang vir sy bydrae tot die wetenskap en spesifiek die Amerikaanse ruimteprogram, onder andere die Dr. Robert H Goddard Memorial Trophy in 1958, die Distinguished Federal Civilian Service Award van President Eisenhower in 1959, die American Astronautics Award van die Amerikaanse Vuurpylvereniging in 1955, die Gold Medal Award van die Britse Interplanetêre Vereniging in 1961, the NASA-medalje vir Uitstaande Leierskap in 1964, en die Smithsonian Instituut se Langley-medalje in 1967.
Freiherr Wernher Magnus Maximilian von Braun is gebore in Wirsitz, Duitsland, op 23 Maart 1912, die seun van Pruisiese aristokrate, Baron Magnus en Barones Emmy von Braun. Von Braun se pa was 'n Minister van Landbou in die Weimar Republiek. Die jong Wernher von Braun voltooi 'n graad in meganiese ingenieurswese aan die Berlynse Instituut vir Tegnologie in 1932 en 'n Ph D in Fisika aan die Universiteit van Berlyn in 1934. Tussen 1932 en 1945 doen hy baanbrekerswerk by die Duitse weermag se vuurpylondersoeksentrums te Kummersdorf (buite Berlyn) en toe te Peenemünde, 'n klein visserdorpie aan die Baltiese kus waar wetenskaplikes hulle eksperimente ongesiens kon uitvoer.
As tegniese direkteur van die V-2 projek het Von Braun, self 'n lid van die Nazi-party sedert 1939, aan Nazi-Duitsland toegang gebied het tot kragtige ballistiese vuurpyle wat hulle teen die Geallieerdes gebruik het. Op 2 Mei 1945 het Von Braun en ander Duitse wetenskaplikes hulle aan die Geallieerde magte oorgegee. Von Braun en 130 medewerkers is na die VSA geneem om voort te gaan met die ontwikkeling van vuurpyle vir ruimtevaart. Dié groep Duitse tegnoloë het 'n groot bydrae gelewer tot die verdere ontwikkeling van vuurpyle, eers by Fort Bliss, Texas, en later by die Redstone Arsenaal in Huntsville, Alabama.
Van 1950-60 is Von Braun direkteur van die Redstone Arsenaal in Alabama waar hy 'n belangrike aandeel gehad het in die ontwikkeling van langafstandvuurpyle en ballistiese vuurpyle met 'n klein trefafstand, onder andere die Jupiter-C, waarmee die eerste Amerikaanse satelliet in 'n baan om die aarde geplaas is. In 1960 word Von Braun direkteur van NASA se George C Marshall Space Flight Center. In hierdie hoedanigheid speel hy 'n vername rol by die ontwerp van die Saturnusvuurpyle (Saturnus I en V) vir die Amerikaanse ruimtevaartprogram, die Gemini-program en die Apollo-program.
In 1972 het Von Braun NASA verlaat om by Fairchild Industries in Germantown, Maryland as Vise-President: Ingenieurswese en Ontwikkeling aan te sluit. Hy het in Januarie 1977 weens gesondheidsredes afgetree en is op 16 Junie 1977 oorlede.
Wernher von Braun is in 1948 getroud met 'n kleinniggie, Marie Louise von Quistorp. Hulle het drie kinders gehad.