Engelse digter
Gebore
7 April 1770
in Wordsworth House, Cockermouth,
Engeland
Oorlede
23 April 1850
in Cumberland, Engeland
Literêre stroming
Romantiek
Bekende werke
Lyrical Ballads
Poems in Two Volumes
The Excursion
William Wordsworth (7 April 1770 - 23 April 1850) was een van die grootste Romantiese digters van Engeland. Sy Lyrical Ballads, 'n digbundel wat hy saam met sy vriend Samuel Taylor Coleridge in 1798 gepubliseer het, vorm die beginpunt van die Romantiese tydperk in die Engelse letterkunde.
The Prelude, 'n halfbiografiese gedig uit sy vroeë jare wat hy verskeie kere hersien en uitgebrei het, word algemeen as Wordsworth se beduidendste werk beskou. Dit is postuum betitel en gepubliseer en het voorheen algemeen as die gedig "aan Coleridge" bekend gestaan. Wordsworth was vanaf 1843 tot en met sy afsterwe in 1850 Groot-Brittanje se Poet Laureate.
Hy was die tweede van vyf kinders wat gebore is aan John Wordsworth en Ann Cookson op 7 April 1770, in wat nou bekendstaan as die Wordsworth House in Cockermouth, Cumberland, 'n deel van die skilderagtige streek in die noordweste van Engeland wat bekendstaan as die Meredistrik. William se suster, die digter Dorothy Wordsworth, aan wie hy sy hele lewe lank besonders naby was, is die volgende jaar gebore; en die twee is saam gedoop. Hulle het drie ander broers en susters gehad naamlik; Richard, die oudste, wat 'n prokureur geword het; John, gebore na Dorothy, wat in 1805 gesterf het toe die skip (die Earl of Abergavenny) waarvan hy die kaptein was, gestrand het aan die suidkus van Engeland; en Christopher Wordsworth, die jongste kind, wat binne die kerk meester van Trinity College, Cambridge sou word. [1]
Wordsworth se pa was 'n regsverteenwoordiger van James Lowther, 1ste graaf van Lonsdale, en het danksy sy verbintenisse in 'n groot herehuis in die klein dorpie gewoon. Hy was gereeld van die huis af weg op besigheid, en dus het die jong William en sy broers en susters tot sy vader dood in 1783 weinig betrokkenheid met hom gehad. [2] Hy het William egter wel aangemoedig in sy leeswerk, en hom veral aangemoedig om groot gedeeltes werke vas te lê in sy geheue, waaronder werke van Milton, Shakespeare en Spenser. William is toegelaat om sy vader se biblioteek te gebruik. William het ook tyd by sy ma se ouerhuis in Penrith, Cumberland deurgebring, hy het egter nie met sy grootouers of sy oom, wat ook daar gewoon het, oor die weg gekom nie. Sy verhoudinge met hulle het hom so beangs gemaak dat hy selfmoord oorweeg het. [3]
Wordsworth het by sy ma geleer lees, en aanvanklik 'n piepklein skool van lae gehalte in Cockermouth, en daarna 'n skool in Penrith, vir kinders van die hoë klasse, bygewoon, waar hy geleer is deur Ann Birkett, wat daarop aangedring het om studente toe te rus met tradisies wat beide skolastiese sowel as plaaslike aktiwiteite ingesluit het, veral die feeste rondom Paasfees, Mei-dag en Shrove Tuesday. Wordsworth het die Bybel en die Spectator geleer maar weinig iets anders. Dit was op die skool in Penrith dat hy die Hutchinsons ontmoet het, insluitend Mary, wat later sy vrou sou word. [4]
Na die dood van Wordsworth se moeder in 1778 het sy vader hom na Hawkshead Grammar School in Lancashire (nou in Cumbria) gestuur en vir Dorothy na familielede in Yorkshire. Sy en William sou vir die volgende nege jaar nie weer ontmoet nie. Wordsworth het sy debuut as skrywer in 1787 gemaak toe hy 'n sonnet in The European Magazine publiseer. In dieselfde jaar het hy St John's College, Cambridge begin bywoon. Hy het sy BA-graad in 1791 ontvang. Hy het vir die eerste twee somers van sy tyd aan Cambridge na Hawkshead teruggekeer, en dikwels later vakansies deurgebring op staptoere en plekke besoek wat bekend is vir die skoonheid daarvan. In 1790 het hy 'n staptoer deur Europa onderneem waartydens hy uitgebreid in die Alpe getoer het en ook die nabygeleë lande van Frankryk, Switserland en Italië besoek het. [5]
In November 1791 het Wordsworth Rewolusionêre Frankryk besoek en betower geraak deur die Republikeinse beweging. Hy het verlief geraak op 'n Franse vrou, Annette Vallon, wat in 1792 hul dogter Caroline gebaar het. Finansiële probleme en Brittanje se gespanne verhoudinge met Frankryk het hom gedwing om die volgende jaar alleen na Engeland terug te keer. [6] Die omstandighede van sy terugkeer en sy daaropvolgende gedrag het twyfel laat ontstaan oor sy verklaarde wens om met Annette te trou. Hy het haar en sy dogter egter so goed moontlik in sy latere lewe ondersteun. Die skrikbewind wat met die Franse Rewolusie gepaard gegaan het, het Wordsworth deeglik ontnugter gelaat daarmee, en die uitbreek van gewapende vyandighede tussen Brittanje en Frankryk het hom jare lank verhinder om Annette en sy dogter te sien.
Met die Vrede van Amiens wat weer reis na Frankryk moontlik gemaak het, het Wordsworth en sy suster Dorothy in 1802 'n besoek gebring aan Annette en Caroline in Calais. Die doel van die besoek was om Annette voor te berei op sy voorgenome huwelik met Mary Hutchinson. [6] Agterna het hy die sonnet "It is a beauteous evening, calm and free" geskryf, ter herinnering aan 'n staptog langs die see saam met die 9-jarige Caroline, wat hy tot op daardie stadium nog nie gesien het nie. Mary was angstig dat Wordsworth meer vir Caroline moes doen. Met Caroline se troue in 1816 het Wordsworth £ 30 per jaar aan haar (gelykstaande aan £ 1.360 met ingang van die jaar 2000) begin betaal, welke betalings voortgeduur het tot 1835, toe dit deur 'n lompsomskikking vervang is. [7][8]
In 1793 is die eerste gedigte deur Wordsworth in die bundels An Evening Walk en Descriptive Sketches gepubliseer. In 1795 ontvang hy 'n erflating van £ 900 vanaf Raisley Calvert, en kon hy 'n loopbaan as digter najaag.
Dit was ook in 1795 dat hy Samuel Taylor Coleridge in Somerset ontmoet het. Die twee digters het vinnig 'n hegte vriendskap ontwikkel. Vanaf 1795 het William en sy suster Dorothy in Racedown House in Dorset, 'n eiendom van die Pinney-gesin, ten weste van Pilsdon Pen, gewoon. Hulle het elke dag tot soveel as twee ure in die omgewing rondgestap; die heuwels in die omgewing het Dorothy vertroos.
In 1797 verhuis die paar na Alfoxton House, Somerset, slegs 'n paar kilometer van Coleridge se huis in Nether Stowey. Wordsworth en Coleridge het saam (met insigte van Dorothy) Lyrical Ballads (1798) geskryf, 'n belangrike werk in die Engelse Romantiese beweging. [10] Die volume het nóg vir Wordsworth nóg vir Coleridge as outeurs genoem. Een van Wordsworth se bekendste gedigte, "Tintern Abbey", is in hierdie bundel gepubliseer, saam met Coleridge se "The Rime of the Ancient Mariner". Die tweede uitgawe, wat in 1800 gepubliseer is, het slegs Wordsworth as die outeur genoem, en sluit 'n voorwoord tot die gedigte in. [11] Dit is aansienlik aangevul in die volgende uitgawe wat in 1802 gepubliseer is. [12] In die voorwoord, wat sommige skolastici as 'n sentrale werk in die Romantiese letterkundige teorie beskou, bespreek Wordsworth wat hy beskou as die elemente van 'n nuwe soort vers, een wat gebaseer is op die gewone taal "wat werklik deur die mens gebruik word", terwyl dit die digterlike vers van 'n groot deel van die 18de-eeu vermy. Wordsworth gee ook sy beroemde definisie van poësie as "die spontane oorloop van kragtige gevoelens: dit is afkomstig van emosie wat in kalmte saamgevoer word", en noem sy eie gedigte in die boek "eksperimenteel". 'n Vierde en laaste uitgawe van Lyrical Ballads is in 1805 gepubliseer. [13]
Tussen 1795–1797 het Wordsworth sy enigste toneelstuk getiteld "The Borderers" geskryf, te wete 'n tragedie wat tydens die bewind van koning Henry III van Engeland] afspeel, toe die Engelse in die Noorde in konflik gekom het met Skotte. Hy het probeer om die toneelstuk in November 1797 op die planke te bring, maar dit is verwerp deur Thomas Harris, die bestuurder van die Covent Garden Theatre. Die verwerping is nie ligtelik deur Wordsworth opgeneem nie, en die toneelstuk is eers na 1842 na wesenlike hersiening gepubliseer. [14]
Wordsworth, Dorothy en Coleridge het in die herfs van 1798 na Duitsland gereis. Terwyl Coleridge intellektueel gestimuleer is deur die reis, was die belangrikste effek daarvan op Wordsworth die meebring van heimwee[6]. Gedurende die strawwe winter van 1798-99 het Wordsworth saam met Dorothy in Goslar gewoon, en ondanks uitermate spanning en eensaamheid het hy begin werk aan die outobiografiese stuk wat later die titel "The Prelude" gekry het. Hy het 'n aantal ander beroemde gedigte in Goslar geskryf, waaronder "The Lucy-poems". In die herfs van 1799 het Wordsworth en sy suster teruggekeer na Engeland en die Hutchinson-gesin op Sockburn besoek. Toe Coleridge teruggekeer het na Engeland het hy saam met hul uitgewer Joseph Cottle na die Noorde gereis om Wordsworth te ontmoet en om 'n voorgestelde toer deur die Meredistrik te onderneem. Dit was die onmiddellike oorsaak van die vestiging van die broer en suster in Dove Cottage in Grasmere in die Meredistrik, hierdie keer saam met 'n ander digter, Robert Southey, in die nabyheid. Wordsworth, Coleridge en Southey het bekend gestaan as die "Lake Poets". [15] Gedurende hierdie het baie van Wordsworth se gedigte met temas soos die dood, uithouvermoë, skeiding en verdriet gehandel.
In 1802 het Lowther se erfgenaam, William Lowther, 1ste graaf van Lonsdale, die £ 4.000 wat aan Wordsworth se vader verskuldig was, betaal. [16] Dit was hierdie terugbetaling wat Wordsworth die finansiële middele gegee het om te trou. Op 4 Oktober, na sy besoek met Dorothy aan Frankryk om sake met Annette te reël, het Wordsworth met sy kindervriend Mary Hutchinson getrou. [6] Dorothy het voortgegaan om by die paartjie te woon en het 'n hegte vriendskap met Mary gevorm. Die volgende jaar het Mary die eerste van vyf kinders gebaar, waarvan drie voor haar en William dood is:
In 1814 publiseer Wordsworth The Excursion as die tweede deel van die driedelige werk getiteld The Recluse, alhoewel hy nie die eerste deel of die derde deel voltooi het nie, en dit ook nooit gedoen het nie. Hy het egter 'n digterlike Prospektus geskryf vir The Recluse waarin hy die struktuur en bedoeling van die hele werk uiteensit. Die Prospektus bevat enkele van Wordsworth se bekendste reëls oor die verhouding tussen die menslike gees en die natuur.
Sommige moderne kritici [17] het al voorgestel dat daar 'n afplatting in sy werk rondom die middel van die 1810's plaasgevind het, miskien omdat die meeste van die bekommernisse wat sy vroeë gedigte gekenmerk het (verlies, dood, uithouvermoë, skeiding en verlating) opgelos is in sy skrywes en sy lewe. [18] Teen 1820 het hy aansienlike sukses geniet met 'n ommekeer in die kontemporêre kritiese mening van sy vroeëre werke. Na die dood van sy vriend, die skilder William Green in 1823, het Wordsworth ook sy betrekkinge met Coleridge herstel. [19] Die twee is teen 1828 ten volle versoen toe hulle saam deur die Rynland getoer het. [6] Dorothy het in 1829 aan 'n ernstige siekte gely wat haar vir die res van haar lewe ongesteld gemaak het. Coleridge en Charles Lamb is albei in 1834 oorlede, en die verlies aan hul geselskap was 'n gevoelige slag vir Wordsworth. Die volgende jaar het James Hogg gesterf. Ondanks die dood van baie tydgenote, het die gewildheid van sy poësie 'n konstante stroom bestaande jong vriende en bewonderaars voortgebring wat diegene wat hy verloor het vervang het.
Die jeugdige politieke radikalisme van Wordsworth, anders as dié van Coleridge, het hom nooit in opstand gebring teen sy godsdienstige opbrengs nie. Hy het op in 1812 opgemerk dat hy bereid was om sy bloed te vergiet vir die gevestigde Anglikaanse Kerk, wat weerspieël word in sy "Ecclesiastical Sketches" van 1822. Hierdie godsdienstige konserwatisme kan ook opgemerk word in "The Excursion" (1814), 'n lang gedig wat gedurende die negentiende eeu buitengewoon gewild geraak het; dit bevat drie sentrale karakters, die Wandelaar; die Eensame, wat die hoop en ellende van die Franse Rewolusie ervaar het; en die Pastoor, wat die laaste derde van die gedig oorheers. [20]
Wordsworth het in sy latere jare 'n formidabele teenwoordigheid gebly. In 1837 besin die Skotse digter en dramaturg Joanna Baillie oor haar jarelange kennismaking met Wordsworth. "Hy lyk soos 'n man met wie 'n mens nie moet praat nie, tensy 'n mens 'n verstandige ding het om te sê. Hy praat egter nou en dan vrolik; en as 'n mens weet hoe goedhartig en uitstekend hy is, is mens baie tevrede met hom."[21] In 1838 ontvang Wordsworth 'n eredoktorsgraad in Siviele Reg van die Universiteit van Durham en die volgende jaar ontvang hy dieselfde eregraad van die Universiteit van Oxford, waartydens John Keble hom geprys het as die "digter van die mensdom", lof Wordsworth baie waardeer het. [6] [22] (Daar is aangevoer dat Wordsworth 'n groot invloed op Keble se uiters gewilde boek oor gewyde poësie gehad getiteld "The Christian Year" (1827) gehad het. [23]) In 1842 het die regering aan hom 'n pensioen van £ 300 per jaar toegeken.
Na die dood van Robert Southey in 1843 het Wordsworth die volksdigter van Brittanje geword. Hy het die eer aanvanklik geweier en gesê dat hy te oud was, maar dit aanvaar toe die premier, Robert Peel, hom die versekering gegee het dat "niks van u verwag word nie". Wordsworth het dus die enigste volksdigter geword wat geen amptelike verse geskryf het nie. Die skielike dood van sy dogter Dora in 1847 op 42-jarige ouderdom was moeilik om te verwerk, en in sy depressie het hy heeltemal opgehou om nuwe materiaal te skryf.
William Wordsworth het op 23 April 1850 aan't huis gesterf, [24][25] en is begrawe by St Oswald's Church, Grasmere. Sy weduwee, Mary, het sy outobiografiese "Poem to Coleridge" as "The Prelude" enkele maande na sy dood gepubliseer. [26] Alhoewel dit destyds nie daarin geslaag het om mense se belangstelling te wek nie, word dit sedertdien wyd erken as sy meesterstuk.
Algemene inligting en biografiese sketse
Boeke
Wordsworth se werke
{{cite book}}
: Onbekende parameter |chapterurl=
geïgnoreer (hulp)Kulturele poste | ||
---|---|---|
Voorafgegaan deur Robert Southey |
Britse Digter Laureaat 1843–1850 |
Opgevolg deur Alfred, Lord Tennyson |