BZN | |
---|---|
![]() BZN in 1971 | |
Agtergrondinligting | |
Ook bekend as | Band Zonder Naam |
Oorsprong | Volendam, Nederland |
Genres | Popmusiek, chanson, schlager, pop-rock |
Jare aktief | 1966–2007 |
Etikette | Negram, Phonogram, Mercury, Universal |
Webwerf | www.bzn-online.com |
Gewese lede | Jan Keizer Carola Smit Jan Veerman Jan Tuijp John Meijer Dick Plat Anny Schilder |
BZN (Band Zonder Naam; Nederlands vir "Musiekgroep Sonder Naam") was 'n suksesvolle Nederlandse popgroep wat baie treffers gehad het tussen 1966 en 2007. Deur 'n kombinasie van hoë produktiwiteit en 'n gedissiplineerde werksetiek, met 'n besondere goeie aanvoeling vir dit wat hulle aanhangers wou hoor, het BZN 'n dertig-jarige teenwoordigheid op die treffersparade in Nederland gehad, in 'n mate vergelykbaar met dié van Cliff Richard in die Verenigde Koninkryk.
BZN het meestal Engelse en Franse musiek opgeneem, maar het ook sukses behaal met materiaal in Nederlands en Duits.
BZN begin as 'n pop-rock-musiekgroep in hul tuisdorp, Volendam in 1966, waar hulle musiek soortgelyk aan vroeë Bee Gees-musiek gemaak het. Die aanvanklike groep het bestaan uit Jan Veerman (sanger), Cees Tol (kitaar), Evert Woest Burg (kitaar) Jan Tuijp (baskitaar) en Gerrit Woest Burg (tromme).
In die vroeë 1970's, het die groep oorgeskakel na hard-rock en sukses behaal op die Top-40 treffersparade. Nadat die oorspronklike hoofsanger Veerman die groep verlaat, en tromspeler Jan Keiser sy plek inneem, het die groep 'n musikale U-draai gemaak en begin om kommersiële popmusiek te maak. Hulle voeg 'n vroulike mede-sanger, Anny Schilder by, en dit lê die grondslag vir hul status as die gewildste Nederlandse musiekgroep ooit (in terme van albums en enkelsnit-treffers). BZN het meer as 50 treffers op die Nederlandse treffersparade gehad, en is die enigste musiekgroep wat treffers vir 26 agtereenvolgende jare (1973–1998) op die Top-40 treffersparade gehad het. Hulle album-teenwoordigheid op die treffersparade was selfs sterker, sonder onderbreking vanaf 1977 tot 2008.
BZN se groot deurbraak kom met die liedjie "Mon Amour" (1976), wat die #1 treffersparade-posisie vir meer as 5 weke gehou het. Buite Nederland het die groep ook 'n paar suksesse behaal, waaronder verskeie treffers in Suid-Afrika (soos "Yeppa" in 1990) en geringe suksesse met hul Franse liedjies in Kanada.
Deur die jare het die groep baie veranderinge ondergaan. Die vernaamste verandering was toe Schilder die groep in 1984 verlaat het (sy is vervang deur Carola Smit), en in 1988, toe die broers Cees en Thomas Tol, wat tot op daardie stadium vir die meeste van die musiek en lirieke verantwoordelik was, die groep verlaat het. Die groep het nogtans suksesvol gebly, en maak hul laaste groot verandering in strategie toe hulle in 2003 besluit om in Nederlands in plaas van Engels te sing.
BZN is ook verantwoordelik vir die aanvanklike sukses van die sanger Jan Smit, wat deur BZN op die ouderdom van 10 ontdek is, en voortgegaan het om sukses in pop- en schlager-musiek in Nederland, Duitsland en België te bereik.
Op 14 Oktober 2005 is vier lede van BZN erken met 'n Nederlandse Riddersorde vir hul bydraes tot die Nederlandse musiekgeskiedenis.
Op 15 Februarie 2006 kondig BZN aan dat hulle hul laaste musiektoer sou doen, en dan gaan ophou musiek maak. Hulle sluit af met met 'n finale konsert in Rotterdam[1] op 16 Junie 2007.
Ten spyte van beperkte internasionale sukses, het 'n merkwaardige hoeveelheid van BZN se albums goud- en platinumstatus bereik. Beraamde wêreldwye verkope van 15 miljoen albums het gelei tot 'n totaal van 88 goud en (dubbel) platinum-albums. Dertig verskillende albums (insluitend grootste treffer-kompilasies) het platinumstatus in Nederland bereik, en die groep het platinum-albums vir 22 agtereenvolgende jare gehad (1977 tot 1998).