Cyril Ramaphosa

Cyril Ramaphosa
Cyril Ramaphosa
Cyril Ramaphosa in 2018

Ampsbekleër
Termynaanvang
15 Februarie 2018
Vise David Mabuza
(2018–2023)
Paul Mashatile
(sedert Maart 2023)
Voorafgegaan deur Jacob Zuma

President van die Afrika-unie
Ampstermyn
10 Februarie 2020 – 6 Februarie 2021
Voorafgegaan deur Abdel Fattah el-Sisi
Opgevolg deur Félix Tshisekedi

President van die African National Congress
Ampsbekleër
Termynaanvang
18 Desember 2017
Vise Paul Mashatile
Voorafgegaan deur Jacob Zuma

Voorsitter van die Nasionale Beplanningskommissie
Ampstermyn
3 Junie 2014 – 2018
President Jacob Zuma
Voorafgegaan deur Trevor Manuel
Opgevolg deur Nkosazana Dlamini-Zuma

Ampstermyn
26 Mei 2014 – 15 Februarie 2018
President Jacob Zuma
Voorafgegaan deur Kgalema Motlanthe
Opgevolg deur David Mabuza

Adjunkpresident van die African National Congress
Ampstermyn
18 Desember 2012 – 18 Desember 2017
President Jacob Zuma
Voorafgegaan deur Kgalema Motlanthe
Opgevolg deur David Mabuza

Sekretaris-generaal van die African National Congress
Ampstermyn
1 Maart 1991 – 18 Desember 1997
President Nelson Mandela
Voorafgegaan deur Alfred Baphethuxolo Nzo
Opgevolg deur Kgalema Motlanthe

Persoonlike besonderhede
Gebore 17 November 1952 (1952-11-17) (71 jaar oud)
Soweto, Transvaal, Unie van Suid-Afrika
Politieke party African National Congress
Eggenoot/-note Hope Ramaphosa
(1978–1989, geskei)
Nomazizi Mtshotshisa (1991–1993, geskei)
Tshepo Motsepe (1996–)
Kind(ers) 5
Alma mater Universiteit van Limpopo
Universiteit van Suid-Afrika

Matamela Cyril Ramaphosa (gebore 17 November 1952, Soweto) is 'n Suid-Afrikaanse prokureur, gewese vakbondleier, politikus en sakeman, sedert 15 Februarie 2018 die President van Suid-Afrika en sedert 18 Desember 2017 die president van die African National Congress (ANC). Daarbenewens het hy vanaf 10 Februarie 2020 tot 6 Februarie 2021 as president van die Afrika-unie gedien. Ramaphosa was 'n groot figuur in Suid-Afrikaanse nasionale politiek, het daarna 'n prominente figuur in die besigheidsgemeenskap geword, en toe weer teruggekeer na die politiek.

Gerespekteer as 'n vaardige en rekeningswaardige onderhandelaar en strateeg, is Ramaphosa beter bekend vir die oprigting van die grootste en magtigste werkersunie in Suid-Afrika – die Nasionale Unie van Mynwerkers van Suid-Afrika (NUMSA) – sowel as vir die kritieke rol wat hy gespeel het, saam met Roelf Meyer van die Nasionale Party, gedurende die onderhandelinge om 'n vreedsame einde te bring aan apartheid en om die land gereed te maak vir die eerste demokratiese verkiesing in April 1994.

Hy is getroud met dokter Tshepo Motsepe, suster van die mynmagnaat Patrice Motsepe, en hulle het vyf kinders.

Vroeë lewe en opvoeding

[wysig | wysig bron]

Alhoewel hy die grootste deel van sy kinderjare in Soweto deurgebring het, het hy in 1971 aan die Mphaphuli Hoërskool in Sibasa, Venda, gematrikuleer. Hy het vervolgens geregistreer om regte aan die Universiteit van die Noorde (Turfloop) te studeer in 1972.

Op universiteit het Ramaphosa betrokke geraak by studentepolitiek, en hy het by die Suid-Afrikaanse Studenteorganisasie (SASO) en die Black People's Convention (BPC) aangesluit. Dit het gelei tot sy arrestasie en gevolglike alleenaanhouding vir elf maande in 1974 ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme, vir sy betrokkenheid in die organisasie van pro-Frelimo byeenkomste. In 1976 is hy weer in hegtenis geneem, en vir ses maande aangehou.

Na sy vrylating het hy 'n regsklerk by 'n Johannesburgse prokureursfirma geword en sy studies voortgesit deur die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), waar hy sy B.Prok.-graad in 1981 behaal het.

Politieke aktivis en vakbondleier

[wysig | wysig bron]

Nadat hy sy graad ontvang het, het Ramaphosa by die Raad van Unies van Suid-Afrika (CUSA) aangesluit as regsadviseur. In 1982 het CUSA Ramaphosa gevra om 'n vakbond vir mynwerkers te begin; die nuwe vakbond is in dieselfde jaar gestig, en die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) genoem. Ramaphosa is hierna in Lebowa gearresteer op die aanklag dat hy 'n byeenkoms in Namakgale georganiseer het, of beplan het om dit by te woon, wat verban is deur die plaaslike magistraat.

Ramaphosa is verkies tot die eerste sekretaris-generaal van die unie, 'n posisie wat hy beklee het tot sy bedanking in Junie 1991, na sy verkiesing as die sekretaris-generaal van die African National Congress. Onder sy leierskap het die unie se lidmaatskap gegroei van 6 000 in 1982 tot 300 000 in 1992 wat dit beheer gegee het oor amper die helfte van die totale swart arbeidsmag in die Suid-Afrikaanse mynbedryf. As sekretaris-generaal het hy ook die mynwerkers in een van die grootste stakings in Suid-Afrikaanse geskiedenis gelei.

In 1985 het NUMSA weggebreek van CUSA en het gehelp in die oprigting van die Congress of South African Trade Unions (COSATU). Toe COSATU aangesluit het by die United Democratic Front (UDF), 'n politieke beweging teen die Nasionale Party regering van P.W. Botha, het Ramaphosa 'n leidende rol gespeel in wat bekend geword het as die Mass Democratic Movement (MDM).

Toe Nelson Mandela vrygelaat is uit die gevangenis, het Ramaphosa op die Nasionale Ontvangskomitee gedien.

Politikus en president

[wysig | wysig bron]
Suid-Afrika se adjunkpresident Cyril Ramaphosa ontmoet die Chileense president Michelle Bachelet in 2014.

Saam met sy verkiesing as die Sekretaris-Generaal van die ANC in 1991 het hy die hoof van die onderhandelingspan van die ANC geword, wat oor die vreedsame oorgang na demokrasie met die Nasionale Party-regering onderhandel het. Na die eerste werklike demokratiese verkiesing in 1994 het Ramaphosa 'n lid van die Parlement geword; en is hy verkies as die Voorsitter van sy Grondwetlike Vergadering (Engels: Constitutional Assembly) op 24 Mei 1994 en het 'n sentrale rol gespeel in die regering van nasionale eenheid.

Nadat hy die wedloop verloor het om die President van Suid-Afrika te word teen Thabo Mbeki, het hy bedank uit sy politieke poste in Januarie 1997 en aangesluit by die private sektor, waar hy die direkteur van die Nuwe Afrika Beleggings Beperk geword het. Nogtans het hy 'n lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC gebly.

Alhoewel hy nie 'n lid van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) is nie, het Ramaphosa verklaar dat hy 'n toegewyde sosialis is.

Sedert 26 Mei 2014 beklee Ramaphosa die amp van Adjunkpresident van Suid-Afrika en sedert 18 Desember 2017 dien hy as die ANC se president.

Op 10 Februarie 2020 het Cyril Ramaphosa die presidentskap van die Afrika-unie oorgeneem en Abdel Fattah el-Sisi in dié amp opgevolg. Op 6 Februarie 2021 is hy deur Félix Tshisekedi uit die Demokratiese Republiek die Kongo opgevolg.

Op 5 Mei 2021 word 'n brief gesirkuleer waarin die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, aandui dat hy Ramaphosa uit die party skors. Volgens die brief hou die skorsing verband met bewerings dat Ramaphosa omkoopgeld gebruik het om sy verkiesing as ANC-president in 2017 te bewerkstellig.[1] Die nasionale voorsitter van die ANC, Gwede Mantashe, dui egter op sy beurt aan dat Magashule nie by magte is om só 'n brief te skryf nie, aangesien hy self geskors is.[2] In die onmiddellike nadraai van hierdie sage hou Ramaphosa aan om sy take as president van beide Suid-Afrika en die ANC te verrig.

Sakeman

[wysig | wysig bron]
Cyril Ramaphosa (links) saam met die Chinese sakeman Houlin Zhao in 2015

Ramaphosa het in 2004 die pos van die uitvoerende voorsitter van Shanduka Holdings beklee, 'n maatskappy wat hy gestig het om deel te neem in swart ekonomiese bemagtigingstransaksies. Hy was ook voorsitter van Johnnic Holdings, Bidvest Group en die MTN Groep. Sy ander nie-uitvoerende direkteurskappe was Macsteel Holdings, Alexander Forbes, Standard Bank en Medscheme.

Ere-doktorsgrade en toekennings

[wysig | wysig bron]

Ramaphosa het ere-doktorsgrade ontvang van die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Universiteit van Port Elizabeth, die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van die Noorde, die Universiteit van Lesotho en die Universiteit van Massachusetts. In Oktober 1991 was hy ook 'n besoekende Professor in Regte by Stanford Universiteit.

Ramaphosa het ook in Oktober 1987 die Olof Palme toekenning in Stockholm ontvang.

Internasionale posisies

[wysig | wysig bron]
Lande wat Cyril Ramaphosa in sy hoedanigheid as Suid-Afrikaanse President besoek het

In sy rol as sakeman was Ramaphosa 'n lid van die Coca-Cola-maatskappy se Internasionale Adviseursraad sowel as die Unilever Afrika Adviseursraad. Hy was ook die eerste adjunk-voorsitter van die Commonwealth Business Council.

Saam met die oud-president van Finland, Martti Ahtisaari, is hy aangewys as 'n inspekteur van die Ierse Republikeinse Lëer (IRL) se ontwapening in Noord-Ierland. Ramaphosa dien ook op die Internasionale Kommissie van Intervensie en Staatsoewereiniteit en is die Ere-Konsulgeneraal vir Ysland in Suid-Afrika.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (af) Nico Strydom (6 Mei 2021). "Bisarre wending: Ace hef sy skorsing op en 'skors' Cyril". Maroela Media. Besoek op 6 Mei 2021.
  2. (en) "Even if letter is legit, Magashule has no power to suspend Ramaphosa, says Gwede Mantashe". Timeslive. 5 Mei 2021. Besoek op 6 Mei 2021.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
Politieke poste
Voorafgegaan deur
Kgalema Motlanthe
Adjunkpresident van Suid-Afrika
2014–2018
Opgevolg deur
David Mabuza
Voorafgegaan deur
Trevor Manuel
Voorsitter van die Nasionale Beplanningskommissie
2014–2018
Opgevolg deur
Nkosazana Dlamini-Zuma
Voorafgegaan deur
Jacob Zuma
President van Suid-Afrika
2018–hede
Sittend
Party-politieke poste
Voorafgegaan deur
Alfred Baphethuxolo Nzo
Sekretaris-generaal van die African National Congress
1991–1997
Opgevolg deur
Kgalema Motlanthe
Voorafgegaan deur
Kgalema Motlanthe
Adjunkpresident van die African National Congress
2012–2017
Opgevolg deur
David Mabuza
Voorafgegaan deur
Jacob Zuma
President van die African National Congress
2017–hede
Sittend
Presidente van Suid-Afrika
 1961–1994  seremonieel: Charles Robberts Swart | Jozua François Naudé (waarnemend) | Jacobus Johannes Fouché | Nicolaas Johannes Diederichs | Marais Viljoen (waarnemend) | John Vorster | Marais Viljoen | uitvoerend: Pieter Willem Botha | Frederik Willem de Klerk
 1994–  Nelson Mandela | Thabo Mbeki | Kgalema Motlanthe | Jacob Zuma | Cyril Ramaphosa