Ernst Otto Fischer | |
---|---|
Ernst Otto Fischer-gedenkstempel, Duitsland 2018
| |
Gebore | Solln, naby München, Duitsland | 10 November 1918
Sterf | 23 Julie 2007 (op 88) München, Duitsland |
Werkgebied | Chemie |
Werkplekke | Tegniese Universiteit van München |
Alma mater | Tegniese Universiteit van München |
Doktorale adviseur | Walter Hieber |
Bekend vir | Organometaalchemie, Ferroseen |
Pryse | Nobelprys vir Chemie (1973) |
Ernst Otto Fischer (10 November 1918 - 23 Julie 2007) was 'n Duitse chemikus wat die Nobelprys vir baanbrekerswerk op die gebied van organometaalchemie verower het. Hy het die prys met die Britse chemikus Geoffrey Wilkinson gedeel, wat onafhanklik ook aan die chemie van die organometaalverbindings - die sogenaamde "toebroodjieverbindings" - gewerk het.[1]
Hy is gebore in Solln, naby München. Sy ouers was Karl T. Fischer, professor in fisika aan die Tegniese Universiteit van München, en Valentine Fischer née Danzer. Hy het gegradueer in 1937 met Abitur.[Nota 1] Voor die voltooiing van sy verpligte militêre diensplig van twee jaar het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek en hy het in Pole, Frankryk en Rusland gedien. Gedurende 'n tydperk van studieverlof, teen die einde van 1941, het hy chemie aan die Tegniese Universiteit van München begin studeer. Na die einde van die oorlog word hy in die herfs van 1945 deur die Amerikaners vrygelaat en het hy sy studies hervat.[2]
Fischer het sy studie van chemie aan die Tegniese Universiteit van München hervat na dié se heropening in 1946 en sy graad voltooi in 1949. Daarna begin hy met sy doktorale proefskrif as assistent van professor Walter Hieber aan die Instituut vir Anorganiese Chemie. Sy proefskrif het die titel "Die meganismes van koolstofmonoksiedreaksies van nikkel(II)-soute in die teenwoordigheid van ditioniete en sulfoksilate".[3]
Nadat hy in 1952 sy doktorsgraad behaal het, het hy aan die Tegniese Universiteit van München gebly. Hy het sy navorsing oor die organometaalchemie van die oorgangsmetale voortgesit. Hy het byna onmiddellik die struktuur vir ferroseen soos deur Pauson en Keally gepostuleer uitgedaag.[4] Kort daarna het hy die strukturele gegewens van ferroseen en die nuwe komplekse nikkeloseen en kobaltoseen gepubliseer.[5] Byna dieselfde tyd het hy ook gefokus op die destydse verbysterende chemie wat gevolg het van Hein se reaksies van chroom(III)chloried met fenielmagnesiumbromied. Hierdie poging het gelei tot die isolasie van bis(benseen)chroom, wat 'n nuwe klas "toebroodjiekomplekse" voorspel het.[6][7]
In 1955 word hy aangestel as dosent aan die universiteit en in 1957 as professor en daarna in 1959 as senior-professor. In 1964 neem hy die posisie van voorsitter van anorganiese chemie aan die universiteit.[2]
In 1964 word hy verkies tot lid van die afdeling Wiskunde / Natuurwetenskap van die Beierse Akademie vir Wetenskappe. In 1969 word hy aangestel as lid van die Duitse Akademie vir Natuurwetenskaplikes, Leopoldina, en word in 1972 'n eredoktorsgraad toegeken deur die Fakulteit Chemie en Farmasie van die Universiteit van München.[2]
Hy het wêreldwyd lesings gegee oor metaalkomplekse van siklopentadieniel, indenyl, arene, olefiene en metaalkarboniele. In die sestigerjare van die vorige eeu ontdek sy groep 'n metaalalkilideen- en alkielidynkompleks, wat Fischer carbene en Fischer-carbyne genoem word.[8] Oor die algemeen het hy ongeveer 450 tydskrifartikels gepubliseer en hy het baie doktorale en nadoktorale studente opgelei, waarvan baie noemenswaardige loopbane gehad het. Onder sy vele buitelandse lektorposisies was hy Firestone-dosent aan die Universiteit van Wisconsin-Madison (1969), besoekende professor aan die Universiteit van Florida (1971), en Arthur D. Little besoekende professor aan die Massachusetts Institute of Technology (1973).
Hy het vele toekennings ontvang, waaronder in 1973 die Nobelprys vir Chemie, saam met Geoffrey Wilkinson, vir sy werk aan organometaalverbindings.