Federico Fellini | |
---|---|
Gebore | 20 Januarie 1920 |
Geboorteland | Italië |
Oorlede | 31 Oktober 1993 |
Plek | Rome |
Federico Fellini (Rimini, 20 Januarie 1920 – Rome, 31 Oktober 1993) was ’n Italiaanse rolprentvervaardiger en -regisseur. Hy word beskou as een van die invloedrykste regisseurs van die 20ste eeu.
Fellini se rolprente is psigologiese en/of sosiale dramas waarin ’n fantasieryke karakter, dikwels op homself geskoei, op soek is na die betekenis van sy lewe. Dié soektogte word gekenmerk deur die gebruik van herinneringe, drome, fantasieë en obsessies. Duidelik outobiografiese dramas is La Dolce Vita (1960), Otto e Mezzo (1963) en Amarcord (1973).
Sy rolprente het nie ’n aaneenlopende verhaal nie en bestaan dikwels uit ’n aaneenryging van situasies en gebeurtenisse waarin die karakters allerlei vreemde dinge ondervind. Die tonele is dikwels buitensporig met oordrewe dekor, besondere kostuums, baie grimering, opvallende kleure en skilderagtige plekke.
Terselfdertyd lewer die rolprente sosiale kritiek deurdat die karakter in aanraking kom met die skynwêreld van die Italiaanse aristokrasie, die dekadensie van die bourgeoisie, die geslotenheid van die konserwatiewe platteland of die skynheiligheid van die Rooms-Katolieke Kerk. Die hoofkarakter word dikwels omring deur ’n klomp eksentrieke karakters.
Op tienjarige ouderdom het Fellini van die huis af weggeloop en by ’n sirkus aangesluit. As jong man het hy draaiboeke vir radiostukke en rolprente (hoofsaaklik vir Roberto Rossellini) geskryf en geteken voordat hy self begin rolprente maak het.
In 1944, ná die val van Benito Mussolini, het hy ’n winkel in Rome oopgemaak waarin hy sy eie tekeninge verkoop het, asook dié van De Seta, Verdini, Camerini, Scarpelli, Majorana, Guasta, Giobbe, Attalo, Migneco – almal skrywers, regisseurs en ander intellektuele in die Italiaanse rolprentbedryf. In dieselfde jaar het hy begin werk aan Rossellini se Roma, città aperta, met Aldo Fabrizi in die hoofrol. Fellini was ook die medeskrywer van Rossellini se rolprent Paisà (1946). Verder het hy geskryf vir regisseurs soos Alberto Lattuada, Pietro Germi en Luigi Comencini.
In 1947 was hy saam met Tullio Pinelli die skrywer van die draaiboek van Senza pietà van Alberto Lattuada. In 1948 het hy in Rossellini se Il miracolo gespeel. Hy was ook draaiboekskrywer en assistent van Rossellini se Francesco, giullare di Dio. In 1950–1952 was hy as assistent betrokke by verskillende produksies van Pietro Germi.
Fellini se eerste film is Luci Del Varieta (1950). Dit is geskryf deur Alberto Lattuada en Fellini self, volgens ’n idee van Fellini. Dié twee het ook die regie behartig. Hoewel hy teen dié tyd al 31 rolprente van onder andere Rossellini help skryf en regisseer het, is dit die eerste prent wat op sy eie idees geskoei is.
Fellini se tweede rolprent, Lo sceicco bianco (1951), met Alberto Sordi, is die eerste prent waarvan hy die regie alleen behartig het. Met die prent I vitelloni (1953) het hy internasionale roem verwerf en La strada (1954) het hom ’n Oscar in die sak gebring. Ná die internasionale sukses van sy omstrede La dolce vita (1960) het hy sy bekendste film, Otto e mezzo (1963), geregisseer. Dit word beskou as een van die belangrikste rolprente van die modernisme. Dit gaan oor ’n regisseur se worsteling met sy gewete en sy soeke na idees vir ’n nuwe rolprent. Herinneringe speel ’n belangrike rol in die prent.
In 1993 het Fellini ’n Oscar ontvang vir sy hele oeuvre. In dieselfde jaar is hy in Rome oorlede.
Fellini het in 1943 getrou met die aktrise Giulietta Masina, wat dikwels in sy prente te sien was. Hulle het in 1945 ’n seun gehad wat net twee weke lank gelewe het. Dit was hul enigste kind.
Jaar | Oorspronklike titel | Engelse titel | Opmerkings |
---|---|---|---|
1950 | Luci del varietà | Variety Lights | saam met Alberto Lattuada |
1952 | Lo sceicco bianco | The White Sheik | |
1953 | I vitelloni | ||
1953 | L'amore in città | Love in the City | |
1954 | La strada | Oscar vir beste buitelandse film | |
1955 | Il bidone | ||
1957 | Le notti di Cabiria | Nights of Cabiria | Oscar vir beste buitelandse film |
1960 | La dolce vita | Oscar vir beste kostuums | |
1962 | Boccaccio '70 | ||
1963 | Otto e mezzo | 8½ | Oscar vir beste buitelandse film |
1965 | Giulietta degli spiriti | Juliet of the Spirits | |
1969 | Satyricon | ||
1971 | I clowns | The clowns | |
1972 | Roma | Rome | |
1973 | Amarcord | Oscar vir beste buitelandse film | |
1976 | Casanova | ||
1978 | Prova d'orchestra | Orchestra Rehearsal | |
1980 | La città delle donne | City of Women | |
1983 | E la nave va | And the Ship Sails On | |
1986 | Ginger e Fred | Ginger and Fred | |
1987 | Intervista | Interview | |
1990 | La voce della luna | The Voice of the Moon |