Frida Boccara | |
---|---|
![]() Frida Boccara in 1970 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Danielle Frida Hélène Boccara |
Gebore | 29 Oktober 1940 Casablanca |
Sterf | 1 Augustus 1996 Parys |
Genres | Chanson |
Beroep(e) | Sangeres |
Jare aktief | 1960–1996 |
Etikette | Universal-Philips-Polydor, Disques Yvon Chateigner, Édina Music – Nocturne |
Frida Boccara (Casablanca, 29 Oktober 1940 – Parys, 1 Augustus 1996) was 'n Franse sangeres van Joodse afkoms.
Sy is in Marokko gebore. Van kleinsaf speel musiek 'n belangrike rol in haar lewe, want sy kom uit 'n musikale gesin. Haar broer en een suster was albei ook musikante. Terwyl sy nog in Marokko was, kom sy in aanraking met die bestuurder van die Amerikaanse musiekgroep The Platters, Buck Ram, wat haar die geleentheid bied om 'n kasset met 'n verskeidenheid liedjies op te neem wat sy saam met haar na Parys sou neem. Sy vertrek per veerboot saam met haar broer en 'n suster om ligte musiek aan die Petit Conservatoire de Mireille te gaan studeer. Hier ontwikkel sy haar stem verder en konsentreer op haar diksie en interpretasie.
In 1960 neem sy deel aan die fees Rose d'Or d'Antibes. Die volgende jaar volg die suksesvolle lied "Cherbourg", met liriek deur Eddy Marnay, Jacques Larue en Serge Lebrail en musiek deur Guy Magenta. In 1964 beïndruk sy die gehoor tydens die fees van San Remo met haar vertolking van "Dernier tram". In dieselfde jaar skryf sy met die lied "Autrefois" in vir die Franse uitdunne van die Eurovisie-liedjiefees, maar die sangeres Rachel se "Le chant de Mallory" word gekies en behaal op 21 Maart daardie jaar die vierde plek tydens die finaal in die Deense hoofstad Kopenhagen.
Sy neem deel aan twee liedjiefeeste en wen die eerste prys op Majorka tydens die eiland se liedjiefees. Sy verskyn gereeld op Spaanse televisie, waar haar sang aan 'n wye gehoor bekend gestel word.
Op 29 Maart 1969 veroorsaak sy 'n opskudding tydens die 14de Eurovision-finaal in die Teatro Real in die Spaanse hoofstad Madrid toe sy gesamentlik eerste geplaas word met haar liedjie "Un jour, en fant". Die liriek was weereens deur Eddy Marnay en die wysie deur Emil Stern. Die ander medewenners was Spanje se Salomé met "Vivo cantando", Nederland se Lenny Kuhr met "De troubadour" en die Verenigde Koninkryk se Lulu met "Boom Bang-a-Bang". Die gevolglike konsternasie, toe daar te min medaljes vir al die wenners was, het daartoe gelei dat die wedstryd se reëls verander is sodat daar voortaan altyd net een wenner sou wees.
Sy wen ook talle ander internasionale liedjiefeeste, waaronder in Rio de Janeiro, Meksiko, Sofia, Barcelona, Utrecht en Luxemburg.
Sy ontvang twee goue en een platinum plaat vir haar albumverkope en word geslaan tot Chevalier de l'ordre des arts et des lettres deur die Franse minister van kultuur, Jack Lang.
Boccara het in 1972 weer aan die Franse uitdunne van Eurovisie deelgeneem, maar haar liedjie "Du soleil au coeur" is nie vir die top-tien in die land se finaal gekies nie. In 1980 sowel as 1981 het haar inskrywing weer die Franse eindrondte gehaal, maar nie een van die liedjies is gekies om Frankryk in die kompetisie te verteenwoordig nie.
Haar plate is in sowat 85 lande wêreldwyd bemark. Sy het 'n besondere aanvoeling vir tale gehad en buiten Frans, onder meer ook liedjies in Italiaans, Engels, Duits en Spaans opgeneem. Sy was buiten in Wes-Europa ook veral gewild in Suid-Amerika, Australië, Kanada (veral Quebec), Nederland en Rusland, waar meer as 'n miljoen van haar albums verkoop het.
Frida het 'n ruim wêreldbeskouing gehad, hoë agting vir ander se mening en was besorg oor humanitêre vraagstukke, wat daartoe gelei het dat sy werk vir Unicef gedoen het.
Sy is in 1996 in die ouderdom van 55 in Parys oorlede aan longontsteking en in die Joodse begraafplaas by Bagneux begrawe.
In 1999 reik Yvon Chateignier 'n samestelling van Frida se gewildste liedjies uit, waaronder verwerkings van klassieke musiek en voorheen onuitgereikte opnames. Een van die liedjies is gekomponeer deur Frida se suster Lina en opgedra aan die ster se seun, Tristan, wat self ook 'n musikant en komponis is.
Die Franse sangeres Marie Denise Pelletier reik in 2003 'n album met liedjies uit waarvoor Eddy Marnay die liriek geskryf het, "Les Mots de Marnay". Daaronder was talle van Frida Boccara, vir wie Marnay as 'n muse beskou het, se grootste treffers, onder meer "Cent mille chansons", "Les Moulins de mon cœur", "La Croix, l'étoile et le croissant" (wat handel oor vedraagsaamheid tussen Jode, Christene en Moslems), "Berceuse pour Luciana" en natuurlik "Un jour, un enfant").
![]() |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Frida Boccara. |