Huis van Liechtenstein | |
---|---|
Wapen van die Huis van Liechtenstein
| |
Hoof | Hans-Adam II |
Titel | Prins |
Voorganger | Franz Joseph II |
Regmatige opvolger | Alois |
Stigter | Karl I |
Gestig in | 1608 |
Die Huis van Liechtenstein, van wie die prinsdom sy naam gekry het, is die familie wat oor die prinsdom van Liechtenstein heers.
Karl I (30 Julie 1569 – 12 Februarie 1627) was die eerste Prins van Liechtenstein en dus die stigter van die dinastie. Keiser Rudolf II van die Heilige Romeinse Ryk het hom aangestel as hoofopsigter, ’n belangrike posisie aan sy hof. Karl het dit beklee tot in 1607.
In ’n dispuut oor land tussen die keiser en die troonopvolger, aartshertog Mathias, het Karl hom by Mathias geskaar en dié het hom in 1608 ’n erfprins gemaak uit dankbaarheid vir sy hulp.
Die familie het die Liechtenstein-kasteel in Laer-Oostenryk ten minste sedert 1140 tot die 13de eeu besit en weer vanaf 1807. Deur die eeue het die dinastie groot grondgebiede bygekry, hoofsaaklik in Morawië, Laer-Oostenryk, Silesië en Stiermarke. Al die gebiede was egter leengrond. Sonder enige grondgebied wat direk onder die dinastie geval het, het hulle nie gekwalifiseer vir ’n setel in die keiserlike ryksdag nie.
Die familie wou bitter graag die groter mag hê wat ’n setel in die keiserlike regering sou meebring, en eindelik het hulle die klein "Herrschaft" Schellenberg en graafskap Vaduz (in 1699 en 1712 onderskeidelik) van die Hohenems-familie gekoop.
Op 23 Januarie 1719 het Charles VI, Heilige Romeinse Keiser, bepaal dat Vaduz en Schellenberg verenig is en verhef is tot die status "Fürstentum" (prinsdom) met die naam "Liechtenstein" ter ere van sy "getroue dienskneg Anton Florian van Liechtenstein". Op dié datum het Liechtenstein ’n soewereine lidstaat van die Heilige Romeinse Ryk geword.
Die huidige hoof van die dinastie is Hans-Adam II. Sy oudste seun, Alois, is die regmatige troonopvolger.
Op 15 Augustus 2004 het prins Hans-Adam die mag om regeringsbesluite te neem aan Alois oorgegee as ’n manier van oorgang na ’n nuwe geslag. Hans-Adam is egter nog die amptelike staatshoof.[1]
Naam | Van | Tot |
---|---|---|
Karl I | 1608 | 1627 |
Karl Eusebius | 1627 | 1684 |
Hans-Adam I | 1699 | 1712 |
Joseph Wenzel Karl | 1712 | 1718 |
Anton Florian | 1718 | 1721 |
Joseph Johann Adam | 1721 | 1732 |
Joseph Wenzel Karl | 1732 | 1745 |
Johann Nepomuk Karl | 1732 | 1748 |
Joseph Wenzel Karl | 1748 | 1772 |
Franz Joseph I | 1772 | 1781 |
Alois I | 1781 | 1805 |
Johann I Joseph | 1805 | 1836 |
Alois II | 1836 | 1858 |
Johann II | 1858 | 1929 |
Franz I | 1929 | 1938 |
Franz Joseph II | 1938 | 1989 |
Hans-Adam II | 1989 | hede |