Johann Wolfgang von Goethe | |
---|---|
Gebore | 28 Augustus 1749 |
Sterf | 22 Maart 1832 (op 82) Weimar, Groothertogdom van Sakse-Weimar-Eisenach, Duitse Bond |
Nasionaliteit | Heilige Romeinse Ryk |
Beroep | Digter, romanskrywer, dramaturg, natuurlike filosoof, diplomaat, staatsamptenaar |
Bekend vir | Die Leiden des jungen Werthers, 1774; Prometheus, 1774; Wilhelm Meisters Lehrjahre, 1796; Faust, 1808; Die Wahlverwandtschaften, 1809; Zur Farbenlehre, 1810; Italienische Reise, 1817; West-östlicher Divan, 1819 |
Eggenoot | Christiane Vulpius (1806–16, haar dood) |
Ouer(s) | Johann Caspar Goethe Katharina Elisabeth Goethe |
Handtekening | |
Johann Wolfgang von Goethe (28 Augustus 1749 – 22 Maart 1832) was 'n Duitse skrywer, digter, dramaturg, skilder, regsgeleerde en filosoof. Die veelsydige Goethe is in Frankfurt am Main (Duitsland) gebore. Sy vader was 'n man van hoë status en rykdom en hy het persoonlik omgesien na sy seun se vroeë opvoeding.
Goethe het onderskeidelik aan die Universiteite van Leipzig en Straatsburg studeer. Hier is hy beïnvloed deur die filosoof en digter Herder. Herder het Goethe laat kennis maak met die letterkunde wat hy bewonder het: die werke van Homeros en Shakespeare. Maar dit was veral die ongekunstelde, egte volksliedere van alle nasies wat Goethe geïnspireer het om van die mooiste poësie in die Duitse taal te dig.
In 1772 het hy sy loopbaan aan die hoogste geregshof in Wetzlar begin. In 1775 is hy op uitnodiging van Karel Augustus, hertog van Saksen-Weimar-Eisenach na Weimar vertrek waar hy jare lank as die hertog se raadgewer gedien het. In 1782 word hy tot die adelstand verhef.
Van 1786 tot 1788 het hy na Italië gereis en vir 'n tyd lank in Rome vertoef. Sy reise na dié land is in sy werk Italienische Reise (Italiaanse Reise) opgeteken. In Italië het hy met Duitse skilder Johann Heinrich Wilhelm Tischbein bevriend geraak. Tischbein het hom na Napels vergesel en daar sy bekendste portret nog van Goethe geskilder, met die titel Goethe in die Campagna.
Goethe het na sy terugkeer 1788 in Weimar in die Napoleontiese Oorloë teen die Eerste Franse Ryk deelgeneem. Daarna het hy bevriend geraak met digter, skrywer en filosoof Friedrich Schiller. Hierdie hegte vriendskap het geduur tot Schiller se dood in 1805. In 1806 het Goethe met Christiane Vulpius getrou. Sedert 1794 het hy hom hoofsaaklik met letterkunde bemoei. Hy sterf hy in Weimar op 22 Maart 1832.
Goethe was een van die belangrikste figure uit die Duitse letterkunde en die beweging wat in die laat 18de en 19de eeu as die Duitse Klassisisme bekend gestaan het. Hierdie beweging het met die Verligting, Sturm und Drang, Verstandigheid ("Empfindsamkeit"), en Romantisisme saamgeval. Hy was die skrywer van, onder andere, Die Leiden des Jungen Werthers, Iphigenia auf Tauris, Egmont, Wilhelm Meister, Der Zauberlehrling en Faust.
Goethe het verder ook 'n noemenswaardige bydra tot die wetenskappe gemaak. Sy teorie oor plantmetamorfose behels dat alle plantformasies uit die modifikasie van die blaar spruit. Daarbenewens word hy erken vir die ontdekking van die tussenkaakbene in mense gedurende 1784. Goethe het sy Teorie oor Kleure as een van sy belangrikste werk geag.
Goethe se nalatenskap is merkwaardig. Sy werke het as inspirasie gedien vir filosowe, onder meer Friedrich Nietzsche, Arthur Schopenhauer en Rudolf Steiner. Sy gedigte is deur Wolfgang Amadeus Mozart en Gustav Mahler getoonset en sy werke het komponiste soos Franz Liszt en Ludwig van Beethoven geïnspireer. Hy word beskou as een van die grootste skrywers van alle tye.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Johann Wolfgang von Goethe. |