| |||||
Nasionale leuse: حرية، عدالة، ديمقراطية Hurriya, 'Adala, Dimokratia (Arabies vir: "Vryheid, Geregtigheid, Demokrasie") | |||||
Volkslied: ليبيا ليبيا ليبيا Libya, Libya, Libya[1][2] | |||||
Hoofstad | Tripoli | ||||
Grootste stad | Tripoli | ||||
Amptelike tale | Arabies | ||||
Regering • Voorsitter van die Presidentsraad • Adjunkvoorsitter van die Presidentsraad • Eerste minister (betwis) • Voorsitter van die Huis van Verteenwoordigers |
Unitêre voorlopige parlementêre republiek Mohamed al-Menfi Musa Al-Koni Abdul Hamid Dbeibeh Aguila Saleh Issa | ||||
Onafhanklikheid • van Italië
• van Frankryk / VK • Staatsgreep deur Ghaddafi • Rewolusiedag • Slag van Tripoli • Oorhandiging aan die Algemene Nasionale Kongres |
10 Februarie 1947 24 Desember 1951 1 September 1969 17 Februarie 2011 28 Augustus 2011 8 Augustus 2012 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
1 759 541[3] km2 (16de) 679 363 myl2 | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2006-sensus - Digtheid |
7 252 573[3] (106de) 5 670 688 3,74 / km2 (218de) 9,7 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,718[5] (104de) – hoog | ||||
Geldeenheid | Dinar (LYD )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
MET (UTC+1) MEST (UTC+2) | ||||
Internet-TLD | .ly | ||||
Skakelkode | +218 |
Libië (Arabies: ليبيا, Lībyā; Berbers: ⵍⵉⴱⵢⴰ, Libya), amptelik die Staat Libië (دولة ليبيا, Dawlat Lībiyā), is 'n land in Noord-Afrika. Libië is geleë tussen Egipte in die ooste, Soedan in die suidooste, Tsjad en Niger in die suide en Algerië en Tunisië in die weste. Met 'n oppervlakte van 1,8 miljoen km² (waarvan 90% woestyn is) is Libië die vierde grootste land in Afrika.[6] Libië se hoofstad, Tripoli, is die tuiste van 1,7 miljoen van die land se totale bevolking van 5,7 miljoen mense. Libië het die tiende grootste bewese oliereserwes van enige land ter wêreld.[7] Die drie tradisionele dele van die land is Tripolitanië, Fezzan en Sirenaïka. Tot 2020 het die Tweede Libiese Burgeroorlog in die land gewoed en tot onsekerheid en onstabiliteit aanleiding gegee.[8][9]
Die naam "Libië" is 'n inheemse naam en verskyn ook in antieke Egiptiese tekste as , (R'bw of Liboe), waar daar verwys word na een van die Berberstamme wat wes van die Nylrivier woon. Die Griekse naam vir die stamlede was Libyes en die land se naam het Λιβύη, getranslitereer as "Libuee", geword. In antieke Griekeland het die term 'n breër betekenis gehad wat die hele Noord-Afrika wes van Egipte ingesluit het.
Die land was tussen 1969 en 2011 onder leiding van kolonel Moeammar al-Ghaddafi, wie se buitelandse beleid hom dikwels in konflik met die Weste en regerings van ander Afrikalande gebring het. Ghaddafi is in die Libiese Burgeroorlog van 2011 omvergewerp en doodgeskiet. Twee owerhede het aanvanklik beweer dat hulle Libië moes regeer: die Raad van Afgevaardigdes in Tobroek en die 2014 Algemene Nasionale Kongres (GNC) in Tripoli, wat hulself beskou het as die voortsetting van die verkose 2012 Algemene Nasionale Kongres.[10][11]
Na die VN-geleide vredesgesprekke tussen die Tobroek- en Tripoli-regerings,[12] is in 2015 'n verenigde tussentydse VN-gesteunde regering van nasionale akkoord (GNA) tot stand gebring,[13] en die GNC is ontbind ter ondersteuning daarvan.[14] Die konflik het egter voortgeduur en 'n tweede burgeroorlog het uitgebreek, met dele van Libië wat tussen die Tobroek- en Tripoli-gebaseerde regerings verdeel is, asook verskillende stam- en Islamitiese milisies wat ook gebiede beset het.[15] Vanaf Julie 2017 is gesprekke tussen die GNA en die Tobroek gebaseerde owerhede gevoer om die twis te beëindig en die verdeelde inrigtings van die staat, waaronder die Libiese nasionale leër en die Sentrale Bank van Libië, te verenig.[16][17]
Libië word beskou as 'n transito-land vir baie Afrika-vlugtelinge en immigrante na Europa. Daar word beweer dat honderde duisende mense uit ander Afrikalande in die land is wat blootgestel word aan misdade soos moord, aanranding, verkragting[18] en slawerny.[19] Voorts word hulle dikwels in kampe soortgelyk aan konsentrasiekampe aangehou.[20]
Libië is 'n lid van die Verenigde Nasies, die Beweging van Onverbonde Lande, die Afrika-unie, die Arabiese Liga, die Organisasie van Islamitiese Samewerking en OPUL. Die land se amptelike godsdiens is Islam, met 96,6% van die Libiese bevolking wat Soennii-Moslems is.
Die oorsprong van die naam "Libië" het vir die eerste keer verskyn in 'n inskrywing deur Ramses II as R'bw of Liboe in hiërogliewe. Die naam is ontleen aan 'n veralgemeende identiteit wat aan 'n groot konfederasie van Antieke Oos-Libiese Berbers, Afrikane en stamme wat rondom die "welige streke" Sirenaïka en Marmarika gewoon het. 'n Weermag van 40 000 man[21] en 'n konfederasie aan stamme genaamd "Groot Hoofmanne van die Liboe" is aangevoer deur koning Meryey wat oorlog gevoer het teen farao Merneptah in 5 (1208 v.C.). Dié konflik is genoem in die Groot Karnak-inskrywing in die westelike delta tydens die vyfde en sesde jaar van sy bewind en het in 'n nederlaag vir Meryey geëindig. Volgens die Groot Karnak-inskrywing het die militêre alliansie die Mesjwesj, die Lisiërs, en die "Seevolke" bekend as die Ekwesj, Teresj, Sjekelesj en die Sjardana ingesluit.
Die Groot Karnak-inskrywing lees soos volg:
"... die derde seisoen, sê: 'Die ellendige, gevalle hoofman van Libië, Meryey, seun van Ded, het met sy boogskutters die land Tehenu ingeval — Sjardana, Sjekelesj, Ekwesj, Lisiërs, Teresj. Neem die beste van elke vegter en elke krygsman van sy land. Hy het sy vrou en sy kinders saamgeneem — leiers van die kamp, en hy het die westelike grens bereik in die velde van Perire."
Die moderne naam "Libië" is 'n ontwikkeling van die Liboe- of Libúē-naam (van Grieks Λιβύη, Libyē), wat algemeen na die mense van Sirenaïka en Marmarika verwys. Die Liboe- of Libúē-naam het waarskynlik in die klassieke wêreld gebruiklik geword as 'n identiteit vir die inheemse volke van Noord-Afrika en dit is dalk ontleen aan die Proto-Afro-Asiatiese labiʔ- ("leeu"), vergelyk Somalies libaax. In 1934 is die naam herleef vir Italiaans-Libië van die Antieke Grieks Λιβύη (Libúē).[22] Dit sou terme vervang wat toegepas is op Ottomaans-Tripolitanië, die kusstreek van die huidige Libië, wat van 1551 tot 1911 deur die Ottomaanse Ryk as Ejalet Tripolitanië beheer is. In 1903 is die naam "Libië" heringevoer deur die Italiaanse geograaf Federico Minutilli.[23]
In 1951 het Libië onafhanklik geword as die Verenigde Libiese Koninkryk (المملكة الليبية المتحدة, al-Mamlakah al-Lībiyyah al-Muttaḥidah) en in 1963 sy naam verander in Koninkryk Libië (المملكة الليبية, al-Mamlakah al-Lībiyyah), letterlik "Libiese Koninkryk".[24] In 1969 is die naam ná 'n staatsgreep deur Moeammar al-Ghaddafi verander in Libiese Arabiese Republiek (الجمهورية العربية الليبية, al-Jumhūriyyah al-'Arabiyyah al-Lībiyyah). Van 1977 tot 1986 was die amptelike naam "Sosialiste Libiese Arabiese Volksrepubliek" (الجماهيرية العربية الليبية الشعبية الاشتراكية) en van 1986 tot 2011 "Groot Sosialiste Libiese Arabiese Volksrepubliek"[25] (الجماهيرية العربية الليبية الشعبية الاشتراكية العظمى,[26] al-Jamāhīriyyah al-'Arabiyyah al-Lībiyyah ash-Sha'biyyah al-Ishtirākiyyah al-'Udmá, ).
Die Nasionale Oorgangsraad, wat in 2011 gestig is, het na die land slegs as "Libië" verwys. In September 2011 het die Verenigde Nasies die land amptelik onder die naam "Libië" erken[27] gebaseer op 'n versoek deur die Permanente Sending van Libië met verwysing na die tussentydse Libiese Grondwetlike Verklaring op 3 Augustus 2011. In November 2011 is die ISO 3166-1 gewysig om die nuwe landsnaam Libya in Engels en Libye (la) in Frans in ag te neem.[28]
In Desember 2017 het die Permanente Sending van Libië die Verenigde Nasies ingelig dat die land se amptelike naam voortaan "Staat Libië" sal wees, "Libië" die amptelike kortvorm sal bly en die land in alfabetiese lyste steeds onder die letter "L" gelys sal word.[29]
Argeologiese bewyse dui aan dat die Libiese kusgebiede so vroeg as die 8ste millennium v.C. deur Neolitiese mense bewoon is. Dié mense was bekwaam in die tem van vee en die verbouing van gewasse.[30] Die area wat vandag as "Libië" bekend staan, is later deur 'n reeks bevolkings beset: die Fenisiërs, Kartagers, Grieke, Romeine, Vandale en Bisantyne het almal op 'n tyd oor dié gebied (of dele daarvan) geheers. Alhoewel die Grieke en Romeine ruïnes gelaat het by Sirene (ook bekend as Kurene), Leptis Magna en Sabratha, het min ander bewyse van hierdie antieke kulture oorleef.
Die Fenisiërs was die eerste om handelsposte in Libië te stig, toe die handelaars van Tirus (die hedendaagse Libanon) kommersiële bande met die Berberstamme aangeknoop en verdrae met hulle gesluit het om samewerking in die uitbuiting van grondstowwe te verseker.[31][32]
Teen die 5de eeu v.C. het Kartago, die grootste Fenisiese kolonie, sy heerskappy oor groot dele van Noord-Afrika uitgebrei en 'n onderskeidelike bevolking, bekend as Punies, het ontstaan. Puniese vestings aan die Libiese kus het Oea (vandag Tripoli), Libdah (Leptis Magna) en Sabratha ingesluit. Hierdie vestings was almal in 'n gebied wat later sou bekendstaan as Tripolis of "Drie stede". Libië se huidige hoofstad, Tripoli, se naam is hiervan afgelei.
Die Grieke het Oos-Libië verower toe (volgens oorlewering) die orakel by Delfi emigrante van die oorbevolkte eiland Thera beveel het om 'n nuwe tuiste in Noord-Afrika te soek. In 631 v.C. het hulle die stad Sirene gevestig.[33]
Binne die volgende 200 jaar is nog vier belangrike Griekse stede in die area gestig: Barka (die huidige El Mardzi); Euhesperides (later Berenike, hedendaagse Benghazi); Taucheira (later Arsinoe, tans Tokra) en Apollonië (Susah), die hawe van Sirene. Saam met Sirene was die stede bekend as die Pentapolis ("vyf stede").
Die Romeine het beide streke van Libië verenig en vir meer as 400 jaar daarna was Tripolitanië en Sirenaïka welvarende Romeinse provinsies.[34] Handelaars en vakmanne uit baie dele van die Romeinse wêreld het hulle in Noord-Afrika gevestig, maar die karakter van die stede in Tripolitanië het hoofsaaklik Punies gebly en in Sirenaïka, Grieks.
Die Arabiere het Libië in die 7de eeu n.C. verower. In die daaropvolgende eeue het baie van die inheemse volke Islam as hul geloof aangeneem, sowel as die Arabiese taal en kultuur. Die Ottomaanse Turke het die land in die middel van die 16de eeu verower en die drie state waaruit Libië toe bestaan het (Tripolitanië, Sirenaïka en Fezzan), het deel van die Ottomaanse ryk gebly, met die uitsondering van die Karamanli-dinastie wat feitelik selfregerend was. Die Karamanli's het van 1711 tot 1835 hoofsaaklik in Tripolitanië regeer, maar het ook teen die middel van die 18de eeu invloed in Sirenaïka en Fezzan gehad. Die hervereniging van die land was egter te danke aan 'n inval en besetting deur Italië. Tydens die Turks-Italiaanse Oorlog (1911–1912) het Italië die drie streke tegelykertyd in drie Italiaanse kolonies verander.[35]
In 1934 het Italië die naam "Libia" aangeneem as die amptelike naam van die kolonie (wat bestaan het uit die drie provinsies: Sirenaïka, Tripolitanië en Fezzan). Idris al Senoessi, die emir van Sirenaïka, het die Libiese verset teen Italië tussen die twee Wêreldoorloë gelei. Van 1943 tot 1951 was Tripolitanië en Sirenaïka onder Britse administrasie, terwyl Frankryk beheer oor Fezzan gehad het. In 1944 het Idris teruggekeer vanuit sy ballingskap in Kaïro, maar hy het geweier om permanent daar te bly tot sommige aspekte van buitelandse beheer in 1947 afgeskaf is. Onder die voorwaardes van die 1947-vredesverdrag met die Geallieerdes het Italië van enige aansprake op Libië afgesien.[36] Op 21 November 1949 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies 'n voorstel aangeneem dat Libië vóór 1 Januarie 1952 onafhanklik moes word. Idris het Libië in daaropvolgende VN-verhandelinge verteenwoordig. Op 24 Desember 1951 het Libië sy onafhanklikheid as die "Verenigde Koninkryk Libië" verklaar: 'n grondwetlike en erflike monargie onder leiding van Koning Idris.
In 1959 het die ontdekking van aansienlike oliereserwes en die daaropvolgende inkomste van petroleumverkope een van die wêreld se armste nasies daartoe in staat gestel om 'n uiters welvarende staat te stig. Alhoewel die olie Libië se finansies drasties verbeter het, het die bevolking gegrief geraak oor die toenemende konsentrasie van die nasie se rykdom wat in die hande van koning Idris en die nasionale elite was. Die misnoeë het aangehou toeneem met die opkoms van Nasserisme ('n ideologie gebaseer op die denkwyses van die voormalige Egiptiese president, Gamal Abdel Nasser) en Arabiese nasionalisme. Dié ideologieë was gewild in Noord-Afrika en die Midde-Ooste.
Op 1 September 1969 het 'n klein groepie militêre offisiere, onder leiding van 'n 27-jarige weermagoffisier, Moeammar al-Ghaddafi, koning Idris se regering tydens 'n staatsgreep omvergewerp. Tydens die staatsgreep was Idris in Turkye vir mediese behandeling. Sy neef, kroonprins Hasan as-Senoessi, het Koning van Libië geword. Dit was duidelik dat die rewolusionêre offisiere hom nie bó die staatsdienaars as koning wou aanstel nie en Hasan het gou agtergekom dat hy aansienlik minder mag as die nuwe koning gehad het as toe hy 'n prins was. Teen die einde van dieselfde dag (1 September) was Hasan amptelik deur die offisiere onttroon en onder huisarres geplaas. Die offisiere het die monargie afgeskaf en die nuwe Libies Arabiese Republiek aangekondig. Daar word tot met sy dood in 2011 na Ghaddafi verwys as "Broederleier en leidsman van die rewolusie", beide in regeringsverklarings en die amptelike pers.[37]
Sedert die nederlaag van aan Ghaddafi lojalistiese magte in 2011 is Libië verskeur onder talle mededingende, gewapende milisies wat met verskillende streke, stede en stamme verbonde is, terwyl die sentrale regering swak bly en nie in staat is om sy gesag oor die land uit te oefen nie.[38]
Daar was twee vertakkings in Libië se regering onder Ghaddafi. Die "rewolusionêre sektor" het bestaan uit die Rewolusionêre Leier Ghaddafi, die Rewolusionêre Komitees en die oorblywende lede van die 12-persoon Rewolusionêre Kommandoraad (RKR), wat in 1969 gestig is.[39] Die geskiedkundige rewolusionêre leierskap was nie verkose nie, en kon dus nie van hul amp ontneem word deur 'n verkiesing nie: hulle was aan bewind op grond van hulle deelname aan die rewolusie.
Die wetgewende tak van die regering het bestaan uit Plaaslike Volkskongresse in elk van die 1500 stadswyke, 32 Sha'biyat Volkskongresse vir die verskillende streke en die Nasionale Algemene Volkskongres van Libië. Hierdie wetgewende liggame was verteenwoordig deur ooreenstemmende uitvoerende liggame: Plaaslike Volkskomitees, Sha'biyat Volkskomitees en die Nasionale Algemene Volkskomitee of -kabinet.
Elke vier jaar het die lede van die Plaaslike Volkskongresse hulle eie leiers verkies en sekretarisse vir die Volkskomitees, somtyds na afloop van debattering en 'n beslissende verkiesing. Die leierskap van die Plaaslike Volkskongres het die plaaslike kongres by die Volkskongres op die volgende vlak, verteenwoordig. Die lede van die Nasionale Algemene Volkskongres het die lede van die Nasionale Algemene Volkskomitee (die Kabinet) tydens hulle jaarlikse vergadering verkies.
Die regering het beide staatsbeheerde en semi-selfbesturende media beheer. In 1977 het Ghaddafi verklaar: "Die pers is 'n wyse waardeur die gemeenskap hulself kan uitdruk: dit is nie 'n wyse van uitdrukking vir private individue of regspersoonlike liggame nie".[40]
Politieke partye was deur die 1972 Verbodsbepaling op Partypolitiek Akte Nommer 71 verban.[41] Volgens die Verenigingsakte van 1971 was die stigting van nieregeringsorganisasies wel toegestaan. Omdat daar van hulle vereis was om aan die doelwitte van die rewolusie te voldoen, was die getalle kleiner as dié in buurlande. Daar was geen vakbonde nie,[42] maar verskeie professionele verenigings was by die staatstruktuur geïntegreer as 'n derde pilaar, saam met die Volkskongresse en -komitees. Hierdie verenigings het nie die reg om te staak gehad nie. Professionele verenigings het afgevaardigdes na die Algemene Volkskongres gestuur, waar hulle 'n verteenwoordigende mandaat gehad het.
Libië se buitelandse verhoudings het baie wisselinge ondergaan sedert die staat op Oukersaand 1951 geproklameer is. As 'n koninkryk het Libië 'n definitiewe pro-Westerse standpunt ingeneem, alhoewel dit tot die konserwatiewe, tradisionele blok in die Arabiese Liga gereken is. Die land het dan ook in 1953 'n amptelike lid van hierdie liga geword.[43] Die regering was 'n getroue geallieerde van die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State: beide lande het die reg tot 'n militêre basis in Libië behou. Libië het ook nou bande met Frankryk, Italië en Griekeland gesmee en 'n volle diplomatieke verhouding met die Sowjetunie in 1955 gestig.
Alhoewel die regering Arabiese sake ondersteun, waaronder ook die Marokkaanse en Algeriese onafhanklikheidsbewegings, het dit 'n baie klein aktiewe rol gehad in die Arabies-Israeliese konflik en die stormagtige inter-Arabiese politiek van die 1950's en die vroeë 1960's. Die Koninkryk was gekenmerk deur sy noue bande met die Weste, alhoewel dit self 'n hoofsaaklik konserwatiewe beleid tuis gevolg het.[44]
Ná die 1969-staatsgreep het Ghaddafi vinnig buitelandse bates genasionaliseer, buitelandse troepe uitgesit en buitelandse biblioteke en kultuursentra gesluit. Op daardie stadium was Libië die vierde grootste olieprodusent in die nie-kommunistiese wêreld, slegs oortref deur Saoedi-Arabië, Iran en Venezuela. Die Ghaddafi-regering het spoedig Libië se oliemaatskappye genasionaliseer, algehele beheer oor sommige sake geneem en ander gedwing om meerderheidsbeheer aan die regering oor te gee. Ghaddafi het mettertyd alle Westerse oliewerkers uit die land gesit en die Libiese olieproduksie het gevolglik dramaties gedaal. As gevolg van die nasionalisering van sy oliemaatskappye en die VSA-geleide sanksies (veral in 1992 deur die Verenigde Nasies) was Libiese produksie teen 2005 steeds meer as 50% minder as teen die piek in 1970.[45] Ghaddafi het ook 'n sleutelrol gespeel in die bevordering van oliesanksies as 'n politiese wapen teen die Weste. Hy het gehoop dat 'n embargo en 'n toename in die olieprys in 1973 die Weste (veral die Verenigde State) sou oorreed om op te hou om steun aan Israel te verleen. Ghaddafi het beide Oosterse (Sowjetse) kommunisme én Westerse (Amerikaanse) kapitalisme verwerp en beweer dat hy 'n middelweg vir sy regering beplan.[46] Ten spyte hiervan het hy tot die ineenstorting van die Sowjetunie in 1991 meestal Sowjetse ondersteuning ontvang.
Ghaddafi se middelwegse beleid staan bekend as die Derde Internasionale Teorie en, alhoewel dit hoofsaaklik in die Islam gegrond is, bevat dit wel leerstellings van beide kapitalisme en kommunisme. Behalwe vir Islamitiese elemente bevat die beleid ook 'n aantal pragmatiese elemente wat gerig is op die bestryding van armoede en onkunde.
Verhoudings tussen Libië en Amerika het versleg toe Libiese skares op 2 Desember 1979 die Amerikaanse ambassade in Tripoli geplunder het. Ghaddafi het na die voorval verwys as 'n "spontane betoging" en enige betrokkenheid ontken. Daar word egter vermoed dat hy die aanval beveel het om simpatie te toon aan Ruhollah Khomeini, die leier van die Irannese Rewolusie van 1979 en die daaropvolgende nuwe Irannese regering. In Mei 1980 het die VSA alle diplomate uit die land onttrek, maar nie diplomatieke betrekkinge met Libië opgeskort nie.
In 1980 het die Libiese regering Jimmy Carter se broer, Billy Carter, $220 000 betaal om steun te werf vir beter diplomatieke betrekkinge tussen die VSA en Libië.
Op 6 Mei 1981, vier en 'n half maande nadat Ronald Reagan president van die VSA geword het, het die Amerikaanse regering die Libiese regering daarvan beskuldig dat dit internasionale terrorisme ondersteun. Alle Libiese diplomate is uit die VSA gesit en die VSA het amptelik alle diplomatieke bande tussen die twee lande opgeskort. Op dieselfde dag het die VSA die Libiese "Volksburo" (die Libiese ambassade) in Washington, D.C. gesluit. Op 2 Augustus 1981 het Amerikaanse stralers twee aanvallende Libiese vegvliegtuie tydens VSA-vlootoefeninge in die Golf van Sirte afgeskiet. Libië beskou dié gebied as Libiese waters, maar die VSA ontken hierdie aanspraak.
Die Reagan-administrasie het Libië as 'n onaanvaarbare speler op die internasionale verhoog gesien as gevolg van die land se ondersteuning van Palestynse gewapende groepe, ondersteuning van die rewolusionêre Iran in die land se 1980–1988 oorlog teen Saddam Hussein se Irak, en ondersteuning aan guerrillabewegings in verskillende dele van die wêreld, waarvan baie separatistegroepe is, soos die Ierse Republikeinse Leër (IRL), die Euskadi Ta Askatasuna (ETA) en die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO).
In Maart 1982 het die VSA 'n verbod geplaas op die invoer van Libiese petroleum en die uitvoer van Amerikaanse nywerheidstegnologie-items (meeste waarvan vir olieproduksie gebruik is) na Libië; alhoewel Europa nie dieselfde rigting gevolg het nie.
Verhoudinge tussen die Verenigde Koninkryk en Libië het gespanne geraak ná die Libiese Ambassade-beleg in 1984, toe skote op 'n skare betogers gevuur is waarin 'n polisievrou omgekom het.
Tydens botsings oor toegang tot die Golf van Sirte het die VSA Libiese patrolliebote van Januarie tot Maart 1986 aangeval. Na die aanvalle sou Ghaddafi na hierdie gebied as die "lyn van die dood" verwys. Later, op 14 April 1986, beveel Ronald Reagan groot bomaanvalle teen vermeende terroristestellings in Tripoli en Benghazi waarin ongeveer 60 mense sterf.[47] Die bomaanvalle het plaasgevind na Amerikaanse beskuldigings van Libiese betrokkenheid in 'n ontploffing op 5 April by die Wes-Berlynse La Belle-nagklub, waarin drie mense gesterf het. Dié nagklub is dikwels deur Amerikaanse weermaglede besoek. Onder die minimum 15 sterfgevalle van die 14 April-bomaanval op Libië was Ghaddafi se 15 maand-oue aangenome dogter. Die aanval het egter oënskynlik die gewenste uitwerking gehad, aangesien Libiese aanvalle op Amerikaners meer subtiel geraak het, met die uitsondering van die Lockerbie-bomaanval. Tydens dié aanval het 270 mense uit 21 lande omgekom, ná 'n vliegtuig van Pan Am Vlug 103 deur 'n bom vernietig is en slagoffers en brokstukke in die omgewing van Lockerbie, Skotland, ten gronde gestort het.
Ná die aanval stel die Verenigde Nasies in 1992 sanksies teen Libië in werking in. Uitgebreide diplomatieke maneuvers het in 1998 en 1999 uiteindelik gelei tot Ghaddafi se oorhandiging van twee Libiërs vir verhoor van die aanval. Die destydse Suid-Afrikaanse president, Nelson Mandela, het gehelp om Libië te oortuig om die verdagtes uit te lewer; hy het dan ook die nuus eerste aan die Libiese Volkskongres oorgedra.[48] Twee Libiese intelligensie-agente is deur die federale aanklaers in die VSA en Skotland beskuldig weens deelname aan die aanval. Ses ander Libiërs is in hul afwesigheid verhoor vir 'n ander bomaanval op die 1989-UTA Vlug 772. Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het Libië beveel om die verdagtes te oorhandig, saam te werk met die Pan Am Vlug 103- en UTA Vlug 772-ondersoeke, om skadevergoeding aan die slagoffers se families te betaal en alle steun aan terrorisme te beëindig. Libië se weiering om hieraan te voldoen het gelei tot die goedkeuring van VNVR Resolusie 748 op 31 Maart 1992, wat sanksies teen die staat ingestel het met die doel om Libiese samewerking teweeg te bring. Verdere Libiese verontagsaming van die bevele het in November 1993 tot verdere sanksies deur die VN teen Libië gelei.[49]
In Januarie 2001 het die Pan Am Vlug 103-verhoor met een skuldigbevinding (met lewenslange tronkstraf) en een kwytskelding geëindig. Ghaddafi veroordeel die skuldigbevinding. In 2003, meer as 'n dekade na die sanksies ingestel is, het Libië begin om dramatiese beleidsveranderinge ten opsigte van die Westerse wêreld te maak, met die voorneme om Westers-Libiese détente (politiese ontspanning) te bevorder. Die Libiese regering kondig aan dat hulle hul massavernietigswapenprogramme sal staak en op 12 September 2003 het die Verenigde Nasies die sanksies teen Libië opgehef, nadat Libië ingestem het om verantwoordelikheid vir die aanval te aanvaar en 'n uitbetaling van $2,7 miljard aan die families van die slagoffers van beide vlugte te maak.[50] Dié besluit was deur baie Westerse nasies verwelkom en gesien as 'n belangrike stap vir Libië om weer by die internasionale gemeenskap aan te sluit.[51] Sedert 2003 het Libië pogings aangewend om hulle bande met die Europese Unie en die VSA te normaliseer en het verwys na "Die Libië-model"; 'n slagspreuk wat gebruik word as voorbeeld vir wat bereik kan word deur onderhandeling, eerder as geweld, wanneer daar welwillendheid aan beide kante is.
Die VSA het dan ook op 26 Februarie 2004 sy 23-jaarlange reisverbod na Libië opgehef. Op 21 September daardie jaar het die Amerikaners die oorblywende ekonomiese sanksies opgehef, asook die verbod op sommige van die Libyan Sanctions Regulations, 31 C.F.R. Part 550 en beperkings op eiendom en eiendomsbelange verwyder, wat voorheen in terme van die regulasies beperk is. Verder het die VSA op 15 Mei 2006 aangekondig dat hulle diplomatiese verhoudings met Libië ten volle sou herstel indien die land van hul wapenprogramme sou afsien. Die VSA se Departement van Buitelandse Sake het Libië ook van hul lys van staatsgeborgde terrorisme verwyder, ná die land 27 jaar daarop verkeer het.
Op 16 Oktober 2007 is Libië tydens 'n verkiesing aangewys om vanaf Januarie 2008 vir twee jaar op die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad te dien.[52]
Vyf Bulgaarse verpleegsters en 'n Palestynse dokter is daarvan beskuldig dat hulle 426 Libiese kinders by 'n Benghaziese kinderhospitaal met opset met HIV besmet het, as deel van 'n vermeende Westerse komplot om die regime te destabiliseer. Aanvanklik was daar 23 Bulgare en verskeie Libiese gesondheidsbeamptes beskuldig, maar 'n ondersoek het die getal tot vyf verpleegsters, twee dokters ('n Bulgaarse en Palestynse dokter) en 'n aantal Libiese gesondheidsbeamptes verminder. In 2004 het die hof een Bulgaarse dokter, Dr. Zdrawko Georgief, wat slegs skuldig bevind is aan onwettige transaksies met buitelandse valuta, tot vier jaar tronkstraf gevonnis, sowel as 'n boete van 600 dinar. Aangesien hy teen die tyd van sy vonnisoplegging reeds vir meer as vyf jaar in Libiese hegtenis was, en dus sy vonnis reeds meer as uitgedien het, is hy uit die gevangenis bevry, maar nie toegelaat om Libië vir die daaropvolgende drie jaar te verlaat nie. Die oorblywende vyf verpleegsters en die Palestynse dokter is ter dood veroordeel. Ná 'n herverhoor laat in 2006 is hulle weereens ter dood veroordeel. Die hof se metodes is deur 'n aantal menseregte-organisasies gekritiseer en hulle uitspraak is sterk deur die Verenigde Nasies en Europese Unie afgekeur.[53] Hierdie veroordeling is egter op 17 Julie 2007 gewysig tot lewenslange tronkstraf.[54] Ná verlengde en ingewikkelde onderhandelings, met die samewerking van die Europese Unie, Duitsland, Frankryk en 'n aantal ander lande, is al vyf verpleegsters en die dokter vrygelaat en hulle het na Bulgarye teruggekeer.[55]
Na die rewolusionêre veranderings in Januarie 2011 in Tunisië en Egipte het ook in Benghazi 'n opstand teen die Ghaddafi-bewind ontstaan. Die regering het met hewige geweld daarop geantwoord. Op 20 Oktober 2011 is Ghaddafi in Sirte vermoor en op 23 Oktober 2011 het die Oorgangsraad die regering van Libië oorgeneem, wat ook deur die Verenigde Nasies erken is.
Die politiek van Libië is in 'n onsekere toestand weens die ineenstorting van die Libiese Arabiese Jamahiriya (soos Libië onder Ghaddafi bekend gestaan het) in 2011 en 'n voortdurende burgeroorlog[56][57] tussen die Raad van Afgevaardigdes in Tobroek en sy ondersteuners, die Algemene Nasionale Kongres (GNC) in Tripoli en sy ondersteuners, vermeng met voortdurende opstande deur verskillende djihadiste en stamelemente wat dele van die land beheer.[58]
Die twee hoof rolspelers in die burgeroorlog was:
Lede van die Raad van Afgevaardigdes en die Algemene Nasionale Kongres (GNC) het op 18 Desember 2015 'n politieke ooreenkoms onderteken.[13] Ingevolge die ooreenkoms sal 'n Presidentsraad van nege lede en 'n tussentydse regering van nasionale akkoord (GNA) tot stand gebring word met die doel om binne twee jaar nuwe verkiesings te hou.[13] Die Raad van Afgevaardigdes sou voortgaan om te bestaan as 'n wetgewer en 'n raadgewende liggaam, bekend as die Staatsraad, is saamgestel met lede wat deur die Algemene Nasionale Kongres (GNC) aangewys is [59] Hierdie voorstel is egter nie geïmplementeer nie en 'n gewapende stryd tussen die Raad van Afgevaardigdes en owerhede in Tripoli duur voort tot in 2020.
Op 23 Oktober 2020 is 'n permanente wapenstilstand onderteken om die oorlog te beëindig.[60]
In Desember 2021 was die land se eerste presidensiële verkiesing geskeduleer, maar is tot Junie 2022 uitgestel.[61]
Fathi Bashagha is in Februarie 2022 deur die parlement as eerste minister aangestel om 'n oorgangsadministrasie te lei, maar die dienende eerste minister Abdul Hamid Dbeibah het geweier om mag oor te gee vanaf April 2022. In protes teen die Dbeibah-regering het stamleiers van die woestyndorp Ubari het die El Sharara-olieveld, Libië se grootste olieveld, op 18 April 2022 gesluit. Die sluiting het gedreig om binnelandse olietekorte in Libië te veroorsaak en die staatsbeheerde National Oil Corp. te verhinder om die hoë oliepryse op die internasionale mark te ontgin as gevolg van die 2022 Russiese inval in die Oekraïne.[62]
Volgens die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake se menseregteverslag vir 2004 het Libië se outoritêre regime steeds 'n swak rekord wat menseregte betref. Sommige van die talle en ernstige mishandelinge deur die regering sluit in swak tronktoestande, willekeurige arrestasies en gevangehouding, gevangenes wat in afsondering aangehou word en politieke gevangenes wat vir baie jare sonder aanklag of verhoor aangehou word. Die regbank word deur die staat beheer en daar bestaan geen reg tot 'n regverdige openbare verhoor nie. Libiërs het nie die reg om hulle regering te verander nie. Vryheid van spraak, persvryheid, vryheid van vergadering, verenigingsreg, en godsdiensvryheid word beperk. Onafhanklike menseregteorganisasies word verbied. Etniese en stamgebonde minderhede ly onder diskriminasie en die staat hou vol om die arbeidsregte van buitelandse werkers te beperk.
In 2005 het Freedom House politieke regte in Libië 'n "7" gegee, waar "1" die vryste en "7" die minste vry is. Burgerlike vryheid het ook 'n "7" ontvang en die land het is 'n vryheidsbepaling van "nie vry nie" toegeken.[63]
Volgens Human Rights Watch se jaarverslag 2016 word joernaliste steeds geteiken deur die gewapende groepe in Libië. Die organisasie het bygevoeg dat Libië 'n baie lae rang in die 2015-persvryheidsindeks het, aangesien dit 154 uit 180 lande gelys word.[64] Homoseksualiteit is onwettig in Libië.[65] Vir die persvryheidsindeks van 2019 was Libië in die 162 plek uit 180 lande.
Die vorige nasionale leër van Libië onder die Ghaddafi-bewind is in die Libiese burgeroorlog verslaan en ontbind. Die Tobroek-gebaseerde Raad van Afgevaardigdes wat beweer dat hulle die wettige regering van Libië is, het probeer om 'n militêre leër bekend as die Libiese nasionale leër te vestig. Gelei deur Khalifa Haftar, beheer hulle Oos-Libië en 'n groot deel van die res.[66] In Mei 2012 het 'n geskatte 35 000 personeellede by die geledere aangesluit.[67] Die internasionaal erkende regering van nasionale akkoord (GNA) wat in 2015 gestig is, het sy eie leër wat die ou nasionale weermag vervang het, maar dit bestaan grotendeels uit somtyds ongedissiplineerde en ongeorganiseerde milisie-groepe.
Die milisies het tot dusver geweier om in 'n sentrale veiligheidsmag geïntegreer te word.[68] Baie van hierdie milisies is gedissiplineerd, maar die magtigste van hulle beskou hulself as ondergeskik aan die uitvoerende rade van verskillende Libiese stede. Vir die GNA is die sogenaamde Libiese skild 'n belangrike mag. Maar dit bly in wese 'n parallelle nasionale mag, wat op versoek, eerder as op bevel van die ministerie van verdediging, opereer.[68]
Die land se klimaat is meestal droog met 'n woestynagtige karakter. Die noordelike streke geniet egter 'n matiger Mediterreense klimaat. Die land het twee belangrike klimaatfaktore: die Sahara-woestyn en die Middellandse See. In die noorde van die land, wat ook die digbevolkste is, is daar aansienlik meer neerslag per jaar: tussen 200 en 300 mm per jaar. Reën is seisoenaal en kom veral in die herfs en die lente voor. Ook hierdie noordelike strook ervaar droogtetye, met 'n ernstige droogte wat elke vyf of ses jaar voorkom. Die strook word dan self ook deur die ontoeganklike Sirtewoestyn in twee verdeel.
Suid van die noordelike strook neem die neerslag drasties af, 200 mm per jaar en minder, soos mens verder van die kuslyn af beweeg. Die droë gebiede bevat baie "wadi"'s (droë rivierbeddings) wat na 'n reënval vir 'n kort periode met water gevul is. Meeste van hierdie "wadi"'s mond in soutpanne uit en slegs 'n paar bereik uiteindelik die see.
Die woestynagtige dele van die land ervaar uiters hoë temperature (temperature van byna 60 °C is al gemeet) en die nag-en dagtemperature verskil aansienlik van mekaar. Soos mens na die noordelike kusstreek beweeg, word hierdie verskil kleiner en die gebied ervaar soms baie koel temperature in die winter.
Daar kom 'n aantal natuurlike gevare in Libië voor, waaronder stofstorms en sandstorms. Verder is daar ook sirokko's, of die gibli. 'n Sirokko is 'n warm, droë, stofbelaaide suidoostewind wat in die lente en herfs tussen een en vier dae lank waai.
Libië strek oor 1 759 541 km² en is gevolglik die 16de grootste land in die wêreld. Die land is ietwat kleiner as Indonesië en rofweg dieselfde grootte as die Amerikaanse deelstaat Alaska. Die lande grens in die noorde aan die Middellandse See, Algerië en Tunisië in die weste, Niger in die suidweste, Tsjad en Soedan in die suide en aan Egipte in die ooste.[69][3]
Die land se noordwestelike kusgebied bestaan uit 'n kusvlakte van sowat 100 km breed. Dié vlakte word breër soos mens verder die land ingaan en bestaan uit oases, steppes, soutpanne en strandmere. Dié gebied staan bekend as die Djefara en gaan oor in 'n steenreeks, die Dzjebel Noefoessa wat 'n hoogste punt van 960 m het. Die steenreeks dui die oorgang na die Sahara aan.
Die noordoostelike deel van die kusgebied (wat van die noordwestelike deel deur die Sirtewoestyn geskei word), het 'n baie smaller kusvlakte; by sommige dele strek die Dzjebel Achdar tot amper aan die kuslyn. Die Dzjebel Acdar is 'n kalksteengebergte met 'n hoogte van 860 m en daar word ook na hierdie gebergte as die "groen berg" verwys, vanweë die immergroen plantegroei wat daar gevind word.
Naas die twee kusgebiede vorm die res van die land deel van die Saharawoestyn. Die oostelike deel van die woestyn word die Libiese Woestyn genoem en strek tot in Egipte.
Daar is 'n klein aantal oases in die woestyngebiede, waarvan die twee belangrikstes Ghadames en Koefra is.
Die Libiese woestyn dek 'n groot deel van die ooste van die land en is een van die dorste plekke op aarde. In sommige plekke mag daar dekades verbygaan sonder enige reën en selfs in die hooglande is die reënval onreëlmatig: ongeveer een keer elke vyf tot tien jaar. By Oeweina, 'n bergreeks naby die Egiptiese en Soedanese grenslyne, was die laaste genoteerde reënval in September 1998.[70] Daar is 'n groot kom, die Kattara-kom, aan die suide van die noordelikste eskarp, met die Siwa-woestyn aan die weste. Die kom word vlakker soos dit na die weste strek, tot by die Djagboeb- en Djaloe-oases.
Die temperatuur in die Libiese woestyn kan ook uiterstes bereik: in 1922 is 'n lugtemperatuur van 57,8 °C wes van Tripoli gemeet. Hierdie meting word oor die algemeen aanvaar as die hoogste aangetekende natuurlike lugtemperatuur wat ooit op die aarde waargeneem is.[71] Daar is 'n paar onbewoonde oases wat oor die woestyn versprei is. Dié oases is gewoonlik verbind aan die grootste komme en water kan bereik word deur 'n meter (of minder) in die sand te grawe. In die weste is daar 'n wyd uitgespreide groep oases in onverbinde vlak oases: die Koefra-groep, wat bestaan uit die Koefra-, Rebiana- en Tazerbo-oases.[70] Buiten die eskarpe word die algemene platheid van die gebied slegs onderbreek deur 'n reeks plato's en massiewe naby die middelpunt van die woestyn, ongeveer waar die Egiptiese, Soedannese en Libiese grense ontmoet.
Verder na die suide is die berggroepe Arkenoe, Oeweinat en Kissoe. Hierdie granietberge is antiek en het lank voor die omringende sandstene gevorm. Die bergreekse van Arkenoe en Wes-Oeweinat is ringvormig. Oos-Oeweinat (die hoogste punt in die Libiese woestyn) is 'n verhoogde sandsteenplato wat grens aan die westelike granietdeel.[70] Verweerde vulkaniese verskynsels is oor die vlakte noord van Oeweinat versprei.
Met die ontdekking van olie in die 1950's is ook 'n massiewe waterdraer onder 'n groot deel van die land ontdek. Die water wat daarin bevat word dateer van voor die vorige ystydperke en is selfs ouer as die Saharawoestyn.[72] Die land is ook die tuiste van die Arkenoe-kraters: dubbel impakkraters wat in die woestyn gevind kan word.
Die burgeroorlog het 'n negatiewe invloed op die Libiese ekonomie. Libiese burgers het te kampe met ekonomiese ontberings, onder meer inflasie, korrupsie en smokkelary, wat die land se kontantreserwes laat wegsmelt.[73][74]
Die Libiese ekonomie bly steeds grootliks afhanklik van die inkomste uit die oliesektor, hoewel die huidige burgeroorlog hierdie sektor ontwrig. In die verlede het hoë inkomstes uit die olienywerheid en Libië se klein bevolking beteken dat Libië een van die hoogste bruto binnelandse produk (BBP) in Afrika gehad het wat gedurende die Ghaddafi-bewind die Libiese staat toegelaat om 'n uitgebreide en indrukwekkende standaard vir sosiale sekuriteit te bied, veral op die gebied van behuising en onderwys.[75]
In 2009, met die daling in oliepryse weens die resessie wat die hele wêreld getref het, daal die Libiese BBP van 87 miljard tot 63 miljard Amerikaanse dollar[76] Dit het die volgende jaar effens gestyg, maar die Arabiese Lente en die twee opeenvolgende burgeroorloë in 2011 en toe vanaf 2014 het die land se ekonomie, waarvan die verskillende mededingende faksies meeding om oliebronne, heeltemal ontwrig. In 2011 het die BBP tot 34 miljard Amerikaanse dollar gedaal. Die BBP het wel in 2017 tot 51 miljard Amerikaanse dollar gestyg.[77] Ten spyte van die styging het die land steeds nog nie tot die vlak van die ekonomie voor die krisis herstel nie. In 2019 het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) aangedui dat Libië die 96 hoogste nominale BBP in die wêreld het en dit beloop 33 miljard Amerikaanse dollar.[78][79]
Die Wêreldvoedselprogram (WVP) het in Januarie 2020 ongeveer 78 000 mense in nood bereik deur sy programme in Libië: algemene voedselverspreiding, noodvoedsel-lewering as pakkette vir migrante in stedelike gebiede, noodvoedselverspreiding deur die vinnige reaksiemeganisme aan mense wat binnelands gevlug het, skoolvoeding en kos vir opleidingsinisiatiewe in Sebha.[80]
Tot in die vyftigerjare van die twintigste eeu word Libië as een van die armste lande ter wêreld beskou, veral as gevolg van die onproduktiwiteit van die gebied. Teen 1977 het Libië egter die hoogste jaarlikse inkomste per kapita van die vasteland van Afrika aangeteken, danksy die ontginning van groot olievelde.[81] Olie ontginning is in 1959 begin en na 1970 genasionaliseer. Benewens die nasionalisering van die belangrikste hulpbronne van die land, en produksie-aktiwiteite, het die nuwe regime ook belê in die ontwikkeling van ligte nywerhede en infrastruktuur en in die modernisering van die landbou, terwyl hy immigrasie bevoordeel het, om die skaarsheid te vergoed van arbeid. Die daling in oliepryse in die tagtigerjare het die land se potensiaal vir ontwikkeling dan verminder, tot die punt dat die BBP 'n gemiddelde daling van 5,4% in daardie dekade aangeteken het; in die negentigerjare is die ekonomiese prentjie beïnvloed deur die ekonomiese sanksies wat die VN in 1991 deur Libië opgelê is, wat in 1997 opgehef is.
Vanaf die 1990s het Libië in vergelyking met sy buurlande 'n uiters lae vlak van beide absolute en relatiewe armoede geniet. Libiese amptenare het in die drie jaar voor 2006 ekonomiese hervormings uitgevoer as deel van 'n groter veldtog om die land by die wêreldwye kapitalistiese ekonomie te herintegreer.[3] Hierdie poging het vaart gekry ná sanksies deur die Verenigde Nasies in September 2003 opgehef is en Libië in Desember van dieselfde jaar aangekondig het dat hulle hul planne vir die bou van massavernietigingswapens sal laat vaar het.[82]
Libië was voor die burgeroorlog besig met 'n aantal markgerigte hervormings. Aanvanklike stappe het aansoek om lidmaatskap van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO), die inkorting van toelae en aangekondigde planne vir privatisering ingesluit.[83] Die bou- en vervaardigingsektors wat nie deel van die olienywerheid uitmaak nie, het op daardie stadium sowat 20% van die BBP uitgemaak en het uitgebrei om die prosessering van meestal landbouprodukte, tot die produksie van petrochemikalieë, yster, staal en aluminium in te sluit. Die klimaatstoestande en skraal grond beperk die landboukundige opbrengs aansienlik en ongeveer 75% van Libië se voedsel moet tradisioneel ingevoer word.[3] Suid-Afrika het hoofsaaklik voedselprodukte, naas verwerkte goedere, na Libië uitgevoer.[84]
Toegang tot water is ook 'n probleem en sowat 28% van die land se bevolking het in 2000 geen toegang tot veilige drinkwater gehad nie.[85]
Onder die vorige Eerste Ministers, Sjokri Ghanem, en Bagdadi Magmoedi, het Libië 'n bloeitydperk in die besigheidsektor te ervaar. Baie staatsbestuurde nywerhede was besig om geprivatiseer te word. 'n Groot aantal internasionale oliemaatskappye het na die land teruggekeer, ondermeer die oliereuse Shell en ExxonMobil.[86] Toerisme is ook geprioritiseer en het 'n verhoogde aanvraag vir hotelakkommodasie en lughawekapasiteit saamgebring. 'n Multi-miljoen-dollar vernuwing van Libiese lughawens is in 2006 deur die staat goedgekeur om aan die aanvraag te voldoen.[87] In 2007 het ongeveer 130 000 mense Libië elke jaar besoek.[88]
Libië het 'n klein bevolking binne-in die land se groot terrein, met 'n bevolkingsdigtheid van ongeveer drie mense per vierkante kilometer in die twee noordelike streke Tripolitanië en Sirenaïka, en minder as een persoon per vierkante kilometer elders. Libië is dus een van die ylbevolkste lande (volgens area) in die wêreld.[89] 90% van die bevolking woon op minder as 10% van die land se oppervlakte, meestal langs die kus.[90]
Libiese boorlinge is 'n mengsel van inheemse Berbervolke en Arabiere wat later in die land gearriveer het. Daar is klein Toeareg- en Toeboestamme wat in die suide gekonsentreer is en nomadiese of semi-nomadiese leefwyses lei. Die grootste deel van die buitelandse inwoners is van ander Afrikalande afkomstig; beide Noord-Afrika (hoofsaaklik Egiptenare en Tunisiërs) en Suider-Afrika.[91] Volgens die Amerikaanse Central Intelligence Agency se World Fact Book, bestaan 97% van die bevolking uit Libiese Berbers en Arabiere; die ander 3% is Grieke, Maltese, Italianers, Egiptenare, Afgane, Turke, Indiërs en Afrikane van suid van die Sahara.[3] Hierdie beraming neem egter net wettige burgers in ag, terwyl Libië ook die tuiste van 'n groot onwettige Afrika-bevolking van suid van die Sahara is, wat volgens sommige beramings meer as 'n miljoen tel.[92]
Die hooftaal wat in Libië gepraat word is Arabies, dit is ook die land se amptelike taal. Die verskeie Berbertale (ook bekend as Tamazight) wat deur Libiese Berbers gepraat word, het geen amptelike status nie.[93] Berbersprekers woon veral in die Dzjebel Nefoessa-streek, in die dorp Zoewarah (aan die kus), en die stad-oases soos Ghadames en Ghat. Italiaans en Engels word soms in die groter stede gepraat, alhoewel Italiaanse sprekers meestal aan die ouer generasies behoort.
Die gesinslewe is baie belangrik in Libiese gesinne en die meerderheid gesinne woon in woonstelblokke en huise, soos hulle inkomste toelaat. Alhoewel die Libiese Arabiere tradisioneel nomadiese leefwyses in tente gevoer het, is hulle ook nou in verskeie dorpe en stede gevestig.[94] Dit is hieraan te wyte dat hulle ou lewenswyses en tradisies besig is om te verdwyn. 'n Klein dog onbekende aantal Libiërs woon steeds in die woestyn soos hulle families vir eeue reeds gedoen het. Meeste van die bevolking werk in die diens- en nywerheidssektors, met 'n klein persentasie wat in landbou bedrywig is.
No. | Stad | Bevolking[95] |
---|---|---|
1 | Tripoli / طرابلس | 2 220 000[96] |
2 | Benghazi / بنغازي | 1 501 000[96] |
3 | Misrata / مصراتة | 381 000[97] |
4 | Zliten / زليتن | 280 000[98] |
5 | Al Bayda / البيضاء | 350 000[99] |
6 | Zawia / الزاوية | 234 000 |
7 | Ajdabiya / اجدابيا | 184 820 |
8 | Tobroek / طبرق | 200 771 |
9 | Sabha / سبها | 103 743 |
10 | Al Khums/ الخمس | 88 317 |
Hoewel onderwys voortgaan in Libië word dit beïnvloed deur die voortslepende burgeroorlog. Die president van die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis, Peter Maurer, het in 2020 gesê dat burgerlikes in Libië swaarkry as gevolg van die oorlog, wat woonbuurte, gesondheidsfasiliteite en skole beïnvloed het. Maurer verduidelik in 'n verklaring aan die einde van sy besoek aan Libië dat een uit vier Libiërs geraak word deur die konflik, wat sy negende jaar betree het. Volgens die Rooikruisbeampte het die aggressie teen die hoofstad gelei tot die sluiting van 220 skole, en die ontwrigting van gesondheidsdienste en onderwys, benewens 'n toenemende skaarste aan noodsaaklike voorrade.[100]
Die basis vir onderwys en opleiding geskep gedurende die Ghadafi-era is egter omvangryk. In 2004 het Libië se bevolking 1,7 miljoen skoliere en studente ingesluit, waarvan 270 000 op tersiêre vlak gestudeer het.[101] Onderwys is gratis vir alle Libiese burgers[102] en verpligtend tot en met sekondêre vlak. Libië het die hoogste geletterdheid in Noord-Afrika: meer as 82% van die bevolking kan lees en skryf.[103] Ná Libië in 1951 onafhanklik geword het, is die land se eerste universiteit, die Universiteit van Libië, in Benghazi gestig.[104] In die akademiese jaar van 1975/76 was daar 'n beraamde 13 418 universiteitstudente. Met die ingang van 2004 het hierdie getal tot meer as 200 000 gegroei, met 'n addisionele 70 000 mense wat by die hoër tegniese en ambagtelike sektor aangesluit het.[101] Die spoedige toename in die aantal studente in die hoër onderwyssektor is weerspieël deur 'n toename in die aantal instellings wat sulke onderwys bied. Sedert 1975 het die aantal universiteite gegroei van twee tot nege en, na hulle ingebruikneming in 1980, is daar tans 84 hoër tegniese en ambagtelike institute (met 12 publieke universiteite).[101] Libië se hoëronderwys word deur 'n publieke begroting gefinansier. Vir die 1998-begroting het 38,2% van die nasionale begroting uit toedelings aan die onderwys bestaan.[104] Die grootste universiteite in Libië is El Fateh Universiteit in Tripoli en Garyounis Universiteit in Benghazi.
Islam is verreweg die oorheersende geloof in Libië: 96,6% van die bevolking assosieer hulself met hierdie geloof.[105] Die oorgrote meerderheid Libiese Moslems behoort aan die Soenni-Islam, wat beide 'n spirituele gids vir individue is en 'n hoeksteen van die regeringsbeleid. 'n Klein minderheid (tussen 5 en 10%) is volgelinge van Ibadisme, veral in die Dzjebel Nefoessa en in Zoewarah.
Vóór die 1930's was die Senoessi-beweging die primêre Islamitiese beweging in Libië. Die beweging was 'n godsdienstige herlewing wat by die woestynleefwyse aangepas is. Die beweging het geloofshuise of "zaiwa"'s in Tripoliatanië en Fezzan gehad, maar hulle invloed was sterkste in Sirenaïka. Die beweging het dié streek van onrus en anargie gered en die Sirenaïse stamme 'n godsdienstige gehegtheid en gevoelens van eendrag en doelgerigtheid gebied.[106] Hierdie Islamitiese beweging, wat uiteindelik deur beide die Italiaanse inval en die latere Ghaddafi-regering vernietig is,[106] was baie konserwatief en het ietwat verskil van die Islam wat vandag in Libië bestaan. Ghaddafi het verklaar dat hy 'n eerbiedige Moslem is en sy regering ondersteun Islamitiese instellings, asook wêreldwye bekering na Islam.[107] 'n Libiese vorm van Soefisme is ook algemeen in dele van die land.[108]
Behalwe die oorheersende Moslem-meerderheid is daar ook klein Christelike gemeenskappe wat byna geheel en al uit buitelanders bestaan. Daar is 'n klein Anglikaanse gemeenskap in Tripoli, wat bestaan uit Afrikane wat na Libië geïmmigreer het en deel vorm van die Egiptiese bisdom.[109] Daar is ook 'n beraamde 40 000 Rooms-Katolieke in Libië wat deur twee Biskoppe bedien word: een in Tripoli (wat die Italiaanse gemeenskap dien) en een in Benghazi (wat die Maltesiese gemeenskap dien).
Tot onlangs was Libië die tuiste van een van die oudste Joodse gemeenskappe in die wêreld, wat uit ten minste 300 v.C. dateer.[110] 'n Reeks pogrome wat in November 1945 begin het en byna drie jaar voortgeduur het, het Libië se Joodse bevolking drasties verminder.[111] In 1948 was daar ongeveer 38 000 Jode oor in die land. Met Libië se onafhanklikheidswording in 1951 het meeste van die Joodse gemeenskap geëmigreer. Ná die Suezkrisis van 1956 is byna alle Jode gedwing om uit die land te vlug.
Libië se kultuur kan vergelyk word met dié van omliggende Magreb-state. Libiërs beskou hulleself as deel van 'n groter Arabiese gemeenskap. Die Libiese staat is geneig om hierdie gevoel te versterk deur Arabies as die enigste amptelike taal te oorweeg en die leer en selfs die gebruik van die Berbertale te verbied. Libiese Arabiere het 'n erfenis in die tradisies van die nomadiese Bedoeïene en assosieer hulself met 'n spesifieke Bedoeïenestam.
Libië besit nie baie teaters of kunsgalerye nie, alhoewel daar in die laaste paar jaar 'n herlewing in die kunswêreld was en privaatgalerye nou gewild word.[112] Vir 'n lang tydperk was daar ook geen publieke teaters gewees nie en slegs 'n klein aantal bioskope wat buitelandse rolprente vertoon het. Tradisionele volkskultuur is volop en geselskappe verskaf musiek en dansopvoerings by gereelde feeste, beide in Libië en oorsee. Die musiek en dansgewoontes van die Toearegs is gewild in Ghadames en in die suide.
Libiese televisieprogramme is meestal in Arabies, maar saans is daar 'n halfuurlange nuusuitsending in Engels en in Frans. Die regering het streng beheer oor alle uitlaatkleppe van die media. 'n Analise deur die Committee to Protect Journalists het gevind dat Libië se media die nouste beheer word van alle lande in die Arabiese wêreld.[40] Om dit te bekamp, beplan die regering om private media in te bring, 'n inisiatief wat bedoel is om die land se media meer erkenning te gee.[113]
Baie Libiërs besoek die land se strande. Libië se goed bewaarde argeologiese vondsplekke (soos Leptis Magna) is ook gewild en word beskou as die bes bewaarde Romeinse argeologiese vondsplekke in die wêreld.[114]
Die nasie se hoofstad, Tripoli, spog met baie goeie museums en argiewe, onder andere die Regeringsbiblioteek, die Etnografiese Museum, die Argeologiese Museum, die Nasionale Argiewe, die Epigrafiese Museum en die Islamitiese Museum. Die Dzjoemhoerija-museum, wat in oorleg met Unesco gebou is, is moontlik die land se bekendste museum.[115]
Sokker is die gewildste sportsoort in Libië. Die land het die Afrikanasiesbeker 1982 gehuisves en amper vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1986 gekwalifiseer. Die Libiese nasionale sokkerspan het ook amper die AFCON 1982 gewen; hulle het die eindstryd teen Ghana met 6–7 n.s. verloor. In 2014 het Libië die Afrikanasieskampioenskap gewen nadat hulle Ghana in die eindstryd geklop het. Hoewel die nasionale span nog nie 'n vername toernooi gewen of vir 'n Sokker-Wêreldbeker kon kwalifiseer nie, is daar steeds baie passie vir die sport en die gehalte van sokker verbeter.[116]
Perderesies is ook 'n gewilde sport in Libië. Dit is 'n tradisie tydens baie spesiale geleenthede en feesdae.[117]
Instansie | Opname | Rangorde |
---|---|---|
Heritage Foundation/The Wall Street Journal | Indeks van ekonomiese vryheid, 2007 Geargiveer 13 Februarie 2008 op Wayback Machine | 155ste uit 157 |
The Economist | Wêreldwye indeks van lewenskwaliteit, 2005 | 70ste uit 111 |
Energy Information Administration | Grootste oliereserwes volgens land, 2006 | 9de uit 20 |
Verslaggewers Sonder Grense | Indeks van persvryheid, 2005 | 162ste uit 167 |
Transparency International | Korrupsiewaarnemingsindeks, 2007 Geargiveer 4 Junie 2009 op Wayback Machine | 131ste uit 180 |
Ontwikkelingsprogram van die Verenigde Nasies | Menslike Ontwikkelingsindeks, 2005 | 58ste uit 177 |
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite news}}
: |archive-date=
/ |archive-url=
timestamp mismatch (hulp)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
{{cite web}}
: CS1 maint: bot: original URL status unknown (link)
Wikimedia Commons bevat media in verband met Libië. |
Tunisië | Libiese See • Italië • Malta | Libiese See • Griekeland | ||
Algerië | Egipte | |||
Libië | ||||
Niger | Tsjad | Soedan |