Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Mahalia Jackson | |
---|---|
Mahalia Jackson, ca. 1962 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Mahala Jackson |
Gebore | New Orleans, Louisiana | 26 Oktober 1911
Sterf | 27 Januarie 1972 (op 60) Evergreen Park, Illinois |
Genres | Gospel |
Beroep(e) | Sanger |
Instrumente | Stem |
Jare aktief | 1927–1971 |
Etikette | Decca Coral, Apollo, Columbia |
Assosiasies | Albertina Walker, Aretha Franklin, Dorothy Norwood, Della Reese, Cissy Houston, Milton Brunson |
Mahalia Jackson (26 Oktober 1911 – 27 Januarie 1972) was 'n Afro-Amerikaanse gospelsangeres. Sy was veral bekend vir haar kragtige, eiesoortige altstem en het een van die invloedrykste gospelsangeresse ter wêreld geword en so die eretitel "Queen of Gospel Music" gekry. Sy het sowat 35 langspelers (meesal by Columbia Records) opgeneem en onder haar kortspelers was talle wat goue status (meer as 'n miljoen verkope) bereik het.
Jackson het in 1927 op die ouderdom van sestien uit die Suide van Amerika na Chicago verhuis. Ná haar eerste kerkdiens daar, waartydens sy spontaan haar gunstelinglied, "Hand Me Hand Me Down My Favorite Trumpet, Gabriel" gesing het, is sy genooi om aan te sluit by die kerkkoor van die Baptistekerk Greater Salem. Kort voor lank het sy in talle kerk in die stad en omgewing opgetree saam met die Johnson Gospel Singers, een van die eerste beroepsgospelgroepe.[1] In 1929 ontmoet sy die komponis Thomas A. Dorsey, wat baanbrekerswerk in gospelmusiek gedoen het. Hy het haar musikale raad gegee en in die middel van die volgende dekade het hulle 14 jaar lange verbintenis begin waartydens hulle getoer en Jackson sy liedjies in kerke en op konvensies gesing het. Sy "Take My Hand, Precious Lord" het mettertyd haar kenmerkendste liedjie geword.[2]
In 1936 trou Jacskon met Isaac (Ike) Lanes Grey Hockenell, wat tien jaar ouer as sy was. Mahalia het deurgaans geweier om sekulêre musiek te sing, selfs toe sy dikwels geld aangebied is om van dié standpunt af te sien. Sy skei in 1941 omdat haar man volgehoue druk op haar toegepas het om wel sekulêre musiek te sing en vanweë sy verslawing aan dobbel op perdewedrenne.
"You Better Run, Run, Run" was in 1931 Jackson se eerste opname, maar dis onverkrygbaar. Omstreeks dié tyd verander sy haar naam van "Mahala" na "Mahalia". Op 21 Mei 1937, toe sy 26 was, neem sy by die Decca-platemaatskappy haar tweede stel plate op met klavierbegeleiding deur Estelle Allen, in die volgorde: "God's Gonna Separate The Wheat From The Tares", "My Lord", "Keep Me Everyday", en "God Shall Wipe All Tears Away". Die het nie geld ingebring nie, daarom laat Decca haar gaan.
In 1947 teken sy 'n kontrak met die Apollo-platemaatskappy en neem in 1948 die William Herbert Brewster-liedjie "Move On Up A Little Higher". Dit was so gewild dat platewinkels skaars kon voorbly en uiteindelik altesaam agt miljoen eksemplare verkoop het. Net op grond van die verstommende sukses het Jackson oornag hoogs gewild in die VSA geword en kort daarna ook in Europa. Sy het toe wyd getoer as konsertkunstenaar en meer dikwels in konsertsale as in kerke opgetree. Weens dié verandering, het haar musiekverwerkings uitgebrei van net klavier en orrel na volledige orkesbegeleiding.
Ander opnames is wyd geloof, waaronder "Let the Power of the Holy Ghost Fall on Me" 1949),wat 'n Grand Prix du Disque van die Franse Akademie ontvang het, en "Silent Night, Holy Night", wat een van die topverkopers in Noorweë se plategeskiedenis is. Van haar ander opnames is onder meer: "He Knows My Heart" (1946), "Amazing Grace" (1947), "Tired" (1947), "I Can Put My Trust in Jesus" (1949), "Walk with Me" (1949), "Let the Power of the Holy Ghost Fall on Me" (1949), "Go Tell It on the Mountain" (1950), "The Lord's Prayer" (1950), "How I Got Over" (1951), "His Eye is on the Sparrow" (1951), "I Believe" (1953), "Didn't It Rain" (1953), "Hands of God" (1953) en "Nobody Knows" (1954).[3]
Een van die hoogtepunte van Jackson se loopbaan was op 28 Augustus 1963 tydens 'n grootskaalse protesoptog by die Lincoln Memorial in die Amerikaanse hoofstad, Washington D.C. Op versoek van dr. Martin Luther King, Jr. sing sy vir die skare van meer as 200 000 "I've Been Buked and I've Been Scorned" en "How I Got Over". Danksy geldelike steun en haar deelname aan die optogte, wat King byeengeroep het, het sy 'n groot bydrae gelewer tot die bevryding van swart Amerikaners, hand aan hand met voorvegters teen diskriminasie soos King, sy vrou, Coretta Scott King, en Rosa Parks, wie se weiering in 1955 om haar sitplek op 'n bus aan 'n wit passasier af te staan toe sy versoek is om dit op grond van haar ras te doen, aanleiding gegee het tot 'n busboikot in Montgomery, Alabama. Jackson was lidmaat van dieselfde Baptistekerk as King en sy vrou.
Mahalia Jackson is vroeg in 1972 in haar aangenome tuisstad aan hartversaking en diabetes oorlede. Twee stede, Chicago en New Orleans (haar geboortestad), het amptelik hulde aan haar gebring. Sowat 50 000 bewonderaars het in stilte verby haar kis (van mahoniehout met 'n glasdeksel) verbygestap om hulle laaste eer aan haar te betoon buite die Baptistekerk Greater Salem, waar haar sangtalent 45 jaar vantevore die eerste keer opgemerk is. Die volgende dag het meer as 6 000 die stad se openbare konsertsaal volgepak vir 'n twee uur lange begrafnisdiens. Haar leraar, die burgemeester en Coretta Scott King het haar geprys as "a friend - proud, black and beautiful". Sammy Davis Jr. en Ella Fitzgerald het ook hulde aan Jackson gebring. Aretha Franklin het die diens afgesluit met 'n roerende weergawe van "Take My Hand, Precious Lord".
Jackson word allerweë as een van die groot stemme van die twintigste eeu en die grootste gospelsanger van alle tye beskou. Haar musiek is tydens haar leeftyd meesal net deur gospel- en Christenradiostasies gespeel. Haar goeie vriend Martin Luther King Jr. het gesê: "A voice like hers comes along once in a millennium.".