| |||||
Nasionale leuse: Unity in diversity[1] (Engels vir: "Eenheid in verskeidenheid") | |||||
Volkslied: O Arise, All You Sons[2] (Engels vir: "O staan op, al jou seuns") Koninklike volkslied: God Save the King (Engels vir: "God beskerm die koning") | |||||
Hoofstad | Port Moresby | ||||
Grootste stad | Port Moresby | ||||
Amptelike tale | Engels, Hiri Motu, Tok Pisin en Papoea-Nieu-Guinese gebaretaal[3][4] | ||||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike monargie Charles III Bob Dadae James Marape | ||||
Onafhanklikheid | van Australië 1 Julie 1949 16 September 1975 | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
462 840[3] km2 (57ste) 178 700 myl2 2 | ||||
Bevolking - 2023-skatting - 2011-sensus - Digtheid |
9 819 350[3] (93ste) 7 275 324[5] 15 / km2 (201ste) 38,8 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2021) | 0,558[7] (156ste) – laag | ||||
Gini (2009) | 41,9[8] – medium | ||||
Geldeenheid | Kina (PGK )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
AOST (UTC+10, +11) nie toegepas nie (UTC+10, +11) | ||||
Internet-TLD | .pg | ||||
Skakelkode | +675 |
Papoea-Nieu-Guinee (PNG; Engels: Papua New Guinea; Tok Pisin: Papua Niugini; Hiri Motu: Papua Niu Gini), amptelik die Onafhanklike Staat Papoea-Nieu-Guinee (Engels: Independent State of Papua New Guinea, Tok Pisin: Independen Stet bilong Papua Niugini, Hiri Motu: Independen Stet bilong Papua Niu Gini), is ’n eilandstaat in Oseanië net suid van die ewenaar met ’n oppervlakte van 462 840 km² en ’n bevolking van 9 819 350 in 2023. Papoea-Nieu-Guinee is oos van Indonesië, suidoos van Palau, suid van die Gefedereerde State van Mikronesië, wes van Nauru en die Salomonseilande en noord van Australië geleë. Die hoofstad en grootste stad is Port Moresby wat in die suide van die land langs die Koraalsee geleë is en die Nasionale Hoofstaddistrik (Engels: National Capital District, NCD) vorm.
Papoea-Nieu-Guinee is naas Madagaskar en Indonesië die derde grootste eilandstaat in die wêreld. Dit bestaan uit die oostelike deel van die eiland Nieu-Guinee, wat die grootste deel vorm, die Bismarckargipel met groot eilande soos Nieu-Brittanje en Nieu-Ierland asook die outonome gebied rondom die eiland Bougainville, wat geografies, maar nie polities nie tot die Salomonseilande behoort. Naas al die eilande word die Papoea-Nieu-Guinese geografie veral deur die Bismarcksee in die noorde en die Salomonssee in die suidooste gekenmerk. Van die eilandstaat se langste riviere is die Fly en die Sepik. Albei riviere ontspring in die sentrale Viktor Emmanuel-bergreeks in die Westelike provinsie; terwyl die Fly in die suidelike Koraalsee uitmond, vloei die Sepik in die noordelike Bismarcksee.
Papoea-Nieu-Guinee is ’n grondwetlike monargie binne die Britse Statebond met Charles III as staatshoof. Die land het op 16 September 1975 van Australië onafhanklik geword, nadat Papoea-Nieu-Guinee deur sy suidelike buurland vir sowat 60 jaar regeer is. Tot die Eerste Wêreldoorlog is die eiland Nieu-Guinee deur drie koloniale magte beheers: Die Duitse Keiserryk in die noorde, die Verenigde Koninkryk in die suide en Nederlands-Indië in die weste. Op 1 Julie 1949 is die Australiese gebiede van Papoea en Nieu-Guinee as die Gebied Papoea en Nieu-Guinee saamgesluit. Dit is sedert 1976 ’n waarnemerland van ASEAN en het in 2015 sy aansoek ingedien vir volle lidmaatskap.[9]
Papoea-Nieu-Guinee is een van die kultureel mees diverse lande in die wêreld. Hier word sowat 851 verskillende tale gepraat,[10] waaronder die Engelse kreooltaal Tok Pisin, die Austronesiese taal Hiri Motu en verskeie Papoeastale wat nie ’n taalfamilie in sy eie reg vorm nie, maar ook nie tot een van die ander taalfamilies behoort nie. Die Trans-Nieu-Guinese tale is die grootste taalfamilie binne die Papoeastale.
Die woord papua is afgelei van ’n ou plaaslike term met ’n onbekende herkoms.[11] “Nieu-Guinee” (Nueva Guinea) was die benaming wat deur die Spaanse ontdekkingsreisiger Yñigo Ortiz de Retez gegee is. In 1545 het hy na die ooreenkoms van die mense met dié wat hy voorheen langs die Guinese kus van Afrika gesien het verwys. Guinee, op sy beurt, is etimologies ontleen aan die Portugese woord Guiné. Die naam is een van verskeie toponieme met ’n gemeensame etimologie, met die oorspronklike betekenis “land van die swartes” of ’n soortgelyke, en verwys na die donker velkleur van sy bevolking.
Volgens argeologiese opgrawings het die eerste mense hulle sowat 42 000 of 45 000 jaar gelede in Papoea-Nieu-Guinee gevestig. Hulle was nasate van migrante uit Afrika en hulle het hulle in een van die eerste migrasiebewegings in die geskiedenis van die mensdom kom vestig.[12]
Die landbou is apart van ander streke rondom 7000 v.C. in die Nieu-Guinese hooglande ontwikkel, wat van Papoea-Nieu-Guinee een van min streke wêreldwyd maak, waar mense op hul eie plante gekweek het.[13] Rondom 500 v.C. het Austronesiese volke tydens ’n grootskaalse migrasie hulle langs kusgebiede van Nieu-Guinee gevestig. Dit het met die invoering van pottebakkery, varke en sekere hengeltegnieke gepaard gegaan.
Gedurende die 18de eeu het handelaars Patats na Nieu-Guinee gebring, waar dit aangeneem is en deel van die krammetjies geword het. Portugese handelaars het dit van Suid-Amerika saamgeneem en op die Molukke-eilande ingevoer.[14] Die veel hoër oesopbrengste uit patattuine het die tradisionele landbou en samelewing radikaal verander. Patats het die vorige stapelvoedsel, taro, grootliks vervang, en tot ’n groot bevolkingsgroei in die hooglande gelei.
Alhoewel teen die laat 20ste eeu koppesnellery en kannibalisme prakties uitgeroei is, is hulle in die verlede in baie dele van die land as deel van rituele wat met oorlogvoering verband gehou het en waarin vyandelike geeste of magte ingeneem is, beoefen.[15][16] In 1901 het die sendeling Harry Dauncey sowat 10 000 skedels in die langhuise op Goaribari-eiland in die Golf van Papoea ontdek, ’n voorbeeld van verlede praktyke.[17] Marianna Torgovnick het in 1991 die volgende geskryf: “Die mees gedokumenteerde gevalle van kannibalisme as ’n sosiale instelling kom uit Nieu-Guinee, waar kopjag en rituele kannibalisme in sekere afgesonderde gebiede oorleef het tot in die vyftiger-, sestiger- en sewentigerjare, en steeds spore binne sekere sosiale groepe oorlaat.”[18]
Tot in die 19de eeu was in Europa min bekend oor die eilande, alhoewel Portugese en Spaanse ontdekkingsreisigers soos Jorge de Menezes en Yñigo Ortiz de Retez van die eilande reeds in die 16de eeu verken het. Handelaars van Suidoos-Asië het Nieu-Guinee 5000 jaar gelede begin besoek om Paradysvoëlvere te versamel.[19]
Die land se dubbelnaam het sy oorsprong in die komplekse administratiewe geskiedenis voor sy onafhanklikheid. Die Nederlanders het die westelike deel van die eiland in 1828 verower, terwyl die oostelike deel nog nie deur koloniale magte verower is nie. Die Duitse Keiserryk en die Verenigde Koninkryk het egter ’n wedloop om die vrye deel van die eiland begin. Nadat Duitse kapteins en die ornitoloog Otto Finsch langs die noordkus vlae gehys het, het albei lande in 1885 ooreengekom om die oostelike helfte van die eiland weereens in twee te deel.
Die noordelike deel is Keiser-Wilhelm-Land genoem en as ’n “beskermde gebied” deur ’n groot Duitse koloniale geselskap, die Nieu-Guinee-Kompanjie, beheer. In 1914 het, ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, Australiese troepe Duits-Nieu-Guinee tydens ’n klein militêre veldtog verower en regdeur die oorlog beset. Ná die oorlog, waarin Duitsland en die ander Sentrale Moondhede verslaan is, het die Volkebond Australië gemagtig om dié gebied, wat nou as Gebied Nieu-Guinee bekend gestaan het, as ’n Volkebondmandaat te administreer.
Die suidelike helfte van die land is vanaf 1884 deur die Verenigde Koninkryk as Brits-Nieu-Guinee gekoloniseer. Met die Papoea-Wet van 1905 oorhandig die Verenigde Koninkryk dié gebied aan die nuut gestigte Gemenebes Australië, wat die administrasie oorgeneem het. In 1905 is Brits-Nieu-Guinee na Gebied Papoea hernoem. In teenstelling met die vestiging van ’n Australiese mandaat in die voormalige Duits-Nieu-Guinee het die Volkebond bepaal dat Papoea ’n eksterne gebied van die Australiese Gemenebes sou wees; dit het as ’t ware ’n Britse besitting gebly. Die verskil in hul regstatus het meegebring dat Papoea en Nieu-Guinee tot in 1949 heeltemal aparte administrasies gehad het, en albei is deur Australië beheer. Hierdie voorwaardes het bygedra tot die kompleksiteit van die organisering van die land se regstelsel ná sy onafhanklikheid.
In Desember 1941 het Japannese troepe die noorde van die eiland verower en beheer oorgeneem. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was die Nieu-Guinese veldtog (1942–1945) een van die belangrike militêre veldtogte tussen die Japannese Keiserryk en die Geallieerdes. Die hoofstad Port Moresby het tydelik as hoofkwartier van die Amerikaanse generaal Douglas MacArthur gedien. Omtrent 216 000 Japanese, Australiese en Amerikaanse soldate het gesneuwel.[20] Langs die kus kan nog baie skeepswrakke uit hierdie tydperk aangetref word. Ná die Tweede Wêreldoorlog en die oorwinning van die Geallieerdes is die twee gebiede tot die Gebied Papoea en Nieu-Guinee saamgevat. Ná dié gebied is later as “Papoea-Nieu-Guinee” verwys.
Die westelike deel van die eiland was tot in 1962 onder Nederlandse beheer (Nederlands-Indië) en is toe deur Indonesië geannekseer (provinsies Papoea en Papoea Barat).
Die inheemse bevolking van Papoea het by die Verenigde Nasies vir toesig en onafhanklikheid gepleit. Op 16 September 1975 het die land sy onafhanklikheid van Australië verkry en ’n Britse realm met Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk as sy staatshoof geword. Papoea-Nieu-Guinee handhaaf ’n noue verbintenis met Australië, wat as dié land se grootse hulpskenker optree. Papoea-Nieu-Guinee het op 10 Oktober 1975 ’n lidland van die Verenigde Nasies geword.[21]
’n Sessionistiese opstand op Bougainville in 1975–76 het tot ’n elfuur-wysiging aan die konsepgrondwet van Papoea-Nieu-Guinee gelei, waarvolgens Bougainville en die ander agtien distrikte ’n kwasi-federale status as provinsies verkry het. In 1988 het op Bougainville ’n nuwe opstand uitgebreek wat tot sy beëindiging in 1997 sowat 20 000 lewens geëis het. Bougainville was die primêre mynstreek van die land en het sowat 40% van die nasionale begroting bygedra. Die inheemse volke het gevoel dat hulle die nadelige gevolge van die mynbou, wat die land, water en lug vergiftig het, dra sonder om ’n billike deel van die winste te verkry.[22]
Die regering en rebelle het ’n vredesooreenkoms uitgevaardig, waarvolgens die Outonome Distrik en Provinsie Bougainville gestig is. Die outonome Bougainville het in 2005 Joseph Kabui as president verkies wat tot en met sy dood in 2008 gedien het. Hy is deur sy adjunk John Tabinaman as waarnemende president opgevolg, terwyl ’n verkiesing vir die onverstroke termyn gereël is. James Tanis het dié verkiesing in Desember 2008 gewen en tot die inhuldiging van John Momis, die wenner van die 2010-verkiesings, gedien. As deel van die huidige vredesooreenkoms is tussen 23 November en 7 Desember 2019 ’n niebindende onafhanklikheidsreferendum gehou. Die vraag van die referendum was oor groter outonomie binne-in Papoea-Nieu-Guinee of volle onafhanklikheid vir Bougainville, en die meerderheid aan stemgeregtigdes (98,31%) het vir Bougainville se volle onafhanklikheid gestem.[23]
Verskeie Chinese werk en bly in Papoea-Nieu-Guinee en hulle het Chinese gemeenskappe in dié land gevestig. Chinese handelaars het hulle reeds voor die Europese verkenning op die eiland gevestig. In Mei 2009 het Anti-Chinese onluste, waaraan derduisende mense deelgeneem het, uitgebreek. Die aanvanklike vonk was ’n geveg tussen Han-Chinese en inheemse werknemers by ’n nikkelfabriek wat deur ’n Chinese maatskappy gebou is. Inheemse wraak teen die Chinese eienaarskap van talle klein ondernemings en hul kommersiële monopolie op die eilande het tot die oproer gelei. Die Chinese is al lank handelaars in Papoea-Nieu-Guinee.[24][25]
Vanaf Maart tot April 2018 het ’n reeks aardbewings Papoea-Nieu-Guinee geteister en groot skade veroorsaak. Verskeie nasies van Oseanië, Australië, Filippyne en Oos-Timor het dadelik hulp na die land ontplooi.[26][27]
Met ’n oppervlakte van 462 840 km² is Papoea-Nieu-Guinee die wêreld se 54ste grootste land en derde grootste eilandstaat.[28] Insluitende al sy eilande lê dit tussen die breedtegrade 0° en 12°S, asook die lengtegrade 140° en 160°O. Dit beslaan ook ’n eksklusiewe ekonomiese sone van 2 402 288 km². Sowat 80% van die oppervlakte word deur die oostelike helfte van die bergagtige eiland Nieu-Guinee beslaan. Daarnaas is daar baie eilande en eilandgroepe. Papoea-Nieu-Guinee behoort aan die Pasifiese gebied Melanesië wat van Nieu-Guinee in die weste tot Fidji in die ooste strek. In geografiese opsig is Nieu-Guinee langs ’n diep oseaniese bekken op ’n sterk vervormde en vandag vulkanies aktiewe gedeelte van die aardkors geleë. Vanaf die Mioseen tot die Pleistoseen is die aardoppervlakte hier sterk gevou en het van die baaie, bergreekse en eilandkettings gevorm.
Dit is noord van die Australiese vasteland geleë en die land se geografie is divers en soms uiters ruig. ’n Bergrug, die Nieu-Guinese Hooglande, loop dwarsdeur die eiland Nieu-Guinee, en vorm ’n lewendige hooglandstreek wat grootliks met tropiese reënwoud bedek is en die langgestrekte Papoease Skiereiland, bekend as “Voëlstert”, insluit. Digte reënwoude bedek die laagland en kusgebiede, en baie groot vleilande omring beide die Sepik en Fly-riviere. Hierdie oppervlak maak dit vir die land moeilik om ’n infrastruktuur vir vervoer op te rig. Van die gebiede kan net by voet of met ’n vliegtuig bereik word. Die hoogste bergspits is Berg Wilhelm met ’n hoogte van 4 509 m. Die Papoea-Nieu-Guinese eilande word omring deur koraalriwwe wat, ten einde van bewaring, streng beskerm word.
Die land is geleë op die Pasifiese Ring van Vuur, waar verskeie tektoniese platte met mekaar bots. Daar is ’n aantal aktiewe vulkane en uitbarstings gebeur reëlmatig. Aardbewings is ook algemeen en tree soms saam met tsoenamis op.
Die vasteland van Papoea-Nieu-Guinee is op die oostelike helfte van die eiland Nieu-Guinee, waar ook die grootste stede soos die hoofstad Port Moresby en Lae lê; van die ander belangrike eilande is Nieu-Brittanje, Nieu-Ierland, Bougainville en die Bismarckargipel.
Binne-in die Hoogland is snags ryp moontlik, terwyl dit langs die kus gedurende die hele jaar snags en bedags sowat 30°C warm is. Terwyl dit in die naburige Noord-Australië meestal droër en warmer is, is dit langs die Nieu-Guinese kus meestal tropies warm en vogtig. Langs sommige kusstreke is die humiditeit besonder hoog. Die winde en moesons, gelei deur die berge, versorg die hele land gereeld met tropiese reënbuie.
Papoea-Nieu-Guinee is een van min gebiede langs die ewenaar waar sneeu voorkom, veral in die hoogliggende gebiede van die hoofeiland.
Die grens tussen Papoea-Nieu-Guinee en Indonesië is voor sy onafhanklikheid in verdrae met Australië in 1974 bepaal.[29] Die landgrens loop langs ’n deel van die lengtegraad 141°O vanaf die noordkus tot by die Fly-rivier, waar dit in ’n oostelike rigting vloei, dan ’n klein kurwe langs dié rivier se thalweg tot waar dit die lengtegraad 141°01'10"O ontmoet en weswaarts vloei, vanaf daar in ’n suidelike rigting tot by die suidkus.[29] Volgens die anneksasieproklamasie in 1828 het die lengtegraad 141°O die oostelike grens van Nederlands-Guinee gevorm.[30] In 1895 het Nederland en die Verenigde Koninkryk ooreengekom om die hele linkeroewer van die Flyrivier aan Brits-Nieu-Guinee te gee en die suidelike grens tot by die Torasi-monding te verskuif.[30]
Die maritieme grens met Australië is deur ’n verdrag in 1978 bepaal.[31] Binne die Torres-straat loop dit naby die kus van Nieu-Guinee, waarvolgens die aangrensende noordwestelike Straat van Torres-eilande (Dauan, Boigu en Saibai) onder Australiese beheer bly. Die maritieme grens met die Salomonseilande is in ’n 1989-verdrag bevestig.
Papoea-Nieu-Guinee behoort aan die Austral-Asiatiese gebied, wat ook Australië, Nieu-Seeland, Oos-Indonesië, en ’n aantal Pasifiese eilandgroepe soos die Salomonseilande en Vanuatu insluit.
In geologiese opsig is Nieu-Guinee ’n noordelike verlenging van die Indo-Australiese tektoniese plaat en behoort aan ’n enkele landmassa, Australië-Nieu-Guinee (ook bekend as Sahoel of Meganesië). Dit word met die Australiese deel deur ’n vlak vastelandsplaat regdeur die Torres-straat verbind, wat voorheen, veral tydens ystydperke ’n landbrug gevorm het, toe die seevlak laer was as hedendaags.
Vervolgens het baie Nieu-Guinese spesies van voëls en soogdiere noue genetiese skakels met hul Australiese eweknieë. ’n Opvallende kenmerk wat die twee landmassas in gemeen het, is die bestaan van verskeie soorte buideldiere, waaronder ’n aantal kangaroes en pikke wat nie elders aangetref word nie. Papoea-Nieu-Guinee is ’n megadiverse land.
Baie van die ander Papoea-Nieu-Guinese eilande, insluitende Nieu-Brittanje, Nieu-Ierland, Bougainville, die Admiraliteitseilande, die Trobriand-eilande en die Louisiade-argipel, was nooit deur ’n landbrug met Nieu-Guinee verbind nie. Vervolgens beskik hulle oor hul eie flora en fauna; byvoorbeeld leef baie van die landsoogdiere en landgebonde voëls wat in Nieu-Guinee en Australië voorkom nie op hierdie eilande nie.
Australië en Nieu-Guinee is oorblyfsels van die superkontinent Gondwana, wat tydens die Kryt, 65–130 miljoen jaar gelede, in kleiner kontinente begin opbreek het. Australië het sowat 45 miljoen jaar gelede van Antarktika weggebreek. Al die Austral-Asiatiese gebiede huisves die Antarktiese flora, nasate van die Flora van Suid-Gondwana, insluitende naaldbome soos Podocarpaceae en Araucaria, en die suidelike breëblaarbeuk (Nothofagus). Hierdie plantfamilies is nog steeds in Papoea-Nieu-Guinee teenwoordig.
Aangesien die Indo-Australiese Plaat (waarop die vastelande van Indië en Australië, asook die Indiese Oseaan binne-in lê) in ’n noordelike rigting dryf, bots dit met die Eurasiese Plaat. Hierdie botsing het die Himalaja, die Indonesiese eilande en die Nieu-Guinese bergreeks opgestoot. Die bergreeks is heelwat jonger en hoër as die Australiese bergreeks; dit is selfs só hoog, dat dit skaarse ekwatoriale gletsers bevat. Nieu-Guinee vorm deel van die vogtige trope en baie Indo-Maleise reënwoudplante het oor die noue seestrate van Asië versprei en met die ou Floraryk van Australië en Antarktika vermeng.
Papoea-Nieu-Guinee sluit ’n aantal ekostreke in:
Drie nuwe spesies soogdiere is in die woude van Papoea-Nieu-Guinee deur ’n Australies-aangevoerde ekspedisie ontdek. ’n Klein wallaby, ’n grootoormuis en ’n skeeragtige buideldier is ontdek. Dié ekspedisie was ook suksesvol aangesien foto’s en video’s van ander skaars diere soos die Tenkile-boomkangaroe en die Weimang-boomkangaroe geneem is.[32] Papoea-Nieu-Guinee beskik oor ’n gemiddelde telling van 8.84/10 in die Forest Landscape Integrity Index en is op die 17de plek van 172 lande wêreldwyd.[33] Wortelboommoerasse groei langs die kus, in die binneland groei nipapalms (Nypa fruticans) en in die diepste binneland van die eiland kom die sagopalm (Metroxylon sagu) langs die valleie van groot riviere voor. Bome soos eike, rooi seders (Toona sureni), denne en beuke oorheers die boland bo 1 000 m. Papoea-Nieu-Guinee is ryk aan ’n verskeidenheid spesies reptiele, inheemse varswatervisse en voëls, maar dit is amper sonder groot soogdiere.
Volgens ’n nuwe satellietstudie van die streek sal met die huidige spoed van ontbossing volgens skattings teen 2021 meer as die helfte van die Papoea-Nieu-Guinese bosse verdwyn of ernstige skade ondergaan.[34] Omtrent ’n kwart van die Papoea-Nieu-Guinese reënwoude is tussen 1972 en 2002 beskadig of afgekap.[35]
Op 25 Februarie 2018 het ’n aardbewing van 7,5 en ’n diepte van 35 kilometer die sentrum van Papoea-Nieu-Guinee getref.[36] Die ergste skade was rondom die Suidelike Hooglandstreek. Op 1 Maart 2018 was daar 31 aangemelde sterftes, en die getal sou na verwagting styg.[37]
Papoea-Nieu-Guinee is ’n Britse realm met Elizabeth II as koningin van Papoea-Nieu-Guinee. Beide die grondwetgewende vergadering, wat die konsepgrondwet voorberei het, en Australië, die uitgaande koloniale mag, het gedink dat Papoea-Nieu-Guinee nie ’n monargie sou bly nie. Die stigters het egter gemeen dat koninklike eerbewyse ’n goeie stempel vir die nuwe nasie sou wees.[38] Die monarg word deur die goewerneur-generaal van Papoea-Nieu-Guinee, tans Bob Dadae, verteenwoordig. Papoea-Nieu-Guinee (en die Salomonseilande) is onder die Britse realms ongewoon, aangesien in albei die goewerneur-generaal deur die wetgewer pleks van die uitvoerende tak verkies word.
Die eerste minister sit die kabinet voor, wat uit 31 parlementslede van die sittende koalisie bestaan en die regering vorm. Die huidige eerste minister is James Marape. Die eenkamer-nasionale parlement bestaan uit 111 setels, waarvan 22 deur die goewerneurs van die 22 provinsies en die Nasionale Hoofstaddistrik (NCD) ingeneem word. Parlementskandidate word verkies wanneer die eerste minister die goewerneur-generaal vir ’n nasionale verkiesing vra, maar nie later as vyf jaar ná die vorige nasionale verkiesing nie.
Gedurende die eerste jare na onafhanklikheid het die instabiliteit van die partystelsel in die parlement tot reëlmatige mosies van wantroue en vervolgens nuwe regerings gelei, maar ná die verwysing aan die stemgeregtigdes gebeur nasionale verkiesings net al om die vyf jaar. In onlangse jare het opeenvolgende regerings wetgewing goedgekeur wat verkiesings ná minder as 18 maande en 12 maande voor die volgende verkiesing verhoed. In Desember 2012 is die eerste twee (van drie) lesings goedgekeur wat mosies van wantroue binne-in die eerste 30 maande verhoed. Dié beperking van mosies van wantroue het waarskynlik tot meer stabiliteit maar ook minder verantwoordelikheid van die sittende regering teenoor die parlement gelei.
Verkiesings in Papoea-Nieu-Guinee lok talle kandidate. Ná onafhanklikheid in 1975 is parlementslede volgens ’n meerderheidstelsel verkies, waarvolgens parlementslede gewoonlik met minder as 15% verkies is. In 2001 is deur verkiesingshervormings die beperkte voorkeurstem-stelsel (LPV), ’n weergawe van die alternatiewe verkiesing, ingevoer. Die 2007-verkiesings was die eerste wat hierdie verkiesingstelsel gebruik het.
In 2011 het Papoea-Nieu-Guinee ’n grondwetlike krisis ondergaan tussen die deur die parlement verkose eerste minister Peter O’Neill (wat deur ’n groot meerderheid LPs verkies is) en Michael Somare (wat deur die Hooggeregshof geag is (in ’n Desember-mening, 3:2) om in sy pos aan te bly. Die konflik tussen die parlement en die Hooggeregshof het tot by die verkiesings in Julie 2012 geduur, waarna die wetgewende vergadering die hoofregter se pos geskrap en die lede van die Hooggeregshof onder groter beheer deur die parlementslede geplaas het, maar hulle het ook ’n reeks ander wette soos ’n ouderdomsbeperking vir ’n eerste minister goedgekeur. Die konfrontasie het ’n hoogtepunt bereik, toe die adjunkpremier, begelei deur polisiebeamptes, die Hooggeregshof tydens ’n verhoor binnegetree het om skynbaar die hoofregter in hegtenis te laat neem. Daar was ’n groot druk op sommige LPs om die nasionale verkiesing vir ses maande tot een jaar uit te stel, hoewel hul mag om dit te doen uiters twyfelagtig was.
Die verkose premier en ander koelkop-parlementslede het die lasbriewe wat vir die nuwe verkiesing noodsaaklik was, effens laat saamgestel, maar hulle was nog betyds waarvolgens die verkiesings volgens planne kon verloop, waarvolgens ’n voortsetting van die grondwetlike krisis vermy is. Die krisis was by tye gespanne maar grootliks op politici en reglui, saam met enkele polisie-faksies, beperk. Die bevolking en openbare diens (insluitende die meeste polisie- en weermaglede) het teruggestaan. Dit was in ’n tydperk toe die publiek en studente, met ’n toenemende toegang tot die telekommunikasie en die gebruik van sosiale media (veral Facebook en selfone), ’n rol gespeel het om selfbeheersing te behou en van die leierskap verwag het om aan grondwetlike prosesse te voldoen. Hulle het daarop aangedring om by die verkiesing te hou, sodat die mense kan sê wie hul wettige verteenwoordigers vir die volgende vyf jaar sal wees.
Kragtens ’n wysiging in 2002 word die leier van die party wat die meerderheid setels in die verkiesing verower het, deur die goewerneur-generaal opdrag gegee om die regering te vorm. Die proses om op dié wyse ’n koalisie te vorm, waar partye nie oor baie ideologie beskik nie, behels aansienlike koehandel tot op die laaste oomblik. Peter O’Neill het ná die verkiesing in Julie 2012 die eerste minister van Papoea-Nieu-Guinee geword, nadat hy met Leo Dion, die voormalige goewerneur van die Oos-Nieu-Brittanje-provinsie, wat as adjunkpremier aangestel is, ’n regering gevorm het.
Die eenkamerparlement doen wetgewing op die selfde manier soos in ander Britse realms wat die Westminsterstelsel gebruik. Die kabinet stem eenparig saam met die regeringsbeleid, en dan stel die betrokke minister, afhangend van watter staatsdepartement verantwoordelik is vir die uitvoering van ’n bepaalde wet, wetsontwerpe aan die parlement voor. Agterlede van die parlement mag ook wetsontwerpe indien. Die parlement bespreek wetsontwerpe, en (volgens Afdeling 110.1 van die Grondwet) word hulle uitgevaardigde wette, sodra die Speaker sertifiseer dat die parlement dit goedgekeur het. Daar is geen koninklike toestemming in Papoea-Nieu-Guinee nie.
Alle gewone wette wat deur die parlement uitgevaardig word, moet in ooreenstemming met die grondwet wees. Die howe het die bevoegdheid om oor die grondwetlikheid van wette te beslis, hetsy as hulle in geskille aangehoor word of oor ’n verwysing waar daar nie ’n dispuut is nie, maar slegs ’n abstrakte regsvraag. Ongewoon onder ontwikkelende lande het die regterlike tak van die regering in Papoea-Nieu-Guinea opvallend onafhanklik gebly, en opeenvolgende uitvoerende regerings het voortgegaan om sy gesag te respekteer.
Die “onderliggende wet” (die Papoea-Nieu-Guinese gemenereg) bestaan uit beginsels en wette van die gemenereg en gelykheid in Engels,[39] gemenereg soos dit op 16 September 1975 (die onafhanklikheidsdag) was, en daarna die beslissings van die Papoea-Nieu-Guinese howe. Die howe is onder leiding van die grondwet en, ten slotte, die “onderliggende wet” om kennis te neem van die tradisionele gemeenskappe se gebruike. Hulle moet bepaal watter gebruike aan die hele land gemeen is, en dit kan ook as ’n deel van die onderliggende wet verklaar word. In die praktyk het dit uiters moeilik geblyk en is grootliks verwaarloos. Wette word grotendeels uit oorsese jurisdiksies, veral Australië en Engeland, oorgeneem en op Papoea-Nieu-Guinee toegepas. Voorspraak in die howe volg die voorbeeld van die opponerende patroon in ander Gemenebeslande.
Hierdie nasionale hofstelsel, wat in dorpe en stede gebruik word, word deur ’n dorpshofstelsel in die meer afgeleë gebiede ondersteun. Die wet onderliggend aan die dorpshowe is “gewoontereg”.
Papoea-Nieu-Guinee is ’n lidland in internasionale organisasies soos die Beweging van Onverbonde Lande, Britse Statebond, Pasifiese Gemeenskap (SPC), Pasifiese Eilandsforum en die Melanesiese Speerpuntgroep (MSG). In 1976 het dit waarnemende status binne die ASEAN verkry, wat in 1981 in spesiale waarnemerstatus verander is; in 2015 het Papoea-Nieu-Guinee vir volle lidmaatskap aansoek gedoen. Dit is ook ’n lid van APEC en ’n AKP-lidland wat verband hou met die Europese Unie.
Papoea-Nieu-Guinee ondersteun Indonesië se gesag oor Wes-Nieu-Guinee:[40] die spilpunt van die Papoeakonflik waarin talle menseregteskendings deur die Indonesiese veiligheidsmagte opgeteken is.[41][42] In September 2017 het Papoea-Nieu-Guinee in die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad die Wes-Papoease onafhanklikheidspetisie verwerp.[43]
Die Papoea-Nieu-Guinese Verdedigingsmag (PNGDF) is die militêre organisasie wat vir die verdediging van Papoea-Nieu-Guinee verantwoordelik is. Dit bestaan uit drie afdelings. Die landgebonde eenheid, ’n landmag bestaande uit die Koninklike Pasifiese Eilandsregiment, ’n klein spesiale magte-eenheid, ’n bataljon van ingenieurs, en drie ander klein eenhede wat hoofsaaklik met seine en gesondheid werk, sowel as ’n militêre akademie, is gemoeid met die landverdediging van die nasie. Die lugeenheid is ’n klein, onderbefondsde vliegtuigeskader wat bestaan uit twee nutsvliegtuie, en ’n verdere drie wat bestel is, twee gehuurde helikopters, en twee opleiers sodra hulle afgelewer is. Die huidige tak is die vervoer van die ander militêre afdelings. Die watergebonde eenheid is ’n klein vloot wat bestaan uit vier patrolliebote in die Stille Oseaan, drie voormalige Australiese Balikpapan-landingstuigvaartuie en een Guardian-klas patrollieboot. Een van die landingstuie word as ’n oefenskip ingespan. Nog drie patrolliebote van die Guardian-klas word in Australië gebou om die ou skepe van die Pasifiese klas te vervang. Die belangrikste take van die watergebonde eenheid is patrollering van die kuswaters en die vervoer van die landgebonde eenheid. Papoea-Nieu-Guinee beskik oor ’n groot eksklusiewe ekonomiese sone, waarvolgens patrollies met die klein Stille-klas patrolliebote, wat as gevolg van onderbefondsing dikwels nie onderhoubaar is nie, ondoeltreffend is, dus is die watergebonde eenheid baie afhanklik van satellietbeelde om toesig oor die waters te hou. Hierdie probleem sal gedeeltelik reggestel word wanneer al die groter patrolliebote van die Guardian-klas in diens is.
Papoea-Nieu-Guinee word dikwels as die land gelys wat die ergste getref word deur geweld teen vroue.[44][45] Volgens ’n 2013-opname in The Lancet het 27% van Bougainville se mans ’n nieeggenoot verkrag, terwyl 14,1% bendeverkragting gepleeg het.[46] Volgens UNICEF is amper die helfte van die verkragtingslagoffers jonger as 15 jaar en 13% jonger as 7 jaar.[47] Volgens ’n verslag deur ChildFund Australia waarin die voormalige parlementêre dame Carol Kidu aangehaal word, is 50% van diegene wat ná verkragting mediese hulp soek jonger as 16 jaar, 25% jonger as 12 jaar en 10% jonger as 8 jaar.[48]
Die 1971-towerywet het ’n boete van tot twee jaar gevangenisstraf opgelê vir die beoefening van “swartmagie”, totdat dié wet in 2013 herroep is.[49] Volgens skattings word in Papoea-Nieu-Guinee jaarliks sowat 50–150 beweerde hekse vermoor.[50] LGBT-burgers word in Papoea-Nieu-Guinee ook nie beskerm nie. Homoseksuele handelinge is in die land onwettig.[51]
Papoea-Nieu-Guinee is onderverdeel in vier streke, wat nie die primêre administratiewe afdelings is nie, maar baie belangrik is in baie aspekte soos regering, ekonomie, sport en ander aktiwiteite.
Die nasie bestaan uit 22 afdelings op provinsiale vlak: twintig provinsies, die Outonome Streek Bougainville en die Nasionale Hoofstaddistrik. Elke provinsie is weer onderdeel in een of meer distrikte, wat op sy beurt weer op plaaslike vlak uit een of meer gebiede bestaan.
Provinsies is die primêre administratiewe afdelings van die land. Provinsiale regerings is takke van die nasionale regering, aangesien Papoea-Nieu-Guinee nie ’n federasie van provinsies is nie. Die provinsies is soos volg:
|
|
In 2009 het die parlement die stigting van twee bykomende provinsies – Hela (uit dele van die bestaande Suidelike Hoogland-provinsie) en Jiwaka (deur die verdeling van die Westelike Hoogland-provinsie) – goedgekeur.[52] Jiwaka en Hela het op 12 Mei 2012 amptelik provinsies geword.[53] Die stigting van die Hela- en Jiwaka-provinsies is ’n gevolg van die grootste vloeibare aardgasprojek in die land wat in albei provinsies lê. Die regering het 23 November 2019 ingestel[54] as die stemdatum vir ’n niebindende[55] onafhanklikheidsreferendum in die outonome streek Bougainville.[56] In Desember 2019 het die outonome streek se bevolking oorweldigend vir onafhanklikheid gestem, met 97,7% van die stemgeregtigdes wat ten gunste van volle onafhanklikheid was en ongeveer 1,7% ten gunste van ’n groter outonomie.[57]
Papoea-Nieu-Guinee beskik oor ’n rykdom aan natuurlike hulpbronne, insluitende minerale en hernubare hulpbronne, soos woude, visbronne (insluitende ’n groot gedeelte van die wêreld se groot tonynvoorrade), en in sommige gebiede landbou. Die ruwe oppervlakte — bestaande uit hoë bergreekse en groot valleie, moerasse en eilande — en ’n hoë koste vir die ontwikkeling van die infrastruktuur, gepaardgaande met ander faktore (soos wet en orde-probleme in sommige sentras en die stelsel van gebruiklike grondtitels) maak toegang tot die lans moeilik vir buitelandse ontwikkelaars. Plaaslike ontwikkelaars word deur jare se tekorte aan belegging in die onderwys, gesondheid en finansiële dienste gestreem. Landbou, vir bestaans- en kontantgewasse, voorsien sowat 85% van die bevolking aan ’n lewensonderhoud en dra sowat 30% tot die BBP by. Minerale voorkomste soos goud, ruolie en koper, maak 72% van die uitvoerinkomste uit. Die aanplanting van oliepalms het oor die afgelope jare bestendig gegroei (grotendeels op landgoedere en met uitgebreide produksie van buitegroeiers), wat van palmolie nou die belangrikste landbou-uitvoerproduk maak. Koffie bly die belangrikste uitvoeroes (en word veral in die hooglandprovinsies gekweek); gevolg deur kakaobone en kokosolie/kopra van die kusgebiede, elkeen word veral deur kleinboere geproduseer; tee, wat op boedels geproduseer word; en rubber. In 1986 is die Iagifu/Hedinia-veld in Papoea se vou- en druk-gordel ontdek.[58]
Die voormalige eerste minister, Mekere Morauta, het probeer om die integriteit van staatsinstellings te herstel, die kina te stabiliseer, stabiliteit in die nasionale begroting te herstel, openbare ondernemings waar toepaslik te privatiseer, en volgehoue vrede op Bougainville na die 1997-ooreenkoms wat die afskeiding van Bougainville beëindig het te verseker. Die Morauta-regering het aansienlike sukses met die verkryging van internasionale ondersteuning behaal, en het veral ondersteuning van beide die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank verkry om lenings vir ontwikkelingshulp te ontvang.
In 2020 het Papoea-Nieu-Guinee se BBP met 1% gekrimp, terwyl die inflasiekoers 4,7% beloop het.[59] In 2019 het die ekonomie nog met 3,8% gegroei; dié ekonomiese groei is veral teweeggebring deur sterk kommoditeitspryse, veral in die mynbou maar ook in die landbou, met die groot navraag na mineraalprodukte wat grootliks selfs gedurende die krisis in die voorste Asiatiese markte aangehou het, ’n bloeiende mynbousektor en ’n goeie vooruitsigte wat die konstruksiefase wat aardgas se ontginning, vervaardiging en uitvoer in vloeibare vorm (vloeibare aardgas of in Engels Liquid Natural Gas, LNG) deur LNG-tenkskepe, wat almal beleggings van miljarde se dollars benodig (ontginning, produksieputte, pyplyne, stoor, vervloeiingsaanlegte, haweterminale, LNG-tenkskepe).
Die eerste groot aardgasprojek was die gesamentlike onderneming PNG LNG. ExxonMobil is die bestuurder van dié gesamentlike onderneming, wat ook die Papoea-Nieu-Guinese maatskappy Oil Search, Santos, Kumul Petroleum Holdings (Papoea-Nieu-Guinee se nasionale oil- en gas-maatskappy), JX Nippon Oil and Gas Exploration, die Papoea-Nieu-Guinese regering se Ontwikkelingsmaatskappy vir minerale bronne en Petromin PNG Holdings insluit.[60] Dié projek is ’n geïntegreerde ontwikkeling wat die ontginning van aardgas en verwerkingsfasiliteite in die Papoea-Nieu-Guinese provinsies Hela, die Suidelike Hooglande en die Westelike provinsie, maar ook vervloeiings- en stooraanlegte (geleë in die noordweste van Port Moresby) met ’n kapasiteit van 6,9 miljoen ton jaarliks, insluit. Meer as 700 km se pyplyne skakel dié aanlegte met mekaar.[60] Dit is die grootste belegging in die privaatsektor in die Papoea-Nieu-Guinese geskiedenis.[61] ’n Tweede groot projek is gebaseer op aanvanklike regte wat behoort aan die Franse olie- en gas-maatskappy Total SE en die Amerikaanse maatskappy InterOil Corp. (IOC), wat hul bates gedeeltelik saamgevoeg het nadat Total in Desember 2013 ingestem het om 61,3% van IOC se Antelope en Elk gasveldregte te kop, met die plan om hulle vanaf 2016 te ontwikkel, insluitende die oprigting van ’n vervloeiingsaanlegte om LNG uit te voer. Total SE het apart daarvan ’n tweede gesamentlike ondernemingooreenkoms met Oil Search aangegaan.
Bykomende gas- en mineraalprojekte is al voorgestel (waaronder die groot Wafi-Golpu-goud-kopermyn), met ’n volgehoue verkenning dwarsdeur die land.[62]
Die Papoea-Nieu-Guinese regering se langtermyn Visie 2050 en beleidsdokumente met ’n korter termyn, insluitende die 2013-begroting en die 2014-verantwoordelike strategie vir ’n volhoubare ontwikkeling, beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n meer diverse ekonomie, gebaseer op volhoubare nywerhede en die vermyding van die Hollandse siekte se gevolge as gevolg van groot ontginning van hulpbronne wat ander bedrywe ondermyn, soos dit al in baie lande met olie- of ander minerale bome voorgekom het, veral in Wes-Afrika, wat ’n groot deel van hul landbousektor, vervaardiging en toerisme ondermyn, gepaardgaande met breë indiensnemingsvooruitsigte. Maatreëls is getref om hierdie effekte te versag, onder meer deur die stigting van ’n soewereine welvaartsfonds, deels om inkomste- en uitgawevloei te stabiliseer, maar baie sal afhang van die gereedheid om daadwerklike hervormings aan te bring vir die effektiewe gebruik van inkomste, die aanpak van ongebreidelde korrupsie en die bemagtiging van huishoudings en ondernemings tot toegang tot markte, dienste en ’n meer lewendige ekonomie met laer koste veral vir klein tot mediumgrootte ondernemings te ontwikkel. ’n Groot projek wat deur die Papoea-Nieu-Guinese afdeling vir gemeenskapsontwikkeling gedoen is, het voorgestel dat ander weë na ’n volhoubare ontwikkeling oorweeg sal moet word.[63]
Die Instituut van Nasionale Sake, ’n Papoea-Nieu-Guinese onafhanklike politieke dinkskrum, lewer al om die vyf jaar ’n verslag oor die Papoea-Nieu-Guinese sake- en beleggingsomgewing, gebaseer op ’n opname van groot en klein, plaaslike en oorsese maatskappye, wat wet en orde, probleme en korrupsie as die ergste hindernisse uitlig, gevolg deur die swak toestand van vervoer, krag- en kommunikasie-infrastruktuur.[64]
Die Papoea-Nieu-Guinese wetgewer het wette ingestel waarin ’n tipe ampstermyn, “gewone grondtitel” genoem, erken word, wat beteken dat die inheemse bevolking ’n wetlike basis van onvervreembare eiendomsreg vir hul tradisionele lande geniet. Hierdie tradisionele grond beslaan die meeste van die bruikbare grond van die land (ongeveer 97% van die totale grondoppervlakte);[65] vervreemde grond is óf in privaatbesit onder staatshuur óf is regeringsgrond. Slegs Papoea-Nieu-Guinese burgers kom in aanmerking vir eienaarstitels (oftewel eenvoudige fooi).[66]
Net sowat 3% van die Papoea-Nieu-Guinese grond is in privaatbesit; dit word privaat onder huurkontrakte van 99 jaar gehou, of is in staatsbesit. Daar is feitlik geen eiendomsregtitel nie; die paar bestaande eienaars word outomaties in staatskontrakte oorgeskakel wanneer dit tussen verkoper en koper oorgedra word. Onvervreemde grond word deur tradisionele grondeienaars onder gebruiklike titels besit. Die presiese aard van die waarborge wissel van kultuur tot kultuur. Baie skrywers beeld grond uit soos in die gemeenskaplike besit van tradisionele families; nadere studies toon egter gewoonlik dat die kleinste gedeeltes grond waarvan die eienaarskap nie verder verdeel kan word nie, slegs deur die individuele hoofde van uitgebreide families en hul nageslag gehou word as hulle onlangs oorlede is.[verwysing benodig]
Dit is ’n belangrike saak, aangesien ’n probleem van ekonomiese ontwikkeling die identifisering van die lidmaatskap van gewone eienaars is. Geskille tussen mynbou- en bosboumaatskappye en grondeienaarsgroepe gaan dikwels oor die vraag of die maatskappye kontraktuele betrekkinge met die ware eienaars aangegaan het vir die gebruik van grond. Gewone eiendom – gewoonlik grond – kan nie deur ’n testament opgestel word nie. Dit kan slegs volgens die gebruike van die oorledene geërf word. Die Landswet is saam met die Wet op die Inlywing van die Landgroep in 2010 gewysig, ten einde van ’n beter bestuur van staatsgrond, meganismes vir geskilbesleging oor grond, en om gebruiklike grondeienaars, as hulle dit wil ontwikkel vir stedelike of landelike ekonomiese aktiwiteite, beter in staat te stel om toegang tot finansiering en moontlike vennootskappe oor gedeeltes van hul grond te kry. Die Wet op die Oprigting van Landgroepe vereis ’n meer spesifieke identifikasie van die gebruiklike grondeienaars as voorheen en hul meer spesifieke magtiging voordat enige grondreëlings bepaal word (’n groot probleem die afgelope jare was grondgrype, gebruik, of eerder misbruik, van die huur-en-terughuur-bepaling kragtens die Grondwet, veral met hulp van “spesiale landbou- en besigheidskontrakte” (SABLs) om groot stukke gebruiklike grond na bewering vir landbouprojekte aan te skaf, maar in byna alle gevalle as ’n agterdeur-meganisme om tropiese bosbronne vir houtkapping te verkry — om die strengere vereistes van die boswet te omseil, vir die verkryging van houtpermitte (wat aan volhoubaarheidsvereistes moet voldoen en mededingend beveilig moet word, en deur die gebruiklike grondeienaar goedgekeur moet word)). Na aanleiding van ’n nasionale protes is hierdie SABL’s onderhewig aan ’n kommissie van ondersoek wat in die middel-2011 van stapel gestuur is, waarvoor daar nog op die verslag gewag word vir aanvanklike voorlegging aan die eerste minister en die parlement.[verwysing benodig]
Bevolking[67][68] | |||
---|---|---|---|
Jaar | Miljoen | ||
1950 | 1,7 | ||
2000 | 5,6 | ||
2020 | 8,6 |
Met ’n geskatte bevolking van sowat 8,95 miljoen in 2020[69] is Papoea-Nieu-Guinee een van die mees heterogene nasies wêreldwyd.[70] In Papoea-Nieu-Guinee bly meer as ’n honderd verskeie inheemse etniese groepe, waarvan die meeste aan die Papoea's behoort en wie se voorouers tienduisende jaar gelede die Nieu-Guinese streek bereik het. Die ander inheemse etniese groepe is Austronesiërs wie se voorouers sowat vierduisend jaar gelede die gebied bereik het.
Vandag bly in Papoea-Nieu-Guinee ook ’n aantal etniese groepe van ander dele van die wêreld, insluitende Han-Chinese,[71] Europeërs, Australiers, Indonesiërs, Filipino’s, Polinesiërs en Mikronesiërs (die laaste vier behoort aan die Austronesiërs). Sowat 40 000 uitgewekenes, veral uit Australië en die Volksrepubliek China, het in 1975 in Papoea-Nieu-Guinee gebly.[72] 20 000 Australiers bly tans in Papoea-Nieu-Guinee.[73] Hulle verteenwoordig 0,25% van die totale Papoea-Nieu-Guinese bevolking.
Volgens die CIA World Factbook (2018)[3] het Papoea-Nieu-Guinee met 13,2% die tweede laagste stedelike bevolkingspersentasie wêreldwyd net na Burundi. Beide Papoea-Nieu-Guinee se geografie en ekonomie is die hooffaktore vir hierdie lae persentasie. Papoea-Nieu-Guinea het ’n verstedelikingskoers van 2,51%, gemeet as die verwagte verandering in stedelike bevolking vanaf 2015 tot 2020.
In Papoea-Nieu-Guinee word meer tale as in enige ander land wêreldwyd gebesig[74] met meer as 820 inheemse tale wat 12% van die wêreld se totale aantal tale is, alhoewel die meeste minder as ’n duisend moedertaalsprekers het. Met ’n gemiddelde van net 7 000 sprekers per taal het Papoea-Nieu-Guinee ’n groter digtheid aan tale as enige ander nasie behalwe Vanuatu.[75][76] Die mees verspreide inheemse taal is Enga met sowat 200 000 sprekers, gevolg deur Melpa en Huli.[77] Inheemse tale word in twee groot taalgroepe geklassifiseer: Austronesiese tale en nie-Austronesiese tale, oftewel Papoeas. Vier tale geniet in Papoea-Nieu-Guinee statutêre erkenning: Engels, Tok Pisin, Hiri Motu en sedert 2015 die gebaretaal (d.w.s. die Papoea-Nieu-Guinese gebaretaal).
Engels is die taal van die regering en die onderwysstelsel, maar word nie algemeen gebesig nie. Die primêre lingua franca van die land is Tok Pisin (in Engels algemeen as Nieu-Guinese Pidgin of Melanesiese Pidgin bekend), wat meestal vir debatte in die parlement, baie inligtingsveldtogte en advertensies gebruik word, en ook ’n nasionale weeklikse koerant, Wantok, verskyn in dié taal. Die enigste gebied in die land waar Tok Pisin nie algemeen gebesig word nie is die suidelike streek van Papoea, waar mense veral die derde amptelike taal, Hiri Motu, besig. Alhoewel dit in die Papoea-streek lê, beskik Port Moresby oor ’n hoogs diverse bevolking wat veral Tok Pisin en in ’n minder mate Engels besig, terwyl Motu die inheemse taal van die afgeleë dorpe is.
Die lewensverwagting by geboorte in Papoea-Nieu-Guinee in 2016 vir mans was 64 jaar en 68 vir vroue. Die regering se gesondheidsbesteding in 2014 het 9,5% van die totale staatsuitgawes uitgemaak, met totale gesondheidsuitgawes gelyk aan 4,3% van die BBP.[78] Daar was vyf dokters per 100 000 mense in die vroeë 2000’s.[79] In 2010 was die moedersterftesyfer per 100 000 geboortes in Papoea-Nieu-Guinea 250, in vergelyking met 2008 se 311,9 en 1990 se 476,3. Die o/5-sterftesyfer per 1 000 geboortes is 69 en die neonatale sterftesyfer van o/5 is 37%. In Papoea-Nieu-Guinea is die aantal vroedvroue per 1000 lewende geboortes 1 en die lewenslange doodsrisiko vir swanger vroue is 1 uit 94.[80]
Die regering en die regbank handhaaf die grondwetlike reg op vryheid van spraak, denke en geloof, en geen wetgewing is goedgekeur om hierdie regte te beperk nie. Volgens die 2011-sensus identifiseer 95,6% van die bevolking hulself as Christene, 1,4% as nie-Christene en 3,1% het geen godsdiens aangegee nie. Feitlik geen respondent is as niegodsdienstig geïdentifiseer nie. Die godsdienstige sinkretisme is hoog en baie mense kombineer hul Christelike geloof met die een of ander tradisionele inheemse godsdienstige praktyk.[81] Die meeste Christene in Papoea-Nieu-Guinee is Protestante met sowat 70% van die totale bevolking. Hulle behoort veral aan die Evangelies-Lutherse Kerk, Sewendedagadventisme, verskeie Pinksterbewegings, die Verenigde Kerk in Papoea-Nieu-Guinee en die Salomonseilande, die Evangelikale Alliansie Papoea-Nieu-Guinee of die Anglikaanse Gemeenskap. Apart van die Protestante is daar ’n belangrike Rooms-Katolieke minderheid wat sowat 25% van die bevolking vorm.
Sowat 2 000 Moslems bly in die land. Die meerderheid is Soenniete met ’n klein aantal Ahmadi’s. Nietradisionele Christelike kerke en nie-Christelike godsdienstige groepe is dwarsdeur die land aktief. Die Papoea-Nieu-Guinese Raad van Kerke beweer dat beide Moslems en Konfusiaanse sendelinge baie aktief is.[82][83] Tradisionele godsdienste is meestal animisties. Party beskik ook oor elemente van voorouerverering, alhoewel veralgemening onderstel word gegewe die uiterste heterogeniteit van Melanesiese samelewings. Algemeen onder die tradisionele stamme is die geloof in masalai, of bose geeste, wat blameer word vir die “vergiftiging” van mense, wat rampe en die dood veroorsaak, en die beoefening van puripuri (towery).[84][85]
Die eerste Baha’i in Papoea-Nieu-Guinee was Violete Hoenke, wat in 1954 Admiraliteitseiland vanaf Australië bereik het. Die Papoea-Nieu-Guinese Baha’i-gemeenskap het só vinnig gegroei, dat in 1969 ’n Nasionale Geestelike Vergadering (’n administratiewe raad) gekies is. In 2020 was daar meer as 30 000 Baha’is in Papoea-Nieu-Guinee. In 2012 is besluit om die eerste Bahá’í Huis van Aanbidding in Papoea-Nieu-Guinee te bou. Sy ontwerp is dié van ’n geweefde mandjie, ’n algemene kenmerk in alle groepe en gemeenskappe van Papoea-Nieu-Guinee. Volgens verwagtinge sal dit ’n simbool vir die hele land word. Sy nege hoeke is ontleen aan die ontwerp van Haus Tambaran (geestelike huis). In 2018 is met die bouwerk in Port Moresby begin.
Volgens ramings bestaan daar meer as eenduisend kultuurgroepe in Papoea-Nieu-Guinee. Weens sy verskeidenheid het baie style van kulturele uitdrukking ontwikkel. Elke groep beskik oor sy eie uitdrukking van kuns, dans, wapentuie, kostuums, sangkuns, musiek, argitektuur en baie meer. Die meeste kultuurgroepe beskik oor hul eie taal. Van die mense bly tradisioneel in dorpies wat op landbou as voedselbron staatmaak. Om hul diëte aan te vul jag mense in sommige gebiede en versamel wilde plante (soos yam-wortels en karuka). Diegene wat vaardig is in jag, landbou en visvang word baie respekteer.
Skulpe dien nie meer as geldeenheid van Papoea-Nieu-Guinee nie, soos dit voorheen in sommige gebiede was — skulpe as ’n geldeenheid is in 1933 afgeskaf. Dié tradisie is egter steeds in sommige plaaslike gebruike lewendig. In sommige kulture sal ’n bruidegom, om ’n bruid te kry, ’n bepaalde aantal mosselskulpe met goue rande as bruidsprys moet saambring.[86] In ander gebiede word die bruidsprys in lengte van skulpgeld, varke, kassoware of kontant betaal. In ander gebiede betaal bruide tradisioneel ’n bruidskat.
Mense van die hooglande neem deel aan kleurvolle tradisionele plaaslike rituele wat “sing sings” genoem word. Hulle verf hulself en aantrek vere, pêrels en dierevelle om voëls, bome of berggeeste voor te stel. Soms word ’n belangrike gebeurtenis, soos ’n legendariese stryd, op só ’n musikale fees vertoon.
Die land beskik oor een Unesco-wêrelderfenisgebied, die Kukmoeras, wat in 2008 gelys is. Die land het tot dusver nog geen elemente op Unesco se Verteenwoordigende lys van die ontasbare kulturele erfenis van die mensdom nie, ondanks die feit dat die land oor een van die grootste verskeidenheid ontasbare kulturele erfeniselemente ter wêreld beskik.[87][88]
Sport is ’n belangrike deel van die Papoea-Nieu-Guinese kultuur en dié eilandstaat se sportkultuur is veral deur die voormalige koloniale magte, die Verenigde Koninkryk en later Australië, beïnvloed. Rugby League is verreweg die gewildste sportsoort[89] en word as nasionale sport van dié eilandstaat beskou.[90][91] In ’n nasie waar gemeenskappe wyd versprei leef en baie mense op ’n minimale bestaansvlak bly, word rugby league – as ’n manier om die plaaslike entoesiasme vir die spel te verklaar – as ’n plaasvervanger vir stamoorloë beskou (’n saak van lewe of dood). Baie Papoea-Nieu-Guinese het bekendheid verwerf nadat hulle hul land verteenwoordig of in ’n oorsese professionele liga gespeel het. Selfs Australiese rugby league-spelers wat jaarliks in die State of Origin-reeks speel, wat elke jaar koorsagtig in Papoea-Nieu-Guinee gevier word, is onder die bekendste mense in die hele land. Die State of Origin is vir die meeste Papoea-Nieu-Guinese die hoogtepunt van die jaar, alhoewel die ondersteuning só passievol is dat baie mense oor die jare heen tydens gewelddadige botsings tussen ondersteuners van verskeie spanne gesterf het.[92] Die Papoea-Nieu-Guinese nasionale rugby league-span speel jaarliks teen die Australiese Eerste Minister se XIII (’n saamgestelde span van nasionale rugby league spelers), gewoonlik in Port Moresby.
Alhoewel nie so gewild nie, is Australiese voetbal op ’n ander manier meer betekenisvol, aangesien die nasionale span in die wêreldranglys op die tweede plek is, net na Australië. Ander belangrike sportsoorte wat in Papoea-Nieu-Guinee gewild is, sluit in sokker, rugby, basketbal en, in oostelike Papoea, krieket. Op 26 April 2019 het die Papoea-Nieu-Guinese nasionale krieketspan sy EDI-status herwin.[93] In Oktober 2019 het Papoea-Nieu-Guinee vir die T20I-wêreldbeker 2021 in Oman en die Verenigde Arabiese Emirate gekwalifiseer, nadat hulle Groep A van die kwalifiseringstoernooi gewen en volgens ’n beter lopietempo bo Nederland geëindig het.[94] Dit was die eerste keer wat Papoea-Nieu-Guinee vir ’n krieketwêreldbeker in enige formaat kon kwalifiseer.[95] In dié toernooi het hulle in hul groep ná drie swak nederlae teen Bangladesj, Oman en Skotland in die laaste plek geëindig en is in die eerste rondte uitgeskakel.[96] Daarna kon hulle die Oos-Asiatiese-Stille-Oseaan-kwalifisering vir die T20I-wêreldbeker 2024 in die Verenigde State en Wes-Indië wen.[97] Tydens die hooftoernooi se eerste rondte het hulle swak nederlae gely teen Wes-Indië, Uganda, Afghanistan en Nieu-Seeland, waarmee hulle uitgeskakel is.[98]
Die hoofstad Port Moresby was reeds gasheer van die Suid-Pasifiese Spele 1969, die Suid-Pasifiese Spele 1991 en die Pasifiese Spele 2015.
’n Groot deel van die bevolking is ongeletterd, waardeur oorwegend vroue geraak word.[99] Die meeste onderrig in Papoea-Nieu-Guinee word deur kerkinstellings aangebied.[100] Dit sluit 500 skole van die Evangelies-Lutherse Kerk van Papoea-Nieu-Guinee in.[101] Papoea-Nieu-Guinee beskik, onafhanklik van ander groot tersiêre instellings, oor ses universiteite. Die twee oudste universiteite in die land is die Universiteit van Papoea-Nieu-Guinee in die Nasionale Hoofstaddistrik,[102] en die Papoea-Nieu-Guinese Universiteit van Tegnologie buite Lae in die Morobe-provinsie. Die ander vier universiteite was eens kolleges en is gestig, nadat hulle erkenning deur die regering verkry het. Hulle is die Universiteit van Goroka in die Oostelike Hooglande, die Divine Word University (bestuur deur die Rooms-Katolieke “Geselskap van die Goddelike Woord”) in die Madang-provinsie, die Papoea-Nieu-Guinese Universiteit van Natuurlike Hulpbronne en Ontwikkeling in die Oos-Nieu-Brittanje-provinsie en die Pasifiese Adventiste Universiteit (bestuur deur die Sewendedagadventiste) in die Nasionale Hoofstaddistrik.
Papoea-Nieu-Guinee se National Vision 2050 is in 2009 goedgekeur. Dit het tot die stigting van die Raad vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie gelei. Tydens sy vergadering in November 2014 het dié raad weer die behoefte om op volhoubare ontwikkeling deur wetenskap en tegnologie te fokus beklemtoon.[103]
Vision 2050 se mediumtermyn-prioriteite is:[103]
Volgens Thomson Reuters se netwerk van wetenskap het Papoea-Nieu-Guinee die grootste aantal publikasies (110) onder die Pasifiese eilandstate in 2014, gevolg deur Fidji (106). Nege van tien wetenskaplike publikasies uit Papoea-Nieu-Guinee fokus op immunologie, genetika, biotegnologie en mikrobiologie. Nege van tien het ook medeskrywers van ander lande, veral Australië, die Verenigde State, die Verenigde Koninkryk, Spanje en Switserland.[103]
Bosbou is ’n belangrike ekonomiese inkomste vir Papoea-Nieu-Guinee, maar dié bedryf gebruik lae en semi-intensiewe tegnologiese insette. Vervolgens is die produkreekse beperk tot gesaagde hout, fineer, laaghout, blokplate, gietvorm, pale en houtspaanders. Slegs enkele beperkte finale produkte word uitgevoer. Die gebreek aan outomatiese masjinerie, gepaard met onvoldoende opgeleide plaaslike tegniese personeel, is van die struikelblokke vir die bekendstelling van outomatiese masjinerie en ontwerp.[103]
Hernubare energiebronne verteenwoordig twee derdes van die totale elektrisiteitsvoorsiening.[103] In 2015 het die Sekretariaat van die Pasifiese Gemeenskap waargeneem, dat, “terwyl Fidji, Papoea-Nieu-Guinea en Samoa die voortou neem met grootskaalse waterkragprojekte, daar enorme potensiaal [is] vir die ontplooiing van ander hernubare energie-opsies soos son-, wind-, geotermiese en oseaan-gebaseerde energiebronne”.[104] Die Europese Unie het die hernubare energie in die Pasifiese eilandstate se ontwikkeling van vaardigheids- en kapasiteitsprogram (EPIC) befonds. Sedert sy stigting in 2013 het die program ’n meestersprogram in bestuur van hernubare energie aan die Universiteit van Papoea-Nieu-Guinea ontwikkel en gehelp om ’n sentrum vir hernubare energie aan dieselfde universiteit te stig.[103]
Papoea-Nieu-Guinea is een van die 15 begunstigdes van ’n program vir aanpassing aan klimaatsverandering en volhoubare energie ter waarde van €37,26 miljoen. Die program het ná die ondertekening van ’n ooreenkoms in Februarie 2014 tussen die Europese Unie en die Sekretariaat van die Pasifiese Gemeenskap ontstaan. Die ander begunstigdes is die Cookeilande, Fidji, Kiribati, die Marshalleilande, die Gefedereerde State van Mikronesië, Nauru, Niue, Oos-Timor, Palau, die Salomonseilande, Samoa, Tonga, Tuvalu en Vanuatu.[103]
Vervoer in Papoea-Nieu-Guinea word sterk beperk deur die land se bergagtige terrein. Vervolgens is lugreise die belangrikste vorm van vervoer vir beide mens en vrag. Vliegtuie het dit moontlik gemaak om die land gedurende sy vroeë koloniale tydperk oop te stel. Tot vandag toe word die twee grootste stede, Port Moresby en Lae, slegs met vliegtuie direk verbind. Port Moresby is nie per pad met enige van die ander groot dorpe verbind nie, en baie afgeleë dorpies kan slegs per ligte vliegtuig of per voet bereik word.
Jacksons Internasionale Lughawe is die belangrikste internasionale lughawe in Papoea-Nieu-Guinee en lê sowat 8 km buite Port Moresby. Benewens twee internasionale vliegvelde beskik Papoea-Nieu-Guinea oor 578 vliegbane, waarvan die meeste nie geplavei is nie.[3]
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
{{cite book}}
: |work=
ignored (hulp)AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
Wikimedia Commons bevat media in verband met Papoea-Nieu-Guinee. |