Paul Berg | |
---|---|
Paul Berg in 1980
| |
Gebore | 30 Junie 1926 Brooklyn, New York |
Alma mater |
|
Bekend vir | Rekombinante DNS |
Vakgebied | Biochemie |
Instellings |
|
Toekennings |
|
Eggenoot | Mildred Levy (g. 1947) |
Kinders | een[3] |
Paul Berg (gebore 30 Junie 1926) is 'n Amerikaanse biochemikus en emeritusprofessor aan die Stanford-universiteit. Hy was die ontvanger van die Nobelprys vir Chemie in 1980, saam met Walter Gilbert en Frederick Sanger.[4][5] Die toekenning het erkenning gegee aan hul bydraes tot basiese navorsing wat nukleïensure behels. Berg het sy voorgraadse opleiding aan die Penn State-universiteit ontvang, waar hy 'n BS in biochemie verwerf het. Hy het sy doktersgraad in biochemie van Case Western Reserve-universiteit in 1952 verwerf. Berg het as professor by beide die Washington University School of Medicine en Stanford University School of Medicine gewerk, sowel as die direkteur van die Beckman Sentrum vir Molekulêre en Genetiese Geneeskunde gewerk. Benewens die Nobelprys, is Berg met die Nasionale Medalje van Wetenskap in 1983 en die National Library of Medicine-medalje in 1986 bekroon. Berg is 'n lid van die Raad van Borge vir die Bulletin of the Atomic Scientists.[Nota 1][6]
Berg is in Brooklyn, New York, gebore, die seun van 'n Russiese Joodse immigrantegpaar, Sarah Brodsky en Harry Berg, 'n klerevervaardiger.[7] Berg het in 1943 aan die Hoërskool Abraham Lincoln gegradueer,[8] het sy BS-graad in biochemie aan die Penn State-universiteit in 1948 en sy doktersgraad in biochemie aan die Case Western Reserve-universiteit in 1952 behaal.
Nadat hy sy nagraadse studies voltooi het, het Berg twee jaar (1952–1954) as 'n nadoktorale genoot by die Amerikaanse Kankervereniging deurgebring, en by die Instituut vir Sitofisiologie in Kopenhagen, Denemarke en die Washington University School of Medicine gewerk. In 1954 het hy tyd deurgebring as 'n Geleerde in Kankernavorsing met die Departement Mikrobiologie aan die Washington University School of Medicine.[4] Hy het saam met die Amerikaanse biochemikus Arthur Kornberg gewerk terwyl hy by die Universiteit van Washington werksaam was.[9] Berg was ook aangestel as 'n navorsingsgenoot by Clare Hall, Cambridge.[2][10] Hy was 'n professor aan die Washington University School of Medicine van 1955 tot 1959. Na 1959 het Berg na Stanford-universiteit verhuis, waar hy van 1959 tot 2000 biochemie onderrig het en vanaf 1985 tot 2000 as direkteur van die Beckman Sentrum vir Molekulêre en Genetiese Geneeskunde gedien het.[4] In 2000 het hy uit sy administratiewe en onderwysposte getree en voortgegaan met sy navorsing.[11]
Berg se nagraadse studies het die gebruik van radio-isotoopspoorders behels om intermediêre metabolisme te bestudeer. Dit het gelei tot die begrip van hoe voedsel omgeskakel word na sellulêre materiale, deur die gebruik van isotopiese koolstowwe of swaar stikstofatome. Paul Berg se doktorsgraadtesis is oor die omskakeling van mieresuur, formaldehied en metanol na volledig gereduseerde toestande van metielgroepe in metionien.[Nota 2] Hy was ook een van die eerstes wat gedemonstreer het dat foliensuur- en B12-kofaktore 'n rol speel in dié prosesse.
Berg is waarskynlik die bekendste vir sy baanbrekerswerk wat geensplyting van rekombinante DNS[Nota 3] behels.[12] Berg was die eerste wetenskaplike wat 'n molekule geskep het wat DNS van twee verskillende spesies bevat deur DNS van 'n ander spesie in 'n molekule in te voeg. Hierdie geen-splytingstegniek was 'n fundamentele stap in die ontwikkeling van moderne genetiese ingenieurswese. Nadat hy die tegniek ontwikkel het, het Berg dit vir sy studies van virale chromosome gebruik.[13]
Berg is tans 'n emeritusprofessor by Stanford-universiteit.[4] Vanaf 2000 het hy opgehou om aktiewe navorsing te doen, om op ander belangstellings te fokus, insluitende betrokkenheid by openbare beleid vir biomediese kwessies wat rekombinante DNS en embrioniese stamselle behels en om 'n boek oor genetikus George Beadle te publiseer.[14]
Berg is 'n lid van die Raad van Borge van die Bulletin of the Atomic Scientists.[6] Hy was ook 'n organiseerder van die Asilomar-konferensie oor rekombinante DNS in 1975. Die vorige jaar het Berg en ander wetenskaplikes gevra vir 'n vrywillige moratorium op sekere rekombinante DNS-navorsing totdat hulle die risiko's kon evalueer. Daardie invloedryke konferensie het wel die potensiële gevare geëvalueer en riglyne vir biotegnologie-navorsing opgestel. Dit kan gesien word as 'n vroeë toepassing van die voorsorgbeginsel.[Nota 4]
Berg is met die helfte van die 1980 Nobelprys in Chemie bekroon, met die ander helfte deur Walter Gilbert en Frederick Sanger gedeel is. Berg is erken vir "sy fundamentele studies van die biochemie van nukleïensure, met besondere verwysing na rekombinante DNS", terwyl Sanger en Gilbert vereer is vir "hul bydraes rakende die bepaling van basisvolgordes in nukleïensure."[15]
Hy is in 1966 verkies as 'n genoot van die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskappe.[16] In 1983 het Ronald Reagan die Nasionale Medalje van Wetenskap aan Berg oorhandig. In 1989 het hy die Goue Plaat-toekenning van die American Academy of Achievement ontvang.[17] Hy is in 1992 tot 'n Buitelandse lid van die Royal Society verkies.[18] In 2005 is die Biotechnology Heritage Award aan hom toegeken deur die Biotechnology Industry Organisation en die Chemical Heritage Foundation.[19][20] In 2006 het hy Wonderfest[Nota 5] se Carl Sagan-prys vir "die gewild maak van wetenskap" ontvang.[21]
Arthur Kornberg, Jerome Karle, en Paul Berg het almal die Hoërskool Abraham Lincoln in Brooklyn bygewoon.