FIFA Sokker-Wêreldbeker | |
FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2026 | |
Die FIFA Sokker-Wêreldbekertrofee waarom sedert 1974 meegeding word
| |
Sportsoort | Sokker |
---|---|
Gestig | 1930 |
Eienaar | FIFA |
Inwydingseisoen | 1930 |
Deelnemende lande | wêreldwyd |
Aantal spanne | 48 |
Mees onlangse kampioen | Argentinië (2022) |
Die FIFA Sokker-Wêreldbeker (Engels: FIFA World Cup) is 'n sokkerwêreldkampioenskapstoernooi wat al om die vier jaar tussen internasionale mansspanne (wat lede van FIFA is) beslis word. Die toernooi is gereeld al om die vier jaar aangebied sedert dit vir die eerste keer in 1930 in Uruguay beslis is, met die uitsondering van 1942 en 1946 toe dit weens die Tweede Wêreldoorlog nie kon plaasvind nie. Die huidige verdedigende wêreldkampioen is Argentinië wat die 2022-toernooi in Katar gewen het.
Die huidige formaat van die kampioenskap behels 32 (vanaf 2026: 48) spanne wat om die titel meeding in stadions van die gasheerland(e) oor 'n periode van ongeveer een maand. Hierdie fase word gewoonlik die Wêreldbekereindrondte of Wêreldbekerfinale genoem. Die kwalifiserende fase vind oor 'n periode van twee jaar voor die afskop plaas waartydens besluit word watter spanne kwalifiseer. Die gasheerland(e) kry sedert 1938 'n outomatiese plasing; net die gasheer van die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1934, Italië, moes in die destydse kwalifikasiefase meeding. Die verdedigende kampioen het vanaf 1938 tot 2006 ook die reg van outomatiese kwalifisering geniet. Interessant genoeg was die verdedigende kampioen nooit die gasheer van die volgende toernooi nie, dus was daar altyd minstens twee spanne wat outomaties gekwalifiseer het.
Oor die 22 toernooie wat tot dusver aangebied is, het agt lande al die titel ingepalm. Brasilië het 'n rekord vyf keer gewen en is ook die enigste span wat tot dusver in al die toernooie meegeding het. Duitsland en Italië het vier elk keer gewen. Die ander wenners sluit in Argentinië met drie titels, Frankryk en Uruguay met twee titels elk, en Engeland en Spanje met een titel elk. Ander lande wat gereeld meeding soos België, Meksiko en Nederland kon nog nie daarin slaag om die beker in te palm nie.
Die toernooie word as die sportbyeenkoms met die meeste kykers ter wêreld beskou met ongeveer 715,1 miljoen mense wat in 2006 na die eindwedstryd in Duitsland gekyk het.[1] Die suksesvolste toernooi tot dusver was die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1994 in die Verenigde State met 'n bywoning van amper 69 000 toeskouers per wedstryd.[2]
Die volgende wêreldbekertoernooi sal in 2026 gesamentlik in Kanada, Meksiko en die Verenigde State plaasvind. Met die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2030 vind die eeufeesviering nes die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1930 weer in Montevideo plaas, waarna die toernooi na Marokko, Portugal en Spanje verskuif.
Plek | Land | Titel | Wêreldbeker |
---|---|---|---|
Brasilië | 5 | 1958, 1962, 1970, 1994, 2002 | |
Duitsland | 4 | 1954, 1974, 1990, 2014 | |
Italië | 4 | 1934, 1938, 1982, 2006 | |
Argentinië | 3 | 1978, 1986, 2022 | |
Frankryk | 2 | 1998, 2018 | |
Uruguay | 2 | 1930, 1950 | |
Engeland | 1 | 1966 | |
Spanje | 1 | 2010 |
1930 | Argentinië | België | Bolivië | Brasilië |
Chili | Frankryk | Joego-Slawië | Meksiko | |
Paraguay | Peru | Roemenië | Uruguay | |
Verenigde State | ||||
1934 | Egipte | Hongarye | Italië | Nazi-Duitsland |
Nederland | Oostenryk | Spanje | Swede | |
Switserland | Tsjeggo-Slowakye | |||
1938 | Kuba | Indonesië | Noorweë | Pole |
1950 | Engeland | |||
1954 | Skotland | Suid-Korea | Turkye | Wes-Duitsland |
1958 | Noord-Ierland | Sowjetunie | Wallis | |
1962 | Bulgarye | Colombia | ||
1966 | Noord-Korea | Portugal | ||
1970 | El Salvador | Israel | Marokko | |
1974 | Australië | Haïti | Oos-Duitsland | Zaïre |
1978 | Iran | Tunisië | ||
1982 | Algerië | Honduras | Kameroen | Koeweit |
Nieu-Seeland | ||||
1986 | Denemarke | Irak | Kanada | |
1990 | Costa Rica | Ierland | Verenigde Arabiese Emirate | |
1994 | Griekeland | Nigerië | Rusland | Saoedi-Arabië |
1998 | Jamaika | Japan | Joego-Slawië | Kroasië |
Suid-Afrika | ||||
2002 | Ecuador | Senegal | Slowenië | Volksrepubliek China |
2006 | Angola | Ghana | Ivoorkus | Oekraïne |
Serwië en Montenegro | Togo | Trinidad en Tobago | Tsjeggië | |
2010 | Serwië | Slowakye | ||
2014 | Bosnië en Herzegowina | |||
2018 | Panama | Ysland | ||
2022 | Katar |
Stelling | Speler | Span | Periode |
---|---|---|---|
Meeste deelnames | Brasilië | 1930 – hede (het aan al die toernooie deelgeneem) | |
Meeste doelpunte aangeteken | Miroslav Klose (16 doele) | Duitsland | 2002–2014 |
Meeste doelpunte aangeteken tydens 'n Wêreldbeker | Just Fontaine (13 doele) | Frankryk | 1958 |
Wikimedia Commons bevat media in verband met Sokker-Wêreldbeker. |