Ada E. Yonath (gebore Lifshitz; gebore op 22 Junie 1939)[1] is 'n Israeliesekristalograaf wat veral bekend is vir haar baanbrekerswerk oor die struktuur van die ribosoom. Sy is die huidige direkteur van die Helen en Milton A. Kimmelman-sentrum vir biomolekulêre struktuur en samestelling van die Weizmann-instituut vir wetenskap.
In 2009 het Yonath, saam met Venkatraman Ramakrishnan en Thomas A. Steitz, die Nobelprys vir Chemie ontvang vir haar studies oor die struktuur en funksie van die ribosoom, en sy was die eerste Israelse vrou wat die Nobelprys verower het uit tien Israelse Nobelpryswenners,[2] die eerste vrou uit die Midde-Ooste wat 'n Nobelprys in die wetenskappe verower het,[3] en die eerste vrou in 45 jaar wat die Nobelprys vir Chemie verower het.[4]
Yonath is in die Geula-distrik van Jerusalem gebore.[5] Haar ouers, Hillel en Esther Lifshitz, was Sionistiese Jode wat in 1933 na die Britse mandaat van Palestina (nou deel van Israel) van Zduńska Wola, Pole, geïmmigreer het voor die stigting van Israel.[6] Hulle het in 'n beknopte omgewing saam met verskeie ander gesinne gewoon, en Yonath onthou dat "boeke" die enigste ding was wat sy gehad het om haar besig te hou. Ten spyte van hul armoede, het haar ouers haar in die eksklusiewe woonbuurt Beit HaKerem skool toe gestuur om haar 'n goeie opvoeding te gee. Toe haar pa op 42-jarige ouderdom oorlede is, het die gesin na Tel Aviv verhuis.
Yonath is opgeneem in die hoërskool Tichon Hadash, hoewel haar ma nie die onderrig kon betaal nie. Sy het in ruil daarvoor wiskundelesse aan studente gegee.[7] Yonath se dat as jongeling is sy geïnspireer deur die Poolse wetenskaplike Marie Curie,[8] alhoewel sy nie Curie as haar "rolmodel" sien nie. Sy het na Jerusalem teruggekeer vir kollege, en aan die Hebreeuse Universiteit gestudeer waar sy in 1962 'n baccalaureusgraad in chemie verkry het, en in 1964 'n meestersgraad in biochemie. In 1968 het sy haar doktersgraad aan die Weizmann-instituut vir wetenskap behaal vir kristalografiese x-straalfotostudies oor die struktuur van kollageen, met Wolfie Traub as haar adviseur.[9][10][11]
Sy het een dogter, Hagit Yonath, 'n dokter aan die Sheba Mediese Sentrum, en 'n kleindogter, Noa.[12]
Ada Yonath aan die Weizmann-instituut vir wetenskap
Yonath het nadoktorale poste aan die Carnegie Mellon Universiteit (1969) en MIT (1970) aanvaar. Terwyl sy 'n nagraadse student aan MIT was, het sy 'n tydjie in die laboratorium van die daaropvolgende chemie-Nobelpryswenner, William N. Lipscomb, jr. van Harvard Universiteit, deurgebring, waar sy geïnspireer is om baie groot organiese chemiese strukture te studeer.[13]
In 1970 het sy 'n proteïenkristallografielaboratorium gestig wat vir byna 'n dekade lank die enigste in Israel was. Dan, vanaf 1979 tot 1984, was sy 'n groepleier saam met Heinz-Günter Wittmann aan die Max Planck Instituut vir Molekulêre Genetika in Berlyn. Sy was besoekende professor aan die Universiteit van Chicago in 1977–78.[14] Sy was hoof van 'n navorsingseenheid van die Max-Planck Instituut by die Deutsches Elektronen-Synchrotron in Hamburg, Duitsland (1986-2004), parallel met haar navorsingsaktiwiteite aan die Weizmann-instituut.
Yonath fokus op die meganismes wat onderliggend is aan proteïenbiosintese, deur ribosomale kristallografie, 'n navorsingslyn waarin sy twintig jaar gelede baanbrekerswerk gedoen het ondanks aansienlike skeptisisme van uit die internasionale wetenskaplike gemeenskap.[15] Ribosome vertaal RNA in proteïene, en omdat dit effens verskillende strukture in mikrobes het, vergeleke met eukariote, soos menslike selle, is dit dikwels 'n teiken vir antibiotika. Sy het haar werk aan ribosoomstrukture voortgesit en waardevolle bydraes tot die veld gelewer, insluitend die bepaling van die werkingswyses van meer as twintig verskillende antibiotika wat ribosome teiken, en sy het die meganismes van geneesmiddelweerstand en medisyne-sinergie verduidelik. Om die ribosomale kristallografie moontlik te maak, het Yonath 'n nuwe tegniek, "bio-kristallografie teen uiters lae temperature" bekendgestel, wat roetine geword het in strukturele biologie en ingewikkelde projekte toegelaat wat andersins as gedug beskou sou word.[16]
Telefoniese onderhoud met Ada Yonath tydens die aankondiging van die Nobelprys
Yonath is 'n lid van die Verenigde State se Nasionale Akademie vir Wetenskappe; die Amerikaanse Akademie vir Kuns en Wetenskappe; die Israeliese Akademie vir Wetenskap en Geesteswetenskappe; die Europese Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Europese Molekulêre Biologie-organisasie. Op Saterdag, 18 Oktober 2014, word professor Yonath deur Pous Franciskus aangewys as 'n gewone lid van die Pouslike Akademie vir Wetenskappe.[17]
Haar toekennings en eerbewyse sluit die volgende in:
In 2002, Israelprys
In 2002, Harvey-prys
In 2004, Massry-prys
In 2004, Paul Karrer goue medalje
In 2005, Louisa Gross Horwitz-prys
In 2006, Wolf-prys in chemie, saam met George Feher.
In 2006, Rothschild-prys in lewenswetenskappe.
In 2006, EMET-prys vir kuns, wetenskap en kultuur in lewenswetenskappe, saam met professor Peretz Lavie (medisyne) en professor Eli Keshet (biologie)
In 2007, "Paul Ehrlich en Ludwig Darmstaedter"-prys, saam met Harry Noller
In 2008, Albert Einstein Wêreld Toekenning vir Wetenskap vir haar baanbrekersbydraes tot proteïenbiosintese op die gebied van ribosomale kristallografie en haar bekendstelling van innoverende tegnieke in biokristallografie.[18]
↑Traub, Wolfie; Yonath, Ada (1966). "Polymers of Tripeptides as Collagen Models .I. X-RAY Studies of Poly (L-PROLYL-GLYCYL-L-PROLINE) and related Polytripeptides". Journal of Molecular Biology (in Engels). 16 (2): 404–14. doi:10.1016/S0022-2836(66)80182-1. PMID5954171.
↑Yonath, Ada; Traub, Wolfie (1969). "Polymers of Tripeptides as Collagen Models .4. Structure Analysis of Poly (L-PROLYL-GLYCYL-L-PROLINE)". Journal of Molecular Biology (in Engels). 43 (3): 461–77. doi:10.1016/0022-2836(69)90352-0. PMID5401228.
↑Hope, H.; Frolow, F.; von Böhlen, K.; Makowski, I.; Kratky, C.; Halfon, Y.; Danz, H.; Webster, P.; Bartels, K. S.; Wittmann, H. G.; Yonath, A. (1 April 1989). "Cryocrystallography of ribosomal particles". Acta Crystallographica Section B Structural Science (in Engels). International Union of Crystallography (IUCr). 45 (2): 190–199. doi:10.1107/s0108768188013710. ISSN0108-7681.