Ardipithecus | |
---|---|
’n Voorbeeld van Ardipithecus ramidus met die bynaam Ardi. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Subfamilie: | |
Tribus: | |
Genus: | Ardipithecus (Tim D. White et al., 1995)
|
Spesies | |
†Ardipithecus kadabba |
Ardipithecus is ’n homininae-fossiel. Dit is nog onseker wat die verwantskap is tussen hierdie genus en die menslike voorouers en of dit ’n hominini is of nie.[2] Twee spesies word in geskrifte beskryf: A. ramidus, wat sowat 4,4 miljoen jaar gelewe het[3] tydens die vroeë Plioseen, en A. kadabba, wat sowat 5,6 miljoen jaar gelede bestaan het tydens die laat-Mioseen.[4]
A. ramidus het sy naam in September 1994 gekry. Die eerste fossiel wat gevind is, se ouderdom word geskat op 4,4 miljoen jaar op grond van sy stratigrafiese posisie tussen twee vulkaniese strata: die Gaala-tufsteenkompleks (GATC) en die Daam Aatu-basalttufsteen (DABT).[5] Die naam Ardipithecus ramidus kom hoofsaaklik van die taal Afar, waarin ardi "grond/vloer" beteken en ramid "oorsprong". Die pithecus-deel kom van die Griekse woord vir "aap".[6] Die 4,4 miljoen jaar oue vrou ARA-VP 6/500 ("Ardi") is die volledigste spesimen.[7]
Soos die meeste hominides, maar anders as alle voorheen erkende hominini's, het dit ’n groottoon gehad wat kon vasklou vir boomklim. Dit is nie bevestig hoeveel ander eienskappe van die skelet aangepas is vir loop op twee bene nie. Soos latere hominini's het Ardipithecus kleiner oogtande gehad.
In 1992–1993 het ’n navorsingspan onder leiding van Tim White die eerste A. ramidus-fossiele in Ethiopië ontdek – ’n kopbeen, onderkaak, tande en armbene. Nog stukke is in 1994 ontdek, wat die totaal te staan gebring het op 45% van die hele geraamte. Die fossiel is aanvanklik beskryf as ’n spesie van Australopithecus, maar White en sy kollegas het later ’n geskrif gepubliseer waarin hulle die fossiel onder die nuwe genus klassifiseer. Tussen 1999 en 2003 het ’n span onder leiding van Sileshi Semaw bene en tande van nege A. ramidus-individue in Ethiopië ontdek.[8] Die fossiele is na skatting tussen 4,35 en 4,45 miljoen jaar oud.[9]
Ardipithecus ramidus het ’n klein brein – tussen 300 en 350 cm3. Dit is omtrent so groot soos ’n moderne sjimpanseewyfie se brein, maar baie kleiner as dié van Australopithecus-fossiele soos Lucy (~400 tot 550 cm3) en rofweg 20% van die grootte van die moderne Homo sapiens se brein. Nes dié van sjimpansees, was A. ramidus se kakebene meer uitstaande as dié van moderne mense.[10]
A. ramidus het later bestaan as die mees onlangse gemeenskaplike voorouer van die mens en die sjimpansee en is dus nie ten volle verteenwoordigend van daardie voorouer nie. Dit verskil egter in sommige opsigte van die moderne sjimpansee. Ná die splitsing tussen die lyne van die mens en die sjimpansee, het albei groot evolusionêre veranderinge ondergaan. Sjimpansees se voete is meer geskik vir boomklim; A. ramidus se voete is weer meer geskik vir loop. Laasgenoemde se oogtande is ook kleiner, en die manlike en vroulike lede se oogtande is min of meer ewe groot, wat dui op minder konflik tussen manlike lede, groter binding tussen pare en ’n groter ouerlike verbintenis.
Net tande en stukkies skelet van Ardipithecus kadabba is gevind,[11] en die ouderdom word op sowat 5,6 miljoen jaar geraam.[4] Dit is al beskryf as ’n moontlike voorouer van A. ramidus.[4] Hoewel dit oorspronklik geklassifiseer is as ’n subspesie van A. ramidus, het die antropoloë Yohannes Haile-Selassie, Gen Suwa en Tim White in 2004 ’n artikel gepubliseer waarin A. kadabba tot die vlak van ’n aparte spesie verhef is op grond van nuut ontdekte tande in Ethiopië. Die primitiewe verwering van die tande het bewys dat dit nie dieselfde spesie is nie.[12]
Is Ardipithecus a hominin?—that question will likely dominate the paleoanthropological debate over this fossil taxon for years to come.
{{cite journal}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)