Benvenuto Cellini | |
---|---|
Gebore | Florence, Republiek van Florence | 3 November 1500
Sterf | 13 Februarie 1571 (op 70) Florence, Hertogdom van Toskane |
Nasionaliteit | Italiaans |
Benvenuto Cellini (Italiaans: [beɱveˈnuːto tʃelˈliːni]; 3 November 1500 - 13 Februarie 1571) was 'n Italiaanse goudsmid, beeldhouer en skrywer. Sy bekendste bestaande werke sluit die Saliera in Wene se Kunsthistorisches Museum, die beeldhouwerk Perseus met die hoof van Medusa, en sy outobiografie, in. Laasgenoemde is al beskryf as "een van die belangrikste dokumente van die 16de eeu."[1]
Benvenuto Cellini is gebore in Florence in die hedendaagse Italië. Sy ouers was Giovanni Cellini en Maria Lisabetta Granacci. Hulle het eers 18 jaar na hul huwelik hul eerste kind verwek. Benvenuto was die tweede kind van die gesin. As die seun van 'n musikant en bouer van musikale instrumente was Benvenuto bestem om musikant te word. Toe hy vyftien was het sy vader egter op teësinnige wyse ingestem daartoe dat hy as vakleerling aangestel word deur Antonio di Sandro, 'n goudsmid. Op 16-jarige ouderdom het Benvenuto reeds aandag begin trek in Florence vanweë sy deelname aan 'n betoging saam met ander jeugdiges. Hy is gevolglik vir ses maande verban, en was woonsaam in Siena, waar hy gewerk het vir 'n goudsmid genaamd Fracastoro. Vanaf Siena het hy verhuis na Bologna, waar hy 'n meer bekwame fluitspeler geword het en vooruitgang gemaak het as goudsmid.[2] Na 'n besoek aan Pisa en twee periodes in Florence (waar hy besoek ontvang het van die beeldhouer Pietro Torrigiano), het hy op 19-jarige ouderdom na Rome verhuis.[3][4]
Sy eerste werke in Rome was 'n silwer houer, 'n silwer kandelaar en 'n vaas vir die biskop van Salamanca, wat die goedkeuring weggedra het van Pous Clemens VII. 'n Verdere opspraakwekkende werk uit sy tyd in Rome is die goue medalje van Leda en die Swaan vir die Gonfaloniere Gabbriello Cesarino, wat tans gehuisves word in die Museo Nazionale del Bargello in Florence.[5] Hy is ook aangestel as een van die pous se hofmusikante.[3][6]
Tydens die aanval op Rome deur die magte van Karel V van die Heilige Romeinse Ryk onder aanvoering van Hertog Karel II van Bourbon was Cellini se dapperheid van groot waarde vir die Pous. Ingevolge Cellini se eie mededeling het hy Filibert van Châlon, prins van Oranje, geskiet en gewond.[7] (en na bewering vir Karel III geskiet en gedood, wat gelei het tot die aanval op Rome in 1527. Sy dapperheid het gelei tot versoening met die Florentynse landdroste, [8] en hy het spoedig teruggekeer na Florence, waar hy hom gewy het tot die maak van medaljes.[9]
Vanaf Florence het hy vertrek na die hof van die hertog van Mantua en weer terug na Florence. By sy terugkeer na Rome is hy betrek by die maak van juweliersware en was hy ook in diens gewees van die pouslike munt.[10] In 1529 het sy broer Cecchino 'n korporaal van die Romeinse Wag gedood, waarna hy op sy beurt gewond is deur 'n infanteris, waaraan hy later dood is. Kort daarna het Benvenuto sy broer se moordenaar gedood. Cellini het egter erken dat sy broer se moordenaar in selfverdediging opgetree het.[11] Cellini het hierna na Napels gevlug ten einde die gevolge te ontkom van 'n geskil met 'n prokureur, Ser Benedetto, wie hy gewond het. Cellini het egter deur die invloed van verskeie kardinale 'n vryskelding verkry. Hy het die guns gewen van die nuwe pous, Paulus III, nieteenstaande die pleging van 'n verdere moord tydens die "Interregnum" ('n interregnum is die Latynse uitdrukking vir 'n tussenregering), drie dae na die dood van Pous Clemens VII in September 1534. Die vierde slagoffer was 'n mededinger, Pompeo van Milaan.[12]
Die komplotte van Pier Luigi Farnese het gelei tot Cellini se aftog uit Rome na Florence en Venesië, waar hy met groter eer as voorheen ontvang is. Op die ouderdom van 37, toe hy teruggekeer het van 'n besoek aan die Franse hof, is hy gevange geneem op 'n aanklag (blykbaar vals) dat hy die juwele van die pous se tiara tydens die oorlog gesteel het. Hy was beperk tot die Castel Sant'Angelo, het ontsnap, maar is weer gevang, en het verwag dat hy ter enige tyd 'n galgedood op die steier sou sterf. Terwyl hy in 1539 in die tronk was, was Cellini die teiken van 'n sluipmoordpoging deur die inname van diamantpoeier; die poging het egter misluk omdat 'n ander tipe edelsteen gebruik is.[13] Die ingryping van Pier Luigi se vrou, en veral die van die kardinaal d'Este van Ferrara, het uiteindelik gelei tot Cellini se vrystelling, en uit dankbaarheid het hy 'n pragtige beker aan d'Este gegee. [10][14]
Cellini het daarna aan die hof van Francis I van Frankryk in Fontainebleau en Parys gewerk. Cellini het sommige van sy vroulike modelle as minnaresse geneem. Hy het ook in 1544 'n buite-egtelike dogter by een van die minnaresse verwek terwyl hy in Parys was, wie hy Costanza genoem het.[15] Cellini was van mening dat die hertogin Duchesse d'Étampes teen hom gekant was, en het geweier om met die koning se gunstelinge te versoen. Hy kon nie meer sy vyande by wyse van die swaard stilmaak soos wat hy dié sulkes in Rome stilgemaak het nie.[10]
Na etlike jare van produktiewe werk in Frankryk, maar geteister deur byna voortdurende professionele konflikte en geweld, het Cellini na Florence teruggekeer. Daar het hy weer sy vaardighede as 'n goudsmid opgeneem. Hy is hartlik verwelkom deur hertog Cosimo – wat hom verhef het tot die posisie van hofbeeldhouer en vir hom 'n elegante huis in Via del Rosario (waar Cellini 'n gietery gebou het) gegee het, met 'n jaarlikse salaris van tweehonderd scudi. Cosimo het hom opdrag gegee om twee betekenisvolle bronsbeeldhouwerke te maak: 'n borsbeeld van homself, en Perseus met die hoof van Medusa (wat in die Lanzi-loggia in die sentrum van die stad geplaas sou word).
In 1548 is Cellini deur 'n vrou genaamd Margherita daarvan beskuldig dat hy sodomie gepleeg het met haar seun Vincenzo,[16] waarna hy tydelik gevlug het na Venesië. Dit was egter nóg die eerste, nóg die laaste keer dat Cellini beskuldig is van sodomie (een keer met 'n vrou en ten minste drie keer met mans gedurende sy leeftyd), wat lig werp op sy homoseksuele of biseksuele neigings.[17][18] Hy is byvoorbeeld in 1523 as jong man gevonnis om 12 staia meel te betaal op grond van sy verhoudinge met 'n ander jong man genaamd Domenico di Ser Giuliano da Ripa.[19] Intussen is daar in Parys klagtes teen hom gebring deur 'n voormalige model en minnares dat hy haar "ná die Italiaanse mode" (i.e., sodomie) behandel het.[19]
Gedurende die slag van Marciano (teen Siena) in 1554 is Cellini aangestel om die versterkings van Florence te verbeter en, alhoewel hy sleg behandel is deur sy hertoglike beskermhere, het hy voortgegaan om die bewondering en agting van sy mede burgers te geniet deur die manjifieke werke wat hy gemaak het.[10] Volgens Cellini se outobiografie was dit gedurende hierdie tydperk dat sy persoonlike mededinging met die beeldhouer Baccio Bandinelli gegroei het.[20] Op 26 Februarie 1556 het Cellini se vakleerling, Fernando di Giovanni di Montepulciano, sy mentor daarvan beskuldig dat hy hom verskeie kere gesodomiseer het terwyl Cellini hom "vir vyf jare in sy bed gehou het as 'n vrou".[21] Hierdie keer was die straf 'n heftige boete van 50 goue scudi, en vier jaar se tronkstraf, versag tot vier jaar huisarres danksy die ingryping van die Medici.[19] Tydens 'n openbare woordewisseling voor Hertog Cosimo I de' Medici, het Bartolomeo Bandinelli hom toegesnou as Sta cheto, soddomitaccio! (Hou jou bek, jou vuil sodomiet!) Cellini het dit beskryf as 'n gruwelike belediging, en gepoog om dit af te lag.[22]
Nadat hy vir 'n kort ruk 'n klerikale loopbaan probeer volg het, het hy in 1562 in die huwelik getree met 'n bediende genaamd Piera Parigi, saam met wie hy vyf kinders gehad het, van wie slegs 'n seun en twee dogters hom oorleef het.
Hy is ook benoem as 'n lid (Accademico) van die gesogte Accademia delle Arti del Disegno van Florence, wat op 13 Januarie 1563 onder invloed van die argitek Giorgio Vasari gestig is deur Hertog Cosimo . Hy het op 13 Februarie 1571 in Florence gesterf, en is begrawe in die Basilica della Santissima Annunziata di Firenze.
Bykomend tot sy werk in goud en silwer het Cellini ook groter beelhouwerke gemaak. Een van die hoofprojekte van sy Franse periode is waarskynlik die Goue Hek vir die Château de Fontainebleau. Slegs die brons timpaan van hierdie onvoltooide werk, wat die Nimf van Fontainebleau (Parys, Louvre) voorstel, bestaan nog. Die volledige detail daarvan kan egter bestudeer word by wyse van argiewe, voorbereidende tekeninge en afgietsels. [23][24][25]
By sy terugkeer vanaf Frankryk na sy tuisstad Florence in 1545 het Cellini 'n bronsborsbeeld van Cosimo I Medici, die groothertog van Toskane, gemaak.[26] Cellini het op hierdie standbeeld drie antropomorfiese koppe bygevoeg op die wapenrusting van die hertog. Die eerste is op "groteske" wyse geleë op die regterskouer van Cosimo. Die dekoratiewe kop bestaan uit die gelaatsrekke van 'n sater, leeu en 'n man. Twee verdere koppe, heelwat kleiner as die eerste kop en byna identies, kan gevind word benede die sleutelbeen aan die voorkant van die borsbeeld. Cellini se mees treffende beeldhouwerk is die bronsgroep van Perseus met die hoof van Medusa, 'n werk (aanvanklik voorgestel deur hertog Cosimo I de' Medici) wat tans in die Loggia dei Lanzi in Florence staan. Dit was naamlik Cellini se poging om te verbeter op Michelangelo se Dawid en Donatello se Judith en Holofernes. Die maak van hierdie werk het Cellini baie hoofbrekens besorg, maar dit is kort na die voltooiing daarvan as 'n meesterstuk bestempel. Die oorspronklike reliëf van die voet van die voetstuk—Perseus en Andromeda—word tans gehuisves in die Bargello; vervang met 'n gietwerk.[10]
Teen 1996 het eeue se besoedeling die standbeeld egter beskadig. In Desember 1996 is dit verwyder uit die loggia en vervoer na die Uffizi vir restourasie. Dit was 'n uitgerekte proses; die gerestoureerde standbeeld is eers in Junie 2000 teruggeplaas.
Onder Cellini se kunswerke, waarvan baie vergaan het, is 'n kolossale Mars-werk vir 'n fontein in Fontainebleau en die bronswerke van die deurgang; munte vir die pouslike en Florentynse state; 'n lewensgrootte silwer Jupiter en 'n brons borsbeeld van Bindo Altoviti.[10]
Bykomend tot die bronsstandbeeld van Perseus en die medaljes waarna hierbo verwys is, is van Cellini se verdere bestaande kunswerke 'n medalje van Pous Clemens VII; 'n getekende portretmodel van Franciskus; 'n medalje van kardinaal Pietro Bembo[10] en die gevierde goue emalje en ivoor stuk wat bekendstaan as die Saliera, gemaak vir Franciskus I van Frankryk in Wene. Hierdie ingewikkelde 26-cm-hoë beeldhouwerk, met 'n waarde wat konserwatief geskat word teen 58,000,000 schilling, is aangevra deur Franciskus I. Die hooffigure daarvan is 'n naakte seëgod en 'n vrou wat teenoor mekaar plaasneem met verstrengelde bene, wat op simboliese vlak die planeet Aarde voorstel. Saliera is op 11 Mei 2003 gesteel uit die Kunsthistorisches Museum deur 'n dief wat die steierwerk rondom die museum geklim het en die vensters gebreek het ten einde toegang te verkry tot die museum. Die dief het die alarms laat afgaan, wat geïgnoreer is as valse alarms. Derhalwe het die diefstal onopgemerk gebly tot 8:20 am. Die Saliera is op 21 Januarie 2006 teruggevind deur die Oostenrykse polisie en later teruggegee aan die Kunsthistorisches Museum, waar dit tans vertoon word in die Kunstkammer.[27] Een van die belangriker werke deur Cellini uit sy latere loopbaan is 'n lewensgrootte naakte kruisbeeld wat gemaak is van marmer. Alhoewel die oorspronklike gedagte was dat dit geplaas sou word by sy graftombe, is die kruisbeeld verkoop aan die Medici-familie, wat dit op hul beurt aan Spanje gegee het. Die kruisbeeld word tans gehuisves in die El Escorial-klooster naby Madrid, waar dit in gewysigde vorm vertoon word – die kooster het 'n lendekleed en 'n doringkroon daaraan bygevoeg. Cellini het die gietvorms vir verskeie munte en medaljes geskep terwyl hy verbonde was aan die munt tydens die heerskappy van Pous Clemens VII en later Pous Paulus III, welke steeds te sien is by die ongebruikte munt. Hy was ook in diens van Alessandro de Medici, hertog van Florence, vir wie hy in 1535 'n 40-soldi stuk met 'n borsbeeld van die hertog aan een kant, en die staande figure van die heiliges Cosima en Damian aan die ander kant, gemaak het. Sommige kenners meen dat verskeie gedenkplate Cellini se werk is, soos "Jupiter verpletter die Reuse" en die "Geveg tussen Perseus en Phineus".[10] Ander werke, soos die borsbeeld van Cellini word nie direk aan hom toegeskryf nie, maar aan sy werkswinkel.
Die vernaamste werke sluit die onvoltooide kelk wat bedoel was vir Pous Clemens VII; 'n goue boekomslag vir 'n gebedeboek as geskenk van Pous Paulus III aan Karel V van die Heilige Romeinse Ryk, wat beide deeglik beskryf word in Cellini se outobiografie; 'n silwer standbeeld van Jupiter, Vulcanus en Mars, geskep vir Franciskus I van Frankryk gedurende sy verblyf in Parys; 'n borsbeeld van Julius Caesar en 'n silwer beker vir die kardinaal van Ferrara in. Die manjifieke goue knoop wat deur Cellini geskep is vir die skouermantel van Pous Clemens VII, blyk opgeoffer te gewees het deur Pous Pius VI (saam met verskeie ander skatte van onskatbare waarde deur die goudsmid) ten einde die 30 miljoen franke bymekaar te maak wat vereis is deur Napoleon I by die beëindiging van die veldtog teen die Pouslike State in 1797. Volgens die bepalings van die verdrag is die pous toegelaat om 'n derde van die bedrag in juweliersware te vereffen. In die drukkamer van die Britse Museum is drie waterkleur-tekeninge van hierdie pragtige knoop deur F. Bertoli, wat geskilder is in opdrag van 'n Engelsman genaamd Talman tydens die eerste helfte van die 18de eeu.[10]
Die bekende tekeninge en sketse deur Benvenuto Cellini is as volg:
Die outobiografie van Benvenuto Cellini is in die jaar 1558 op 58-jarige ouderdom begin, en het net voor sy laaste reis na Pisa rondom die jaar 1563, toe Cellini ongeveer 63 jaar oud was, abrup geëindig. Die memoires gee 'n gedetailleerde weergawe van sy besondere loopbaan, sowel as sy liefdes, haat, passies en genot, en is geskryf in 'n energieke en direkte styl. 'n Kritikus, Herbert Maryon, het geskryf dat "Ander goudsmede fyner werk gedoen het, maar Benvenuto Cellini is die skrywer van die wonderlikste outobiografie wat al ooit geskryf is."[29] Cellini se skryfwerk toon 'n duidelike mate van selfagting, wat soms in uitspattighede uitloop wat onmoontlik is om te verreken. Hy skryf selfs op 'n selfvoldane manier hoe hy sy moorde oorweeg het voordat hy dit uitgevoer het.
Dele van sy verhaal maak melding van 'n paar buitengewone gebeure en verskynsels; soos sy verhale van die optower van 'n legioen duiwels in die Kolosseum, nadat een van sy minnaresse deur haar ma van hom weggejaag is; van die wonderlike stralekrans van lig wat hy om sy kop gevind het[30] met dagbreek en skemer na sy gevangeneskap in Rome, en sy bonatuurlike visioene en engelebeskerming tydens daardie teëspoed; en dat hy by twee afsonderlike geleenthede vergiftig is.[10]
Die outobiografie is in Engels vertaal deur Thomas Roscoe, John Addington Symonds, Robert H.H. Cust, Sidney J.A. Churchill (1910) en Anne Macdonell. Dit word beskou as 'n klassieke werk en word ook algemeen beskou as een van die meer kleurvolle outobiografieë (sekerlik die belangrikste outobiografie uit die Renaissance).[29]
Cellini het verhandelinge geskryf oor die kuns van die goudsmede, oor beeldhouwerk en oor ontwerp.[10]
Die volgende is 'n lys van werke wat beïnvloed is deur Cellini of wat verwys na hom of sy werke: