Camille Saint-Saëns | |
---|---|
Camille Saint-Saëns | |
Agtergrondinligting | |
Gebore | 9 Oktober 1835 Parys (Frankryk) |
Sterf | 16 Desember 1921 Algiers (Algerië) |
Genres | Klassiek |
Camille Saint-Saëns was 'n klassieke komponis en is gebore op 9 Oktober 1835 in Parys, Frankryk. Op die ouderdom van twee en 'n half het hy begin klavier speel en sy eerste werk gekomponeer op die ouderdom van drie. Hy het begin met formele musiekonderrig op die ouderdom van sewe jaar. Dat Saint-Saëns aktief deelgeneem het aan die musieklewe van sy tyd, blyk uit sy talle geskrifte. Die bevordering van Franse musiek uit die verlede het hom na aan die hart gelê.
Saint-Saëns se formele publieke debuut was by die Salle Pleyel in Parys op die ouderdom van tien jaar. Hy het die gehoor verbaas deur aan te bied om enigeen van Beethoven se 32 klaviersonates te speel, sonder bladmusiek. Dis egter nie net sy musiektalent wat mense verbaas het nie. Hy kon al vlot Latyn lees op die ouderdom van sewe en het 'n groot voorliefde gehad vir argeologie en geologie.
Op 4-jarige leeftyd het hy al begin walse komponeer vir die klavier en het as 11-jarige wonderkind openbare uitvoerings begin lewer waartydens hy werke van Mozart en Beethoven gespeel het. Sy musiekopleiding het hy aan die Paryse Konservatorium onder Francois Benoist (1794-1878), by wie hy orrel gestudeer het, en Fromental Halévy (1799- 1862) ontvang.
In 1855 het die jong Saint-Saëns sy Eerste Simfonie gekomponeer, en in 1857, toe hy slegs 22 jaar oud was, is hy aangestel as orrelis van die beroemde Madeleinekerk in Parys. Die verbintenis het 20 jaar geduur, hoewel hy ook as orrelis aan verskeie ander kerke verbonde was. Gedurende die vroeë tydperk het Saint-Saëns verskeie konsert reise as pianis, orrelis en dirigent onderneem, waartydens hy ook sy eie komposisies bekend gestel het.
Franz Liszt (1811 - 1886), met wie Saint-Saëns in hierdie tyd kennis gemaak en 'n lang vriendskap gehad het, het hom as die beste orrelis in die wêreld beskryf. Van 1861 tot 1865 was Saint-Saëns hoogleraar in klaviermusiek aan die École Niedermeyer, waar Gabriel Fauré (1845- 1924) en Andre Messager (1853-1929) van sy studente was. In 1871 het hy die Société Nationale de Musique, 'n vereniging wat hom beywer het vir die bevordering van Franse musiek, gestig.
Hy het vier simfoniese gedigte vir aanbieding deur die vereniging gekomponeer, insluitende die gewilde Danse Macabre ("Dodedans"; 1874). Op dertienjarige ouderdom het hy gekwalifiseer om te studeer aan die Konservatorium in Parys. Hy het sy eerste simfonie geskryf op die ouderdom van agttien. Hierdie vereniging het veral betekenisvolle orkeswerke van die volgende geslag Franse komponiste aangebied en bevorder.
Hoewel Saint-Saëns hoofsaaklik as Franse komponis beskou word, het hy sy vroegste welslae in Duitsland behaal. So byvoorbeeld het die eerste uitvoerings van die Eerste en die Derde Klavierkonsert in onderskeidelik 1865 en 1869 in Leipzig plaasgevind. Ook die première van sy belangrikste opera, Samson et Dalila, wat weens vooroordeel in Parys verwerp is, het op aanbeveling van Liszt in 1877 in Weimar plaasgevind.
In hierdie jaar het Saint-Saëns begin om as voltydse komponis 'n bestaan te maak. Weens die uitbeelding van Bybelse karakters in die opera het Samson et Dalila ook elders met vooroordeel te doen gekry en in verskeie sentra is dit vir 'n klompie jare slegs as konsertuitvoering aangebied. Dit is uiteindelik in 1890 in die Theatre Eden in Parys op die planke gebring. Die werk sou sy gewildste opera word en word vandag nog in die repertorium van -verskeie Europese geselskappe ingesluit.
Van 1890 af het Saint-Saëns ʼn aansienlike hoeveelheid musiek vir die teater gekomponeer en in 1908 het hy een van die eerste oorspronklike rolprentpartiture geskep. Sy uitgebreide oeuvre bevat min wat oorspronklik of betekenisvol is wat nuwe rigtings in die musiek betref. Desnieteenstaande spreek veral sy orkeswerke van groot tegniese vermoë en meesterskap van musikale vorm en styl.
Sy vyf klavierkonserte, die Derde Simfonie (Orrelsimfonie; 1886), die drie vioolkonserte, die Inleiding en Rondo Capriccioso vir viool en orkes (1870) en die Carnival des Animaux ("Karnaval van die diere"; 1886) is vandag oor die hele wêreld ʼn belangrike deel van die konsert-repertorium. Saint-Saëns is nie sonder rede die "Franse Beethoven" genoem nie. Konsertreise, veral na die eeuwisseling, het die Franse meester telkens buite Europa geneem.
In 1899 het hy die Verre Ooste besoek, in 1904 en 1916 Suid-Amerika en in 1907 en 1915 die VSA. Saint-Saëns het omvattend geskryf oor die Franse musieklewe en het baie tyd aan die Franse musiekgeskiedenis bestee. Hy was mederedakteur van die werke van Glück (1714–1787) en ook leier van 'n projek om die werke van Rameau (1683–1764) te publiseer. Hy het self twee operas, een deur Lully (1632–1687) en een deur Marc-Antoine Charpentier (1634–1704), gerekonstrueer.
Saint-Saëns is getroud in 1875 na 'n baie kort verhouding met Marie Truffot. Saint-Saëns se moeder was geskok en het nie die verhouding goedgekeur nie. Die huwelik het van die begin af op 'n ramp afgestuur. In 1879 is beide Saint-Saëns se seuns oorlede binne slegs ses weke.
Sy oudste seun van slegs twee en 'n half het by 'n venster uitgeval vanuit die vierde verdieping van hulle woonstel en sy jongste is oorlede ses weke daarna aan 'n kindersiekte. Saint-Saëns het sy vrou verlaat in 1881, terwyl hulle op vakansie was en sy het hom nooit weer gesien nie.
Hy het saam met sy moeder gebly tot in 1888 met haar dood. Hy het die res van sy lewe spandeer op toer of met vakansie en is oorlede in Algiers op 16 Desember 1921.
In Dieppe is 'n Saint-Saëns-museum, wat deur die komponis self gestig is.
Camille Saint-Saëns komponeer sowel simfoniese (Le Carnaval des Animaux, 1886) en kamermusiek, asook dertien operas, waaronder Samson et Delila (1877).