Homo gautengensis | |
---|---|
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Subfamilie: | |
Tribus: | |
Genus: | |
Spesie: | H. gautengensis
|
Binomiale naam | |
Homo gautengensis (Curnoe, 2010)
|
Homo gautengensis is ’n hominienspesie wat in 2010 voorgestel is deur die biologiese antropoloog Darren Curnoe van die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis in Australië. Die spesie bestaan uit Suid-Afrikaanse fossiele wat voorheen gereken is as Homo habilis, Homo ergaster en in sommige gevalle Australopithecus. Dit is volgens Curnoe die vroegste spesie in die genus Homo.[1]
Volgens ’n ontleding wat in Mei 2010 bekend gemaak is van ’n gedeeltelike skedel wat dekades vroeër naby Johannesburg in Gauteng in die Sterkfonteingrotte ontdek is, het Curnoe die spesie Homo gautengensis genoem. Wetenskaplikes soos Lee Berger en sy medewerkers glo egter die takson is ongeldig omdat dit bots met hul vertolking van Australopithecus sediba. Die eerste oorblyfsels van die spesie is in die 1930's deur Broom en Robinson ontdek. Die volledigste skedel, Stw 53, is in 1977 ontdek en het volgens destydse vermoedens tot Homo habilis behoort.[2] Die fossiele is volgens sommige wetenskaplikes sinoniem met A. africanus, maar die meeste beskou dit as deel van die genus Homo.
Die identifikasie van H. gautengensis is gebaseer op gedeeltelike skedels, verskeie kakebene, tande en ander bene wat op verskillende tye op verskeie plekke in die Wieg van die Mensdom gevind is. Die oudste fossiele is dié van Swartkrans Lid 1 (tussen 1,9 en 1,8 miljoen jaar oud).[3] Die fossiel StW 53 van Sterkfontein is na raming tussen 1,8 en 1,5 miljoen jaar oud.[4] ’n Fossiel van die Gondolin-grot word op sowat 1,8 miljoen jaar geraam.[5][6] Sterkfontein Lid 5 is na raming sowat 1,4 tot 1,1 miljoen jaar oud en die jongste fossiel, Swartkrans Lid 3, sowat 1 tot 0,6 miljoen jaar.[7]
Volgens Curnoe het H. gautengensis ’n klein brein gehad, asook groot tande waarmee hy plantmateriaal kon kou.[8] Dit het waarskynlik meer plantmateriaal geëet as Homo erectus, Homo sapiens en moontlik selfs Homo habilis. Dit het skynbaar steengereedskap gemaak en gebruik en het dalk selfs vuur gemaak, want daar is bewyse van gebrande dierebene by H. gautengensis-vondste.
Curnoe glo H. gautengensis was net meer as 0,91 m lank en het sowat 50 kg geweeg. Dit het op twee bene geloop as dit op die grond was, maar het heelwat tyd in bome deurgebring – dalk om te eet, slaap en van vyande te ontsnap.
Volgens die navorsers het dit nie gepraat of ’n taal gehad nie. Vanweë sy anatomie en ouderdom glo hulle dit was ’n nabyverwant van Homo sapiens, maar nie noodwendig ’n direkte voorsaat nie.
Vroeg in 2010 is die ontdekking van fossiele van ’n nuwe primaatspesie, Australopithecus sediba, aangekondig. A. sediba lyk of dit "meer primitief as H. gautengensis was en op dieselfde tyd op dieselfde plek gewoon het", volgens Curnoe, en dus "laat Homo gautengensis die spesie Australopithecus sediba selfs minder waarskynlik lyk" as ’n voorsaat van die mens.
’n Rede vir die skielike toename in die ontdekking van Homo-spesies is verbeterde ontledingsmetodes wat dikwels gebruik word op vorige vondste, DNS-werk en ’n beter begrip van waar sulke oorblyfsels dalk bestaan.[8]
Curnoe meen Australopithecus garhi, wat in Ethiopië gevind is en sowat 2,5 miljoen jaar oud is, is ’n beter verduideliking van die vroegste direkte voorsaat in die mens se evolusie wat nie tot die genus Homo behoort het nie.