Homo luzonensis | |
---|---|
CCH1, ’n 67 000 jaar oue fossiele middelvoetbeen wat moontlik aan Homo luzonensis behoort. | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | |
Spesie: | †H. luzonensis
|
Binomiale naam | |
†Homo luzonensis (Détroit et al., 2019)
|
Homo luzonensis is ’n uitgestorwe spesie oermense in die genus Homo.[1] In 2007 is ’n middelvoetbeen (MT3) in die Callaogrot op die eiland Luzon, Filippyne, ontdek deur die Filippynse argeoloë Armand Mijares en Philip J. Piper. Florent Détroit het dit aanvanklik as dié van ’n moderne mens geëien. Die ouderdom is deur middel van uraan-lood-datering vasgestel op 66 700 ± 1 000 jaar, terwyl verwante faunaoorblyfsels en ’n hominiene tand wat in 2011 gevind is, gedui het op ’n ouderdom van sowat 50 000 jaar.[2]
In 2019 het Armand Mijares et al. die ontdekking aangekondig van "nog twaalf hominiene elemente wat minstens drie individue verteenwoordig en wat gevind is in dieselfde stratigrafiese laag van die Callaogrot as die voorheen ontdekte middelvoetbeen". Hulle het die fossiele geïdentifiseer as behorende tot ’n nuwe spesie, Homo luzonensis, op grond van verskille van vorige geïdentifiseerde spesies in die genus Homo. Dié sluit in H. floresiensis en H. sapiens.[2][3][4]
Sommige wetenskaplikes dink egter nog bewyse is nodig om te bevestig dat die fossiele dié van ’n nuwe spesie is, eerder as ’n plaaslik aangepaste groep van ander Homo-bevolkings, soos H. erectus of H. denisova.[5]
Hoewel die aanvanklike hipotese oor die migrasie van mense na die Filippyne daarop gedui het dat landbrûe tydens die laaste ystyd gebruik is, dui moderne batimetriese studies van die Mindorostraat en Sibutudeurgang daarop dat nie een van hulle heeltemal toe was nie en dat Luzon en ander oseaaneilande van die Filippyne altyd oor die see bereik sou moes word.
Die klein kiestande van die hominiene dui daarop dat hulle moontlik eilandverdwerging ondergaan het, nes H. floresiensis,[5] hoewel geen raming van hulle lengte tans moontlik is nie. ’n Kundige wat nie by die studie betrokke was nie, het gesê die kromming van hulle vingers en tone dui daarop dat hulle dalk boom geklim het.[5]
Die fossiele menslike oorblyfsels word verbind met oorblyfsels van Filippynse takbokke (Cervus mariannus), wildevarke en ’n uitgestorwe bees.[2] Van die dierebene het moontlike snymerke, wat beteken hulle is dalk geslag.[6]
Op 5 Mei 2007 het ’n navorsingspan van die Filippyne, Frankryk en Australië ’n middelvoetbeen ontdek tydens uitgrawings in die Callaogrot.[7] Die morfologiese eienskappe van die fossiele het sonder twyfel met dié van die genus Homo ooreengestem, en dit was destyds die oudste bewyse van die teenwoordigheid van dié genus in die Filippyne. In die wetenskaplike beskrywing van die fossiel in 2010 is dit geïdentifiseer as behorende tot H. sapiens. In 2011 is nog vinger- en toonbene saam met vyf kiestande ontdek, en dit is ook beskryf as dié van H. sapiens.
In April 2019, in ’n studie deur Florent Détroit et al., is die fossiele geëien as dié van ’n aparte spesie oermense, wat Homo luzonensis gedoop is. Die fossiele word tans in die Nasionale Museum van die Filippyne gehou.
{{cite journal}}
: Onbekende parameter |last-author-amp=
geïgnoreer (hulp)
{{cite journal}}
: Onbekende parameter |last-author-amp=
geïgnoreer (hulp)