Die naam Mitochondriale Eva verwys in genetika na die matriliniêre laaste gemeenskaplike voorsaat van alle moderne mense wat vandag leef. Sy het sowat 160 000 jaar gelede geleef en was die mees onlangse vrou van wie alle mense vandag deur hul moeder afstam, en deur die moeder van hulle moeder ensovoorts, totdat alle linies na een vrou lei. Omdat mitochondriale DNS (mtDNA) gewoonlik van ’n ma aan haar kinders en weer van haar dogters aan haar kleinkinders oorgedra word, stem alle lewende mense se mtDNA ooreen met dié van die Mitochondriale Eva, en verskil dit net vanweë die mutasies wat oor generasies plaasgevind het sedert die konsepsie van dié "eerste" vrou.
Die Mitochondriale Eva is genoem na mitochondria, waarin mitochondriale DNS voorkom, en die Bybelse Eva.[1] Anders as haar Bybelse naamgenoot was sy egter nie die enigste lewende vrou van haar tyd nie. Haar vroulike tydgenote, behalwe haar ma, kon egter nie ’n direkte, ononderbroke vroulike lyn skep na enige lewende vrou van vandag nie.
Mitochondriale Eva het heel moontlik in Oos-Afrika gewoon,[2] toe die anatomies moderne mens, Homo sapiens sapiens, ontwikkel het in ’n aparte spesie.
Sy het later as Homo heidelbergensis en die verskyning van Homo neanderthalensis geleef, maar vroeër as die menslike migrasie uit Afrika.[3] Die datering van "Eva" was ’n hupstoot vir die teorie dat alle moderne mense uit Afrika stam en dat hulle ander spesies soos die Neanderdallers in ander dele van die wêreld vervang het.
’n Manlike weergawe van Mitochondriale Eva is Y-chromosomale Adam, die lid van Homo sapiens sapiens van wie alle lewende mans deur die patriliniêre lyn afstam, met ander woorde deur hul vader en dié se vader ensovoorts. "Adam" en "Eva" was nie noodwendig tydgenote nie;[4] Y-chromosomale Adam het na raming tussen sowat 180 000 en 581 000 jaar gelede geleef.[5][6][7]
{{cite journal}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)