Kaart | Wapen |
Monument vir die Prinses van Oranje | |
Land | Duitsland |
Deelstaat | Brandenburg |
Distrik | Oberhavel (OHV) |
Koördinate | 52°45′N 13°14′E / 52.750°N 13.233°O |
Stigting (eerste verwysing) | 1216 |
Stadstatus | 1232 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 163,64 vk km |
Hoogte bo seevlak | 34 m |
Bevolking: | |
- Totaal (31 Desember 2017) | 43 982 |
- Bevolkingsdigtheid | 269/vk km |
Tydsone | UTC +1 (MET) |
- Somertyd | UTC +2 (MEST) |
Klimaat | |
- Tipe | Gematigde klimaat |
- Gemiddelde jaarlikse temperatuur | -°C |
- Gem. temp. Januarie/Julie | -°C |
- Gemiddelde jaarlikse neerslag | - mm |
Burgemeester | Alexander Laesicke (SPD) |
Amptelike Webwerf | oranienburg.de |
Oranienburg is die administratiewe sentrum van die distrik Oberhavel in die Duitse deelstaat Brandenburg. Die stad is aan die Havelrivier en die Oder-Havel-kanaal, sowat twaalf kilometer van die noordelike stadsgrens van Berlyn en 35 kilometer noord van die Berlynse middestad geleë.
Die eerste verwysing na Oranienburg, wat destyds nog as Bochzowe (Bötzow) bekend gestaan het, dateer uit 1216. Die nedersetting het in 1232 stadstatus gekry. Vissery en handel met vis en landbouprodukte was sy ekonomiese basis.
Albrecht die Beer, markgraaf van Salzwedel, en sy opvolgers het vanaf die middel van die 13de eeu met die Duitse kolonisasie van heidense Slawiese gebiede oorkant die Elberivier begin en hul magsgebied na die Teltow- en Barnim-streke uitgebrei. Aan die grense en by strategies belangrike punte is kastele opgerig, waaronder vermoedelik ook die waterkasteel Bothzowe aan die Havel.
Tydens die heerskappy van keurvors Joachim II is in 1541 die Protestantse Hervorming ingevoer. Omstreeks 1550 het die keurvors die Bothzowe-kasteel, wat destyds die middelpunt die middelpunt van 'n klein nedersetting van koopmans en ambagsmanne was, maar weens die ooswaartse uitbreiding van Brandenburg geen rol meer by grensbeveiliging gespeel het nie, laat afbreek om 'n jagkasteel met twee verdiepings op te rig.
In die eerste helfte van die 17de eeu het Bötzow gebuk gegaan onder die skadelike gevolge van die Dertigjarige Oorlog (1618–1648). Die stad is deur soldate geplunder en huise en skure deur brande vernietig. Volgens oorlewerings het ook die Swart Dood in Bötzow gewoed. Die plaaslike bevolking het ná die oorlog nog slegs 200 beloop.
Ná die einde van die oorlog het die Brandenburgse keurvors Frederik Willem van Brandenburg die Bötzow-domein met al sy dorpe in 1650 aan sy eggenote Louise Henriette van Oranje-Nassau geskenk. Die Nederlands-gebore prinses was bekoor deur die waterryke groen landskap wat haar aan haar geboorteland herinner het. Twee jaar later is in haar opdrag die Oranienburg-kasteel in die Hollandse styl opgerig. Hier het Louise Henriette in 1663 die eerste porseleinkabinet in Europa gestig.
Die naam Oranienburg is reeds in 1653 ook in die stadseël oorgeneem. Vir die streek, wat dekades lank deur oorlogshandelinge verwoes is en die grootste deel van sy bevolking verloor het, het 'n bloeitydperk begin.
Louise-Henriette het nuwe hoop vir die bewoners gebied. Sy het nuwe setlaars uit Nederland en ander Europese lande na Oranienburg genooi om plase, melkerye en ander sosiale instellings te stig. Die keurvorstepaar het dwarsoor Brandenburg ongebruikte land in bloeiende landskappe omgeskep.
Hul seun, keurvors Frederik III (wat vanaf 1701 as koning Frederik I geregeer het), het die kasteel van sy moeder tot 'n pragtige barokkasteel omgebou – die eerste van sy soort in die Mark Brandenburg.
Die plaaslike kasteel is al in 1802 aan 'n apteker verkoop om voortaan 'n katoenwewery te huisves. Die katoenvervaardiging is egter in 1807 weens die oorlog met Frankryk gestaak.
Ná die Vryheidsoorloë het handel, vervoer en nywerhede voorspoedig ontwikkel. Nuwe paaie, waterweë en spoorweë is aangelê. Die eerste geskeduleerde trein op die roete tussen Berlyn en Stralsund het op 10 Julie 1877 in Oranienburg se stasie aangekom. Die stad is sodoende by Berlyn se treinnetwerk en vanaf 1891 danksy 'n nuwe stadstreinverbinding ook by die hoofstad se openbare vervoerstelsel ingesluit. Die ontwikkeling van vervoerinfrastruktuur het Oranienburg se industrialisering verder bevorder. Gepaardgaande met die ekonomiese ontwikkeling het die bevolking vinnige groei getoon – in 1900 was dit reeds sowat 8 000.
In die kasteel is in 1814 'n swaelsuurfabriek gevestig – die eerste van sy soort in Pruise wat swaelsuur volgens die loodkamermetode vervaardig het. Die skeikundige Friedlieb Ferdinand Runge (1794–1867) het in sy plaaslike fabriek reeds in 1833 sy belangrikste ontdekkings gemaak – anilien en karbolsuur in steenkoolteer. Hier is in 1835 die eerste stearien- en in 1840 die eerste paraffienkerse geproduseer. In 1848 is die nywerheid na die Mühlenfeld verskuif. Naas Runge se chemiese fabriek het ook ondernemings uit die metaal-, houtverwerkings- en masjienboubedryf hulle in Oranienburg gevestig. Die kasteel, wat ná 'n brand gerenoveer is, het tussen 1861 en 1926 'n teologiese seminarie van die Evangelies-Lutherse Kerk gehuisves.
Berlynse vegetariërs het op 28 Mei 1883 in die weste van Oranienburg die eerste vegetariese nedersetting in Duitsland gestig, die Vegetarische Obstbaukolonie Eden GmbH. Die bekende geldhervormer Silvio Gesell het baie jare in dié nedersetting gewoon en is hier ook oorlede.
Infrastruktuur en geriewe het met die bou van die Oder-Havel-kanaal tussen 1906 en 1912 'n nuwe hoogtepunt bereik. Meer nywerhede het hulle hierna in Oranienburg gevestig. 'n Staalvere-fabriek, wat kort ná die opening van die kanaal gestig is, sou later tot 'n belangrike staalaanleg groei. Die aanleg met 7 000 werknemers was een van die modernste van sy soort. As gevolg van die politieke omwenteling in die Duitse Demokratiese Republiek is dit ná 1989 deur die Wes-Duitse maatskappy Krupp oorgeneem en gesluit. Alle masjiene en geriewe is aan China verkoop.
In 1933 het die SA een van die eerste Nasionaal-Sosialistiese konsentrasiekampe in Oranienburg ingerig waar hoofsaaklik Berlynse teenstanders van die NS-bewind aangehou is. In Julie 1934 is die skrywer Erich Mühsam in dié kamp vermoor. 'n Tweede konsentrasiekamp, Sachsenhausen, is in Junie 1936 deur die SS aan die oostelike stadsrand ingerig. Hier het tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog meer as 100 000 mense gesterf. Die sentrale administrasie vir alle Duitse konsentrasiekampe was eweneens in Oranienburg gesetel. Die stad en die konsentrasiekampe is in April 1945 deur die Rooi Leër bevry, maar die konsentrasiekamp-terrein is tot en met 1950 steeds deur die Sowjet-besetters gebruik om politieke teenstanders te interneer.
Vanweë sy strategiese nywerhede – ondernemings soos die Auergesellschaft (wat by Hitler se kernprogram betrokke was en uraanoksied verryk het), die vliegtuigvervaardiger Heinkel en 'n filiaal van die Berlynse enjinvervaardiger Argus Motoren Gesellschaft – was Oranienburg die teiken van 'n hele reeks geallieerde lugaanvalle. Aktiewe bomme, wat nie ontplof het nie toe hulle afgewerp is, moet steeds ontlont word. Deskundiges reken dat sowat driehonderd bomme met chemiese ontstekingsmeganismes steeds aktief is en in die grond verborge lê. Chemiese verwering deur asetoon kan tot selfdetonasie lei.
Op 23 April 1952 is Oranienburg as setel van die gelyknamige administratiewe distrik in die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) aangewys. Die plaaslike kasteel het in die DDR-tydperk as kaserne vir Oos-Duitse grenssoldate gedien.
Ná die politieke omwenteling van 1989 en die hereniging met Wes-Duitsland is Oranienburg as administratiewe setel van die nuutgestigte distrik Oberhavel aangewys waarin twee vroeëre distrikte, Oranienburg en Gransee, saamgesmelt is. Sedert 1990 het nuwe ondernemings hulle in die stad gevestig en is talle woonbuurte gerenoveer of nuut gebou. Die stadskern word deur 'n mengsel van historiese en nuwe woon- en sakegeboue gekenmerk. Die kasteel van Oranienburg is eweneens gerestoureer en word tans deur die Stigting Pruisiese Kastele en Tuine Berlyn-Brandenburg bestuur.
Op 26 Oktober 2003 is die omliggende dorpe Friedrichsthal, Germendorf, Lehnitz, Malz, Schmachtenhagen, Wensickendorf en Zehlendorf by Oranienburg ingesluit.
Die Kasteelpark (Duits: Schlosspark) is wes van die kasteel geleë. Die park is in opdrag van keurvorstin Louise Henriette deur Johann Gregor Memhardt volgens die Hollandse styl met 'n tuinhuisie in sy middel aangelê. Selfs 'n kunsmatige grot en 'n klein dieretuin het ontstaan. Oorspronklik is veral sierbome, sierstruike, blomme en groente in die park aangeplant. Vrugtebome is uit Nederland ingevoer. So het die keurvorstin volgens historiese oorlewerings nuwe groentesoorte soos onder meer aartappels en blomkool in die Mark Brandenburg ingevoer. Die ingangsportaal is in 1690 in opdrag van haar seun, keurvors Frederik III (die eerste koning van Pruise), deur die argitek J.A. Nering ontwerp.
In 2009 is die jaarlikse tuinbouskou van die deelstaat Brandenburg in die Kasteelpark gehou. Die tema van die skou was "Droomlandskappe van 'n keurvorstin", en ter herdenking van die Nederlands-gebore keurvorstin Louise Henriette van Oranje is gragte in die Hollandse styl in die park angelê.
Die oorspronklike kasteelpark vorm saam met die nuwe park, wat op die terrein van die voormalige kasarm ontstaan het, 'n uniforme groen ruimte met 'n oppervlakte van 30 hektaar wat dwarsdeur die jaar stadsbewoners en toeriste lok. Die historiese gedeelte word deur skaduryke boomlane, 'n klein meer en kleurryke blomtapyte oorheers, terwyl op die nuwe parkterrein tematuine, 'n blomsaal met 'n restaurant en kinderspeelplekke ontstaan het.
Die geskiedenis van Sachsenhausen kan in die 14de eeu teruggevoer word. In die landboek van keiser Karel IV word in 1375 na 'n watermeul verwys, 'n aanleg wat later as Neumühl bekend sou staan. Vanweë sy gunstige ligging vlak by 'n waterloop het bakkers uit omliggende nedersettings hier hul graan laat maal. Die meul is as gevolg van oorlog, 'n brand en die Swart Dood in 1402 vernietig, maar sy bedryf was eeue lank só winsgewend dat dit steeds heropgebou is. In 1874 is die hele aanleg aan die brand gesteek.
Op 29 Mei 1753 het koning Frederik II van Pruise die amptelike stigtingsoorkonde van die dorp Sachsenhausen onderteken. Die dorp met 'n destydse bevolking van 220 is destyds as sogenaamde "straatdorp" aangelê, dit wil sê feitlik alle geboue was langs sy hoofstraat geleë. Tussen 1752 en 1753 is twintig spinnergesinne in nuut opgerigte woonhuise gevestig en verplig om jaarliks 'n bepaalde hoeveelheid wol te spin.
Nadat die eerste riviersluis reeds in 1448 gebou is, het Sachsenhausen sy latere groei onder meer aan sy waterweë, veral die Havelrivier, te danke. 'n Kanaal, die Ruppiner Kanal, het die plaaslike ekonomie 'n hupstoot gegee, en baie gesinne het vanaf 1800 werk by plaaslike rederye gevind. In 1842, toe Sachsenhausen 316 inwoners getel het, het 28 vragbote hul tuishawe in die dorp gehad.
Op 1 Julie 1900 het Sachsenhausen met die buurdorp Berg saamgesmelt, en in 1903 het die bevolking reeds 1 300 beloop. Vanaf 1905 was die dorp 'n spoorhalte, en agt jaar later het die plaaslike stasiegebou ontstaan. 'n Brandweer- en raadhuis is in 1931 gebou.
Die inwonertal het ná die Tweede Wêreldoorlog vinnig gegroei tot 4 000 in 1956. Op 1 April 1974 is Sachsenhausen amptelik as stadsdeel by Oranienburg ingesluit. Vandag is Sachsenhausen, wat in die noorde van Oranienburg geleë is, 'n rustige stadsdeel met 'n landelike karakter. Enkelgesinshuise, bosse, weivelde, waterlope en klein mere maak van Sachsenhausen 'n gewilde woonplek.
Die Lutherse Sint Nicolai-kerk is tussen 1864 en 1866 in opdrag van die Pruisiese koning Frederik Willem IV deur die argitek Friedrich August Stüler in die Neoromaanse styl gebou. Dit het 'n ouer eenvoudige kerkgebou vervang wat in 1796 ná die groot brandramp van 1788, waartydens die oorspronklike barokkerk vernietig is, opgerig is.
Die kerk is gedurende die Tweede Wêreldoorlog vernietig en in 1952 heropgebou. 'n Monument ter nagedagtenis aan die slagoffers van die Sachsenhausen-konsentrasiekamp, wat in 1985 opgerig is, herinner ook aan die geskiedenis van die Lutherse Kerk tydens die Nasionaal-Sosialistiese bewind in Duitsland tussen 1933 en 1945 toe baie Lutherse Christene as "Duitse Christene" met die Nazi-party gekollaboreer het.
Lutherse kerklidmate in Sachsenhausen, wat oorspronklik 'n selfstandige munisipaliteit gevorm het, het oorspronklik kerkdienste in Oranienburg bygewoon. Dit was egter 'n lang en moeilike pad om te loop, en so is daar reeds in 1903 beplan om 'n eie kerkgebou in Sachsenhausen op te rig, veral vanweë die vinnige groei van die gemeente. In 1911 het die dorpsbevolking reeds 2 000 beloop.
Kerkdienste is egter al vroeër in Sachsenhausen gehou. Sedert 1848 het 'n predikant uit Oranienburg een keer per kwartaal na Sachsenhausen gekom om 'n kerkdiens in die plaaslike skoolgebou te hou. Vir die nuwe kerk is baie donasies ontvang, en ook ambagsmanne het min of geen loon vir hul bydraes gevra nie. Die nuwe kerkgebou is op 20 Desember 1914 ingewy. Die nuwe kerkorrel, wat in Frankfurt (Oder) vervaardig is, is op 20 Desember 1964 ingewy.
Tydens die Nasionaal-Sosialistiese bewind tussen 1933 en 1945 het Nasionaal-Sosialisties gesinde "Duitse Christene" die kerkraad van Oranienburg oorheers, terwyl kerkraad van die gemeente in Sachsenhausen by die Bekennende Kirche ("Belydende Kerk") aangesluit het.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Oranienburg. |