Stef Bos | |
---|---|
Stef Bos tydens 'n lewendige optrede. | |
Agtergrondinligting | |
Gebore | 12 Junie 1961 Veenendaal, Utrecht, Nederland |
Instrumente | Kitaar, klavier |
Webwerf | http://www.stefbos.nl/ |
Stef Bos (gebore in Veenendaal in die provinsie Utrecht, Nederland op 12 Julie 1961) is 'n Nederlandse sanger, liedjieskrywer en akteur. Hy sing en dig ook in Afrikaans.
Stef Bos is op 12 Julie 1961 in Veenendaal in Nederland gebore, as die seun van Albert en Neeltje Bos. Hy het ’n suster, Loes, en broer, Gerrit. Stef word groot in Utrecht, waar sy pa ’n juwelierswinkel besit. Hy studeer vanaf 1980 verder aan die Christelik Gereformeerde Pedagogiese Akademie in Utrecht, waar hy in 1981 as lid van die duo Kaliber die publieksprys wen by die kabaretfees Camaretten in Delft. Vanaf 1984 bestudeer hy kleinkuns aan die Studio Herman Teirlinck in Antwerpen in België. Hy vestig hom nou ook permanent in Antwerpen. Na afloop van sy studies is hy vir ’n ruk verbonde aan die toneelgeselskap Oud Huis Stekelbees. Hy trou in 2008 met die Suid-Afrikaanse kunstenaar Varenka Paschke, wat sy bande met Suid-Afrika verder versterk. Sy verskaf ook die illustrasies vir sy boek “Stillewe”. Hulle het twee kinders, Kolya (gebore 2010) en ’n dogter (gebore 1 Oktober 2012 in hulle huis).[1] Die gesin bly in Kaapstad.
Hy skryf verskeie liedjies wat eers deur ander kunstenaars en later deur homself opgevoer word. “Door de wind”, sy komposisie gesing deur Ingeborg, is die Belgiese inskrywing vir die Eurovisie Sangfees in 1989. Sy liedjie “Papa” is ’n groot treffer in beide België en Nederland en sy eerste album, “Is dit nu later” verwerf dubbel platina status en besorg hom ’n Silwerharp en ook ’n Edison-toekenning. Hierna is dit gebruiklik vir hom om teaterkonserte te hou om sy albums te bemark. Die teaterkonsert “Tussen de liefde en de leegte” besorg in 1993 aan hom die gesogte Pall Mall uitvoerprys en die gelyknamige CD verower platinum status. Hy werk daarna in 1993 saam met die Suid-Afrikaanse kunstenaars Tandie Klaassen en Johannes Kerkorrel aan die CD “Together as one” en kom onder die bekoring van Suid-Afrika en Afrikaans. Sy albums bevat daarna verskeie Suid-Afrikaanse liedjies en hy word ook soms deur Suid-Afrikaanse musikante begelei, terwyl hy self opnames doen in Afrikaans. Hy tree ook gereeld in Suid-Afrika op. In 2000 verwerf sy album “Zien” ’n Edison-toekenning en in dieselfde jaar word hy vereer met ’n Goueharp toekenning vir al sy werk tot op daardie stadium. Hy is in 2001 die hoofkunstenaar by die Nekkanacht in die Antwerpse Sportpaleis en is daarvoor verantwoordelik dat vir die eerste keer in die geskiedenis die Nekkanacht uitverkoop word. Van sy vele optredes in Suid-Afrika bring hy later in 2001 die CD “Van Mpumalanga tot die Kaap” uit. In 2002 verhuis hy vanaf Antwerpen na Wachtebeke in België. In 2004 wen sy “Gebroken zinnen” opvoering die prys vir die Beste Produksie by die Innibos-fees in Nelspruit.
Stef Bos se eerste twee enkelsnitte wat hy in 1990 uitgereik het — Is Dit Nu Later en Gek Zijn is Gezond — het nie veel sukses behaal nie, maar Papa was 'n groot treffer en word tot vandag onlosmaaklik met sy naam verbind. Die album het hierdeur dubbelplatinum verkry en in daardie selfde jaar het hy twee pryse ontvang: een Edison-musiekprys en die Zilveren Harp. Bos toer nou gereeld in België en Nederland met 'n teaterkonsert wat aanvanklik veral in België, maar later ook in Nederland, 'n sukses geword het. Geleidelik het Stef Bos ook in aanraking met die Afrikaanse kultuur gekom. Hy het eers na Wes-Afrika vertrek. Hier het 'n baie inspirasie opgedoen. Later het hy na Suid-Afrika vertrek. Hy het saam met Johannes Kerkorrel en Tandie Klaassen aan die album Together As One gewerk. Ook hierna was die Afrikaanse invloed duidelik merkbaar op die albums wat Stef Bos uitgereik het. Op die CD's Vuur tot en met De Onderstroom bevat snitte wat saam met Afrikaanse musici opgeneem is of deur hulle geskryf is. Met die album Vuur het Bos 'n Edison-nominasie verdien, maar wat hy toe nie gewen het nie. In 2000 het Stef Bos vir sy album Zien 'n tweede Edison ontvang asook 'n Gouden Harp. Vir hierdie CD het hy nie net deur België en Nederland getoer nie, maar ook deur Suid-Afrika.
In 2001 was Stef Bos die eregas by die Nekkanacht in die Antwerpse Sportpaleis. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Nekkanacht was die Sportpaleis vol bespreek. Die ongeveer 15 000 bywoners het 'n gevarieerde aand geniet waarby Stef Bos self die gasheer was en hy musiek gemaak het met Johan Verminnen, Raymond van het Groenewoud, Clouseau, Boudewijn de Groot en andere waarmee hy in die verlede saamgewerk het. Die nuwe CD, Van Mpumalanga Tot Die Kaap, bevat diepgaande Afrikaanse invloede en was ook opgeneem met die hulp van 'n paar Afrikaanse musikante.
Ná die vrystelling van nog 'n CD, Donker en Licht, en die saamgaande teatertoer Niemandsland, het Stef Bos in 2004 met 'n kort solo-toer begin, genaamd Dichtbij, waar hy sélf met klavier begelei het. Hierdie toer het ook gedien om nuwe liedjies by teatergangers te toets voordat dit op CD's geplaas word. In November 2004 het hy met 'n lang toer, Licht, saam met 'n musiekgroep begin. In 2005 het voorlopig sy laaste CD vrygestel, genaamd Ruimtevaarder, met veral nuwe liedere wat op die Licht-toer gespeel is.
Stef Bos het nie slegs CD's uitgebring nie, maar ook drie boeke: Gebroken Zinnen, Alles Wat Was en Ja!. Die eerste boek is 'n boek waarin 'n verskeidenheid van prosa en poësie wat deur Stef Bos geskryf is gepubliseer is, insluitende gedagtes, gedigte en ongesonge lirieke. Die tekse is afgewissel met illustrasies deur die Suid-Afrikaanse skilderes Mariana Booyens. Die boek het ook in Afrikaans verskyn, onder die titel Gebroke Sinne. In die boek Alles Wat Was, met daarmee saam ook 'n bonus-CD wat nie-uitgegewe snitte bevat, is daar 'n versameling lirieke van 1980 tot 2005 wat met foto's, briewe, sketse en kommentaar afgewissel word. Ja! is 'n vervolg op Gebroke Sinne, en bevat op sy beurt illustrasies van die kunstenaar Eric de Bruijn.
Sy gedigte verskyn in Afrikaanse verwerking in “Gebroke sinne” en “Ja!”.[2] Hierdie bundels bevat werk wat moeilik klassifiseerbaar is, aangesien dit nie suiwer gedigte of liedtekste is nie. Beide boeke is ryklik geïllustreer. “Gebroke sinne” is soos die titel aandui eerder gedagtes en besinnings, waar die sinne in kort reëls verdeel word en is ’n Afrikaanse vertaling van die oorspronklike Nederlands, met liefde as fokuspunt. Die boek word geïllustreer deur Marianna Booyens.[3] “Ja!” is soortgelyk van aard en word geïllustreer deur Eric de Bruijn. Dit bevat oorspronklike Nederlandse en Afrikaanse werk, met die Nederlands in die meerderheid. Die liefde en vervreemding is ’n sentrale tema in hierdie bundel, maar hy brei die tematiek uit deur ook gedigte oor onder meer politiek, tyd, religie en die dood in te sluit.[4][5][6][7] “Stillewe” is ’n bundel wat sy ontstaan het tydens ’n reis deur Suid-Amerika, geïllustreer deur sy vrou Varenka Paschke. Hierdie bundel word vir die verhoog verwerk in ’n musiekuitvoering wat in 2009 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees debuteer. Sy eerste DVD, “Rooi aarde swart bloed”, word in 2007 in Suid-Afrika opgeneem en in 2010 gee hy “Kloofstraat” uit, sy eerste volledig Afrikaanse musiekalbum. Daarna volg ook die album “Kaalvoet” in Afrikaans.
Die ATKV-tak Pretoria-Oos vereer hom in Februarie 2010 vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. In 2015 ontvang hy die Van Riebeeck-penning vir sy werk om ’n kulturele brug te bou tussen Suid-Afrika en Nederland