Australopithecus africanus | |
---|---|
’n Namaaksel van die Taung-kind | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Koninkryk: | |
Filum: | |
Klas: | |
Orde: | |
Familie: | |
Genus: | |
Spesie: | †Au. africanus
|
Binomiale naam | |
†Australopithecus africanus (Dart, 1925)[1]
|
Australopithecus africanus was ’n vroeë hominied van die genus Australopithecus wat tussen sowat 3,03 en 2,04 miljoen jaar gelede in die laat-Plioseen en vroeë Pleistoseen geleef het.[2] Nes die ouer Australopithecus afarensis was Au. africanus fyn gebou en daar word geglo dit was ’n direkte voorouer van die moderne mens. Uit fossieloorblyfsels blyk Au. africanus het baie meer met die moderne mens ooreengestem as Au. afarensis, met ’n meer mensagtige kopbeen wat plek gehad het vir ’n groter brein en meer menslike gelaatstrekke. Au. africanus is nog net op vier plekke in Suider-Afrika gevind – Taung (1924), Sterkfontein (1935), Makapansgat (1948) en Gladysvale (1992).[1]
Raymond Dart het begin belangstel in fossiele wat in 1924 naby ’n myn in Taung naby Kimberley, Suid-Afrika, gevind is.[3][4] Die belowendste van hierdie fossiele was ’n kopbeen van ’n snaakse aap-agtige kreatuur wat sekere eienskappe met mense gemeen gehad het soos oogholtes, tande en die opening by die basis van die kopbeen oor die ruggraat wat gedui het op ’n menslike houding. Dart het aan die fossiel die naam Australopithecus africanus ("suidelike aap van Afrika") gegee.[1] Dit was die eerste keer dat die naam Australopithecus aan ’n hominied gegee is.
Dart het beweer die kopbeen is ’n tussenspesie tussen die aap en die mens, maar dit is destyds deur die wetenskaplike gemeenskap verwerp weens die geloof dat ’n groter kopbeenkapasiteit nodig was vir loop op twee bene.[1] Sir Arthur Keith het gemeen die kopbeen is dié van ’n jong aap, waarskynlik ’n klein gorilla. Die publiek het die nuwe genus eers 20 jaar later aanvaar en dit het toe ’n ware lid van die Homininae geword.
Dart se teorie is ondersteun deur Robert Broom.[5] In 1938 het Broom ’n volwasse kopbeenafgietsel met ’n breinkapasiteit van 485 cm3, wat deur G.W. Barlow ontdek is, geklassifiseer as Plesianthropus transvaalensis. Op 18 April 1947 het Broom en John T. Robinson die kopbeen van ’n middeljarige vrou by Sterkfontein ontdek.[6] Broom het dit ook as Plesianthropus transvaalensis geklassifiseer, en jong medewerkers van hom het dit "Mev. Ples" gedoop, hoewel daar nou geglo word dit het aan ’n jong man behoort. Albei fossiele is later geklassifiseer as Australopithecus africanus.
Nes Au. afarensis het die Suid-Afrikaanse Au. africanus die eienskappe gehad van ’n hominied wat op twee bene loop, met sy arms effens langer as sy bene (’n eienskap wat by sjimpansees voorkom). Hoewel die kopbeen meer mensagtig was, was daar ook primitiewe eienskappe soos aapagtige, gekrulde vingers vir boomklim.
Vanweë ander primitiewer eienskappe van Au. africanus glo sommige navorsers dat die Hominini nie die direkte voorouer van die moderner Hominini's is nie, maar in die Paranthropus ontwikkel het.
Onlangse getuienis oor menslike geslagsdimorfie (die fisieke verskille tussen mans en vroue) in die lendestreek is gesien in pre-moderne primate soos Au. africanus. Dié verskille word beskou as ’n evolusionêre aanpassing van vroue om ’n swaar las in die lende tydens swangerskap te dra, ’n aanpassing wat diere op vier bene nie sou hoef te maak nie.[7][8]
Volgens huidige data is Au. africanus tussen 3,03 miljoen en 2,04 miljoen jaar oud,[9] die Makapansgat-fossiele tussen 3,03 miljoen en 2,58 miljoen jaar; Sterkfontein tussen 2,58 miljoen en 2,04 miljoen jaar en Mev. Ples sowat 2,04 miljoen jaar; en Gladysvale tussen 2,4 miljoen en 2 miljoen jaar. Die ouderdom van die Taung-kind is moeiliker om te bepaal en is die fokus van ’n huidige projek deur Brian Kuhn (Universiteit van die Witwatersrand), Phil Hopley (Birkbeck-kollege, VK), Colin Menter (Johannesburg) en Andy Herries (Australië).