Die Statebond (vroeër Britse Statebond, Engels: Commonwealth of Nations, tot 1947 British Commonwealth of Nations) is 'n vrywillige vereniging van 56 onafhanklike, soewereine lande, wat uit die Verenigde Koninkryk en, meestal, sy voormalige kolonies bestaan.
Nie alle lede van die Statebond erken die Britse monarg as staatshoof nie. Dié wat dit wel doen, is bekend as Statebondgebiede, maar die meeste lede is republieke, en 'n handvol ander is inheemse monargieë. Alle lede erken wel koning Charles III as hoof van die Statebond, 'n rol wat miskien die beste met dié van 'n seremoniële president vergelyk kan word.
Die Statebond het die Britse Ryk vervang, en sy oorsprong lê in die Rykskonferensies van die laat 1920's (konferensies van Britse en koloniale eerste ministers het gebeur vanaf 1887), waar die onafhanklikheid van selfregerende kolonies en dominiums erken is, en is uiteindelik geformaliseer deur die Statuut van Westminster in 1931. Die Statebond is geskep as 'n vereniging van vrye en gelyke state, en lidmaatskap was gebaseer op die gemene trou aan die Britse Kroon.
Ná die Tweede Wêreldoorlog is die Ryk stadig afgebreek, wat deels aan die groei van onafhanklikheidsbewegings in die onderdanige streke (mees belangrik in Indië onder die invloed van Mahatma Gandhi) toegeskryf kan word, asook die Britse Regering se verkrampte omstandighede as gevolg van die koste van die oorlog. Burma (1948) en Suid-Jemen (1967) was onder die paar vorige kolonies/protektorate wat nie tot die Statebond toegetree het by onafhanklikheidswording nie. Miskien die mees bekende groep vorige Britse kolonies, die Verenigde State, is ook nie lid van die Statebond nie, omdat die onafhanklikheid van die VSA hierdie instelling met oor 'n honderd jaar voorafgaan. Die Republiek Ierland was 'n lid, maar het die Statebond verlaat met republiekwording in 1949.
Die kwessie van republiekstatus binne die Statebond is eers in 1950 opgelos toe daar ooreengekom is, volgens 'n formule voorgestel deur Kanadese eerste minister Louis St. Laurent, dat Indië 'n lid mag bly ten spyte van sy huidige republiekgrondwet1. (Voorheen het Ierland en Burma die Statebond verlaat na republiekwording.) Hierdie besluit, soos uiteengesit in die London Declaration, het toegelaat dat lede die Britse monarg as Hoof van die Statebond aanvaar ongeag van hulle binnelandse grondwetlike opset, en word deur baie gesien as die begin van die moderne Statebond.
Soos die Statebond gegroei het, het Brittanje en die vorige "blanke Dominiums" informeel (en meestal veragtend) bekend geraak as die Wit Statebond, spesifiek wanneer hulle met die armer, meestal nie-blanke Statebondslede verskil het oor verskeie kwessies by die Statebond Regeringshoofde-ontmoetings. Aantygings dat die "Wit Statebond" ander belange as spesifiek die Afrika Statebondnasies het, asook beskuldigings van rassisme en kolonialisme het gereeld voorgekom gedurende debatte oor Rhodesië in die 1970's, die oplegging van sanksies teen die apartheidsera Suid-Afrika in die 1980's, en meer onlangs oor die kwessie van om druk uit te oefen vir demokratiese hervorming in Nigerië en later Zimbabwe in onlangse jare.
Sedert die toetrede van Mosambiek (in 1995), Rwanda (in 2009) asook Gaboen en Togo (albei in 2022) het die Britse Statebond ook lidlande wat nooit deel van die Britse Ryk was nie, maar onderskeidelik Portugese, Belgiese of Franse kolonies.
Die Statebond hou die Statebondspele elke vier jaar, twee jaar na elke Olimpiese Somerspele.
Datum van lidmaatskap tussen hakies.[1])
Sekretarisse-generaal van die Britse Statebond:[16]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Britse Statebond. |