Ingmar Bergman | |
---|---|
Ingmar Bergman in 1957 | |
Gebore | Ernst Ingmar Bergman 14 Julie 1918 |
Sterf | 30 Julie 2007 (op 89) Fårö, Swede |
Nasionaliteit | Swede |
Beroep | Rolprentregisseur, vervaardiger en draaiboekskrywer |
Eggenoot | Else Fisher (1943–45) Ellen Lundström (1945–50) Gun Grut (1951–59) Käbi Laretei (1959–69) Ingrid von Rosen (1971–95) |
Handtekening | |
Ernst Ingmar Bergman[1] (14 Julie 1918 – 30 Julie 2007) was 'n Sweedse teater- en rolprentregisseur. Hy word as een van die groot meesters in rolprentgeskiedenis beskou.[2]
Hy was die regisseur van 62 rolprente (die meeste hiervan het hy self geskryf) en 170 toneelstukke. Die meeste van sy rolprente het in sy geboorteland, Swede, afgespeel. Die deurlopende temas van sy werke was dikwels mistroostig en het oor fisiese en psigiese siektes gehandel. Hy het ’n Oscar vir The Virgin Spring (1960) en Through a Glass Darkly (1962) ontvang.[3]
Bergman was vir meer as 60 jaar aktief, maar sy loopbaan was ernstig bedreig in 1976 na 'n verknoeide misdaadondersoek rakende beweerde belastingontduiking. Bergman het 'n aantal van sy produksies gestaak, sy ateljee gesluit en daarna tydens 'n selfopgelegde bannelingskap vir agt jaar vanuit Duitsland gewerk.
Ernst Ingmar Bergman is in Uppsala, Swede gebore aan 'n Lutherse predikant van Deense afkoms, Erik Bergman (later kapelaan vir die Sweedse Koning) en sy vrou, Karin (née Åkerblom). Tydens sy jeug was Ingmar omring deur religieuse verbeeldings en besprekings. Sy vader was 'n konserwatiewe minister en 'n streng ouer. In sy outobiografie, Laterna Magica, skryf Ingmar
"Terwyl vader vanaf die kansel gepreek het en die gemeente gebid, gesing of geluister het, het ek my aandag geskenk aan die kerk se raaiselagtige wêreld van lae gewelwe, dik mure, die reuk van die ewigheid, die gekleurde sonlig al bewende op die vreemdste vegetasie van middeleeuse skilderye en gekerfde figure op die plafonne en mure. Daar was alles wat 'n mens se verbeelding kon begeer: engele, heiliges, drake, profete, duiwels, mense."[4]
Bergman se belangstelling in die teater- en rolprentwêreld het op 'n vroeë ouderdom begin:
"Op 9-jarige ouderdom het hy 'n stel bliksoldate vir 'n gehawende towerlantern verruil, 'n besitting wat sy lewenskoers verander het. Hy onthou hoe hy binne-in 'n jaar, deur met hierdie speelding te speel, 'n private wêreld geskep het waarin hy geheel en al tuis gevoel het. Hy het sy eie dekor, marionette en beligtingeffekte geskep en poppespele aangebied wat op toneelstukke van Strindberg gebaseer is en waarin hy sy stem aan al die rolle verleen het.[5]
Hy het twee vyf-maand-lange termyne van verpligte militêre diens gelewer en het die Stockholm Hoërskool en Stockholm Universiteit ("Stockholms universitet") bygewoon. Daar het hy oorspronklik vir 'n kursus in letterkunde en kuns ingeskryf, maar het halfverweë opgehou na hy geïnteresseerd geraak het in die teaterwêreld en later ook in rolprente (teen die vroeë 1930's was hy 'n "opregte rolprentverslaafde").[6]
Alhoewel hy in 'n toegewyde Lutherse huishouding grootgeword het, het Bergman sy geloof reeds op agt-jarige ouderdom verloor. Hy het egter eers vrede met hierdie feit kon maak tydens die verfilming van die 1962-film Nattvardsgästerna.[7]
Sedert die vroeë sestigerjare het Bergman 'n groot deel van sy lewe op die Sweedse eiland Fårö (net noord van Gotland) deurgebring, waar hy ook 'n aantal van sy films vervaardig het. Hy het na München verhuis vir 'n periode na die uitgestrekte stryd met die Sweedse regering rakende sy beweerde belastingontduiking. Bergman het eers weer in 1982 na Swede teruggekeer, waar hy toe die regie van die film, Fanny och Alexander, behartig het. Bergman het verklaar dat dit sy laaste film sou wees en dat hy voortaan slegs verhoogproduksies sou bestuur. Hy het egter sedertdien 'n aantal televisiefilms vervaardig, maar het later op Fårö afgetree.
Ingmar Berman het vreedsaam gesterf by sy tuiste op Fårö, vroeg op die oggend van 30 Julie 2007, op die ouderdom van 89.[8]
As 'n regisseur het Bergman intuïsie bo intellek vertrou en het 'n nie-aggressiewe benadering gekies in sy werk met akteurs. Hy het homself as verantwoordelik vir sy akteurs beskou en het hulle gesien as medewerkers wat dikwels in 'n psigologies kwetsbare posisie is. Hy was van mening dat 'n regisseur beide eerlik en ondersteunend moet wees, ten einde akteurs toe te laat om hulle beste werk te lewer.
Sy rolprente handel gewoonlik oor eksistensialistiese vrae oor sterflikheid, eensaamheid en geloof en dié rolprente was oor die algemeen direk en nie openlik gestileerd nie. Een van Bergman se bekendste rolprente, Persona, is opvallend, siende dat die film beide eksistensialisties en avant-garde is.
Alhoewel sy rolprente intellektuele temas bevat het, het die kwessie van seksuele begeerte in die voorgrond van die meeste van sy rolprente voorgekom, of die toneel nou 'n middeleeuse plaag was (Det Sjunde inseglet), die lewe van 'n ryk familie in vroeë 20-eeuse Uppsala (Fanny och Alexander) of eietydse vervreemding (Tystnaden). Sy vroulike karakters was gewoonlik meer in voeling met hulle eie seksualiteit as hulle manlike medespelers en het ook nie geskroom om dit te verkondig nie, al was dit soms met verstommende rondborstigheid (bv. Viskningar och rop). In 'n onderhoud met die tydskrif, Playboy, in 1964, het hy gesê: "...die openbaring van seks is baie belangrik en veral vir my, want bo alles wil ek nie slegs intellektuele films maak nie. Ek wil hê dat gehore my films moet voel, moet áánvoel. Vir my is dit baie belangriker as wat hulle slegs my films verstaan."[9] Volgens Bergman was rolprente sy veeleisende minnares. Sommige van sy grootste aktrises het ook in die werklikheid die rol van sy minnares gespeel.
Liefde – verdraai, gefnuik, onverklaar, verstoot – was die leidende motief van baie van sy rolprente, moontlik beginnende met Nattvardsgästerna (1962), waar 'n pastoor se onvrugbare geloof gekontrasteer word met sy minnares se spytvolle stryd om hom te help om spirituele regverdiging deur menslike liefde te vind.
Bergman het gewoonlik sy eie draaiboeke geskryf en het dikwels maande of selfs jare daaroor gedink voor hy die fisiese proses van neerlegging begin het ('n proses wat hy as ietwat langdradig beskou het). Sy vroeë films is met sorg gestruktureer en is óf op sy toneelstukke gebaseer of in medewerking met ander draaiboekskrywers geskryf. Volgens Berman het akteurs van sy latere rolprente soms dinge anders wou doen as wat hy dit beplan het en het hy hulle toegelaat, na hy gemerk het dat die gevolg soms "rampsalig" was wanneer hy dit nie toegelaat het nie. Soos sy loopbaan gevorder het, het Bergman sy akteurs meer en meer toegelaat om hulle dialoog te improviseer. In sy laaste rolprente het hy slegs die idees om die toneel verskaf en sy akteurs toegelaat om self op hulle presiese dialoog te besluit.
Bergman het 'n persoonlike "vaste toneelgeselskap" ontwikkel van Sweedse akteurs en aktrises wat hy herhaaldelik in sy rolprente gebruik het. Hulle het Max von Sydow, Bibi Andersson, Harriet Andersson, Erland Josephson, oorle Ingrid Thulin, en Gunnar Björnstrand ingesluit; elkeen van hierdie akteurs en aktrises het in ten minste vyf van Bergman se rolprente verskyn. Die Noorse aktrise, Liv Ullman, wat in nege van sy rolprente verskyn het, was die laaste om by die groep aan te sluit met die 1966 film, Persona. Van die groep was sy ook uiteindelik die nouste geassosieer met Bergman, beide op 'n kunssinnige en persoonlike vlak. In 1966 het die twee 'n dogter, Linn Ullmann, gehad.
Bergman het in 1953 saam met sy kameraman, Sven Nykvist, begin werk. Die werksverhouding wat die twee ontwikkel het was van so 'n mate dat Bergman eers die dag voor verfilming sou wonder oor die samestelling van 'n skoot. Die volgende oggend sou hy kortliks die stemming en die komposisie wat hy wil hê, bespreek en dit dan aan Nykvist oorlaat, sonder om enigsins in te meng of kommentaar te lewer tot en met die naproduksie se besprekings.
1976 was een van Ingmar Bergman se traumatieste jare in sy lewe. Tydens die repetisie van die toneelstuk, Dödsdansen, deur August Strindberg, op 30 Januarie 1976 by die Kungliga Dramatiska Teatern ("Koninklike Dramatiese Teater") in Stockholm, is Bergman gearresteer deur twee polisiebeamptes in burgerdrag en daarvan aangekla dat hy sy inkomstebelasting ontduik het. Die gebeurtenis se impak op Bergman was verwoestend: hy het 'n senuwee-instorting gehad en is in die hospitaal opgeneem te midde van 'n diepe depressie.
Die ondersoek was gefokus op 'n beweerde transaksie van SEK 500 000 (Sweedse krona) tussen Bergman se Sweedse maatskappy, Cinematograf en die se Switserse dogtermaatskappy, Persona, 'n entiteit wat hoofsaaklik gebruik was om die salarisse van buitelandse akteurs te betaal. Bergman het Persona in 1974 ontbind, na hy deur die Sweedse Sentrale Bank in kennis gestel is en het daarna die inkomste rapporteer. Op 23 Maart 1976 het die spesiale aanklaer, Anders Nordenadler, die aanklagte teen Bergman laat vaar en gesê dat die beweerde "misdaad" geen wettige basis het nie en dat dit vergelykbaar is met 'n persoon wat sy eie kar probeer steel.
Alhoewel die aanklagtes ingetrek is, was Bergman vir 'n tydperk terneergedruk en gevrees dat hy nooit weer die rol van regisseur sou speel nie. Hy het uiteindelik van die skok herstel, maar, ondanks 'n smeekbede van die Sweedse eerste minister, Olof Palme, en leiers van die rolprentwêreld, het hy belowe dat hy nooit weer in Swede sou werk nie. Hy het sy ateljee op die Baltiese eiland, Fårö, gesluit, twee aangekondigde rolprentprojekte uitgestel en tydens 'n selfopgelegde bannelingskap na München, Duitsland verhuis. Alhoewel hy sy werk vanuit München voortgesit het, het dit teen 1978 geblyk dat Bergman sy oorgrote bitterheid teenoor sy vaderland verwerk het. Teen Julie van daardie jaar was hy terug in Swede, net op tyd om sy 60ste verjaardag op Fårö te vier. Hy het ook sy werk as regisseur by die Koninklike Dramatiese Teater gedeeltelik hervat. Ter ere van sy terugkoms het die Sweedse Filminstituut ("Svenska Filminstitutet") 'n nuwe jaarlikse toekenning geloods wat na Ingmar Bergman vernoem was en toegeken word in erkenning vir uitmuntende rolprentvervaardiging.[10]
Bergman het tot 1982 steeds die meerderheid van sy tyd in München spandeer, maar het in die jaar na sy tuiste teruggekeer om die regie van Fanny och Alexander te behartig. Bergman het verklaar dat dié sy laaste rolprent sou wees en dat hy daarna slegs op toneelstukke sou fokus. Hy was egter sedertdien die regisseur van verskeie televisie-aanbiedings en het ook 'n aantal draaiboeke geskryf, terwyl hy sy werk by die teater voortgesit het. In 2003 het Bergman, op 84-jarige ouderdom, 'n nuwe rolprent geregisseer: Saraband. Dié rolprent het aansienlik van Bergman se vorige projekte verskil.
Volgens Bergman, het hy sy rolprent Nattvardsgästerna[11] die hoogste geag van al sy rolprente. In 'n 2004-onderhoud het hy egter verklaar dat sy rolprente hom depressief maak en dat hy hulle nie meer kan kyk nie.[12]
Volgens Bergman, het hy die rolprentmedium tot sy uiterste geforseer. Drie van sy rolprente, Såsom i en spegel (1961), Nattvardsgästerna (1962) en Tystnaden (1963) word deur kritici as 'n trilogie beskou. Bergman het teen hierde saamgroepering uitgevaar en verklaar dat hy geensins bedoel het om 'n verbinding tussen die drie rolprente te skep nie en dat hy self nie enige ooreenstemmende motiewe in die rolprente kon sien nie.[13] Die verklaring kontrasteer egter met die feit dat Bergman die draaiboeke van die drie rolprente saam in 'n enkelbundel uitgegee het, met 'n inleidende aantekening wat lui:
"Hierdie drie rolprente handel oor vermindering. Såsom i en spegel – het sekerheid oorwin. Nattvardsgästerna – het sekerheid binnegedring. Tystnaden – God se stilte – die negatiewe afdruk. Dus vorm hulle saam 'n trilogie."[14]
Alhoewel Bergman alombekend is vir sy bydraes rakende rolprente, was hy ook sy hele lewe lank 'n aktiewe en produktiewe verhoogregisseur. Hy was ook die bestuurder van 'n aantal toonaangewende teaters in Swede, waaronder die stadsteater van Malmö in die 1950's en die Koninklike Dramatiese Teater in Stockholm: daar was hy die uitvoerende bestuurder van 1963–66 en regisseur tot en met die negentigerjare. Hy was ook die bestuurder van die Residenz-Theater in München van 1977 tot 1984. Baie van die akteurs en aktrises wat hy in sy rolprente gebruik het, het hy ontmoet toe hy saam met hulle op die verhoog gewerk het.
Ingmar Berman was vyf keer getroud:
Bergman se eerste vier huwelike het in egskeidings geëindig, terwyl die laaste geëindig het toe sy vrou aan maagkanker sterf.
Hy was ook die ouer van skryfster, Linn Ullmann, saam met aktrise, Liv Ullmann. Bergman het in totaal nege kinders as sy eie erken. Naas sy huwelike het hy ook verhoudings gehad met Harriet Andersson 1952–55, Bibi Andersson 1955–59 en Liv Ullmann 1965–70.
Ingmar Bergman het 'n totaal van 3 Oscars gewen uit 'n totaal van 12 nominasies. Daarnaas is ook die Irving G. Thalberg Memorial Award aan hom toegeken in 1971. Dié toekenning word gegee aan "kreatiewe produseerdes wie se werke 'n volgehou hoë kwaliteit van rolprentprodusering weerspieël".[15]
Die Palme d'Or (ook soms verwys na as die "Goue Palm") is die hoogste prys wat aan 'n mededingende rolprent toegeken kan word tydens die Cannes-rolprentfees.
Die rolprente se oorspronklike titels word hier weergegee, met 'n vertaling van die titels se betekenis in Afrikaans in hakies.
|
|
Wikimedia Commons bevat media in verband met Ingmar Bergman. |