Jon Olav Fosse (gebore 29 September 1959) is 'n Noorse skrywer en dramaturg. In 2023 is hy bekroon met die Nobelprys vir Letterkunde “vir sy vernuwende toneelstukke en prosa wat stem gee aan die onsegbare”. Hy is die Noorse dramaturg wat die meeste uitgevoer word ná Henrik Ibsen.[1]
Jon Fosse is in Haugesund, Noorweë, gebore, maar het in sy jeug in Strandebarm gewoon.[2]. Hy het op 7-jarige ouderdom tydens 'n ernstige ongeluk ter-nouernood aan die dood ontkom; die ervaring het sy volwasse skryfwerk in 'n groot mate beïnvloed.[3] Hy het aan die Universiteit van Bergen ingeskryf en vergelykende letterkunde bestudeer, later 'n literêre loopbaan begin en in Nynorsk (letterlik: Nieu-Noors) geskryf, een van die twee geskrewe standaarde van die Noorse taal. Sy debuutroman, Raudt, svart (Rooi, Swart), is in 1983 gepubliseer.[4] Sy eerste toneelstuk, Og aldri skal vi skiljast (En ons sal nooit geskei word nie), is in 1994 opgevoer en gepubliseer. Fosse het romans, kortverhale, poësie, kinderboeke, essays en toneelstukke geskryf. Sy werke is in meer as veertig tale vertaal. Hy het ook musiek gespeel (die viool),[4] en as tiener het hy sy eie lirieke vir sy musiekstukke geskep.
Fosse is in 2003 'n chevalier van die Ordre national du Mérite van Frankryk gemaak.[5] Fosse is op no. 83 gelys in die Daily Telegraph se lys van die Top 100 lewende genieë.[6]
Fosse geniet sedert 2011 die gebruik van die Grotten, 'n honorêre woning wat deur die Noorweegse staat besit word en op die perseel van die Koninklike Paleis in die middestad van Oslo geleë is.[7] Die gebruik van die Grotten as 'n permanente woning is 'n erebewys wat spesiaal deur die Koning van Noorweë toegeken word vir bydraes tot Noorse kuns en kultuur.
Fosse was een van die literêre konsultante van Bibel 2011, 'n Noorse vertaling van die Bybel wat in 2011 gepubliseer is.[8] Fosse is in 2015 bekroon met die Nordiese Raad se Literatuurprys vir die trilogie Andvake (Wakkerheid), Olavs draumar (Olav se Drome) en Kveldsvævd (Moegheid).[9]
Ná die dramaturg Henrik Ibsen, word Fosse se werke die meeste opgevoer.[1]Talle van Fosse se werke is in Persies vertaal deur Mohammad Hamed, en sy werke is in Iran/Teheran se bekendste venues opgevoer.[10][11]
In April 2022 is sy roman A New Name: Septology VI-VII in Engels vertaal deur Damion Searls. Dit was op die kortlys vir die Internasionale Booker-prys.[12] Die boek is aangewys as 'n finalis vir die 2023 National Book Critics Circle Award in Fiction. [13] In Oktober 2023 is Fosse met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon;[14] sodoende het hy die eerste Nobelpryswenner geword wat in Nynorsk skryf.[15] Wanneer hy nie aan sy eie romans werk nie vertaal hy ander skrywers se werke.[4]
Hy woon van tyd tot tyd saam met sy tweede vrou ('n Slowaak) in Hainburg an der Donau in Oostenryk. Hy het ook 'n huis in Bergen en twee huise in die weste van Noorweë.[4] Hy was oorspronklik 'n lid van die Kerk van Noorweë (hoewel hy homself voor 2012 as ateïs beskryf het), maar het in 2012–2013 by die Katolieke Kerk aangesluit,[8] en homself laat hospitaliseer om hom van sy alkoholmisbruik te rehabiliteer.[4]