Renée Zellweger | |
![]() | |
Zellweger by die Tribeca Filmfees op 23 April 2010.
| |
Geboortenaam | Renée Kathleen Zellweger |
---|---|
Geboorte | 25 April 1969 Katy, Texas, Verenigde State |
Nasionaliteit | Amerikaner |
Beroep(e) | Aktrise |
Aktiewe jare | 1992-tans |
Renée Kathleen Zellweger (gebore op 25 April 1969) is ’n Amerikaanse aktrise en rolprentvervaardiger. Sy het al groot lof en verskeie pryse vir haar spel gekry, onder meer ’n Oscar, ’n Bafta drie Golden Globes en drie Screen Actors Guild Awards. Sy is sedert 2007 een van die besbetaalde aktrises in Hollywood.[1]
Zellweger se eerste groot rolprentrol was in die riller Texas Chainsaw Massacre: The Next Generation (1994). Sy is daarna geprys vir haar spel in Empire Records (1995). Later het sy aandag getrek in die komediedrama Jerry Maguire (1996) en in Nurse Betty (2000), waarvoor sy haar eerste Golden Globe gewen het. Sy het daarna twee benoemings vir ’n Oscar, en een vir ’n Bafta, Golden Globe en Screen Actors Guild Award gekry vir haar spel in die romantiese komedie Bridget Jones's Diary (2001) en die musiekprent Chicago (2002) – sy het die laasgenoemde twee pryse daarvoor gewen.
Sy het die Oscar, Bafta, Golden Globe en Screen Actors Guild Award vir beste vroulike byspeler gewen vir die epiese oorlogsdrama Cold Mountain (2003). In 2004 was sy terug in die titelrol van Bridget Jones: The Edge of Reason (2004), waarvoor sy vir haar vyfde Golden Globe benoem is. Sy was daarna in Cinderella Man (2005) en in die rol van die skryfster Beatrix Potter in Miss Potter (2006). Vir laasgenoemde het sy haar sesde Golden Globe-benoeming ontvang.[2]
Ná verskeie rolle in minder bekende prente soos Appaloosa (2008), My One and Only (2009), Case 39 (2009) en My Own Love Song (2010) het sy ’n blaaskans van vyf jaar geneem. Sy het teruggekeer in die riller The Whole Truth (2016), die drama Same Kind of Different as Me (2016) en die derde Bridget Jones-fliek, Bridget Jones's Baby (2016).