Samuel Beckett | |
Samuel Beckett in 1977
| |
Bynaam | Andrew Belis[1] |
---|---|
Geboortenaam | Samuel Barclay Beckett |
Geboorte | 13 April 1906 Foxrock, Dublin, Ierland |
Sterfte | 22 Desember 1989 Parys, Frankryk |
Nasionaliteit | Ierland |
Beroep | Skrywer |
Genre | Modernisme |
Eerbewyse | Nobelprys vir Letterkunde (1969) |
Samuel Beckett (1906–1989) was ’n Ierse skrywer uit wie se pen toneelstukke, romans en gedigte verskyn het. Beckett het in Frankryk gewoon en in beide Frans en Engels geskryf. Hy word wyd as een van die mees invloedryke skrywers van die 20ste eeu beskou[2]en is veral bekend vir sy toneelstuk Waiting for Godot. Beckett is in 1969 met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon.[3][4]
Beckett se werk se bied 'n somber, tragikomediese uitkyk op die menslike bestaan. Dit gaan dikwels met pessimisme en swartgalligheid gepaard en word meer minimalisties in sy latere loopbaan. Hy word as een van die laaste modernistiese skrywers beskou, en is een van die sleutelfigure in die sogenaamde "Teater van die Absurde".
Samuel Barclay Beckett is op 13 April 1906 in Foxrock, Dublin in Ierland gebore. Van 1923 tot 1927 studeer hy Frans, Italiaans en Engels aan die Trinity-kollege in Dublin. Kort daarna word hy as leraar in Parys aangeneem. Daar ontmoet hy James Joyce, wat 'n enorme invloed op hom gehad het. Beckett skryf sy eie verhale terwyl hy Joyce se sekretaris was. In 1929 publiseer hy sy eerste werk, 'n kritiese essay wat deur Joyce verdedig is. Sy eerste kortverhaal, Assumption, is in dieselfde jaar gepubliseer. In 1930 wen hy 'n literatuurprys met sy gedig, Whoroscope, wat hoofsaaklik oor René Descartes handel, wat ook 'n invloed op sy skryfwerk gehad het.
In 1930 keer hy terug na Ierland en werk by die Trinity-kollege, maar vertrek weer na twee jaar. Hy reis deur Europa en vestig hom uiteindelik permanent in Frankryk. Daar publiseer hy 'n kritiese studie van Marcel Proust se werk.
Hy poog om 'n boek in die styl van James Joyce te skryf, maar dit word later as 'n reeks kortverhale, More pricks than Kicks, vrygestel. Hierna bring hy die roman Murphy uit. Sy bekendste boeke is waarskynlik Molloy (1951), Malone Dies (1951 in Frans, in 1958 in Engels vertaal) en The Unnamable (1953, in 1960 vertaal).
Beckett word beroemd met sy toneelstuk En attendant Godot (uitgegee in 1952), wat in 1955 as Waiting for Godot (Afrikaans: "Wag vir Godot") vertaal is. Die stuk ontvang aanvanklik slegte kritiek, maar word met tyd al hoe meer gewild. Dieselfde het met sy stuk Endgame gebeur.
Omdat hy sy stukke ná 1947 bykans uitsluitlik in Frans geskryf het, word hy saam met Eugène Ionesco as een die beste Franse dramaturge van die 20ste eeu beskou. Hy het self sy stukke in Engels vertaal.
Beckett is op 22 Desember 1989 in Parys, Frankryk aan emfiseem oorlede en is in die Cimetière du Montparnasse begrawe.