Poolse digteres, essayis en vertaalster
Beduidende werke
Maria Wisława Anna Szymborska (* 2 Julie 1923 in Prowent (tans Bnin, 'n stadsdeel van Kórnik), naby Poznań; † 1 Februarie 2012 in Krakow) was 'n bekroonde Poolse digteres, essayis en vertaalster. Sy was een van min vroue en die vierde Poolse literêre kunstenaar ná Henryk Sienkiewicz, Władysław Reymont en Czesław Miłosz aan wie die Nobelprys vir Letterkunde toegeken is.
Wisława Szymborska het haar eerste gedigte reeds op die ouderdom van vier begin skryf en is derhalwe as die "Mozart van Digkuns" beskryf.[1] Die verkoopsyfers van haar boeke kon in Pole maklik met dié van bekende skrywers van prosaliteratuur meeding. Altesaam 350 van haar gedigte het in elf bundels verskyn.
Die Nobelprys-komitee het opgemerk dat haar digkuns "die historiese en biologiese konteks op 'n presiese en ironiese manier in fragmente van menslike werklikheid na vore laat tree".[2] Met die Nobelprys-toekenning het sy ook steeds meer belangstelling in die buiteland gewek. Haar werke is in talle Europese tale asook Arabies, Hebreeus, Japannees en Chinees vertaal.
Wisława Szymborska is as dogter van Wincenty en Anna Szymborski in Prowent, 'n klein nedersetting suid van Poznań, gebore. Haar ouers het hulle eers in Toruń gevestig en in 1931 na Krakow verhuis waar die digteres tot met haar afsterwe vroeg in 2012 woonagtig was. Hier het ook haar literêre werke ontstaan. Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het sy haar opleiding in ondergrondse klasse voortgesit en twee jaar later haar Poolse matriekeksamen voltooi.
Vanaf 1943 was Wisława Szymborska as spoorwegwerker werksaam, maar kon aan die lot van baie van haar landgenote ontsnap wat as dwangarbeiders in die Duitse Ryk aangewend is. In hierdie periode het sy haar loopbaan as kunstenaar met illustrasies vir 'n Engelstalige boek begin. Daarnaas het sy verhale en ook enkele gedigte geskryf.
In 1945 het Szymborska Pools en Letterkunde aan die Jagielloniese Universiteit te Krakow begin studeer, maar haar keuse later verander na Sosiologie. Sy het hier vinnig met skrywerskringe in aanraking gekom en kennis gemaak met Czesław Miłosz – 'n skrywer wat groot invloed op haar sou uitoefen. Haar eerste gedig, Szukam słowa ("'n Woord opsoek"), is in Maart 1945 in die dagblad Dziennik Polski gepubliseer. Haar digkuns het daarna nog jare lank in 'n verskeidenheid koerante en tydskrifte verskyn.
Szymborska was in 1948 genoodsaak om haar studies weens finansiële moeilikhede sonder verwerwing van 'n akademiese graad te staak. In dieselfde jaar – sy was intussen sowel as illustrateur asook as sekretaresse vir 'n tweeweeklikse opvoedkundige tydskrif werksaam – het sy met die digter Adam Włodek getrou van wie sy in 1954 geskei is. Die twee het nogtans tot met Włodek se afsterwe in 1986 in 'n noue verbintenis gestaan. Uit die huwelik is geen kinders gebore nie.
Haar eerste boek was vir publikasie in 1949 geskeduleer, maar die werk is uiteindelik deur 'n sensureerder verwerp omdat dit "nie aan sosialistiese vereistes voldoen het nie". Szymborska het nogtans begin om gedigte in die gees van die Sosialistiese realisme te skryf soos Lenin en Młodzieży budującej Nową Hutę ("Vir die jeug wat Nowa Huta bou") oor die bou van 'n Stalinistiese nywerheidstad naby Krakow. Sommige kritici het hierdie werke later as "opportunisties" beskryf.[3]
So het Szymborska ook by die heersende Verenigde Poolse Werkersparty aangesluit. Net soos baie ander kommunistiese intellektueles het sy haar aanvanklik met die amptelike partybeleid vereenselwig, maar geleidelik vervreemd begin raak met die sosialistiese ideologie. Later het sy haarself van haar vroeë politieke aktiwiteite gedistansieer. Reeds in 1957 het sy vriendskap gesluit met Jerzy Giedroyc, die redakteur van Kultura, 'n Parys-gebaseerde invloedryke emigrante-tydskrif waarvoor sy self bydraes begin skryf het. In 1966 het sy alle bande met die Poolse Kommunistiese Party verbreek.
In 1953 het Szymborska by die redaksiespan van die literêre tydskrif Życie Literackie ("Literêre Lewe") aangesluit waar sy tot 1981 werksaam was. Hier het sy vanaf 1968 haar eie boekerubriek met resensies behartig. Baie van haar essays uit hierdie periode is later in boekvorm gepubliseer. Tussen 1981 en 1983 was sy een van die redakteurs van die Krakow-gebaseerde maandelikse tydskrif Pismo. In die 1980's het sy steeds meer by opposisie-aktiwiteite betrokke geraak en onder die skuilnaam "Stańczykówna" bydraes vir die samizdat-tydskrif Arka en die emigrante-publikasie Kultura in Parys geskryf.
Haar laaste gedigbundel voor haar afsterwe, Dwukropek, is deur die lesers van die nasionale Poolse dagblad Gazeta Wyborcza as die boek van die jaar 2006 aangewys. 'n Nuwe gedigbundel met die ironiese titel Wystarczy ("Dit is genoeg") sal postuum in 2012 gepubliseer word.[4]
As vertaalster het Szymborska Franse literatuur in Pools vertaal, veral barokdigkuns soos werke van die Protestantse skrywer Théodore Agrippa d'Aubigné (1552-1630). In Duitsland het haar vertaler Karl Dedecius groot moeite gedoen om haar werk aan die Duitse leserspubliek bekend te stel.
Wisława Szymborska is op 1 Februarie 2012 in haar huis in Krakow in haar slaap oorlede. Vriende en familielede was voor haar dood om haar bed vergader. Die digteres was 'n strawwe sigaretroker en het aan longkanker gely, maar ondanks haar swaar siekte voortgegaan om gedigte te skryf.
Poolse politici soos die minister van buitelandse sake, Radek Sikorski, het haar afsterwe as 'n groot verlies vir die Poolse kultuur beskryf. Staatspresident Bronisław Komorowski het die digteres die "beskermgees" van Pole genoem. Volgens hom het haar gedigte die wêreld vir haar lesers "meer verstaanbaar" gemaak.[5]
Foto van 11 September Hulle het uit brandende verdiepings gespring, een, twee, dan nog enkeles, hoër, dieper. Fotografie het hulle aan die lewe gehou en nou bewaar dit hulle oor die aarde, na die aarde. Elkeen is onbeseer met sy eie gesig en bloed wat goed verberg is. Daar is genoeg tyd om hare te laat waai en sleutels uit sakke te laat val en klein muntstukke. Hulle is nog steeds in die lug in die omkring van plekke wat pas oopgegaan het. Ek kan net twee dinge vir hulle doen - daardie vlug beskryf en die laaste sin nie byvoeg nie. |
Wisława Szymborska, vertaling deur Wikipedia |
Szymborska se gedigte word deur 'n wye verskeidenheid literêre style gekenmerk wat die vertaling daarvan soms bemoeilik. Sy het dikwels literêre tegnieke soos ironie, paradokse, skynbare teenstrydighede en onderdrywing ingespan om filosofiese onderwerpe en obsessies uit te lig. Baie van haar gedigte spreek moeilike kwessies soos oorlog en terrorisme aan. In "Roepe tot Yeti" het sy Josef Stalin aan dié walglike sneeumens gelykgestel. Sy het ook soms vanuit ongewone standpunte geskryf soos uit die oogpunt van 'n kat in die leë woonstel van sy pas oorlede eienaar.
Szymborska se reputasie as digteres berus op 'n relatief beperkte aantal gedigte. Toe sy eens gevra is hoekom sy nie meer gedigte wou publiseer nie, het sy geantwoord: "Ek het 'n papiermandjie in my huis."[6]
Wikimedia Commons bevat media in verband met Wisława Szymborska. |
Biografie
Afrikaanse vertalings van haar gedigte
Engelse vertalings
Multimedia